Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 3/1 bl. 21-26
  • Ywerig vir “die werk van die Here”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ywerig vir “die werk van die Here”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • VERSTERK DEUR DIE OPSTANDINGSHOOP
  • “WEES STANDVASTIG”
  • “WEES . . . ONBEWEEGLIK”
  • “ALTYD OORVLOEDIG IN DIE WERK VAN DIE HERE”
  • Hou vas aan die “goeie nuus”!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Die opstandingshoop het krag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • ‘Die dooies sal opgewek word’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Die opstanding—’n Lering wat jou raak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 3/1 bl. 21-26

Ywerig vir “die werk van die Here”

“Wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here.”—1 Kor. 15:58.

1. Waarom behoort die opstandingshoop vir ons almal waarlik sin te hê?

DIE opstandingshoop behoort altyd vir elkeen van ons ’n groot aansporing te wees. Want die vyand die dood raak op die een of ander tyd iedereen se lewe regstreeks of onregstreeks. Wanneer dierbares sterf, kan ons nadink oor Jehovah se wonderlike voornemens, sodat ons “nie treur soos die ander wat geen hoop het nie”. Ons kan glo dat die dode weer sal opstaan, net soos Jesus uit die dood opgestaan het (1 Thess. 4:13, 14). Ons het ook die vaste vertroue dat Jehovah ons in die opstanding sal onthou indien ons sou sterf, mits ons ons toewyding aan hom getrou uitgeleef het.—Joh. 5:28, 29; 6:40.

2. Wat behoort ons gesindheid teenoor die lewe te wees in die lig van Prediker 9:11?

2 Terwyl hierdie “laaste dae” vinnig hulle einde nader, hoop baie van ons om die “groot verdrukking” te oorlewe sonder om ooit te sterf (Matt. 24:21; 2 Tim. 3:1). Maar selfs die vinniges, die sterkes, die wyses en die slimmes word almal deur “tyd en lotgeval” getref. ’n Onverwagte siekte, ongeluk of ramp kan ons tref. Hoe wenslik is dit tog, as so iets gebeur, dat ons ons met ons hele hart, siel, verstand en krag in God se diens bestee het! Want dan kan ons verseker wees van sy goedkeuring en ons aandeel in die opstanding. Ons onkreukbaarheid sou bowendien ’n aansporing en seën gewees het vir ander wat ons waargeneem en na ons geluister het, sodat hulle ook in die opstandingshoop gered kan word.—Pred. 9:11; Mark. 12:30; 1 Tim. 4:15, 16.

VERSTERK DEUR DIE OPSTANDINGSHOOP

3. (a) Op watter doelwit moet ons oë gevestig wees, en waarom? (b) Hoe moet die opstandingshoop Christene onderskraag, hetsy hulle gesalfdes of lede van die “groot menigte” is?

3 Die apostel Paulus het gesê: “As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense.” Ons geloof sou nutteloos wees, ons predikingswerk tevergeefs. Maar ons oë is onafwendbaar gevestig op daardie versekerde doelwit van lewe in Jehovah se nuwe orde—of ons dit nou verkry deur Armageddon te oorlewe, of, soos in die geval van party, deur ’n vroeë opstanding uit die dood. In sy dag het Paulus Christene aangespreek wat deur God se gees gesalf is en van wie daar verwag is om ’n doop tot in die dood te ondergaan, net soos Jesus gedurende die drie en ’n half jaar tot sy teregstelling op Kalvarie ondervind het. Paulus stel dus die vraag: “Indien die dode glad nie opgewek word nie, waarom word hulle ook gedoop met die doel om sodanig te wees?” Ja, die opstandingshoop het daardie Christene onderskraag en hulle in staat gestel om baie beproewings te verduur, en dit kan Christene vandag onderskraag, hetsy hulle hoop ewige lewe in die hemelse koninkryk is of—vir die oorgrote meerderheid—lewe in die aardse ryk van daardie koninkryk.—1 Kor. 15:13-19, 29, NW.

4. Waarom moet ons besoedeling deur Epikureïese filosofie vermy?

4 Waar Paulus oor die situasie in sy dag skryf, sê hy voorts: “Waarom is ons ook elke uur in gevaar? Ek sterf dag vir dag, broeders, so waar as ek op julle roem in Christus Jesus, onse Here. As ek in Efese op menslike wyse met wilde diere geveg het, watter voordeel was dit vir my? As die dode nie opgewek word nie, laat ons dan eet en drink, want more sterf ons!” Terwyl Paulus die “goeie nuus” verkondig het wat die aandag op die verrese Christus gevestig het, het hy baie gevare en vervolging verduur, en deur hierdie dinge heen het hy God se beskerming en seën geniet. As die opstanding bloot ’n versinsel was, was al hierdie dinge tevergeefs. In daardie geval kon Paulus en sy Korinthiese broers hulself net soos die Epikureïese filosowe en hulle volgelinge, aan genot oorgegee het.—1 Kor. 15:30-32.

5. (a) Hoe wesenlik moet die opstandingshoop vir ons wees? (b) Watter goeie hedendaagse voorbeelde het ons terwyl ons die Koninkryk ons doelwit maak?

5 Maar die opstandingshoop en die Messiaanse koninkryk is wesenlik. Hulle is onafskeidbaar aan God se ewige voorneme verbind. Net soos Christene in apostoliese tye deur daardie hoop onderskraag is, word hulle vandag daardeur onderskraag. Die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se Getuies word versier deur die voorbeeld van duisende Christene wat die dood onverskrokke in die gesig gestaar het, wetende dat hulle onkreukbaarheid hulle van ’n vroeë opstanding tot in die “nuwe hemel” of die “nuwe aarde” verseker het. Daar is die honderde Getuies wat in Katolieke Hitler se konsentrasiekampe onthoof of geskiet is, van die honger omgekom het of doodgeslaan is. Meer onlangs het talle Getuies gevare en vervolging in sekere sosialistiese en pasontwikkelende lande verduur. Maar hulle het altyd hulle vertroue in God se inkomende koninkryk gestel. Dit was hulle doelwit, of hulle dit nou sou bereik deur die “groot verdrukking” te oorlewe of deur ’n opstanding te kry. Dit moet nou elkeen van ons se doelwit wees!—Openb. 21:1-4.

6. Watter voorbeeld uit Afrika spoor opsieners aan om hulself onverskrokke in te span?

6 Beskou byvoorbeeld die Afrikaland Zimbabwe, wat jare lank deur burgerstryd verdeel is. Jehovah se Getuies was opvallend as gevolg van hulle neutraliteit en hulle volgehoue verkondiging van die koninkryk gedurende daardie tydperk van geweld (Joh. 17:16). Dit was veral gevaarlik vir die reisende opsieners om met hulle opbouende besoeke aan die gemeentes voort te gaan. Maar hulle het voortgegaan en hulle lewens op die spel geplaas. Soms is hierdie getroue broers gevange geneem terwyl hulle van een gemeente na die volgende gereis het. Hulle is daarvan beskuldig dat hulle vreemdelinge en spioene in die gebied was, en hulle lewens is bedreig. Een kringopsiener is doodgemaak, en sy lyk is by sy fiets laat lê as ’n waarskuwing vir verbygangers. Maar ander kringopsieners het onverskrokke in hulle diens voortgegaan tot die koms van vreedsamer tye daardie soort gevaar verminder het. Mag ons, indien ons ons ooit in soortgelyke omstandighede sou bevind, net so onverskrokke wees in die wyse waarop ons met ons “heilige diens” aan God voortgaan!—Luk. 12:4-7; Rom. 12:1, 2, NW.

7. Hoe is ons broers in El Salvador geseën omdat hulle aan hulle hoop vashou?

7 Daar is vandag ’n soortgelyke krisis in El Salvador, waar burgerstryd dwarsoor die land opgevlam het. Jehovah se Getuies is weer eens streng neutraal ten opsigte van die geweld. Party van hulle is nietemin gedood in kruisvuur. Maar getroue ouere manne het voortgegaan om gemeentes en afgesonderde groepe te dien, te versterk en te bemoedig. (Vergelyk Jesaja 32:1, 2.) Party van hulle het merkwaardige noue ontkomings gehad, maar hulle is vasbeslote om met hulle onderrigtings- en herderswerk voort te gaan, selfs al is dit steeds met lewensgevaar (1 Pet. 5:1-4). Die gemeentes hou hulle vergaderinge voor die aandklok, en Jehovah het hulle gedurende 1981 ryklik geseën met ’n vermeerdering van 22 persent in die aantal verkondigers. Hierdie 8 242 Koninkryksverkondigers het teen die einde van die diensjaar 13 948 tuis-Bybelstudies saam met nuwe belangstellendes gehou. Op watter wonderlike wyse seën ons God almal wat onverskrokke voortbeur, al verkeer hulle “ook elke uur in gevaar”!

8, 9. (a) Hoe is party in ryk lande mislei? (b) Hoe moet ons reageer, en waarom?

8 Maar party in ryker en oënskynlik “veilige” lande is mislei sodat hulle ’n lewenswyse aanvaar het wat geestelik gevaarlik is. Hulle dink dat hulle groot maats met die wêreld kan wees en ’n aangename tydjie in die Epikureïese styl kan geniet, maar terselfdertyd as ’t ware met die een voet in God se organisasie kan staan. Hulle is moontlik beïnvloed deur onverstandige omgang met afvalliges, sodat hulle waardering vir hulle voorreg van gereelde, ywerige Koninkryksdiens afgeneem het. Hoe dwaas tog! Paulus sê reguit aan al sulke persone: “Moenie mislei word nie. Slegte omgang bederf nuttige gewoontes.” Die nuttige teokratiese gewoontes om vergaderinge by te woon en God te dien, word so maklik vervang deur oorgawe aan die genietinge van ’n eiesinnige wêreld. ’n Persoon se gesig van God se nuwe orde vervaag, en daarmee saam die opstandingshoop. Iets soortgelyks het in Paulus se dag met Himeneüs, Alexander en Filetus gebeur. En ongelukkig gebeur sulke dinge vandag met party.—1 Kor. 15:33, NW; 1 Tim. 1:18-20; 2 Tim. 2:15-19.

9 Diegene wat hulle heelhartige ondersteuning op hierdie late tydstip aan Jehovah se organisasie en sy diens onttrek, behoort hulle te skaam! Die teenswoordige wêreldstelsel is op die randjie van die afgrond. Slegs deur in die “goeie nuus” vas te staan, deur ‘daaraan vas te hou’, word ons “ook gered”. Dit is noodsaaklik dat ons voortdurend ons kennis van God verbreed. Heel gepas spreek Paulus diegene aan wat in gebreke gebly het om dit te doen wanneer hy sê: “Wees nugter op die regte manier, en sondig nie; want sommige het geen kennis van God nie. Ek sê dit tot julle beskaming.”—1 Kor. 15:1, 2, 34.

“WEES STANDVASTIG”

10. (a) Watter gesindheid het Paulus en die hedendaagse “dienskneg”-klas teenoor hulle “geliefde broeders”? (b) Hoe hou ons Jaarteks vir 1982 hiermee verband?

10 Paulus sluit sy argument ter ondersteuning van die wonderlike opstandingshoop op ’n hartlike, roerende noot af. “Daarom, my geliefde broeders”, sê hy. Hy wil hê dat sy geestelike broers hulle doelwit moet bereik. Die “getroue en verstandige dienskneg” is vandag eweneens diep besorg oor die geestelike welsyn van die miljoene dwarsoor die wêreld wat in Jehovah se inkomende koninkryk belangstel. Die “dienskneg” wil sien dat die hele “groot menigte” kwalifiseer vir lewe in die aardse ryk van daardie koninkryk. Hulle doen dit deur ‘hulle klere te was’ en God te dien ten einde ongedeerd “uit die groot verdrukking [te] kom” (Matt. 24:45-47; Openb. 7:9, 14). Hoe kan daardie doelwit bereik word? Dit is deur ywerig deel te neem aan die werk van ons Here Jesus Christus. Paulus toon dit aan in hierdie woorde wat vanjaar die Jaarteks van Jehovah se Getuies is:

“Wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here.”—1 Kor. 15:58.

11. Wat beteken dit om “standvastig” te wees?

11 Standvastigheid is noodsaaklik vir diegene wat graag Jehovah se nuwe orde wil ‘haal’. Om standvastig te wees beteken om konstant, ferm, onwankelbaar te wees. Dit is die soort geloof wat ons moet hê, ’n vaste vertroue op die ongesiene dinge wat voorlê, maar wat, as gevolg van ons studie van die Skrif, vir ons so wesenlik geword het asof hulle werklik hier is.—Hebr. 11:1.

12. Watter redes het ons om onwankelbaar in ons diens te wees?

12 Ons weet dat die Messiaanse koninkryk ophande is daar dit in 1914 in die hemele opgerig is. Ons sien die “teken” van Christus se “teenwoordigheid” in Koninkryksheerlikheid in die onstuimige gebeure op aarde in hierdie “laaste dae”. Ons het gesien hoedat die engele God se volk rig terwyl hulle met sendingywer “in die hele wêreld” gepreek het terwyl letterlik miljoene persone op die “goeie nuus” ag geslaan het. Die druk deur Satan se wêreld sal ongetwyfeld toeneem, maar is dit enige rede om in ons “heilige diens”, ons kosbare diens aan die Soewerein van ons lewens, Jehovah God, te weifel? Beslis nie!—Matt. 24:3-14; 25:31-34; Openb. 7:15; 14:6, 7.

“WEES . . . ONBEWEEGLIK”

13. Hoe kan ons net soos Job toon dat ons “onbeweeglik” is?

13 Paulus spoor ons ook aan om “onbeweeglik” te wees. Dit is baie dieselfde as standvastigheid. Dit beteken dat ons nooit ons onkreukbaarheid moet prysgee terwyl ons God se gebooie hou nie. Dit was die gesindheid van die voorbeeldige onkreukbaarheidshandhawer Job, wat van sy God en Regter gesê het: “As Hy my toets, sal ek soos goud te voorskyn kom.” Kan ons sulke vertroue uitspreek? Ons kan, as ons net soos Job van Jehovah kan sê: “Sy weg het ek bewaar sonder om uit te draai. Van die gebod van sy lippe het ek nie afgewyk nie; die woorde van sy mond het ek bewaar meer as my eie wet [as wat vir my voorgeskryf is, NW]” (Job 23:10-12). As ons net soos Job selfs verder gaan as wat vir ons gereelde vergaderinge gereël is en diep in die Wagtoringgenootskap se publikasies grawe na verdere verligting oor die hedendaagse toepassing van God se Woord, sal ons inderdaad gehelp word om standvastig en onbeweeglik in die waarheid te bly.

14. (a) Hoe het Die Wagtoring progressief verligting aan opregte persone verskaf, en met watter gevolg? (b) Watter waarskuwing het dit gerig, en hoe het baie daarop gereageer?

14 Meer as 100 jaar lank al bou Die Wagtoring progressief ’n versameling waarhede op wat handel oor Jesus se losprys, die opstandingshoop en die inkomende koninkryk van ons God. Deur middel van sy bladsye het dit die Bybel in die verstande en harte van miljoene opregte persone laat lewe. Dit het hulle gehelp om die dwaalleerstellings wat in die Christendom se kerke en inderdaad in die hele wêreldryk van valse godsdiens—“Babilon die Grote”—verkondig word, te onderskei. Dit het die aandag gevestig op die groot geestelike val van “Babilon die Grote” en die engel se profetiese bevel sy eie gemaak: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openb. 17:1, 5, 15, 18, vgl. NW; 18:2, 4). Baie is gehelp om juis dit te doen, en hulle het lojale ondersteuners van Jehovah se Messiaanse koninkryk geword.

15, 16. (a) Wat het party nie besef nie? (b) Wie is “daardie dienskneg” van Mattheüs 24:46? (c) Wanneer en hoe het dit duidelik geword dat God slegs een kanaal gebruik om waarheid te versprei?

15 Maar daar was nog altyd party wat wil teruggaan na die opvattings en weë van valse godsdiens in plaas daarvan om onbeweeglik te bly in hulle lojale steun aan die Koninkryk. Hulle besef nie dat die Heer, Christus Jesus, die gesalfde liggaam van sy volgelinge op aarde as ’n “getroue en verstandige dienskneg” gebruik om geestelike voedsel uit te deel nie.—Matt. 24:45-47.

16 Dit was in 1895 dat ’n paar vriende van Zion’s Watch Tower te kenne gegee het dat hierdie tydskrif ’n spreekbuis van “daardie dienskneg” is (Matt. 24:46). Vyande het heftig beswaar gemaak teen hierdie standpunt van sulke vriende, soseer dat The Watch Tower van 1 Oktober 1909 die volgende gesê het:

“Ons vriende hou vol dat hierdie teks toon dat die Here aan die einde van hierdie Evangelie-eeu nie baie kanale sou gebruik vir die verspreiding van die Waarheid nie, maar een kanaal . . . Hulle sê dat hulle almal hulle kennis van Teenswoordige Waarheid regstreeks van die publikasies van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap gekry het, of onregstreeks deur diegene wat hulle verligting deur hierdie kanaal ontvang het. Hulle is dienooreenkomstig bly om as ‘medediensknegte’ met die Genootskap saam te werk, want hulle glo dat hulle sodoende gehoorsaam is aan die voorskrifte van die Goddelike Voorsienigheid, asook aan die instruksies van die Goddelike Woord.”

17. (a) Hoe het party in die verlede en nou probeer om twyfel oor die waarheid te saai? (b) Waarom behoort dit ons bly te maak om “onbeweeglik” in ons omgang met die “dienskneg” te bly?

17 Met verwysing na daardie vyande van die waarheid het The Watch Tower toe gesê:

“Hulle probeer om die gedagtes van die verligtes in ’n ander rigting te keer deur vir hulle te sê dat elkeen op sy eie na die juwele van Goddelike Waarheid moet ‘grawe’; dat die Genootskap se publikasies net die begin is waarop hulle moet verbeter, sodat die leerstellings daarvan mettertyd ver op die agtergrond sal wees. Hierdie ontroue ‘medediensknegte’ gee verder te kenne dat die gevaar bestaan dat mense die Genootskap sal aanbid en dat dit feitlik nodig is om dit te skop of die rug toe te keer om so iets te voorkom. Hulle sê: Kom ons hou ’n Bybelstudie, maar hou die Genootskap se publikasies daaruit!”

Dit is 72 jaar gelede geskryf, en tot vandag toe is daar ’n paar wat probeer om twyfel te saai oor die versameling waarhede wat Jehovah progressief deur sy een kanaal opgebou het. Hoe bly behoort die feit dat ons “onbeweeglik” in ons omgang met die Heer se ‘getroue dienskneg’ is ons tog nie te maak nie namate die lig van waarheid al helderder word!—Kol. 1:21-23.

“ALTYD OORVLOEDIG IN DIE WERK VAN DIE HERE”

18. (a) Wat is die voorskrif om geestelik gesond te bly, en hoe toon Spreuke dit? (b) Wat is party maniere waarop ons “oorvloedig in die werk van die Here” kan wees?

18 Ja, wees “oorvloedig”, nie in werke waar jy jou eie kop volg’ nie, maar in die werk van die Here Jesus Christus. Dit is die voorskrif om geestelik gesond te bly. Geestelike luiheid kan lei tot twyfelgedagtes. Dit kan noodlottig wees, soos Spreuke 19:15 toon: “Luiheid laat in ’n diep slaap val, en een wat traag is, moet honger ly.” In die geval van volgehoue geestelike luiheid, is geestelike verhongering en die dood die gevolg. Laat ons dan besig bly—deur gereeld van huis tot huis te preek (selfs in gebiede waar mense nie gehoor gee nie), deur by elke geleentheid informeel te getuig, deur herbesoeke by sagmoediges te doen en gereelde tuis-Bybelstudies in een van die Genootskap se publikasies saam met hulle te hou. Party van ons kan dalk as “pioniers”, of voltydse Koninkryksverkondigers, dien in hierdie werk van die Here Jesus, wat inderdaad die “pionier” van ons geloof is.—Hebr. 12:2, Moffatt; Jes. 6:8-10.

19. Watter gees moet ons almal openbaar, en hoe kan party ’n groter aandeel in die werk hê?

19 Of ons nou as pioniers ingeskryf het of nie, ons kan almal ons “heilige diens” vreugdevol met ’n ware pioniergees verrig. Dit kan baie van ons beweeg om van tyd tot tyd “hulppionierdiens” te doen. En hoeveel groter sal ons aandeel in “die werk van die Here” tog nie wees as die vreugde wat hulppionierdiens verskaf party van ons kan beweeg om gewone pioniers te word nie!—Rom. 12:1, 2, NW.

20. (a) Wie se medewerkers is ons bevoorreg om te wees? (b) Met watter versekering moet ons die doelwit nastreef? (c) Laastens, watter woorde van Paulus moet ons graag ons eie wil maak, en waarom?

20 Hierdie werk van die Here Jesus, waar ons in sy voetstappe volg, is ook “die werk van Jehovah” (1 Kor. 16:10, NW; Joh. 5:17). Hoe bevoorreg is ons tog om in “die voleinding van die wêreld” medewerkers te wees van die Soewereine Heer Jehovah, die Here Jesus Christus en die hemelse engele! (1 Kor. 3:9; Matt. 25:31-33; 28:19, 20). Want ons weet dat ons “arbeid in die Here nie tevergeefs is nie”. Mag ons, of ons nou die Nuwe Orde deur middel van die opstanding binnegaan of deur die “groot verdrukking” te oorlewe, ook kan sê wat die getroue apostel Paulus in 1 Korinthiërs 15:57 gesê het: “God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus.” Ja, oorwinning oor die dood, wat lei tot die wonderlike seëninge van ewige lewe!

Besef jy . . .

◻ Waarom dit nodig is om te alle tye ten volle bewus te wees van die opstandingshoop?

◻ Watter bemoediging die opstandingshoop vir ons broers is wat daagliks die dood in die gesig staar?

◻ Waarom diegene wat met twyfelaars of afvalliges omgaan hulle behoort te ‘skaam’?

◻ Waarom standvastigheid onontbeerlik is as ’n mens Jehovah se nuwe orde wil ‘haal’?

◻ Hoe betekenisvol die verklaring oor “een kanaal” meer as 70 jaar gelede in “The Watch Tower” was?

◻ Hoe dit ons beskerm as ons pionierdiens doen of op ’n ander wyse “oorvloedig in die werk van die Here” is?

[Prent op bladsy 22]

Party onverskrokke opsieners dien “elke uur in gevaar”

[Prent op bladsy 23]

Die goeie gewoontes om vergaderinge by te woon en velddiens te doen help ons om ywerig vir God se koninkryk te bly

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel