Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 3/1 bl. 16-20
  • Hou vas aan die “goeie nuus”!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hou vas aan die “goeie nuus”!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE OPSTANDINGSHOOP
  • DIE HEMELSE OPSTANDING
  • “ELKEEN IN SY EIE ORDE”
  • ’N BEVOORREGTE GROEP
  • VAN DIE ALLERGROOTSTE BELANG
  • Die opstanding—’n Lering wat jou raak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Die Koninkryk en die opstandingshoop
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Die opstanding – ’n Vaste hoop!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • Die opstandingshoop het krag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 3/1 bl. 16-20

Hou vas aan die “goeie nuus”!

“Julle hou daaraan vas, tensy julle inderdaad verniet gelowiges geword het.”—1 Kor. 15:2, NW.

1. Waarom het Paulus vurig ten gunste van die opstanding geredeneer?

DIE apostel Paulus voer sy eerste brief aan die Korinthiërs tot ’n klimaks met ’n meesterlike bespreking van die opstanding. Waarom het hy so vurig ten gunste van die opstanding geredeneer? Dit was met ’n tydige doel. Daardie Christene in Korinthe was omring deur ’n hebsugtige, onsedelike wêreld, en party het selfs in Satan se strikke getrap. Paulus wou nie hê dat sy geliefde broers ‘verniet gelowiges moes word’ nie, want dit sou hulle vernietiging beteken. Hy wou eerder hê dat hulle moes vasstaan in die “goeie nuus” wat hy aan hulle verkondig het.

2. (a) Waarom moet ons vandag hard werk ter bevordering van die “goeie nuus”? (b) Hoe hou die opstanding verband met die “goeie nuus”?

2 Ons lewe vandag eweneens in ’n wêreld wat God nie ken nie. Daarom moet ons wat ‘ons hoop gestel het op die lewende God’ hard werk en onsself inspan ter bevordering van die “goeie nuus” (1 Tim. 4:10, NW). Hierdie “goeie nuus” gaan om die opgerigte “koninkryk van ons Here [Jehovah] en van sy Christus”. Dit is deur die opstanding dat Christus Jesus en sy 144 000 medekonings daardie koninkryk, die hemelse berg Sion, beërf. Dit is ook deur die opstanding dat die oorgrote meerderheid van die mensdom die aardse ryk van die Koninkryk sal beërf (Openb. 11:15, NW; 14:1; 20:12). Die opstanding word gevolglik ’n belangrike deel van die “goeie nuus”

DIE OPSTANDINGSHOOP

3. Hoe bots die opstandingsleer met dié oor die onsterflikheid van die siel?

3 Wat is hierdie opstandingshoop dan? Dit is nie ’n hoop wat gebaseer is op die vermeende onsterflikheid van die siel, soos verkondig deur die wêreldryk van valse godsdiens, binne sowel as buite die valse Christendom nie. Nee, dit is ’n hoop vir sterflike siele! Die woord “opstanding” (Grieks, a·na’sta·sis) kom sowat 40 keer in die Christelike Griekse Skrifte voor. Dit beteken dat iemand weer opstaan tot die lewe. Om weer tot die lewe op te staan, moet ’n persoon eers dood wees, want die lewe is die teenoorgestelde van die dood.—Deut. 30:19, 20; Jes. 38:17-19.

4. Wat toon dat die vroeë Jode aan ’n aardse opstanding geglo het en nie aan menslike onsterflikheid nie?

4 In die Hebreeuse Skrifte is daar geen leerstelling oor menslike onsterflikheid nie. Die gedagte was heeltemal vreemd vir die Jode. Maar daar is baie aanduidings dat hulle aan ’n aardse opstanding geglo het. Dit is klaarblyklik waarom hulle gegis het dat Jesus dalk die verrese ‘Johannes die Doper, Elia, Jeremia of een van die ander profete’ was.—Matt. 16:14.

5. Waarna het Abraham en ander eertydse knegte van God, in ooreenstemming met God se voorneme, uitgesien?

5 Nadat die apostel Paulus die getroue weg van Abel, Henog, Noag en Abraham se huisgesin beskryf het, sê hy vir ons: “In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was.” Hulle het uitgesien na ’n opstanding, wat op aarde sou plaasvind onder die bewind van “die stad . . . wat fondamente het”—God se koninkryk in die hande van die Messias. Toe getroue Abraham beproef is deur die versoek om Isak op te offer, het hy “gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek”. Abraham het ook God se belofte aan hom geglo, naamlik “in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word”. Dit is logies dat die oorgrote meerderheid van die mense van daardie nasies opgewek sou moes word om sulke seëninge deur daardie “nageslag” of “saad” te ontvang.—Gen. 22:18, vgl. NW; Hebr. 11:4-19.

6. Wat toon die woorde van Job en van die seuns van Korag oor die opstanding?

6 Later het Job, wat sy onkreukbaarheid gehandhaaf het, die vraag gestel: “As ’n mens sterwe, sal hy weer lewe?” Job het geglo dat ’n mens weer kon lewe. En hy het daardie geloof getoon deur vir God te vra om hom in Sheol (die mensdom se gemeenskaplike graf) weg te steek en na ’n bepaalde tyd weer aan hom te dink (Job 14:13-15). In Psalm 45:17 het die seuns van Korag geprofeteer dat die Messias “seuns” sou hê wat hy gedurende sy duisendjarige bewind as “vorste in die hele land” sou aanstel. Hierdie “seuns” sou van sy waardige “vaders” insluit vir wie hy ’n vader sou word deur hulle uit die dood op te wek.—Matt. 1:1-16; Luk. 3:23-38.

7. (a) Hoe steun die geskrifte van die profete die hoop op ’n aardse opstanding? (b)  Waarom sal Daniël en ander se opstanding “’n beter opstanding” wees?

7 Die geïnspireerde profete het ook van ’n opstanding gepraat, wat hulle verstaan het op aarde sou plaasvind (Jes. 25:8; 26:19; Hos. 13:14). Toe sy dood genader het, het die bejaarde Daniël die belofte ontvang: “Jy sal rus en weer opstaan tot jou bestemming aan die einde van die dae” (Dan. 12:13). Daniël, “wat deur die geloof . . . [selfs] bekke van leeus toegestop” het, het uitgesien na “’n beter opstanding”. Dit sou ’n opstanding tot die lewe onder God se opgerigte koninkryk wees, in teenstelling met wat Elia, Elisa, Jesus en die apostels gedoen het toe hulle persone opgewek het wat later weer gesterf het.—Hebr. 11:33, 35.

8. Watter beskouing van die opstanding het Johannes se boodskappers en Martha gehad?

8 Nadat Jesus met sy bediening begin het, het die gevange doper, Johannes, boodskappers gestuur om te vra of Jesus werklik die Messias is. Nadat hy nog wonderdadige genesings verrig het, het Jesus vir hulle gesê: “Gaan vertel aan Johannes wat julle sien en hoor: blindes sien weer, kreupeles loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig” (Luk. 7:19-23). Jesus het sodoende nie alleen gestaaf dat hy die Messias was nie, maar hy het ook geloof gebou in wat hy deur sy koninkryk tot stand sou bring, onder meer selfs die opwekking van die dode. Daardie mense het begryp dat dit ’n opstanding op aarde sou wees. So ook Martha, toe sy later aangaande die afgestorwe Lasarus vir Jesus gesê het: “Ek weet dat hy sal opstaan in die opstanding in die laaste dag.”—Joh. 11:24.

DIE HEMELSE OPSTANDING

9. Hoe is Lasarus in staat gestel om die hoop op ’n hemelse opstanding te ontvang?

9 As Jesus Lasarus nie toe opgewek het nie, sou sy hoop inderdaad ’n aardse gewees het. Maar Jesus het wel daardie wonderwerk verrig en Lasarus tydelik uit die dood teruggebring. Lasarus het ongetwyfeld tot na Pinksterdag, 33 G.J., gelewe, en dit sou beteken dat hy ’n bykomende guns deur sy Heer bewys is. Want op daardie Pinksterdag sou hy deur God se gees verwek gewees het tot die hoop op hemelse lewe, met die vooruitsig op ’n hemelse opstanding. Hoe is dit moontlik gemaak?

10. Watter verkeerde beskouing het in Paulus se dag ontstaan, maar hoe het hy dit weerlê?

10 In sy eerste brief aan die Christene in Korinthe bespreek die apostel Paulus die opstanding. Party in daardie gemeente het geredeneer dat “daar geen opstanding van die dode is nie”. Hulle het skynbaar die beskouing gehuldig dat lewende Christene reeds die een of ander soort geestelike “opstanding” ondervind het, en party het dit moontlik vermeng met Plato se filosofie oor die onsterflikheid van die siel. Wat ook al die besonderhede van hulle verkeerde beskouing was, Paulus het dit goedgedink om ‘hulle op hulle plek te sit’ deur ’n meesterlike argument ten gunste van die ware leerstelling oor die opstanding aan te voer en klem te lê op ‘die goeie nuus waardeur hulle ook gered word’.—1 Kor. 15:1, 2, 12, vgl. NW.

11. Wat is die verband tussen die “goeie nuus” en die opstandingshoop?

11 Wat is hierdie “goeie nuus”? Dit draai om die Christus. Onder die “eerste dinge” van belang sluit Paulus die feit in dat Christus gesterf het, begrawe is, opgewek is en dat hy eers aan Cefas (Petrus) verskyn het, en daarna by verskeie geleenthede aan 500 en meer ander persone, en eindelik aan Paulus self. Christus is waarlik in die gees opgewek! (1 Pet. 3:18, NW). Hierdie aangrypende gebeure was “volgens die Skrifte”, soos Paulus twee keer beklemtoon het, en dit het alles bevestig wat Jehovah se woord aangaande die Messias voorspel het. Ons geloof sou nutteloos gewees het as dit nie geanker was in die feit dat Jesus Christus opgewek is nie.—1 Kor. 15:3-8, 17.

“ELKEEN IN SY EIE ORDE”

12. Hoe word Christus ’n “eersteling”?

12 ’n Entjie verder verbind die apostel die opstanding met Jehovah se Koninkryksvoornemens. Paulus sê met vertroue: “Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het.” As Christus ’n “eersteling” is, moet daar ook ander verresenes wees, “maar elkeen in sy eie orde”. Ander moet wag tot Christus se “teenwoordigheid” in Koninkryksmag, wanneer die vrykoper, Jesus Christus, begin om diegene wat “sterwe” of gesterf het weens sonde wat hulle van Adam geërf het ‘lewend te maak’.—1 Kor. 15:20-23, vgl. NW.

13. Hoe vind die opstanding volgens “orde” plaas?

13 Na Christus sal die 144 000 gesalfde Koninkrykserfgename, wat tot hul dood in Jesus se voetstappe gevolg het, ‘in hul eie orde’ opgewek word. Hierdie opstanding begin “gedurende sy teenwoordigheid [Grieks, parousia]”, sedert die veelbewoë jaar 1914. ’n Klein oorblyfsel van Jesus Christus se geestelike “broeders” dien nog op aarde, en hulle sal eweneens “in ’n oogwink” by hulle dood as mense in hierdie “orde” opgewek word. So sal die hele “[geestelike] Israel van God” tot die hemelse koninkryk versamel word.—1 Kor. 15:22, 23, 50-52, vgl. NW; Hebr. 2:10-13; Openb. 7:4-8; Gal. 6:16.

14. Hoe lig Paulus die hemelse opstanding toe?

14 Die apostel lig die dood en opstanding van geesverwekte Christene mooi toe. Hy doen dit deur dit te vergelyk met die dood van ’n blote koringkorrel of enige ander korrel waaruit ’n nuwe plant spruit. Ja, die liggaam, “gesaai in verganklikheid”, word “opgewek in onverganklikheid” as ’n heerlike geesliggaam wat ‘die beeld dra van die laaste Adam’—die Here Jesus Christus.—1 Kor. 15:35-49.

15. Waar vind die “beter opstanding” plaas, en wie word ingesluit?

15 Maar is die 144 001, Christus bygereken, die enigstes wat in behoorlike orde opgewek word? Glad nie! Want Hebreërs 11:40 deel ons mee dat hulle tot “iets beters”, ’n hemelse geestelike staat, opstaan. Vergeleke waarmee is dit beter? Dit is beter as die staat wat verkry word in die opstanding wat volgende plaasvind! Hierdie opstanding moet diegene insluit wat “vorste in die hele land” gemaak sal word en wat redelikerwys onder die eerstes sal wees wat na Jehovah se klinkende oorwinning by Armageddon se veldslag op aarde opgewek gaan word. Hulle sal gevolglik in staat wees om hulle toegewese pligte in die “nuwe aarde”—die teokratiese gemeenskap van God se volk op die gereinigde aarde—te begin nakom. Hulle opstanding is ’n “beter opstanding”, want dit vind plaas onder God se koninkryk, met die vooruitsig van ewige lewe vir die verresenes. Ons verwag om getroue toegewyde Christene wat vandag ’n aardse hoop het en wat weens verskeie oorsake voor die koms van die “nuwe aarde” sterf in hierdie betrokke groep aan te tref.—Jes. 32:1; Openb. 16:14, 16; 21:1, 3, 4.

’N BEVOORREGTE GROEP

16. Watter ander groep is besonder bevoorreg, en watter voorregte geniet hulle?

16 Maar daar is een groep wat besonder bevoorreg is. En wie is dit? Dit is die “groot menigte” wat die apostel Johannes breedvoerig in Openbaring 7:9-17 beskryf. Hulle hoop is ewige lewe in die “nuwe aarde”. As ’n groep lewe hulle deur die “groot verdrukking” sonder om ooit te sterf. Watter kosbare voorreg geniet hulle tog omdat hulle ‘hul klere gewas en hul klere wit gemaak het in die bloed van die Lam’! Daar is gesien hoedat hierdie “groot menigte”, wat op die oomblik meer as 2 300 000 tel, in hierdie uiters belangrike slotgedeelte van die “laaste dae”, wanneer ’n weergalmende getuienis vir die nasies en mense van die aarde gegee moet word, sulke “heilige diens” in die aardse voorhowe van Jehovah se reëling vir aanbidding verrig. Hierdie “groot menigte” ondervind geen versengende “hitte” van goddelike veroordeling nie. En waarom nie? “Want die Lam [Jesus Christus] wat in die middel van die [hemelse] troon is, sal hulle laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei, en God sal alle trane van hulle oë afvee.”

17. (a) Watter vreugde wag op die “grootmenigte”? (b) Hoe sal die opstandingswonderwerk verder verloop?

17 Die “groot menigte” sal ongetwyfeld vreugdevol wees wanneer hulle oor die gereinigde aarde versprei en verrese getroues verwelkom. Op God se bestemde tyd sal die duisendmiljoene mense in die “grafte” ook op ’n ordelike wyse in ’n algemene opstanding op die aarde uitkom (Joh. 5:28, 29; Openb. 20:12). Watter blydskap sal daar tog onder die gelukkige, verenigde geslagte van die mensdom heers wanneer die “nuwe aarde”-gemeenskap begin funksioneer en Christus en sy medeheersers die voordele van sy losprysoffer aanwend om die mensdom te genees en hulle te help om verstandelik en liggaamlik volmaak te word!—Jes. 65:17, 18; 2 Pet. 3:13.

18. Hoe sal God se wonderlike voorneme met ons aarde heeltemal vervul word?

18 ’n Duisend jaar sal soos een dag verstryk, ten minste uit Jehovah se standpunt (2 Pet. 3:8). Die aarde sal vol volmaakte mense wees, net soos Jehovah hom voorgeneem het die geval moes wees toe hy die eerste man, sowat 7 000 jaar tevore, geskape het. Sy ‘rusdag’ van 7 000 jaar sal verstryk, en dit sou nie tevergeefs gewees het nie, want sy wonderlike voorneme met ons aarde sal vervul wees. Wat nou?

19. Wat gebeur nadat die “laaste vyand” vernietig is?

19 Die apostel Paulus deel ons mee: “Daarna kom die einde, wanneer [Christus] die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag [van verset] vernietig het. Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. . . . dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees” (1 Kor. 15:24-28). Dan sal Satan vrygelaat word, soos beskryf word in Openbaring 20:7-10, om die onkreukbaarheid van die volmaakte mensdom individueel te beproef. Daarna sal hy, en die wat hom volg, gewerp word in die simboliese “poel van vuur”, wat ewige vernietiging voorstel.

20. Watter wonderlike vooruitsig sal die mensdom hê wanneer God se rusdag eindig?

20 Daar die dag waarop God “gerus het van al sy werk” ten opsigte van die aardse skepping nou verstryk het, sal hy ongetwyfeld begin met nuwe werke wat tot in alle ewigheid sal strek. Die aarde se vreugdevolle bewoners, wat hulle voortdurend in die frisheid van jeugdige krag sal verheug, sal nooit ’n vervelige oomblik beleef terwyl hulle besig is met watter werk die doelbewuste God hulle ook al sal gee om te doen nie.—Gen. 2:3; Jes. 66:22.

VAN DIE ALLERGROOTSTE BELANG

21. Hoe kan ons baat vind by Paulus se argument in 1 Korinthiërs 15?

21 Ons moet ‘vashou aan die goeie nuus’, onder meer die opstandingshoop, want die opstanding is van die allergrootste belang vir al God se knegte. Getroue manne en vroue van vervloë tye het aan ’n aardse opstanding geglo, en hulle het daarna uitgesien (Hebr. 11:13-16). Christus Jesus is opgewek as die “eersteling” van die opstanding, iets wat honderde ooggetuies bevestig het. Gesalfde, geesverwekte Christene het in apostoliese tye en ons dag “in die ganse mensdom onder die hemel” gepreek, sodat die “goeie nuus” in verband met die opstanding reg rondom die aardbol gedra is (Kol. 1:23). En namate die oorblywende gesalfdes hulle aardse loopbaan voltooi om hulle hemelse beloning te ontvang, het ’n “groot menigte”, weer eens met die hoop op ewige lewe op aarde, begin om die “goeie nuus” van die Koninkryk te verkondig.—Matt. 24:14, vgl. NW.

22. Watter vermaning gee Paulus ten slotte in sy brief, en waarom het ons alle rede om daarop ag te slaan?

22 Hoe bevoorreg is al hierdie groepe tog wanneer hulle hul doelwitte bereik, elkeen in sy eie orde! Ons het vandag voorwaar alle rede om ag te slaan op Paulus se verdere vermaning: “Waak, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk. Laat alles by julle in liefde geskied” (1 Kor. 16:13, 14). Sodoende sal ons gelowiges met goeie gevolg wees.

Kan jy die volgende vrae beantwoord?

◻ Wat toon dat manne en vroue van geloof in vervloë tye na ’n opstanding op aarde uitgesien het?

◻ Hoeveel het ná Christus, die “eersteling”, “elkeen in sy eie orde” deel aan die hemelse opstanding?

◻ Wanneer en in watter groepe vind die opstanding op aarde plaas?

◻ Hoe is een klas besonder bevoorreg om lewe op aarde sonder ’n opstanding te verkry?

◻ Wat moet ons almal doen sodat ons nie “verniet gelowiges geword het” nie?

[Prent op bladsy 16]

Die “goeie nuus” gaan oor God se koninkryk in die hande van Christus, die hoop vir die herstelling van paradys op ons aarde

[Lokteks op bladsy 16]

’N WÊRELDRYK VAN VALSE GODSDIENS VESTIG SY HOOP OP DIE PLATONIESE LEERSTELLING DAT ALLE SIELE ONSTERFLIK IS

[Lokteks op bladsy 17]

DIE WARE CHRISTELIKE GODSDIENS BLY BY DIE BYBELSE HOOP VAN DIE OPSTANDING VAN ONBEWUSTE SIELE UIT DIE GRAF

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel