Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 4/1 bl. 26-29
  • Markus die skrywer van die aksiebelaaide Evangelie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Markus die skrywer van die aksiebelaaide Evangelie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wie was Markus?
  • Vir wie het Markus geskryf?
  • Christus as ’n persoon
  • Bybelboek nommer 41—Markus
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Markus het nie tou opgegooi nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Markus—“Nuttig om diens te verrig”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Hy het sy broers gehelp
    Wees moedig en maak God gelukkig
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 4/1 bl. 26-29

Markus die skrywer van die aksiebelaaide Evangelie

IS JY altyd haastig, met min tyd om te lees? Maar jy sou nietemin graag die grondtrekke van Christus se lewe en leer vinnig wou snap, sonder om in teologie of filosofie vas te val? Met ander woorde, sou jy graag die Christenboodskap in ’n neutedop wou hê? Vat dan ’n Bybel en lees die boek Markus. Ons sê “boek”, alhoewel dit slegs 25 bladsye van ’n gewone Bybel beslaan. En waarom sê ons Markus, in plaas van die ander Evangelieskrywers Mattheüs, Lukas en Johannes? Omdat Markus se Evangelie die bondigste en mees aksiebelaaide van die vier Evangelies of biografieë van Jesus Christus is.

Die gees van Markus se Evangelie is duidelik in die heel eerste hoofstuk waar hy die Griekse woord euthús’, “dadelik”, 11 keer gebruik. Hy gee voortdurend ’n gevoel van onmiddellikheid en dringendheid aan Christus se werk deur daardie woord 42 keer in sy skriftelike verslag te gebruik.

Vroeg in die eerste hoofstuk vertel Markus se verslag hoe Jesus deur sy neef Johannes in die Jordaanrivier gedoop is. Teen verse 16 tot 21 kies Christus die vier dissipels wat hom in sy eerste predikingstoer deur Galilea vergesel. Van die eerste twee, Simon en Andreas, wat vissers was, lees ons: “En dadelik [euthús] het hulle hul nette laat staan en Hom gevolg.” Toe het Jesus Jakobus en Johannes gekies, wat besig was om hulle nette saam met hulle vader heel te maak, “en dadelik [euthús] het Hy hulle geroep”.—Markus 1:10-43.

Markus se kenmerkende aksiebelaaide styl word verder toegelig deur die verslag in hoofstukke nege en tien waar hy sê dat die skare “na [Jesus] gehardloop” het en, later, “bymekaar stroom”. Die jong owerste wat ’n vraag wou stel, “hardloop . . . na Hom toe en val voor [Christus] op die knieë”. Van die sinoptiese Evangelieskrywers (Mattheüs, Markus en Lukas) is dit slegs Markus wat sê dat die mense in hierdie gevalle gehardloop het.a—Markus 9:15, 25; 10:17; vergelyk Mattheüs 19:16 en Lukas 18:18.

Wie was Markus?

Jy vra nou miskien: Wie was Markus? Was hy ’n ooggetuie van die dinge wat hy beskryf het? Of het hy ander bronne van informasie gehad?

Markus se moeder, Maria, was klaarblyklik ’n gelowige en het toegelaat dat haar huis vir Christenvergaderinge gebruik word. Ons weet ook uit die boek Handelinge dat hy as ’n metgesel van sy neef Barnabas en die apostel Paulus na die sendingveld is. Hy was nie ’n apostel of ’n ooggetuie van baie van die gebeure wat hy beskryf nie. Hy was moontlik ’n dissipel toe Jesus in hegtenis geneem is, want party geleerdes sê dat hy die “sekere jongman” was wat by daardie geleentheid ‘naak weggevlug’ het.—Handelinge 12:6-17, 25; 15:36-41; Markus 14:51, 52.

“Johannes wat ook Markus genoem word”, word vir die eerste keer in die Bybelverslag genoem in verband met die apostel Petrus se wonderdadige bevryding uit die tronk in die jaar 44 G.J. Petrus het gedurende die nag na Markus se huis gegaan om vir die Christene wat daar vergader was van sy bevryding te vertel (Hand. 12:12, 18). Min het Markus besef watter invloed hierdie besoeker later op hom sou hê. Hoe so? Omdat hy later ’n intieme metgesel van Petrus geword het wat hom in sy eerste geïnspireerde brief selfs “Markus, my seun” genoem het (1 Petrus 5:13). Alhoewel Markus toegang tot ander bronne gehad het, weerspieël sy Evangelie ongetwyfeld tot ’n groot mate Petrus se bekendheid met die lewe en bediening van Jesus. Watter getuienis is daar vir hierdie verklaring? ’n Eenvoudige voorbeeld sal die punt toelig.

’n Ruk na die Pasga van 31 G.J. was Jesus op sy tweede predikingstoer deur Galilea, vergesel van die 12 apostels. Hy het besluit om die See van Galilea per boot oor te steek. Dit is interessant om te vergelyk hoe Mattheüs en Markus die verhaal vertel. Eers, Mattheüs:

“En daar het ’n groot storm op die see gekom, sodat die skuit toe was onder die golwe: maar [Jesus] was aan die slaap.”—Mattheüs 8:24.

Alhoewel dit sê dat daar ’n storm was, beklemtoon dit nie juis die aksie of wek dit nie die emosies nie. Hoe het Markus dieselfde gebeurtenis beskryf?

“En ’n groot stormwind het opgekom, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat dit al vol wou word. Maar [Jesus] was agter op die skuit aan die slaap op die kussing.”—Markus 4:37, 38.

Markus was nie teenwoordig nie. Hoe kon hy dus so ’n beeldende beskrywing gee? Die visser Petrus was klaarblyklik sy beriggewer. Het jy gelet op die duidelike beskrywing van die storm en die uitwerking daarvan op die boot? En die punt “agter op die skuit” wat die tollenaar Mattheüs, wat ’n landbewoner was, nie ingesluit het nie, al was hy self in die boot? En watter oplettende oog en goeie geheue moes Petrus tog gehad het om te onthou dat Jesus “op die kussing” geslaap het.—Kyk ook Lukas 8:23.

Dit is maklik om te begryp waarom party Bybelgeleerdes Markus Petrus se tolk noem. Maar beteken dit dat Markus se Evangelie in werklikheid die Evangelie volgens Petrus genoem moet word? Glad nie. In baie plekke getuig die verhaal van Petrus se waarnemingsvermoëns en oplettendheid. Maar die duidelike, vloeiende, inheemse styl wat die gedagte van voortsnellende aksie oordra, is kenlik Markus s’n.

Nog ’n belangrike faktor wat in aanmerking geneem moet word, is dat ‘die hele Skrif deur God ingegee is’ en dat ‘geen profesie ooit deur die wil van ’n mens voortgebring is nie, maar dat die heilige mense van God gespreek het toe hulle deur die Heilige Gees gedrywe is’. Ons het gevolglik ’n goeie kombinasie van Petrus se oplettendheid en Markus se bondige, aksiebelaaide skryfstyl. Markus was inderdaad een van diegene wat deur God se heilige gees of werkende krag “gedrywe” is.—2 Timotheüs 3:16; 2 Petrus 1:20, 21.

Vir wie het Markus geskryf?

Dit is duidelik dat elke Evangelieskrywer ’n ander soort leser in gedagte gehad het. Mattheüs het hoofsaaklik vir die Jode geskryf, soos blyk uit sy talle verwysings na die Hebreeuse Skrifte en sy besorgdheid oor Jesus se geslagslys om sy wetlike afkoms van Abraham te bevestig. Lukas het geskryf vir die voordeel van die “hooggeagte Theofilus” en mense van alle nasies, met ’n geslagslys wat tot by Adam teruggaan (Lukas 1:1-4; 2:14; 3:23-38). Elkeen het dus sy eie styl, klem en tema waarop hy die aandag vestig. Vir wie het Markus hoofsaaklik geskryf?

Dit is heel waarskynlik dat hy uit Rome en met die Romeinse gelowiges in gedagte geskryf het. Sy eenvoudige, gewilde vorm van Grieks wemel van Latynse transliterasies, wat ’n baie natuurlike neiging sal wees vir ’n Griekssprekende persoon wat in Rome woon. Hy gebruik by 18 geleenthede ten minste nege Latynse woorde, onder meer speculator (Grieks, spekoulátora, “lyfwag”), praetorium (Grieks, praitórion, “goewerneur se paleis”) en centurio (Grieks, kenturíon, “hoofman oor honderd”).—Markus 6:27; 15:16, 39.

Nog ’n bewys dat Markus hoofsaaklik vir die nie-Jode geskryf het, is die feit dat hy nie van Jesus se geboorte of sy geslagslys melding maak nie. Trouens, met sy aanvangswoorde begin hy dadelik met Johannes die Doper se bediening en sy aankondiging van die Messias. Al die vroeë biografiese informasie oor Jesus was in elk geval onnodig, aangesien dit reeds voldoende deur die vroeëre Evangelies van Mattheüs en Lukas gedek is. Waarom hulle getuienis om die nie-Jode se onthalwe herhaal? Terloops, dit weerspreek die talle hedendaagse Bybelgeleerdes wat beweer dat Markus die eerste Evangelieskrywer was, selfs al is die meeste antieke gesaghebbendes dit eens dat Mattheüs die eerste was.

Christus as ’n persoon

Watter soort beeld skilder Markus van Christus? Ons vind dat ons moet byhou met ’n aktiewe wonderdoener wat elke paar verse oënskynlik êrens anders heen gaan. Ons vergesel hom terwyl hy sowat 19 wonderwerke op ten minste 10 plekke in Galilea en Judea verrig.b En nogtans word ons terselfdertyd gehelp om die medelydende Jesus te sien. Die aandag word soos in geen ander evangelie nie op besonderhede gevestig, en Jesus se emosionele reaksies is opvallend. Byvoorbeeld:

“En hulle het kindertjies na Hom gebring, dat Hy hulle kon aanraak; en die dissipels het die wat hulle gebring het, bestraf. Maar toe Jesus dit sien, het Hy hulle dit baie kwalik geneem en vir hulle gesê: Laat die kindertjies na My toe kom . . . En Hy het sy arms om hulle geslaan, sy hande op hulle gelê en hulle geseën.”—Markus 10:13-16.

Kan jy jou daardie toneel voorstel? Hoe dikwels het ons tog al die volgende woorde gesê of gehoor: “Kinders moet gesien en nie gehoor word nie”! Hier het die dissipels dieselfde gesindheid aan die dag gelê. Hoe het die Meester gereageer? Hy het hulle dit “baie kwalik geneem”. Petrus, die ooggetuie, het klaarblyklik Jesus se regverdige emosionele reaksie onthou. Toe het Jesus gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie.” Hier meld Markus iets eg mensliks wat die skrywers Mattheüs en Lukas nie meld nie. Dit is asof hy ’n zoemlens gebruik het om nader te kom en ’n besonderheid te beklemtoon toe hy geskryf het: “En Hy het sy arms om hulle geslaan.” Hier is daar tegelykertyd aksie en medelye. Ons sien Jesus in werklikheid deur Petrus se eg menslike en mensliewende oë. Gelukkig het die heilige gees Markus beweeg om daardie penseelstrepie in te sluit wat kleur en gevoel aan die beeld verleen.

As jy die Bybel of die Christelike godsdiens vir die eerste keer ondersoek, kan jy gerus begin deur hierdie lewendige, pittige “evangelie”-verhaal oor die man van aksie, Jesus Christus, te lees. Sluit die wêreld en sy afleidinge ’n uur of twee uit en laat Markus se aangrypende verhaal. “Die begin van die evangelie van Jesus Christus”, jou boei (Markus 1:1). En doen dit sommer “dadelik”!

[Voetnote]

a “Sinopties” beteken “met dieselfde of gemeenskaplike beskouing”.

b Kyk “All Scripture Is Inspired of God and Beneficial”, bladsye 287-289.

[Prent op bladsy 27]

Wie het die duidelikste beskrywing gegee—Mattheüs of Markus?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel