Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 3/1 bl. 10-15
  • Jou Bybel—Hoe dit gemaak is

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jou Bybel—Hoe dit gemaak is
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • VAN VEERPENNE TOT REKENAARS
  • DIE 1981-UITGAWE VAN DIE “NEW WORLD TRANSLATION”
  • GEREKENARISEERDE OPMAAKWERK
  • NUWE BYBELPERS
  • VEELTALIGE REKENARISERING
  • WÊRELDWYE MODERNISERING
  • Die druk en verspreiding van God se heilige Woord
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Die Nuwe Wêreld-vertaling word wêreldwyd deur miljoene waardeer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • ’n Mylpaal vir liefhebbers van God se Woord
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Studie nommer 7—Die Bybel in die nuwe tyd
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 3/1 bl. 10-15

Jou Bybel—Hoe dit gemaak is

IN ONS gewelddadige, honger en besoedelde wêreld is daar geen gebrek aan slegte nuus nie. Maar daar is ook goeie nuus: In hierdie bose “laaste dae” van Satan se stelsel word miljoene eksemplare van God se Woord, die Bybel, in honderde tale gedruk en oor die hele aarde versprei.—2 Tim. 3:1.

Hoe graag sou Satan en sy demone tog ’n einde aan hierdie wêreldwye verspreiding van God se Woord wou maak! Tog is die volledige Bybel vandag in 275 tale beskikbaar, en ten minste een of meer van die Bybelboeke kan in 1 710 tale gevind word, sodat God se Woord beskikbaar is in die taal van feitlik elke persoon op aarde. Selfs in hierdie donker tydvak in mensegeskiedenis ‘is Jehovah se hand nie te kort’ om sy lewegewende Woord by diegene te kry wat dit nodig het nie.—Jes. 50:2.

Party versprei weliswaar Bybels met die oog op die kasregister. Daar word na raming elke jaar 20 miljoen eksemplare in die Verenigde State verkoop, baie met winsoogmerk. Maar ander persone vertaal, druk en versprei God se Woord uit liefde vir God en naaste. Jehovah se Getuies is besonder bedrywig in hierdie werk.

Die vroeë Christene het baanbrekerswerk gedoen met die ontwikkeling van die kodeks (’n vroeë vorm van die losvelboek wat die ongerieflike boekrolle vervang het wat destyds gebruik is). Hedendaagse Christengetuies van Jehovah benut eweneens moderne gerekenariseerde set- en opmaakmetodes en gevorderde rubberdruktoerusting. Hulle doelwit? Om Bybels teen ’n nominale prys aan almal beskikbaar te stel. Jy besit moontlik ’n eksemplaar van die nuwe 1981-uitgawe van die New World Translation of the Holy Scriptures.a Wil jy graag weet hoe hierdie Bybel gemaak is?

VAN VEERPENNE TOT REKENAARS

Jy sou nie ’n Bybel besit het as versigtige afskrywers in die verlede nie die Skrif noulettend met die hand oorgeskryf het nie. Trouens, die Hebreeuse woord vir “afskrywer” kom van ’n wortel wat beteken “om te tel”, want volgens die Talmoed het die afskrywers die letters en woorde in elke deel van die Skrif getel om seker te maak dat hulle geen foute begaan het nie! Die ontdekking van die Dooie See-rolle het bewys dat hierdie afskrywers hulle goed van hulle taak gekwyt het, aangesien daardie antieke manuskripte baie nou ooreengekom het met die latere Masoretiese teks ondanks die feit dat ’n duisend jaar van oorskrywery tussenin verloop het.

Die Christelike Griekse Skrifte is eweneens met die grootste sorg oorgeskryf, aanvanklik op papirus, en later op duursamer perkament. In plaas daarvan om die ongerieflike boekrolle van daardie tyd te gebruik, het die vroeë Christene verkies om die Skrif op los velle te skryf, wat dan vasgebind of in ’n doos gehou kon word. Dit het dit vir ywerige eerste-eeuse predikers baie makliker gemaak om verskeie Skriftuurlike passasies te vergelyk en aldus ‘deur verwysings te bewys’ dat Jesus die beloofde Messias is.—Hand. 17:3, NW.

Bybels word natuurlik nie meer met die hand oorgeskryf nie. Die heel eerste boek wat omstreeks 1450 G.J. gedruk is op Johann Gutenberg se drukpers, wat pas tevore uitgevind is, was die Latynse Vulgata, en 47 eksemplare van daardie uitgawe bestaan nog. Met die koms van die moderne drukkuns, kon die Bybel aan die gewone man beskikbaar gestel word, en Bybelvertalings in volkstale het gou verskyn, ondanks teenstand deur die Kerk. Terwyl ’n afskrywer slegs ’n paar bladsye per dag kon oorskryf, kan die moderne rubberdrukrolpers wat die 1981-uitgawe van die New World Translation gedruk het, meer as 20 000 000 Bybelbladsye per dag druk! Terwyl ’n afskrywer die gevaar geloop het om op elke bladsy foute te maak, kopieer die moderne pers die teks foutloos, eksemplaar na eksemplaar. Die Bybelteks wat deur die pers gereproduseer word, is in ’n rekenaar geberg en na film oorgedra sodat plate gemaak kan word. Nuwe plate vir die pers kan dus gemaak word sonder die gevaar van menslike oorskryffoute. Bybelproduksie het ver gevorder!

DIE 1981-UITGAWE VAN DIE “NEW WORLD TRANSLATION”

Die 1981-uitgawe van die New World Translation of the Holy Scriptures is die hoogtepunt van 35 jaar se nougesette vertaling en versigtige hersiening. Daar is in 1946 met die vertaalwerk begin, en teen 1960 was die Hebreeuse sowel as die Griekse dele van God se Woord regstreeks uit die oorspronklike tale in Engels vertaal. Gedurende daardie jare van vertaling is veel versigtige navorsing deur die New World Bible Translation Committee gedoen om te verseker dat die vertaling konsekwent in woordkeuse is en dat die beste lesings moontlik van verskeie manuskripte in die teks gebruik is. Jehovah se Getuies, wat die New World Translation as hulle vernaamste Skriftuurlike naslaanwerk gebruik, het groot waardering vir hierdie vakkundige werk en het baie daarby baat gevind.

Maar die werk van die vertaal-komitee (waarvan die lede op eie versoek naamloos bly) was nie in 1960 afgehandel nie. Die New World Translation is in 1961 vir die eerste keer as ’n enkele bundel uitgegee, en hierdie uitgawe het ’n noukeurige hersiening van al die vorige werk ingesluit. Aangesien die 1961-uitgawe geen voetnote bevat het nie, is ’n aantal voetnootlesings uit die vorige uitgawes in die hoofteks geplaas sodat dit nouer met die letterlike betekenis van die oorspronklike tale ooreen kon kom. ’n Tweede hersiening, in 1970, het veranderinge in Engelse taalgebruik en in die begrip van die antieke tale waaruit daar vertaal is, in aanmerking geneem. Meer as 100 woorde of uitdrukkings wat in die 1961-uitgawe gebruik is, is dus gewysig. In 1971 het die New World Translation in groter druk en met voetnote verskyn en is die teks weer eens hersien.

Dit is die begeerte van die Wagtoring-Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië, wat die kopiereg op die New World Translation besit, dat hierdie puik vertaling voortdurend bygewerk moet word. Die New World Translation of the Holy Scriptures probeer om God se Woord akkuraat en letterlik weer te gee in ooreenstemming met die lewende, veranderende tale wat op die oomblik deur sy lesers verstaan word. Hierdie vertaling heg groter waarde aan die betroubare oorbrenging van God se Woord as aan stilistiese of literêre oorwegings wat talle hedendaagse idiomatiese of geparafraseerde Bybelvertalings kenmerk.

Die 1981-uitgawe van die New World Translation is die produk van ’n verdere, noukeurige hersiening van die vorige uitgawes, wat gedoen is met bogemelde leidende beginsels in gedagte. Hierdie hersiening is grootliks vergemaklik deur die onlangse installering van gevorderde gerekenariseerde set- en opmaaktoerusting by die Wagtoringgenootskap se hoofdrukkery in Brooklyn, New York.

In Desember 1979 het operateurs wat by rekenaarterminale gesit het, begin om die Bybel in die Genootskap se rekenaar in te voer. In net meer as vyf maande is twee verskillende uitgawes van die New World Translation in die rekenaar ingevoer. Een was die hersiene uitgawe van 1970 en die ander was die grootdrukuitgawe van 1971.

Hierdie tweevoudige invoermetode het twee doeleindes gedien. Eerstens, dit het gehelp om die tyd te verminder wat nodig was om die Bybelproewe te verbeter. Met daardie doel het die Genootskap se data-verwerkingsafdeling ’n rekenaarprogram opgestel om die twee uitgawes letter vir letter te vergelyk. Wat sou gebeur wanneer die geringste verskil gevind is? Die rekenaar is aangesê om die hele vers met die verskil daarin te druk en presies aan te dui waar die verskil in die vers voorkom.

Dit het dus die proeflesers se werk om na setfoute te soek, verminder. Die rekenaar het die meeste van hulle gevind! Nou en dan het die twee tiksters weliswaar dieselfde fout in dieselfde woord gemaak. Maar dit het slegs een keer elke 500 000 toetsaanslae voorgekom, en hierdie foute is deur die proeflesers gevind en gekorrigeer.

Daarbenewens het die invoering van twee verskillende uitgawes van die New World Translation die rekenaar in staat gestel om elke vers te vind waar die twee uitgawes verskil het, ongeag hoe klein die verskil was. Die New World Bible Translation Committee het toe elk van hierdie verskille nagegaan en besluit watter lesing in die 1981-uitgawe gebruik moet word. Met behulp van die rekenaar kon proeflesers uiters geringe variasies in die teks van die New World Translation vind. Party eiename was byvoorbeeld in een deel van die Bybel in twee lettergrepe verdeel (A’dam, E’sau), en in ’n ander deel het hulle as een woord sonder enige lettergreepaanduiding verskyn. Klein verskille in die gebruik van aanhalingstekens, ronde hakies en vierkantige hakies is ook opgespoor en uit die weg geruim. Die gevolg is dat die 1981-uitgawe van die New World Translation of the Holy Scriptures die akkuraatste en konsekwentste uitgawe is wat die Genootskap nog ooit gepubliseer het.

GEREKENARISEERDE OPMAAKWERK

Die rekenaar doen veel meer as om net die proeflesers te help. Dit is ook ’n wonderlike werktuig om bladsye op te maak. Hoe so?

Vorige uitgawes van die New World Translation was met Linotype-masjiene geset en het meer as ’n duisend man-ure se werk geverg. Die bedieners van hierdie masjiene het die Bybelteks reël vir reël getik en aan die einde van elke reël besluit of die laaste woord in die reël afgebreek moes word en, indien wel, waar die woord afgebreek moes word. Wanneer hulle die hele Bybel moes set, moes Linotype-bedieners duisende besluite van hierdie aard neem. Afbreekfoute was onvermydelik.

Bowendien is ‘Linotype-bedieners slegs menslik’, het een ervare fabriekswerker gesê, “en hulle set nie almal presies dieselfde nie. Party is geneig om ’n bietjie ‘styf te set, wat beteken dat hulle probeer om effens meer in elke reël in te kry as die ander bedieners, wat los’ set. En dieselfde bediener set nie elke dag dieselfde nie.”

Die Genootskap se rekenaar het Linotype-masjiene oorbodig gemaak vir Bybelproduksie. Nadat die teks van die New World Translation in die rekenaar ingevoer is, het sy program besluit hoe daardie teks in reëls geset moet word, en hoe die reëls op die bladsye gerangskik moet word. Die rekenaar is geprogrammeer om woorde met ’n groot mate van akkuraatheid af te breek, en dit het die hele Bybel met dieselfde “digtheid” geset, sodat die voorkoms van die gedrukte bladsy verbeter is.

Eintlik kan die rekenaar nie self setwerk doen nie. Al wat dit kan doen, is om te besluit hoe die materiaal geset moet word. Die materiaal word in werklikheid deur ’n elektroniese fotosetmasjien, wat deur die hoofrekenaar beheer word, geset. Hierdie masjien gebruik ’n elektron-bundel om elke letter op ’n spesiale televisiebuis te teken. Die letters, wat in ’n groot verskeidenheid groottes en vorms op die buis kan verskyn, word in die setmasjien op fotografiese materiaal vasgelê. Hierdie materiaal word dan gebruik om film te maak wat weer gebruik word om plate te maak. Nadat die teks van die Bybel in die rekenaar ingevoer is, kan drukplate in ’n verskeidenheid groottes gemaak word sonder om weer die teks in te voer. Die rekenaar kan in ’n paar sekondes besluit hoe ’n bladsy van die Bybel opgemaak moet word, en die fotosetmasjien kan in ’n paar minute ’n proef lewer wat gebruik sal word as grondslag vir ’n drukplaat wat op ’n drukpers gebruik sal word.

NUWE BYBELPERS

Die 1981-uitgawe van die New World Translation is gedruk op ’n nuwe rubber-drukrolpers wat spesiaal gebou is om Bybels te druk. Hierdie nuwe pers is 33 meter lank—taamlik groot vergeleke met die meeste Bybelperse. Dit druk tegelyk op vier rolle dun Bybelpapier en druk 128 Bybelbladsye met elke afdruk, wat gelyk is aan meer as 2 600 Bybels per uur.

“Ons ouer Bybelperse kon slegs 64 bladsye per afdruk lewer”, het ’n fabrieks-opsiener gesê. “Die nuwe pers stel ons in staat om groter dele van die Bybel op ’n slag te druk. Daar is dus nie so baie seksies wat in die bindery saamgebind moet word nie, en dit bespaar tyd en mannekrag.”

Die nuwe pers het ook ander voordele. As die 1981-uitgawe van die New World Translation met vorige uitgawes vergelyk word, kan ’n mens gou sien dat die nuwe uitgawe leesbaarder is en die oog meer behaag. Waarom? ’n Nuwe, delikater letterbeeld is gebruik wat moontlik nie die gestamp van ’n boekdrukpers lank sou verduur nie, maar geen probleme veroorsaak wanneer dit op ’n rubberdruk-pers gebruik word nie. Dit gee die bladsye van die 1981-uitgawe ’n netjiese, skerp voorkoms. Wanneer Bybels op boekdrukperse gedruk word, is dit buitendien baie moeilik om te verhoed dat die vereiste swaar afdruk nie aan die ander kant van die bladsy sigbaar is en dit nog donkerder maak nie. Hierdie deurskyn-probleem bestaan nie wanneer rubberdrukmetodes gebruik word nie. Die voordele van die nuwe Bybeldruktegnologie is duidelik sodra ’n mens die 1981-uitgawe van die New World Translation oopslaan!

VEELTALIGE REKENARISERING

Toe die New World Translation aangepak is, het niemand verwag dat dit eendag in ses tale benewens Engels beskikbaar sou wees, met die New World Translation of the Christian Greek Scriptures in nog vier nie. Hierdie weergawe van die Bybel word vandag gedruk in die moedertale van meer as ’n duisendmiljoen mense, wat gevolglik baat kan vind by die teksnavorsing wat vir die oorspronklike Engelse vertaling gedoen is en die vakkundige aandag wat daaraan gewy is.

Hierdie hervertaalwerk is grootliks vereenvoudig deur die letterlike aard van die Engelse New World Translation. “Dit is feitlik onmoontlik om ’n geparafraseerde Bybel te hervertaal”, het ’n verteenwoordiger van een van die Christendom se Bybelgenootskappe erken. Maar dit is nie die geval met die New World Translation nie! Tot op hede het noukeurige hervertaling van die Engelse teks, met inagneming van die Hebreeuse en die Griekse tekste, goeie resultate in Nederlands, Frans, Duits, Italiaans, Portugees, Spaans, Deens, Fins, Japannees en Sweeds opgelewer. Ernstige studente van God se Woord in baie lande vind nou baat by ’n vertaling wat moedig God se naam, Jehovah, in sy regmatige plek in die Bybelteks herstel het, wat vry is van die vooroordeel van godsdienstige tradisieverering en wat die letterlike betekenis van God se Woord so akkuraat moontlik weergee.

Die Wagtoringgenootskap se nuwe rekenaarfasiliteite behoort ’n groot hulp te wees met hierdie voortdurende werk om die Bybel in baie tale te druk. Toekomstige uitgawes van die New World Translation sal, ongeag die taal, mettertyd in ’n rekenaar ingevoer word en dieselfde uitstekende kenmerke as die Engelse uitgawe van 1981 hê.

WÊRELDWYE MODERNISERING

Die New World Translation of the Holy Scriptures is slegs die begin van die Wagtoringgenootskap se omskakeling na gerekenariseerde fotosetmetodes. Die Genootskap se vernaamste drukkerye in die buiteland installeer op die oomblik moderne rubberdrukperse. Daar word gehoop dat fotosetmetodes in die nabye toekoms dwarsoor die wêreld gebruik sal kan word vir die persvoorwerk in baie van die meer as 160 tale waarin die Genootskap op die oomblik lektuur druk. Vinniger en akkurater setmetodes sal gevolglik die tydsverskil tussen die Engelse uitgawes van die Genootskap se publikasies en die uitgawes in ander tale verkort. Die vooruitsig is inderdaad opwindend!

’n Groot onderneming? Ja, maar veel is al bereik! Al die eer kom Jehovah God toe, wie se wil dit is dat die “evangelie” van sy Messiaanse koninkryk “in die hele wêreld” verkondig word, ongeag die plaaslike tale! Solank dit Jehovah se wil is dat hierdie predikingswerk voortduur, is dit die Wagtoringgenootskap se voorneme om alle geskikte metodes te gebruik om Jehovah se Woord van waarheid tot by “die uiterste van die aarde” te kry (Matt. 24:14; Hand. 1:8). Hoe bevoorreg is ons tog om vandag aan hierdie wonderlike werk te kan deelneem!

[Voetnoot]

a Kyk bladsy 32 as jy graag ’n eksemplaar van hierdie bybel wil bestel.

[Prent op bladsy 11]

Gutenberg se pers (replika)

[Venster op bladsy 29]

DIE GROOTSTE TREFFER VAN ALLE TYE!

The Book of Lists (1977) toon dat die Bybel die grootste treffer van alle tye is, met die verspreiding van 2 458 000 000. Maar dit het erken dat hierdie syfer onvolledig is en sê: “Die werklike totaal vir Bybelverkope en -verspreiding is waarskynlik . . . naby die 3 miljard eksemplare.”-Bl. 222.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel