Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 3/1 bl. 27-29
  • Bedrywige Christene in ’n kritieke tyd

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bedrywige Christene in ’n kritieke tyd
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • GILEAD-SKOOL SE GRADEDAG
  • NUTTIGE RAAD AAN BEDRYWIGE CHRISTENE
  • Gileadsendelinge is uniek!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • ’n Nuwe tuiste vir die Gilead-Sendingskool
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Veertig jaar van sendelingopleiding word gevier
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Nuwe sendelinge—voorbereid vir sukses in die veld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 3/1 bl. 27-29

Bedrywige Christene in ’n kritieke tyd

NET soos ander mense rondom die aardbol is jy moontlik deeglik daarvan bewus dat ons in kritieke tye lewe.

Baie besef dat die tye kritiek is omdat so baie aandag geskenk word aan wapens en oorlog. Ander sien dat dit so is as gevolg van die ekonomiese probleme. Of, as iemand vir jou sou vra waarom ons tye kritiek is, sou jy dalk dink aan die toenemende misdadigheid en geweld. Hierdie probleme bewys eenvoudig dat ons in ’n voorspelde tydperk lewe: “Weet dit, dat daar in die laaste dae swaar [kritieke, NW] tye sal kom.”—2 Tim. 3:1-5.

Maar op Sondag, 13 September 1981, was daar ’n spesiale geleentheid wat duidelik getoon het dat Christene selfs in ons “kritieke tye” geestelik aktief en optimisties oor die toekoms kan wees. Wat was daardie geleentheid? Hoe kan ons daarby baat vind?

GILEAD-SKOOL SE GRADEDAG

Die spesiale geleentheid in New York, N.Y., V.S.A., was die gradeplegtigheid van die 71ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead. Ons kan gerus nadink oor ’n paar gedagtes wat gedurende die program gemeld is.

Die hoofspreker was F. W. Franz, die president van die Wagtoringgenootskap en van die Skool. Hy het sy uurlange toespraak geopen met ’n hersiening van die skool se geskiedenis. Nadat die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, het die destydse president van die Genootskap, J. F. Rutherford, gemeen dat intense vervolging van Jehovah se Getuies dalk sou noodsaak dat die Genootskap sy hoofkwartier in Brooklyn, New York, verlaat. Hy het dus geboue verder noord in die staat New York laat oprig wat gebruik kon word om die hoofkwartierpersoneel te huisves. Maar in 1942, toe N. H. Knorr die Genootskap se derde president geword het, het ’n noukeurige hersiening van Openbaring hoofstuk 17 getoon dat die vredesorganisasie genaamd die Volkebond, wat deur ’n dier afgebeeld is, weer in die een of ander vorm sou verskyn (Openb. 17:8). Dit het beteken dat die oorlog sou eindig en dat ’n tydperk van vrede sou volg. Soos jy weet, is dit presies wat gebeur het, en die opgeknapte vredesorganisasie is die Verenigde Volke.

Met daardie Skriftuurlike insig is daar besluit om die geboue verder noord in New York te gebruik vir ’n spesiale skool om sendelinge op te lei wat die “evangelie van die koninkryk” gedurende die komende vredestyd na baie ander lande kon uitdra (Matt. 24:14). Hierdie unieke skool is op 1 Februarie 1943 geopen, en as die Genootskap se vierde president het Franz nou die 71 ste graduerende klas toegespreek.

Hy het gepas vir die 27 studente uit agt lande gevra: “Sowat 36 jaar van die huidige vredestyd het verstryk. Hoe lank sal dit nog duur? En watter aanduidings het ons dat dit sommer binnekort gaan eindig?” Hoe sou jy daarop antwoord?

Franz het toe ’n paar boeiende aspekte van Bybelchronologie wat op ons dag betrekking het, bespreek. Hy het gemeld dat Jehovah se Getuies al lank glo dat die jaar waarin die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het, 1914, die einde van die tydperk gekenmerk het wat deur Jesus gemeld is: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die [vasgestelde] tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24, vgl. NW). Dit beteken dat God se koninkryk, wat deur Jerusalem verteenwoordig is, daardie jaar in die hemel opgerig is. Maar party het gesê dat 1914 niks beteken nie en dat Jesus na die vertrapping van die letterlike stad Jerusalem verwys het. Die spreker het egter gevra: “Wat vind jy wanneer jy die gevolge van daardie siening deurdryf?”

In 1967 het die leër van die staat Israel beheer oor die Westelike Oewer, onder meer die ou ommuurde stad Jerusalem, verkry. “Maar”, het Franz gevra, “het dit tot Jehovah God se eer gestrek? Het dit uitgeloop op die koms van die Messias om die koninkryk van God daar in aardse Jerusalem op te rig?” Die duidelike antwoord is Nee. En die letterlike Jode verkondig ook nie die “evangelie van die koninkryk” ter vervulling van Mattheüs 24:14 nie. Die feite toon dus dat die ‘vertrapping’ van “Jerusalem” deur die nie-Jode nie in 1967 geëindig het nie. Die “teken” wat Jesus gegee het, is eerder sedert die belangrike jaar 1914 vervul. Dit is van toe af dat die Messias, die Here Jesus Christus, te midde van sy vyande uit die hemele regeer (Ps. 110:1, 2). Die nuwe sendelinge is dit toe op die hart gedruk dat ‘die tyd kort moet wees’ en dat hulle ’n gevoel van dringendheid moet hê, aangesien daar so baie werk in hierdie kritieke tye is.—1 Kor. 7:29-31.

Die graduerende studente kon geredelik sien waarom hulle bedrywig in Christelike werk moet wees. Dit was ook duidelik vir hulle familielede en ander in die gehoor, wat sowat 2 000 getel het. Almal was verheug om te hoor dat reëlings getref is sodat meer sendelinge opgelei kan word. Twee van die studente sou terugkeer na Duitsland om instrukteurs aan ’n nuwe “Gilead-uitbreidingskool” in daardie land te wees. Dit sal ’n gekonsentreerde kursus van twee en ’n half maande vir bedienaars wees wat opgelei kan word en buitelandse sendingtoewysings kan ontvang sonder dat dit vir hulle nodig is om Engels te leer.

NUTTIGE RAAD AAN BEDRYWIGE CHRISTENE

Ander sprekers op die gradueringsprogram het gesonde Skriftuurlike raad aan die klas gegee, raad waarby alle Christene in ons kritieke tye baat kan vind.

U. V. Glass, een van Gilead-skool se instrukteurs, het almal aangespoor om na te dink oor die voorbeeld van Jeremia, wat voortgegaan het om te preek ondanks teenstand en gevaar. Die profeet Uria, daarenteen, het vreesbevange na Egipte gevlug, slegs om na Juda teruggebring en deur die koning tereggestel te word. Jeremia se voorbeeld, en die steun wat hy van die Ethiopiër Ebed-Meleg ontvang het, is ook beklemtoon in ’n puik drama wat die studente die middag opgevoer het. Die titel van die drama was: “Onverskrokke verkondiger van ’n ongewilde boodskap.”

Die gradueringsprogram het kort maar nuttige toesprake deur ervare predikers ingesluit. David Olson het byvoorbeeld die aandag gevestig op 1 Samuel 2:30, waar God sê: “Die wat My eer, sal Ek eer.” Hy het daarop gewys dat ons dit almal waardeer wanneer ander ons met respek behandel, en daarom moet ons ons dit ten doel stel om ander met eer of agting te behandel. Dit is veral nuttig vir persone wat nou saam woon of saam werk, soos die sendelinge. Karl Klein het getoon hoe belangrik dit is om ‘nie teen mekaar te sug nie’, soos ons in Jakobus 5:9 aangeraai word. Hoewel ons oor ons eie tekortkomings kan sug en steun, beteken dit gewoonlik dat ons ons mede-christene oordeel wanneer ons teen hulle sug, en dit kan hulle ontmoedig of terneergedruk maak.

Alhoewel die studente nie sendelinge geword het deur ’n gelofte af te lê nie, het Ralph Walls dit beklemtoon dat hulle (en ons almal) die gees van die eertydse Nasireërs kan navolg. Hulle het hulself sekere dinge ontsê sodat hulle hulle aandag op geestelike sake kon toespits. En net soos die Nasireërs se hare hulle onderdanigheid aan Jehovah beklemtoon het, moet bedrywige Christene ’n gees van onderdanigheid hê, teenoor diegene saam met wie hulle dien sowel as teenoor God.—Num. 6:2-7.

Die gradueringsprogram het gesluit na die drama en ’n slotgebed. Maar die gehoor was meer vasbeslote as ooit om voort te gaan om ‘met God te wandel’, soos George Gangas die klas vroeër daardie dag geesdriftig aangespoor het om te doen nadat hy op die voorbeelde van Henog en Noag gewys het (Gen. 5:24; 6:9). En almal kon instrukteur J. Redford se toespraak onthou wat afgesluit het met die aansporing aan die gegradueerdes en die gehoor om voort te gaan ‘om die Koning en die Koninkryk’ in hierdie kritieke tye ‘te adverteer’.

[Prent op bladsy 27]

Toekomstige instrukteurs van die Gilead-uitbreidingskool in Duitsland, by Filippynse sendelinge wat pas gegradueer het

[Prent op bladsy 28]

Die Bybeldrama het Jeremia roerend uitgebeeld as ’n onverskrokke verkondiger van God se boodskap

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel