Maar baie negeer die hemelse koning
DIT wil voorkom of Jesus, terwyl hy ’n man op aarde was, nooit die aandag op sy vroeë kinderdae gevestig het nie. Terwyl hy eenkeer gepreek het, het ’n vrou in die skare uitgeroep: “Gelukkig is die vrou wat U in haar liggaam gedra en aan haar bors gevoed het!” Maar Jesus het geantwoord: “Nog gelukkiger is hulle wat die woord van God hoor en dit onderhou” (Lukas 11:27, 28, NTP). Hy het mense nie aangespoor om sentimenteel oor sy geboorte of Maria se rol daarin te praat nie.
Dit is opmerklik dat die Bybel nie vir ons die datum van Jesus se geboorte gee nie, en Jesus het ons nêrens beveel om sy verjaarsdag te vier nie. Gedurende die eerste eeue na Jesus se dood is daar bowendien geen verslag dat Christene ooit Kersfees gevier het nie.
In die lig hiervan—en in die lig van die talle heidense gebruike wat met Kersfees gepaard gaan—doen baie vandag nie mee aan die viering nie. Hulle verkies om hulle respek vir Jesus op ander maniere te toon. Vir hulle is Jesus nie langer ’n baba in ’n krip nie. Hy het grootgeword om iets veel groters te word.
Wat die Bybel sê
Gedurende die viering van Kersfees word sekere gedeeltes van die Bybel dikwels by kerkdienste gelees, met die gevolg dat hulle baie bekend is. Beskou ’n paar van hierdie gedeeltes en kyk wat hulle sê oor hoe ons Jesus vandag moet beskou.
Een teks vertel vir ons hoe Maria uitgevind het dat sy die moeder van Jesus sou word. Die engel Gabriël het aan haar verskyn en aangekondig: “Kyk, jy sal swanger word en ’n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem.” Hierdie voorval is baie beroemd. Maar het jy op die engel se volgende woorde aangaande Jesus gelet? “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.”—Lukas 1:31-33.
Ja, die engel Gabriël het getoon dat veel meer as die geboorte van ’n baba by die saak betrokke was. Maria se kind sou beroemd word. Hy sou die koninklike erfgenaam van koning Dawid wees en sou vir ewig as ’n koning regeer.
Toe Jesus gebore is, het nog ’n bekende gebeurtenis plaasgevind. ’n Engel het aan herders verskyn wat hulle kuddes in die veld opgepas het en vir hulle gesê: “Kyk, ek bring julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is. En dit is vir julle die teken: julle sal ’n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in die krip lê.” Toe het ’n menigte ander engele by hierdie eerste engel aangesluit en God geloof deur te sê: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het!”—Lukas 2:8-14, vgl. NTP.
Die engel het vir die herders gesê dat Jesus in ’n krip sou lê—dit sou vir hulle ’n teken wees om hulle te help om die betrokke baba te identifiseer. Maar oor watter deel van die boodskap meen jy het die herders hulle die meeste verheug? Ongetwyfeld die nuus dat die beloofde Saligmaker, die een wat gewis die Christus sou word, uiteindelik gekom het. Die persoon wat later vrede op aarde onder mense van God se welbehae sou bring, was gebore.
Nog ’n teks wat dikwels in Kersdienste in die kerke van die Christendom gebruik word, is die een in Jesaja hoofstuk 9. Daar staan die woorde opgeteken: “Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors.”—Jesaja 9:5.
Indrukwekkende musiek is al vir hierdie woorde gekomponeer, en dit kan gewoonlik hier teen Kerstyd gehoor word. Maar hoeveel luister werklik na die woorde wat volg op “’n Kind is vir ons gebore”? Daar word ’n paar gewigtige en betekenisvolle titels aan Jesus toegeskryf. En vers 6 beskryf hom as die een wat eindelose seëninge deur middel van sy Koninkryksheerskappy bring. Is dit nie hoe ons vandag aan hom behoort te dink nie?
Wat Jesus nou is
Wanneer ’n persoon sy verjaarsdag vier, ontvang hy gewoonlik geskenke en word hy gelukgewens omdat hy ’n jaar ouer is. Hoe sou hy voel indien sy moeder, elke keer wanneer hy verjaar het, daarop aangedring het om foto’s uit te haal wat toon hoe hy gelyk het toe hy ’n baba was? Mense wil graag erken word vir wat hulle nou is, nie net vir wat hulle as babas was nie.
Dit geld ook waar dit kom by ’n persoon se lewe en dood. Mense wil graag onthou word vir wat hulle in hulle lewe bereik het, nie vir hoe hulle gedurende hulle laaste oomblikke gelyk het nie. Wanneer ’n standbeeld ter ere van ’n beroemde man opgerig word, toon dit hom gewoonlik vier en regop, of besig met iets waarvoor hy beroemd was, nie in sy sterwensnood nie.
In die lig hiervan is dit interessant hoe die meeste mense Jesus gewoonlik voorstel. Met Kersfees word hy voorgestel as ’n hulpelose babatjie in ’n krip. Die res van die jaar word hy meestal getoon as ’n man wat in pyn sterf. Is dit ’n gebalanseerde voorstelling?
Jesus het weliswaar in albei hierdie gevalle wonderlike nederigheid aan die dag gelê. Eerstens, hy het sy heerlike posisie in die hemel prysgegee. Hy “het Homself ontledig deur die gestalte van ’n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword”. As ’n mens “het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die [folterpaal]”.—Filippense 2:7, 8, vgl. NW.
Ons behoort terdeë bewus te wees van hierdie opofferings wat Jesus gemaak het, want hulle is vir ons voorbeelde van diepe nederigheid (Filippense 2:5, 6, NW). En elk van hierdie ondervindinge was vir Jesus noodsaaklik om sy Vader se wil te doen en om sy menselewe vir die redding van die mensdom te offer. Sodoende kon hy ons “Saligmaker . . . Christus, die Here” word.
Maar Jesus se ondervinding het nie daar geëindig nie. Hy lê nie nou hulpeloos as ’n babatjie in ’n krip nie. Hy hang ook nie dood aan ’n folterpaal nie. Na sy dood het God hom opgewek en “Hom ook uitermate verhoog en Hom ’n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie”.—Filippense 2:9, 10.
Jesus self het gesê: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde” (Mattheüs 28:18). Hy is nou God se gesalfde koning wat in die hemel in die tans opgerigte koninkryk regeer. Daniël se profesie is reeds vir hom vervul: “Aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ’n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.”—Daniël 7:14.
Die nodigheid vir God se koninkryk
Terwyl Jesus op aarde was, het hy hierdie koninkryk die tema van sy prediking gemaak deur te sê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Mattheüs 4:17). Hy het sy volgelinge geleer om vir daardie koninkryk te bid en het sodoende die belangrikheid daarvan beklemtoon. Hy het gesê: “Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mattheüs 6:9, 10). Hy het aldus getoon dat God se wil sal geskied deur middel van hierdie koninkryk, waarvan Jesus nou die aangestelde koning is.
Wat is God se wil? Dit is dat Jesus die “Vredevors” moet wees. God gaan gevolglik “die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde” (Psalm 46:10). Dit is God se voorneme om die mensdom deur middel van Jesus se dood van sonde en die dood te red en ons die geleentheid te bied om vir ewig te lewe. Jesus word dus ons “Saligmaker wat Christus, die Here, is”. Die mensdom sal die voordele van hierdie reddingswerk deur die Koninkryk ontvang.
Vir diegene wat die geleentheid benut, sal die toekoms onder Christus se koningskap vol seëninge wees. Geen siekte meer nie, geen dood meer nie, ’n opstanding van ons gestorwe dierbares en geestelike sowel as fisiese voorspoed is alles dinge wat beloof is aan die getroue mensdom onder Jesus wat, soos Gabriël vir Maria gesê het, ‘tot in ewigheid koning sal wees’.—Openbaring 21:4; Johannes 5:28, 29; Lukas 1:33.
Maar hoe is so iets moontlik, aangesien die aarde nou regeer word deur menseregerings wat hul soewereiniteit jaloers bewaak? Die Bybel beeld Jesus nie alleen as ’n vredevors uit nie, maar ook as ’n seëvierende koning wat al die hindernisse in die weg van die mensdom se ewige geluk voor hom uit verwyder. Heersers word gewaarsku om sy koningskap te aanvaar (Psalm 2:10-12). Aan diegene wat sy heerskappy ignoreer, sê die Bybel: “In die dae van dié konings [teenswoordige politieke heersers] sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.” So sal Jesus wêreldheerser word.—Daniël 2:44.
Wat beteken dit vir jou?
Toe Jesus grootgeword en ’n volwasse man geword het, het hy eienskappe aan die dag gelê wat ons tot hom as ’n persoon aangetrokke laat voel. Hy het medelye gehad met verdruktes, en hy het siekes jammer gekry en hulle probeer help (Mattheüs 14:14). Hy was lief vir kinders, en kinders het tot hom aangetrokke gevoel (Mattheüs 19:13-15). Hy het geregtigheid liefgehad en ongeregtigheid gehaat (Hebreërs 1:9). Daarbenewens het hy sy dissipels “tot die einde toe” innig liefgehad.—Johannes 13:1.
Besit hy nog steeds hierdie eienskappe noudat hy ’n hemelse koning is? Beslis. Hierdie eienskappe, wat aan die dag gelê is toe hy ’n man op aarde was, maak hom die ideale heerser vir die mensdom.
Nagenoeg 2 000 jaar gelede is Jesus se geboorte aangekondig en het die engele in die hemel groot vreugde betuig. Maar daardie babatjie het grootgeword! Ons kan nie die feit ignoreer dat hy nou “die Koning van die konings en die Here van die here” is nie (1 Timotheüs 6:15). Dit is dus nie as ’n baba nie, maar as ’n heersende koning dat hy “vrede op aarde” sal bring vir die “mense in wie [God] ’n welbehae het” ’n vrede wat baie van ons so hartstogtelik begeer.
Ondersoek gerus self die Bybel en leer ken Jesus soos hy werklik is—God se tans heersende koning. Studeer gerus om uit te vind hoe jy ook een van “die mense [kan wees] in wie Hy ’n welbehae het” en wat die “vrede op aarde” gaan ondervind wat God nagenoeg 2 000 jaar gelede beloof het. En moenie vergeet dat Jesus self hierdie persoonlike uitnodiging tot jou gerig het nie: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig” (Mattheüs 11:28-30). Sal jy verstandig wees as jy ’n uitnodiging van hierdie aard van so ’n koning ignoreer?
[Prent op bladsy 29]
Maria het gehoor dat Jesus ‘tot in ewigheid koning sal wees’
[Prent op bladsy 30]
Jesaja is meegedeel dat Jesus ’n Vredevors sou wees