Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 4/1 bl. 17-21
  • Gelukkige jongmense in ’n verdorwe wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gelukkige jongmense in ’n verdorwe wêreld
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Beginsels vir ’n gelukkige lewe
  • Jou Christelike gewete
  • Doelwitte wat die moeite werd is
  • Beskou Timotheüs se voorbeeld
  • Jongmense—streef verdienstelike doelwitte na
    Ons Koninkryksbediening—1987
  • Jongmense—Streef doelwitte na wat God eer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Gelukkige jongmense in Jehovah se diens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Moedig jongmense aan om geestelike doelwitte na te jaag
    Ons Koninkryksbediening—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 4/1 bl. 17-21

Gelukkige jongmense in ’n verdorwe wêreld

Hierdie artikel is veral vir jongmense geskryf. Ons nooi dus die jongmense in die besonder om kommentaar te lewer wanneer dit by die Koninkryksaal bespreek word.

“Dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid.”—Prediker 12:1.

1. Waarom dink baie mense dat dit nou nie ’n goeie tyd is om jonk te wees nie?

WATTER wonderlike tyd om jonk te wees! Klink dit vir jou vreemd? Baie jongmense sal wys op die slegte toestande wat hulle sien—die misdadigheid op straat, onsedelikheid, dwelmmisbruik, tienerswangerskappe, aborsie en veneriese siektes. Hulle kan wys op die gevaar van kernoorlog en op die besoedeling wat die aarde ruïneer. Hulle vra hoe ons kan sê dat dit ’n goeie tyd is om jonk te wees en die toekoms tegemoet te gaan.

2. (a) Waarom is dit vandag werklik ’n goeie tyd om te lewe? (b) Watter uitwerking moet daardie feit op jou hê?

2 Ander jongmense weet dat Bybelprofesieë sê dat God nie sal toelaat dat mense die aarde vernietig nie. Die Bybel beloof dat God dinge sal verander—dat hy sal ingryp en geregtigheid en vrede tot stand sal bring (Psalm 37:10, 11; 2 Petrus 3:13; Openbaring 21:1-4; 11:18). Glo jy daardie beloftes? Dan behoort hulle ’n groot uitwerking op jou lewe te hê, want hulle beteken dat jy ’n rooskleurige toekoms kan hê.

3. Waarom is niemand te jonk om God te wil dien nie?

3 Jy dink miskien: ‘Ag, ek is te jonk vir al sulke dinge!’ Maar is jy? Die Bybel spoor jongmense—seuns en dogters—aan om God te dien (Psalm 148:12, 13). Dit vertel van ’n jong Hebreeuse meisie wat ’n Aramese leërowerste, Naäman, gehelp het om een van Jehovah se knegte te word (2 Konings 5:2, 3, 15-17). Dit sê dat kinders Jesus toegejuig het, en dat Jesus die volgende vir die godsdiensleiers gevra het toe hulle hulle misnoeë daarmee te kenne gegee het: “Het julle nooit gelees: Uit die mond van kinders en suigelinge het U vir U lof berei nie?” (Mattheüs 21:15, 16). Jesus het persoonlike belangstelling in jongmense getoon. Hy het gesê dat hulle nie verhinder moes word om na hom te kom nie. En die gemeentes van Jehovah se Getuies dwarsoor die aarde stel vandag veral in die jongmense belang—en in die goeie dinge wat hulle doen om God te dien.—Mattheüs 19:14.

Beginsels vir ’n gelukkige lewe

4. Hoe kan die Bybel jou help om ’n gelukkiger lewe te lei?

4 Jy weet dat jou ouers wil hê dat jy gelukkig moet wees. So ook jou hemelse Vader, Jehovah God. Sy Woord, die Bybel, gee raad wat jou uit baie moeilikheid kan hou. Dit skryf nie vir jou elke dingetjie voor wat jy moet doen nie, maar in baie gevalle meld dit bloot beginsels. Dit is waarhede wat jou die grondslag gee waarop jy besluite kan neem, sodat jou eie goeie oordeel vir jou sal sê wat reg is. Hier is byvoorbeeld ’n beginsel wat in die vorige artikel gemeld is en wat jy mense waarskynlik al baiekeer hoor bespreek het: “Slegte gesprekke bederf goeie sedes.”—1 Korinthiërs 15:33.

5. (a) Wat is ’n paar maniere waarop “slegte gesprekke” “goeie sedes” kan bederf? (b) Wat toon die tekste wat in hierdie paragraaf gesiteer word oor (1) vuil taal, (2) vuil grappe, (3) geslagsonsedelikheid?

5 Wat beteken dit? Dit beteken dat ons beïnvloed word deur die mense om ons. As jy baie tyd deurbring saam met mense wat vuil taal gebruik of vuil grappe vertel, sal jy waarskynlik hulle voorbeeld volg. As jy omgaan met mense wie se gedagtes oor seks en die huwelik verskil van wat jy weet God vereis, sal jy die punt bereik waar jy nie deur daardie dinge geskok word nie. Jy kan sulke omgang hê sonder om dit te besef. Wanneer jy boeke lees of na rolprente of die televisie kyk, neem jy die skrywer se gedagtes in jou verstand in. As hierdie gedagtes sleg is, kan hulle jou verstand besoedel. Die Bybel sê nie dat ons sulke dinge moet geniet nie, maar dat ons hulle moet vermy. (Efesiërs 5:3, 4; vergelyk 1 Korinthiërs 6:18.) Dit sê ook: “Weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.”—1 Korinthiërs 6:9, 10.

6. (a) Watter probleme het mense al gehad omdat hulle die Bybel se raad oor slegte omgang in die wind slaan? (b) Wat moet ons omtrent ons verstande onthou, en waar kan ons goeie omgang vind?

6 Ons word beïnvloed deur die mense om ons. Die Lewende Nuwe Testament stel 1 Korinthiërs 15:33 soos volg: “As ’n mens jou met sulke geselskap ophou, doen jy ook later net so verkeerd soos hulle.” Jongmense is al in die versoeking gestel om te rook, dwelms te gebruik, te steel en allerhande onsedelike dinge te doen omdat hulle maats hierdie dinge gedoen het of met hulle gespot het omdat hulle dit nie doen nie. Dink jy dat mense wat met jou spot omdat jy doen wat reg is die moeite werd is om as vriende te hê? Dit is belangrik om te onthou dat jou verstand baie soos ’n rekenaar is. As jy dit met verkeerde inligting voer, sal jy verkeerde besluite daaruit kry. Dit sal dus verstandig wees om om te gaan met Godvresende persone—diegene wat na die Koninkryksaal toe kom en wat toepas wat hulle daar leer.—Spreuke 18:24.

7. (a) Pas almal wat Christenvergaderinge bywoon noodwendig godvrugtige beginsels toe? (b) Watter voorbeeld in Samuel se dag toon dat dit niks nuuts is nie? (c) Wat het Samuel gedoen, en met watter gevolge?

7 Maar wat moet jy doen as iemand wat ’n goeie voorbeeld behoort te stel dit nie doen nie? Dit het meer as een keer in Bybeltye gebeur. Jong Samuel het die buitengewone voorreg gehad om by Jehovah se plek van aanbidding te dien, maar die seuns van hoëpriester Eli het ’n baie slegte voorbeeld gestel. Hulle was skelms wat Jehovah se wet verbreek het en selfs onsedelike omgang gehad het met die vroue wat gedien het waar Jehovah aanbid is. Maar jong Samuel het geweet wat reg is. Hy het nie hulle slegte voorbeeld gevolg nie. Die Bybel sê: “Maar die seun Samuel het toegeneem in grootte en in guns by die HERE sowel as by die mense” (1 Samuel 2:12-17, 22-26). God het Samuel ryklik geseën. Hy het later ’n profeet geword en is gebruik om die Bybelboeke Rigters en Rut en ’n deel van die eerste boek Samuel, wat na hom vernoem is, te skryf. Hy is ’n voorbeeld van die verklaring in Spreuke 20:11: “Die seun laat hom alreeds aan sy handelinge ken, of sy handelwyse suiwer en of dit reg is.” Wanneer jy iemand iets verkeerds sien doen, wil jy beslis soos jong Samuel wees en nie soos Eli se seuns wat Jehovah se weg geken het maar dit nie bewandel het nie.

Jou Christelike gewete

8. Wat kan ’n jong Christen se Bybelopgeleide gewete hom verhoed om te doen?

8 As ’n getroue jong Christen weet jy dat daar dinge is wat jou Bybelopgeleide gewete jou nie sal toelaat om te doen nie. Jy weet byvoorbeeld dat baie feesdae ’n heidense oorsprong het. Hulle kom van valse godsdiensgebruike af. Jou gewete sal jou dus nie toelaat om hulle te vier nie. Jy weet ook dat skole dikwels nasionalistiese plegtighede of seremonies het wat hulle nasie bo ander verhef, en dit strook nie met jou Bybelse beskouing dat God “uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak” het nie (Handelinge 17:26). Jy weet ook dat skole dikwels gans te veel klem op mededingende sport plaas en skoliere aanspoor om baie tyd aan sulke bedrywighede te wy—nie net vir ontspanning nie, maar met so ’n begeerte om te wen dat dit soms op geweld uitloop.a

9, 10. Hoe het party jong Christene sulke probleme gehanteer?

9 Skep die handhawing van hoë standaarde vir jou probleme? Een jong Getuie het gesê: “Ons het min probleme wat met ons Christelike gewetens in verband staan mits die onderwyser vooraf omtrent ons posisie ingelig is—voordat die probleem opduik.” Jongmense wat die rede vir ’n sekere beskouing wat op hulle Christelike gewete gebaseer is kalm en eerbiedig verduidelik—en dit doen voordat die onderwyser ’n standpunt voor die klas ingeneem en die saak ’n emosionele geword het—vind dat hulle minder probleme in dié verband het.

10 ’n Jong persoon wat van musiek hou en graag in die skoolorkes wou speel, het gesê: “Ek het aan die begin van die jaar vir die onderwyseres verduidelik dat ek graag ’n lid van die orkes wou wees, maar dat daar sekere stukke was wat ek nie kon speel nie, en ek het vir haar gesê waarom.” Wanneer sulke stukke gespeel moet word, weet die onderwyseres vooraf dat hierdie skolier net doodstil sal sit. Trouens, onderwysers het al ’n hele program verander om so ’n Christelike gewete te pas. Jongmense wys daarop dat dit natuurlik help as jy ’n goeie reputasie in alle ander skoolaangeleenthede het—as die onderwysers weet dat jy werklik jou geloof uitleef en dat jy jou bes in hulle klasse doen.

Doelwitte wat die moeite werd is

11. (a) Hoe kan doelwitte vir jongmense waardevol wees? (b) Wat is ’n paar doelwitte wat die moeite werd is?

11 Wat is jou planne vir die toekoms? Besef jy dat baie mense geen planne van hierdie aard het nie? Hulle het geen doelwitte nie en daarom behaal hulle min welslae. Hulle doen wat hulle moet, maar bereik nie veel nie. Een doelwit kan wees om hoër punte te behaal. ’n Ander kan wees om ’n praktiese ambag te leer sodat jy jouself kan onderhou.

12. Watter ander doelwitte is nog belangriker?

12 Maar die Bybel toon dat ons ook geestelike doelwitte moet hê—dinge waarna ons in God se diens moet streef. Dit sê dat Jehovah die persoon wat “geregtigheid najaag”, liefhet en dat hy “die lewe, geregtigheid en eer” sal vind (Spreuke 15:9; 21:21). Jesus het gesê: “Sedert die dae van Johannes die Doper . . . is die koninkryk van die hemele die doel wat mense najaag.” Paulus het gesê: “Ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is. . . . [Ek] jaag na die doel” (Mattheüs 11:12, NW; Filippense 3:12-14). Dit is dus goed om doelwitte te hê wat die moeite werd is.

13. Hoe belangrik is juiste kennis?

13 Jaag jy as ’n jong persoon vandag kennis na? Baie jongmense doen dit nie. Maar kennis van Jehovah is baie belangrik. In gebed tot sy Vader het Jesus gesê: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het” (Johannes 17:3). Watter belangriker rede kan daar wees?

14. Watter geleidelike vordering kan jou help om Jehovah te ken en sy Woord te verstaan?

14 Vind jy God se Woord en die Wagtoringpublikasies wat dit verduidelik interessant of dink jy dat hulle moeilik is? As jy dit moeilik vind om hulle te verstaan, sal My boek met Bybelverhale jou help om die hele geskiedenis van die Bybel in die regte orde te plaas. Dit sal jou help om te sien hoe dinge inmekaarpas en om hulle makliker te snap. Daarna sal die boek Jou jeug—Hoe om dit ten beste te benut jou help om Bybelbeginsels wat tot jou lewensvreugde sal bydra, te verstaan. Hoe meer jy leer, des te makliker sal die leerproses word, en dan sal jy dieper materiaal, soos die Wagtoring-les, die materiaal vir die Teokratiese Bedieningskool en die weeklikse Bybelleesgedeelte, wil voorberei. Dit sal nie oornag kom nie, maar jy kan geestelike rypheid verkry as jy individuele doelwitte stel en stap vir stap meer kennis en vermoë verkry.—Spreuke 1:5; 2:10-12.

15. Watter ander doelwitte kan jy vir jouself stel?

15 Streef jy Christelike diensvoorregte na? Het jy ’n persoonlike doelwit om elke week of maand ’n sekere hoeveelheid tyd aan die huis-tot-huis-onderrigtingswerk te wy? Spoor jy ander jongmense aan om jou te vergesel? Het jy ’n doelwit om ’n bekwamer onderrigter tydens herbesoeke en tuis-Bybelstudies te word? Party jongmense het ’n jaarlikse doelwit om gedurende skoolvakansies ’n pionier (voltydse vrywilligerprediker) te wees.

16. Watter langtermyn-doelwitte behoort oorweeg te word?

16 Wat van langtermyn-doelwitte? Wat wil jy volgende jaar hierdie tyd bereik het? Of oor vyf jaar, as die einde van hierdie ou stelsel dan nog nie aangebreek het nie? Het jy ’n langtermyn-doelwit om ’n gewone pionierprediker te word of ander voorregte te geniet, soos om ’n lid van die Bethelgesin te wees wat Bybellektuur aan julle deel van die wêreld voorsien? As jy doelwitte stel en hulle najaag, is dit een manier om jou lewe op ’n nuttiger wyse te gebruik.

17. (a) Waar kan jy voorbeelde vind van mense wat sulke kennis en bekwaamheid tydens hulle jeug verkry het? (b) Weet jy van voorbeelde wat hierdie beskrywing pas?

17 Dink aan die liefdevolle ouere manne in julle gemeente en aan julle kring-en streekopsieners. Hulle was ook eens op ’n tyd jonk. Maar hulle het jare gelede doelwitte nagejaag, kennis en bekwaamheid verkry en God en hulle broers gedien. Spoor hulle voorbeeld jou aan om die tyd wat jy in jou jeug het goed te benut? Dan kan jy word soos die psalmis wat geskryf het: “O God, U het my geleer van my jeug af, en tot nou toe verkondig ek u wonders.”—Psalm 71:17.

Beskou Timotheüs se voorbeeld

18. Hoe was Timotheüs ’n besondere voorbeeld van wat ons bespreek het?

18 Timotheüs was ’n opvallende voorbeeld hiervan. Paulus het vir hom gesê dat hy “van kleins af die heilige Skrifte ken wat [hom] wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus” (2 Timotheüs 3:15). Timotheüs het die waarheid as kind geleer, en hy het geweet dat dit baie waardevol is. Hy het toegeneem in geloof en kennis. Dit het nie onopgemerk gebly nie, want die Skrif sê: “Hy het goeie getuienis gehad van die broeders.” Hy het die besondere voorreg ontvang om die getroue medewerker en reisgesel van die apostel Paulus te word terwyl daardie apostel gemeentes in die nie-Joodse wêreld gestig het.—Handelinge 16:2-5.

19. Hoe moes Timotheüs voorkom dat mense sy jonkheid verag?

19 Jy kan soos Timotheüs wees. Gryp die waarheid stewig vas. Gebruik die bykomende tyd wat jy nou het terwyl jy nie die tydrowende verantwoordelikhede van ’n gesin en groot toewysings in die gemeente het nie. Studeer, verkry kennis en bekwaamheid. Die meeste jongmense onthou dat Paulus vir Timotheüs gesê het: “Laat niemand jou jonkheid verag nie.” Maar dit is belangrik om te onthou hoe Timotheüs dit moes doen. Paulus het gesê: “Wees ’n voorbeeld vir die gelowiges in woord, in wandel, in liefde, in gees, in geloof, in reinheid” (1 Timotheüs 4:12). Hy het ook vir Timotheüs gesê: “Vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit ’n rein hart aanroep” (2 Timotheüs 2:22). As jy waarlik hierdie dinge najaag, sal jy vind dat dit nou inderdaad ’n wonderlike tyd is om te lewe!

20. Wat is jou gesindheid terwyl jy sien hoe hierdie ou wêreld sy einde tegemoetgaan?

20 Die ou wêreld gaan ’n rampspoedige einde tegemoet, maar as jy die voorbeeld van Samuel, Timotheüs en ander getroue knegte van God volg, kan jy na beter dinge uitsien. Jaag God se guns na. Streef daarna om die einde van hierdie ou stelsel te oorlewe en tot in die regverdige toestande wat ophande is, behoue te bly. Ja, slaan ag op Paulus se raad: “Wees vlytig in hierdie dinge, leef daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees.”—1 Timotheüs 4:15.

[Voetnoot]

a Kyk Die waarheid wat lei tot die ewige lewe, bladsye 145-149; Jou jeug—Hoe om dit ten beste te benut, hoofstuk 16, vir goeie besprekings oor hierdie sake.

JONGMENSE, WATTER GEDAGTES ONTHOU JULLE OOR DIE SOEKE NA WARE GELUK?

◻ Waarom is dit nou ’n goeie tyd om jonk te wees?

◻ Noem ’n paar kinders wat God in Bybeltye gedien het.

◻ Waarom moet ons slegte omgang vermy?

◻ Hoe kan julle probleme by die skool vermy?

◻ Waarom moet doelwitte vir julle belangrik wees?

◻ Watter nuttige doelwitte kan julle nou hê?

◻ Watter langtermyn-doelwitte kan julle nastreef?

◻ Watter belangrike doelwit kan julle najaag, en hoe?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel