Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 3/1 bl. 30
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom ons goeie verwagtinge vir seker verwesenlik gaan word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Regverdig verklaar “vir die lewe”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Die Romeine kry die allerbeste nuus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Regverdig verklaar as ’n vriend van God
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 3/1 bl. 30

Vrae van lesers

• Romeine 8:30 sê dat Christene “verheerlik” word. Wanneer vind dit plaas, en word hulle “verheerlik” voordat of nadat hulle “geroep” en “geregverdig” is?

In Romeine hoofstuk 8 het die apostel Paulus kommentaar gelewer oor God se handelinge met geesgesalfde Christene. As ’n stap in die verwesenliking van sy voorneme het God hulle vereer of verheerlik deur vir hulle ’n kennis van sy waarhede te gee, onder meer van sy voorneme om hulle “mede-erfgename van Christus” in die hemel te maak (Rom. 8:14-17). Paulus het ook geskryf:

“Die wat (God) vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig [regverdig verklaar, NW]; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.”—Rom. 8:29, 30.

Party wonder oor die volgorde: ‘geroep, geregverdig, verheerlik’. Dit kan beskou word as ’n reeks stappe wat ’n hoogtepunt bereik wanneer gesalfde Christene heerlike geeslewe in die hemel ontvang. Maar let op die tyd van Paulus se woorde: “Die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” Dit lyk asof hy praat van iets wat reeds plaasgevind het, wat nie die geval sou gewees het as hy verwys het na ’n verheerliking van Christene deur ’n opstanding tot hemelse lewe in die toekoms nie.

En selfs al is dit ’n ‘verheerliking’ wanneer God iemand opwek om ’n heerser in die geesteryk te wees, kan individue op baie ander maniere “verheerlik” word. (Kyk Romeine 8:17; Joh. 7:39.) Jesus is op aarde deur sy wonderwerke “verheerlik” (Joh. 11:4). Jesus het gepraat van ’n nederige man wat ‘eer het of verheerlik word deur genooi te word om ’n voorste sitplek by ’n fees in te neem (Luk. 14:10). Moses het “heerlikheid” ontvang as God se woordvoerder in verband met die Wetsverbond (2 Kor. 3:7). Die Bybel sê selfs dat ’n vrou se lang hare vir haar ’n “eer” is of dat sy daardeur ‘verheerlik’ word (1 Kor. 11:15). In al hierdie gevalle word vorms van dieselfde wortel in Grieks gebruik as wat in Romeine 8:30 met “verheerlik” vertaal word.—Luk. 12:27; Rom. 2:10; 1 Thess. 2:6.

Dit is interessant dat “The New Creation” (Deel VI 30 van Studies in the Scriptures) reeds in 1904 in verband met Romeine 8:28-30 gesê het:

“Hierdie gedeelte word gewoonlik verkeerd verstaan, omdat lesers oor die algemeen die indruk kry dat die Apostel Christelike ondervindings hier in die gewone volgorde opnoem, . . . maar die Apostel het hier die teenoorgestelde beskouing, en begin aan die ander kant. . . . Hy spoor die ontwikkeling van die Kerk, die Nuwe Skepping, van agter af terug. Hy toon dat niemand die wonderlike posisie van die heerlike uitverkorenes van God sal bereik nie behalwe diegene wat deur God se genade daartoe geroep [aanvaar] word: en dat al die geroepenes vantevore geregverdig [of, regverdig verklaar] moes gewees het; . . . En hierdie geregverdigdes moes voorheen, voor hulle regverdiging, deur God verheerlik gewees het . . . deurdat hy vir hulle kennis van homself en van sy dierbare Seun gegee het.”—Bl. 182.

Dit is nie buitengewoon dat Paulus hier ’n reeks verwante sake in omgekeerde volgorde, van agter af, opnoem nie. Hy het iets soortgelyks in Romeine 10:13-15 gedoen.

In Romeine 8:28-30 verduidelik Paulus dat God al sy werke “ten goede [laat] meewerk”. Dit is vir die beswil van diegene wat ’n aandeel sal hê in die uitvoering van sy voorneme. In die tuin van Eden het Jehovah God oor ’n komende “saad” geprofeteer (Gen. 3:15). Jesus Christus het die vernaamste lid van hierdie “saad” en van die saad van Abraham geword. Maar God het ook ’n beperkte aantal mense gekies om ’n ondergeskikte deel van die “saad” uit te maak (Gal. 3:16, 29). Van die tyd van die tuin van Eden af het God dus diegene wat die “saad” uitmaak “geken” of “erken” (NW). En hy het “verordineer” dat hierdie uitverkore mense ’n liggaam broers van Christus in die hemel sou word, gelykvormig aan sy beeld.

In Romeine 8:30 skets die apostel dan sekere stappe wat hulle vereniging met Christus in die hemel voorafgaan. Sulke mense moes “geroep” of genooi gewees het om deel van die hemelse koninkryk te word (Rom. 1:7; Filip. 3:14; 1 Thess. 2:12; Hebr. 3:1). Maar hoe kon God hulle ‘roep’ as hulle nog sondaars, lede van Adam se onvolmaakte gesin, was? Voordat God hulle kon ‘roep’, moes hy hulle ‘regverdig verklaar’ deur hulle sondes op grond van hulle geloof in Christus en sy offerande te vergewe (Rom. 3:23-26; 4:25; 5:18). Maar hoe kon hulle daardie nodige geloof kry? Voordat hulle dit kon doen, moes hulle die kennis van Jesus Christus getoon word, wat Paulus elders “die evangelie van die heerlikheid van Christus” noem. (2 Kor. 4:4: vergelyk 1 Timotheüs 1:11.) Daar kan beslis gesê word dat diegene wat hierdie “evangelie van die heerlikheid” aanneem en op die weg kom wat hulle na hemelse heerlikheid sal lei, “verheerlik” of vereer is deurdat hulle dit ontvang het.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel