Hoe kan godsdiens die spanning verlig?
VERDRUKKING, honger, sedelike verval, dwelmmisbruik, die gevaar van kernoorlog—dit is van die geskille waarop die politieke aktivisme van party geestelikes toegespits is. Alle Christene is vanselfsprekend begaan oor sulke sake. Maar is politieke betrokkenheid die manier om wêreldspanning te verlig?
Godsdiensleiers bemoei hulle met die politiek omdat hulle ’n “morele gees” wil skep of regerings wil waarsku wanneer hulle die “verkeerde weg” inslaan. Maar sê nou hulle slaan self die verkeerde weg in. Wat dan? Om die saak van Serwiese nasionalisme te bevorder, het ’n Serwiese priester byvoorbeeld onlangs ’n bom in die huis van ’n Joego-Slawiese konsul in die Verenigde State laat afgaan. So ’n daad van terrorisme is beslis verkeerd, veral wanneer ’n priester dit doen! Ongeag wat sy beweegredes is, die priester gee voor dat hy God verteenwoordig. Tog maan God se Woord almal wat in Hom glo duidelik: “Moenie julle wreek nie . . . want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here” (Romeine 12:19). Dade soos dié van hierdie priester verswak die morele leiding wat party kerke probeer gee.
Bowendien koester baie, selfs in die Katolieke kerk, ernstige bedenkinge oor die priesters en nonne wat in revolusies betrokke raak. ’n Colombiaanse Jesuïet het gesê: “Die eerste mense wat in ’n gewapende opstand ly, is die armes, nie die geestelikes of die biskoppe nie. Hoe kan ons so ’n standpunt steun?” Die pous self het probeer om politieke aktivisme te beperk deur te sê dat dit die plig van ’n priester of ’n non is om na die geestelike behoeftes van die kudde om te sien, in plaas daarvan om hulle vir opstand te organiseer.
Die bydraes van die Wêreldraad van Kerke aan revolusionêre groepe het eweneens polemiek uitgelok, veral toe dit aan die lig gekom het dat party van die groepe wat skenkings ontvang ’n reputasie daarvoor het dat hulle sendelinge vervolg! Die Heilsleër het hom weens die geskil aan die Raad onttrek.
Selfs die Protestantse drukgroepe in die Verenigde State word gekritiseer. ’n Tydskrifredakteur het gesê: “Al wat in die bedrywighede van die Christelike regtersy van Jesus oorbly, is sy naam.” Die redakteur is klaarblyklik die mening toegedaan dat sulke persone meer soos gewetenlose politici as bedienaars van die Woord optree wanneer hulle in die politiek betrokke raak. Dit herinner ons aan die vermaning van die Bybelskrywer Jakobus, naamlik dat ’n ware Christen hom “vlekkeloos [moet] bewaar van die wêreld”.—Jakobus 1:27.
Godsdienstige aktivisme opper dus moeilike vrae in die gedagtes van denkendes. Maar gestel nou godsdiensleiers gee net “diskreet” raad oor bepaalde aspekte van regeringsbeleid. Selfs dit skep probleme, aangesien hierdie leiers teenstrydige raad gee. Dit dra niks tot die verligting van spanning by nie.
In die Verenigde State staan party kerkmense byvoorbeeld ontwapening voor. Maar ander wil sien dat hulle land die “sterkste leër sedert die Skepping” het. Die Morele Meerderheid beywer hom vir die “behoud van Amerika”, tesame met sy kapitalistiese stelsel. Maar ’n amptenaar van die Wêreldraad van Kerke het geskryf: “’n Wêreldrevolusie is nodig om die mensdom te bevry van die vernietiging, verkwisting, uitbuiting en verdrukking waartoe die kapitalistiese stelsel aanleiding gegee het.” Hy het toe die Kubaanse weergawe van hierdie “wêreldrevolusie” geloof.
Selfs op die gebied van geslagsedelikheid spreek godsdiensleiers verskillende menings uit. Hoe moet die buitestaander dan weet wat die “morele” standaard is waarvolgens hy moet leef en wat die “verkeerde weg” is wat hy moet vermy? Word “reg” of “verkeerd” bepaal deur die nasie waarin ’n persoon gebore word, die politieke party waaraan hy behoort, die kleur van sy vel of sy ekonomiese status? Of het God ’n standaard vasgestel wat vir almal oral geld?
Godsdiens se betrokkenheid in die politiek het in baie opsigte tot verwarring gelei en nie tot ’n “godvresende” element in wêreldaangeleenthede nie. Beteken dit dat godsdiens geen rol het om te speel nie? Kan dit geen bydrae lewer om spanning in die wêreld te verlig nie?
Die beste manier om te help
Die feit is dat ware godsdiens ’n ontsaglike bydrae kan lewer. Maar om te sien wat daardie bydrae is, moet ons ’n paar basiese feite verstaan.
Eerstens, om enige waarde te hê, moet godsdiens met God se stem spreek, nie die mens s’n nie. Hoe kan dit gedoen word? Die Bybel sê: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Timotheüs 3:16, 17). As ’n geestelike sy eie mening uitspreek, al staan hy met ’n Bybel in die hand, dra daardie mening niks meer gewig as die mening van enigiemand anders nie. Maar as wat hy sê inderdaad uit die Bybel of “Skrif” kom, is dit God se gedagtes.
Tweedens, Jesus het gesê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie” (Johannes 18:36). Daarom is die ware, Bybelse godsdiens neutraal ten opsigte van die wêreld se politiek. Dit is nie vir of téén enige nasie, ras, politieke stelsel of ekonomiese bedeling nie. Christene is voorstanders van God se koninkryk, nie ’n “koninkryk” van hierdie wêreld nie. ’n Christen moet net so min in die politieke geskille van hierdie wêreld kant kies as wat Jesus kant gekies het in die kankerende geskille tussen die Jode en die Romeine van sy dag.—Markus 12:17.
Net soos Christene vandag het Jesus fisiese hulp aan die siekes en behoeftiges verleen wanneer hy kon. Maar hy het nie in die politiek betrokke geraak nie. Sy vernaamste werk was die verkondiging van “die evangelie van die koninkryk” (Mattheüs 9:35). In die lig van vandag se moeilike wêreldtoestande is die verkondiging van hierdie selfde “evangelie” die beste manier waarop ’n Christen sy naaste kan help.
Waarom is dit beter as politieke betrokkenheid? Omdat die probleme van die mensdom, ondanks die ywerige en opregte pogings van party politici, nooit ten volle deur politieke optrede opgelos sal word nie. Dit is ’n feit wat enige realis moet erken. Bomenslike gesag en mag is nodig om ontslae te raak van armoede, siekte, verdorwenheid en al ons ander euwels. En die Bybel verduidelik dat slegs God dit deur sy koninkryk, sy hemelse regering met Jesus Christus as koning, sal doen.—Jeremia 10:23; Daniël 2:44.
Jesus se opdrag aan sy volgelinge was gevolglik nie om die politici van die wêreld te probeer beïnvloed nie, maar om dissipels te maak, iets wat hulle vandag doen deur “hierdie evangelie van die koninkryk” in die hele wêreld te verkondig (Mattheüs 24:14). Hulle moet vir die mensdom sê waarom daardie koninkryk spanning sal verwyder, en hoe ons weet dat dit nou baie naby is. Hulle werk is om vir ander te vertel van die seëninge wat daardie koninkryk nou sowel as in die toekoms gaan bring, en hulle moet mense help om dissipels van Jesus Christus te word, iets wat hulle in staat sal stel om hierdie seëninge te ontvang.—Mattheüs 28:19, 20; 1 Timotheüs 4:8; Openbaring 21:3, 4.
Hierdie boodskap is van die allergrootste waarde vir diegene wat dit aanneem. Dit beantwoord hulle verwarrendste vrae, verdryf hulle twyfelgedagtes, help hulle om die spanning waarmee hulle nou te kampe het die hoof te bied en wys gevolglik vir hulle hoe om die “vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan”, te geniet.—Filippense 4:6, 7.
Is dit genoeg?
Party meen oënskynlik dat dit ontoereikend is. ’n Polities bedrywige geestelike in ’n Westerse land waar sekularisme en onsedelikheid hoogty vier, het gesê: “Christene sal ’n streng, aktivistiese houding moet aanneem . . . of dis klaarpraat met ons.” Maar sal die Christelike godsdiens ondergaan as erkende Christene nie politieke aktiviste word nie?
Party sendelinge in arm lande meen ook dat dit nie genoeg is om net die “evangelie” te verkondig nie. Hulle meen dat die mense nou hulp nodig het. Hulle neem gevolglik deel aan revolusionêre bedrywighede. Maar enige pogings om gevestigde regerings omver te werp, druis beslis in teen die Bybel se raad: “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is” (Romeine 13:1). Dit is ook heeltemal teenstrydig met die gedrag van Jesus en sy eerste volgelinge wat “nie van die wêreld” was nie (Johannes 17:16). Dit laat slegs die spanning toeneem.
Jesus het vir sy ware volgelinge belowe: “Kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Mattheüs 28:20). Gedurende die eerste eeue na Jesus se dood het erkende Christene daardie belofte geglo. Hulle het niks met die politiek te doene gehad nie. En alhoewel hulle vervolg is en deur ongeloof omring was, het die Christelike geloof voortbestaan.
Jesus is vandag steeds met sy volgelinge. Hy is steeds in staat om die ware Christelike godsdiens te bewaar sonder dat Christene hulle met die politiek hoef te bemoei. En hy sal God se voorneme om die aarde in ’n paradys vol gelukkige, ontspanne mense te omskep, volbring ondanks die feit dat so baie mense vandag meen dat hulle die wêreld moet verander.—Daniël 2:44; Openbaring 21:4.
Maar is die “evangelie” genoeg vir die armes van die wêreld? Een van Jehovah se Getuies wat etlike jare lank ’n sendeling in die Verre Ooste was, het gesê:
“Dit is waar dat die armoede wat ons gesien het ons dikwels hartseer gestem het. Maar wat sou dit gehelp het as ons die armes aangespoor het om in opstand te kom? Wie kon waarborg dat die volgende regering beter sou vaar?
“Ons het dus die mense se aandag gevestig op ’n regering wat ons geweet het beter sou vaar, naamlik God se koninkryk. En wanneer daardie armes die evangelie oor hierdie koninkryk aangeneem het, het hulle bewus geword van ’n nuwe verhouding met God. Hulle het gesien dat hy werklik vir hulle omgee en hulle het sy hulp tydens krisisse in hulle lewens ondervind. Dit het hulle ’n waardigheidsbesef en vertroue in die toekoms gegee.”
En een van Jehovah se Getuies wat jare lank “die evangelie van die koninkryk” in Sentraal-Amerika verkondig het, het saamgestem. Hy het bygevoeg: “Armes wat die ‘evangelie’ aangeneem het, het hulle vorige bygelowe en hulle slegte gewoontes soos die rookgewoonte, dobbelary, dronkenskap en betelneutkouery laat vaar; en hulle materiële omstandighede het dikwels verbeter omdat hulle hulle geld beter gebruik het.
En wanneer hulle geestelike dinge eerste in hulle lewens gestel het, was hulle materiële armoede nie meer vir hulle so ’n groot las nie. Hulle was nie langer jaloers op die rykes nie, want hulle het besef dat hulle iets gehad het wat baie rykes nie gehad het nie.”
Ja, dit is natuurlik om besorg te wees oor die toenemende goddeloosheid, die algemene verdrukking en honger en die ander euwels van hierdie stelsel. Die voortbestaan van hierdie probleme getuig van die mensdom se dringende behoefte aan God se koninkryk. Dit is die enigste hoop wat enigiemand het om ’n gelukkige toekoms te geniet, en slegs die ware, Bybelse Christelike godsdiens help mense om waarlik daaraan te glo. Sodoende verleen dit die allerbeste hulp om hedendaagse spanning te verlig.
[Lokteks op bladsy 6]
Party kerkmense wil sien dat hulle land die “sterkste leër sedert die Skepping” het
[Prent op bladsy 7]
Jesus het sy volgelinge geleer om dissipels te maak, nie om politieke aktiviste te wees nie
[Prent op bladsy 8]
Die Bybel se boodskap help mense om die krisisse in hulle lewens die hoof te bied
[Lokteks op bladsy 9]
‘Ons het die mense se aandag gevestig op ’n regering wat ons geweet het beter sou vaar, naamlik God se koninkryk’—’N SENDELING