Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 2/1 bl. 27-29
  • Voed jouself gereeld met Bybelwaarhede!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Voed jouself gereeld met Bybelwaarhede!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’N BETER BEGRIP VAN DIE GEWETE
  • BLY STRYDVAARDIG
  • WAAR KAN EK DIE TYD DAARVOOR KRY?
  • Hoe kan jy ’n goeie gewete behou?
    ‘Hou julle in God se liefde’
  • ’n Goeie gewete voor God
    Hoe om in God se liefde te bly
  • Is jou gewete goed opgelei?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Is jou gewete ’n betroubare gids?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 2/1 bl. 27-29

Voed jouself gereeld met Bybelwaarhede!

DIE grootste Onderrigter wat ooit gelewe het, het eenkeer gesê dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar ook geestelike voedsel, God se Woord, nodig het. Is dit nie redelik om daaruit af te lei dat Christene hulself gereeld met geestelike voedsel moet voed, net soos hulle hulself met letterlike brood voed nie? Beslis (Matt. 4:4). Sulke geestelike voedsel sluit nie alleen die Bybel in nie, maar lektuur wat ons help om die Bybel te verstaan. Dit is waarom Jehovah se Getuies se uitgewers- en bestuursagentskap, die Wagtoringgenootskap, nie net Bybels druk nie. Dit gee ook gereeld Bybelhulpe uit om lesers te help om ’n groter begrip van die Bybel te verkry.

Die vraag is geopper of dit nodig is om hierdie publikasies gereeld te lees, aangesien dieselfde onderwerp soms herhaaldelik behandel word. Maar eet ons nie gereeld brood, aartappels of rys nie? En die apostel Petrus het geskryf: “Daarom sal ek nie nalaat om julle altyd hieraan te herinner nie, alhoewel julle dit weet en vasstaan in die waarheid wat by julle is” (2 Pet. 1:12). Ons moet ook daarop let wanneer ’n onderwerp meer as een keer behandel word, daar dikwels nuwe benaderings, nuwe beskouings, bykomende insig en ’n duideliker aanbieding is. Spreuke 4:18 sê: “Die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe.”

’N BETER BEGRIP VAN DIE GEWETE

’n Spesifieke voorbeeld hiervan is die kwessie van die gewete. In Desember 1972 het Die Wagtoring ’n aantal artikels gepubliseer oor die menslike gewete in sy rol as “getuie”. Dit het getoon dat ons gewete ’n aangebore getuie is wat vir of teen ons getuig, en dat dit gefunksioneer het selfs voordat Jehovah God vir die mens skriftelike wette gegee het. Hierdie artikels het ook gewys op die nodigheid om ander se gewetens te respekteer en op die rol wat die gewete in ’n mens se sekulêre werk speel. Hierdie sake is nog nooit tevore so duidelik uiteengesit nie.

In Julie 1975 het nog twee artikels oor die gewete verskyn. Onder verskeie punte wat hierdie artikels gestel het, was dat die gewete twee basiese funksies het. Die een kan beskou word as ’n regterlike hoedanigheid. Dit is die rol wat die gewete “ná die daad” vervul, wanneer dit ons as skuldig veroordeel omdat ons op die een of ander manier oortree het (2 Sam. 24:10). Maar vir Christene behoort die gewete meermaal ’n sogenaamde wetgewende rol te vervul. Dit beteken natuurlik nie dat dit in werklikheid nuwe wette vir die Christen maak nie. Maar op grond van die wette en beginsels in die Bybel sal ’n Christen se sterk gewete vir hom ’n gids wees. Dit is asof dit vooraf vir hom die wet maak dat ’n sekere weg verkeerd is. ’n Bekende Skriftuurlike voorbeeld is dié van Jakob se seun Josef wat die toenadering van Potifar se vrou verwerp het.—Gen. 39:9.

Nog meer onlangs het Die Wagtoring (van 15 November 1976) ’n verdere artikel oor die gewete bevat met die titel “Hoe om ons gewete op te lei om meer vir ons te doen”. Wanneer gewetensake gewoonlik bedink word, is die vraag of iets goed of sleg, reg of verkeerd is. Maar hierdie artikel het klem gelê op die verband wat die Bybel toon daar tussen ’n goeie gewete en geloof en liefde bestaan (1 Tim. 1:5). Ja, ons gewete moet nie alleen verhoed dat ons Jehovah God se wette oortree nie, maar dit moet ons ook aanspoor om geleenthede te benut om onselfsugtige, edel, vriendelike, liefdevolle dinge te doen.—Vergelyk Lukas 10:29-37.

Moet dit dus nooit as vanselfsprekend aanneem dat dit blote herhaling is wanneer ’n artikel in Die Wagtoring oor ’n onderwerp handel wat voorheen bespreek is nie. Soms is die verfynings weliswaar nie groot nie, maar hulle dra almal daartoe by om die Bybelwaarheid vir ons mooier, sinvoller, ja, nuttiger te maak.

Dit herinner ’n mens aan ’n staaltjie oor Michelangelo. ’n Vriend het ’n pragtige standbeeld wat Michelangelo uitgesny het, bewonder. Toe die vriend hom later weer besoek, was hy verbaas om te vind dat hy nog steeds aan dieselfde standbeeld gewerk het. Michelangelo het sy aandag gevestig op al die verbeteringe wat hy sedertdien aangebring het, waarop sy vriend geantwoord het: ‘Maar dit is almal net kleinighede.’ Michelangelo het geantwoord: ‘Ja, dit is waar. Maar kleinighede dra tot volmaaktheid by en volmaaktheid is geen kleinigheid nie!” Alhoewel die verfyning van begrip dikwels nie baie belangrik lyk nie, help dit ons om ons begrip van ’n onderwerp verder af te rond.

BLY STRYDVAARDIG

En dit is nie al nie. Die Bybel en die publikasies wat ons help om die Bybel beter te verstaan, is nie bloot toegespits op kopkennis nie. God se Woord is ‘’n lamp vir ons voet en ’n lig vir ons pad’ (Ps. 119:105). Ons word boonop meegedeel dat God se Woord “nuttig [is] tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke werk volkome toegerus” (2 Tim. 3:16, 17). Maar dit dien daardie doeleindes slegs tot die mate dat ons dit in ons lewens toepas. En hoe kan ons dit toepas as ons vergeet het wat ons gelees het?

In die lig van die drie vyande waarmee ons te kampe het, is dit lewensbelangrik dat ons voortdurend herinner word aan die raad in God se Woord. Daar is die wêreld; vriendskap daarmee beteken vyandskap met Jehovah God (Jak. 4:4). Van ons stryd teen die wêreld het die apostel Johannes geskryf: “Dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof” (1 Joh. 5:4). Geloof is afhanklik van kennis—kennis wat maklik herroep kan word, nie informasie wat lankal vergeet is nie. Omdat die wêreld dag na dag soveel druk op ons uitoefen, moet ons voortdurend daaraan herinner word om nie die wêreld of die dinge daarin lief te hê nie; want die wêreld en alles wat daarin is, sal verbygaan, maar hy wat die wil van God doen, sal vir ewig bly.—1 Joh. 2:15-17.

Ons vyande sluit ook die Duiwel en sy demone in. “Julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind” (1 Pet. 5:8). Hy en sy demone veg teen ons en daarom moet ons die hele geestelike wapenrusting van God wat die apostel Paulus in Efesiërs 6:11-17 beskryf, aantrek. Of ons hierdie wapenrusting sal dra en gebruik, hang weer eens daarvan af of ons ons voortdurend met God se Woord voed. Om die ‘swaard van die gees, God se Woord’ doeltreffend te hanteer, moet daardie woord ongetwyfeld vars in ons gedagtes en harte wees.

Ons derde vyand is niks anders nie as ons aangebore, oorgeërfde sondige neigings, waarteen ons hard en voortdurend moet stry. Aangesien ons moeders ‘ons in sonde ontvang het en ons in ongeregtigheid gebore is’, is ons neigings van ons jeug af sleg (Gen. 8:21; Ps. 51:7) Omdat dit die geval is, kan ons dit almal net soos die apostel Paulus betreur: “Die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek” (Rom. 7:19). As gevolg van hierdie erfenis vind ons dat die mensehart slinks, bedrieglik, vals is. Maar met behulp van God se Woord en van Bybelhulpe wat ons help om Bybelbeginsels te verstaan en toe te pas, kan ons hierdie vyand binne-in ons die hoof bied. Maar net soos die apostel Paulus moet ons ons liggame kasty en hulle diensbaar maak.—Spr. 3:32, NW; Jer. 17:9; 1 Kor. 9:27.

WAAR KAN EK DIE TYD DAARVOOR KRY?

Die Christen lei ’n besige lewe. Hy moet die Bybel lees, tesame met ’n nuwe tydskrif elke week, vir vergaderinge voorberei en hulle bywoon, en deelneem aan die wonderlike werk om dissipels te maak van diegene wat met graagte luister. Daar is ook daaglikse verpligtinge van ’n wêreldse aard wat ons moet nakom om vir onsself en ons gesinne te sorg. Elkeen kan homself of haarself afvra: Hoeveel tyd gebruik ek om wêreldlike tydskrifte, koerante en boeke te lees? Hoeveel tyd gebruik ek om televisie te kyk of na gewilde musiek te luister? Hierdie dinge is weliswaar vorme van ontspanning en vermaak, terwyl baie persone voorbereiding vir Christenvergaderinge en die lees van Christelike lektuur as ‘werk’ beskou. Maar moet sulke voorbereiding en lesery in daardie lig beskou word? Die psalmis het gesê: “Ek is vrolik oor u belofte soos een wat ’n groot buit vind” (Ps. 119:162). Ons moet dus goed daaroor nadink of ons lewensweg ons werklik as geestelike persone en nie vleeslike persone identifiseer nie.—1 Kor. 2:14-16.

Al hierdie dinge herinner ons aan die woorde van Jesus oor die geluk van diegene wat bewus is van hulle geestelike behoefte (Matt. 5:3, NW). Die laer aardse skepsele—voëls, insekte, soogdiere, visse, ensovoorts—het geen geestelike behoeftes nie. Maar die mens het. Sy verwaarlosing daarvan het bygedra tot die hedendaagse ellendige toestand in die wêreld. Materialistiese filosofieë en ideologieë laat mense al hoe verder van God afdwaal. Hulle fisiese behoeftes—voedsel, klere en huisvesting—en seks, sowel as genot, of magsug, kry voorkeur in hulle lewens. Maar as ons waarlik bewus is van ons geestelike behoeftes, sal ons ons gereeld met Bybelwaarhede voed, tyd daarvoor inruim en dit ten volle waardeer. Die beloning? Wel, ons sal gehelp word om die weg van godsaligheid te bewandel, iets wat “nuttig [is] vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het”.—1 Tim. 4:8.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel