Ek dien Jehovah op sy heilige berg
Soos vertel deur Fred Germann
IN PARTY dele van die wêreld is mense bygelowig en vereer hulle berge. Omdat ek in Switserland gebore is, het berge nog altyd ’n onweerstaanbare aantrekkingskrag vir my gehad, veral die Alpe. Ek het van kleins af hulle asemrowende prag bewonder en sulke majesteit as ’n stille getuienis tot God se eer beskou. Selfs nou nog, op die ouderdom van 86, herinner sulke toringhoë pieke my aan die profesie in Miga 4:1, 2, wat voorspel dat vasbeslote manne en vroue vergader sal word op “die berg van die huis van die HERE”, die plek van sy ware aanbidding, wat bo alle valse godsdienste verhewe is. Watter voorreg was dit tog vir my om die vervulling van hierdie profesie te aanskou! Maar net soos dit vasbeslotenheid en inspanning verg om ’n berg in die Alpe te klim, moes ek talle bergagtige struikelblokke te bowe kom in my beoefening van ware aanbidding (Matt. 17:20). Kan ek ’n paar herinneringe met jou deel?
EERSTE BLIKKE OP DIE “BERG”
Terwyl my moeder in die Switserse Berner Oberland gewoon het, het sy in 1903 haar eerste blik op die “berg” van ware aanbidding gekry. Sy het ’n Bybeltraktaat gelees wat die inkomende millennium onder Christus wat die huidige onregverdige stelsel gaan vervang, aangekondig het. Sy was so ingenome met hierdie boodskap dat sy eenvoudig vir haar bure daarvan móés vertel. Een aand het sy ’n besoek van ’n woedende pastor ontvang. Maar met die Bybel in haar hand was sy gereed met die antwoorde. Ek was destyds agt jaar oud.
Moeder het kort daarna haar toewyding aan God deur waterdoop gesimboliseer. In ons deel van Switserland was daar net een groepie Christene met ‘die geloof wat berge kan versit’ (1 Kor. 13:2). Dit was in die dorpie Thun, waar die Wagtoringgenootskap se Switserse tak meer as 60 jaar later opgerig sou word. Alhoewel die vergaderinge ver van ons huis af gehou is, het moeder hulle so gereeld moontlik bygewoon. Destyds was die Thun-gemeente hoofsaaklik onder die toesig van twee bloedbroers, wat albei besonder goeie onderrigters was. Een van hulle was al in die “Bybelhuis” in Allegheny (later deel van Pittsburgh), Pennsilvanië, V.S.A., en het gehelp om die vyfde bundel van Studies in the Scriptures in Duits te vertaal.
Ongelukkig het albei hierdie broers opgehou om die groot Leier, Jesus Christus, te volg en begin om ‘op hulle eie insig te steun’ (Spr. 3:5). Hulle het mettertyd baie krities geraak. Omdat my moeder nie geweet het van ’n ander groep na wie sy kon gaan nie, het sy nog ’n ruk lank met hierdie groep geassosieer, maar sy het gou begin om haar ywer in God se diens te verloor en het eindelik opgehou om die vergaderinge by te woon. Sy het egter aangehou om met my oor die waarheid te praat, en toe die Eerste Wêreldoorlog uitbreek, het ek begin om groot belangstelling te toon.
In 1915 het hulle begin om Christenvergaderinge in ons dorpie Frutigen te hou. ’n Plaaslike inwoner het sy huis beskikbaar gestel sodat pastor Russell se Fotodrama van die Skepping daar vertoon kon word. Hierdie agtuurlange vertoning wat uit vier dele bestaan het en met kleurskyfies en klankrolprente aangebied is, het ’n uiteensetting gegee van God se voorneme reg van die tyd van die skepping af, dwarsdeur die mensegeskiedenis tot by die hoogtepunt, die vervulling van daardie goddelike voorneme met die aarde en die mensdom aan die einde van die millennium. Ek en my moeder was albei beïndruk deur hierdie merkwaardige aanbieding. Ons het sodoende weer kontak gemaak met die Bybelstudente, wat vandag as Jehovah se Getuies bekendstaan. Hoe bly was ons tog! Ons was aan die voet van die “berg van die huis van die HERE”.
DIE ALPE OF JEHOVAH SE BERG?
Ek was destyds ’n geesdriftige bergklimmer, en het selfs my lewe gewaag. Maar ek het my nou en dan afgevra: ‘Wat is die ware doel van die lewe, en waarom beëindig die Bron van al hierdie pragtige skeppingswerke nie die ongeregtigheid en lyding nie?’ Deur vergaderings by te woon en Wagtoringpublikasies te bestudeer, het ek die Bybel en sy Outeur, Jehovah God, leer verstaan en waardeer. In die noordelike herfs van 1915 het ek dus besluit dat my liefde vir die Switserse berge die tweede plek moet inneem naas my liefde vir die “berg” van ware aanbidding. Ek het my lewe aan Jehovah toegewy en is deur broer Emile Lanz in sy woonstel in Bern gedoop. Dr. Lanz het destyds toesig gehou oor die werk in Switserland en Frankryk.
Ek was destyds 20 jaar oud en het uitgesien na ’n belowende toekoms in diens van die Switserse poskantoor. Maar ek het voortaan Jesus as my Leier verkies en ek wou ‘sy voetstappe navolg’ (1 Pet. 2:21). Ek het dus aan die Bybelstudente geskryf en gevra om ’n voorraad Bybellektuur vir gebruik in die evangelisasiewerk. Hulle het ’n groot pak traktate aan my gestuur om te versprei. Net toe is ek na die dorpie Huttwil verplaas. ‘Toe!’ het ek vir myself gesê, ‘Spring aan die werk!’ Dit was moeilik, en ek was stoksielalleen, maar ek het die nodige krag vir die werk geput uit ’n daaglikse studie van God se Woord en die Genootskap se publikasies. Hebreërs 13:11-15 het my ook die nodige vasbeslotenheid gegee. Nadat ek in hierdie dorpie gepreek het, het ek na die naburige dorpies gegaan en herbesoeke gedoen wanneer ek belangstellendes gevind het. Ek het ook nie van my kollegas vergeet nie. Ek het vir een van hulle gevra of hy graag die Bybel wil bestudeer, en hy het my aanbod aanvaar. Sy vrou en ’n buurman het ook ons Bybelbesprekings bygewoon.
Tydens hierdie besprekings het my kollega se vrou en die buurman gevra of ek met die Protestantse predikant sou praat, en ek het dit gedoen. Hierdie man het aan die helse vuur geglo. Ek het verduidelik hoe onmoontlik dit is, omdat die vleeslike liggaam gou deur die vlamme verteer sou word. Hy het vinnig geantwoord: “Dit is nie ’n probleem nie. God voorsien waarskynlik liggame van asbes.” Toe ek my Bybel by Esegiel 18:4 oopslaan (wat sê: ‘Die siel wat sondig, sal sterf), het hy my vinnig in die rede geval en gesê: “Ons moet eenvoudig glo dat die siel onsterflik is.” Hy het geweier om na enige tekste oor die onderwerp te luister.
Ek het ongeveer dieselfde tyd ’n onderwyseres ontmoet wat ook aan die helse vuur geglo het. Ek het vir haar gevra of sy gedink het dat ’n persoon bo in die hemel, waar sy gehoop het om heen te gaan, gelukkig sou kon wees terwyl hy gedink het aan die miljarde sondaars wat onder in die hel ewige foltering verduur. Sy het vorendag gekom met hierdie heeltemal onverwagte antwoord: “God sal sorg dat ons nie eens aan hulle dink nie.” Sulke valse denke het my daarvan oortuig dat ek diegene moet help wat ‘aanbid wat hulle nie weet nie’.—Joh. 4:22.
’n Paar maande later is ek verplaas na Wangen-sur-Aar, waar ek die voorreg gehad het om met die Biel-gemeente te assosieer. Dit was daar dat ek besluit het om die voltydse diens te betree, en ek het ’n bedankingsbrief aan die Switserse poswese geskryf. Toe al my sake agtermekaar was, is ek na Zürich, waar die Bybelstudente se lektuurdepot was. In Mei 1916 het ek ’n kolporteur (pionier) geword. In plaas daarvan om vreugde te put uit bergklim, kon ek nou al my tyd daaraan wy om mense te nooi: “Kom, laat ons optrek na die berg van die HERE.”—Miga 4:2.
DONKER WOLKE OP DIE GESIGSEINDER
Enigiemand wat al berg geklim het, weet dat ’n mens toegerus moet wees vir skielike weersveranderinge. Wel, gedurende daardie jare van die Eerste Wêreldoorlog het donker wolke saamgepak op die vreedsame gesigseinder van ons predikingswerk in Switserland. Broer Lanz, wat my in 1915 gedoop het, het begin om ’n opstandige gees teenoor die Wagtoringgenootskap se president, Charles T. Russell, te openbaar. Opgeblase van hoogmoed omdat hy “dokter” Lanz was, en daarvan oortuig dat sy metodes die beste is, het hy toegelaat dat ’n verbitterde hart in hom ontstaan.
Een Sondag, terwyl ek die Frutigen-gemeente besoek het, het Lanz openlik in opstand gekom. Tydens sy toespraak het hy gesê dat die Genootskap dit verkeerd het en het hy “’n ander evangelie” voorgestel (Gal. 1:6). Tot op daardie stadium het hy broer Russell altyd as ’n voorbeeldige Christen beskryf, maar nou het hy hom skerp gekritiseer. Moeder, wat kwaad was oor die dinge wat sy gehoor het, het vir my gesê: “Ons moet vasstaan. Dit is hier dat ons die waarheid gevind het, en dit is God se werk!” Haar lojale gehegtheid aan Jehovah en sy aanbidding op sy heilige berg was onwrikbaar. Maar haar gesondheid het agteruitgegaan. Weens gesinsverantwoordelikhede moes ek dus in Mei 1917 uit die voltydse diens tree en terugkeer huis toe, waar ek weer my ou sekulêre werk begin doen het. My moeder is in 1918 oorlede, getrou tot die einde toe.
Na sulke beproewings het dit gelyk asof ons gemeente in Frutigen ‘soos koring gesif is’, want slegs vier het oorgebly om mense te nooi om Jehovah op sy heilige berg te aanbid (Luk. 22:31). Een van hulle was suster Emmy Schneider, wat later die predikingswerk voltyds begin doen het en steeds getrou in Jehovah se diens is. Broer Russell het Conrad Binkele van Brooklyn af gestuur om die dramatiese situasie wat deur Lanz geskep is, te hanteer en die broers te versterk. Baie het gedurende daardie tydperk Jehovah se berg van lig verlaat en hulself gou in “die buitenste duisternis” bevind.—Matt. 25:30.
In 1919 is die weg vir my geopen om weer in die voltydse diens te tree. Ek het dus weer uit my werk by die poskantoor bedank. Ek was in die posisie om die Bern-gemeente te gaan help. Op daardie stadium het Alexandre Freytag, die Genootskap se verteenwoordiger in die Franse kantoor in Genève, afvallig geword en kort daarna het hy begin om sy handlangers uit te stuur om Christene in en om Bern te oortuig dat sy idees reg is. Deur persoonlike besoeke was verskeie van ons in staat om die broers te help om onwrikbaar op die “berg” van Jehovah se reine aanbidding te bly loop.—Rom. 16:17, 18, 25-27.
NUWE TOERUSTING
Die Eerste Wêreldoorlog het internasionale kommunikasie baie ontwrig. Ons het dus nie meer Bybellektuur van Brooklyn af ontvang nie. Om mense te help om Jehovah se “berg” te vind, het ons die nodige Bybelhulpe deur ’n plaaslike firma laat druk. Maar dit was te duur. Ons het dus die moontlikheid oorweeg om self die drukwerk te doen.
’n Paar lede van die Bern-gemeente het ondervinding in die drukkuns gehad. Nadat ons dus ‘die koste bereken het’, en met die goedkeuring van die Genootskap se nuwe president, broer J. F. Rutherford, is ’n koöperatiewe vereniging genaamd “Die Wagtoringdrukkery” gestig (Luk. 14:28). Obligasies van honderd frank elk, wat te eniger tyd en sonder rente terugbetaal kon word, is verkoop om die nodige geld te kry, en ’n ruim huis is op Allmend-strasse 36, Bern, gekoop.
Die verantwoordelikheid om die toerusting te koop, is aan ’n bekwame broer opgedra. Omdat hy geweet het hoeveel geld ons kon bestee, het hy na Duitsland gegaan om goeie tweedehandse perse en een nuwe rolpers te koop. Ongelukkig is al hierdie masjiene op ’n goederewa met ’n lekkende dak gelaai. Dit was net na die oorlog, en toestande in Europa was nog baie swaar. Hoe teleurgesteld was ons tog toe al hierdie toerusting aangekom het! Die reën het ingekom en alles was vol roes!
Maar dit sou nie help om te sit en huil nie. Lede van die Bern-gemeente, susters inkluis, het aan die werk gespring met lampolie en skuurlinne. Na weke se harde werk was daar geen teken van die roes nie, en met die hulp van ’n deskundige monteur het die broers die perse opgerig en hulle gou glad aan die loop gehad. Hierdie drukkery het later jare lank gedien as die takkantoor en fabriek vir Switserland en die Franssprekende lande. Die Switserse Bethel is mettertyd verskuif na ’n veel groter gebou wat oorkant die straat, op Allmendstrasse 39, gebou is. Nog later is dit na Thun verskuif.
ONVERSKROKKE OP JEHOVAH SE “BERG”
Die agtdaagse byeenkoms van 1 tot 8 September 1919 in Cedar Point, Ohio, wat die tema “Geseënd is die onverskrokkenes” beklemtoon het, was vir ons Bybelstudente ’n groot bron van bemoediging. Hier in Europa is ons ook baie gehelp toe broer Rutherford ons in die noordelike herfs van 1920 besoek het. Sy voorbeeld en woorde van bemoediging het ons vasbeslote gemaak om ons bes in die Koninkryksdiens te doen.
Benewens die Fotodrama was die toespraak oor die onderwerp “Miljoene wat nou lewe, sal nooit sterf nie” ’n wonderlike getuienis. Daar was groot gehore, en die boek met dieselfde titel het “soos soetkoek” verkoop. Soms het lektuurknegte hierdie boeke met telegramme bestel wat gelui het: “Stuur tweehonderd Miljoen”, of: “Dringend. 150 Miljoen”, tot groot verbasing van die telegrafiste!
Ek het die voorreg gehad om uit die staanspoor, van Oktober 1920 af, in die Bethel in Bern te dien, en ek het steeds wonderlike herinneringe aan die innige broederliefde in die gesin. Een oggend in Julie 1921 het die takopsiener my meegedeel dat ek aangestel is om na die werk in Elsas-Lotharinge en die Saarland om te sien. Alhoewel daar reeds baie in hierdie streke gedoen was, moes die bestaande gemeentes versterk en nuwe gemeentes gestig word. Ook hier moes “die berg van die huis van die HERE” “verhewe wees bo die heuwels” sodat “volke” in Lotharinge, Elsas en die Saarland daarheen kon “toestroom” en Jehovah aanbid.—Miga 4:1.
As ’n pelgrim, en met die hulp van die plaaslike ouere manne, was ek in staat om openbarelesing-kampanjes te reël. Aangesien die Katolieke Kerk destyds besonder sterk in daardie gebiede was, het hierdie werk moed geverg, en ons het dikwels nagedink oor die tema by Cedar Point, “Geseënd is die onverskrokkenes”.
HULP AAN DIE “SKAPE”
Deur sy profeet Esegiel het Jehovah gesê: “Ek sal na my skape vra en vir hulle sorg. . . . Ek sal hulle uitlei uit die volke . . . Op ’n goeie weiveld sal Ek hulle laat wei, en op die hoë berge van Israel sal hulle weiplek wees” (Eseg. 34:11, 13, 14). Gedurende daardie vroeë naoorlogse tydperk het ywerige Christene die “skape” in elke hoekie en skeurtjie gesoek en hulle na Jehovah se “berg” van ware aanbidding gelei waar hulle voedsame geestelike kos gevind het.—Kyk Mattheüs 25:31-46.
Met die verskyning van die tydskrif The Golden Age (nou Ontwaak!), het jong Christene in Straatsburg en Saarbrücken hulle moed bymekaargeskraap. Hulle het die tydskrif in die baie restaurante en biertuine aangebied en sodoende ’n goeie getuienis gelewer.
In 1922 en 1923 is die Fotodrama weer in Elsas vertoon, eers deur broer Charles Eicher en later deur myself, toe broer Eicher genooi is om by die Brooklynse Bethel te gaan dien. Daar was destyds geen luidsprekerstelsels nie. Dit was dus ’n goeie ding dat die Palais des Fêtes in Straatsburg volmaakte akoestiek gehad het, want daar was elke aand ’n gehoor van nagenoeg 1 800. Ons violis, Charles Rohner, het baie tot die welslae van hierdie aanbiedings bygedra. Hy is ook na die Brooklynse Bethel genooi, waar sy musiektalent goed benut is in uitsendings oor die Wagtoringgenootskap se uitsaaistasie WBBR.
Die inwoners van die Groothertogdom van Luxemburg moes ook genooi word om Jehovah op sy heilige “berg” te aanbid. Ek het daarin geslaag om die Fotodrama in die dorpe Luxemburg, Esch en Differdange te vertoon, en om toesprake in vyf ander plekke te hou. Maar Luxemburg was te ver van Straatsburg af om gereeld soontoe te gaan. Mettertyd is reëlings getref dat Duitssprekende broers van nabygeleë Trier, Duitsland, na die werk aldaar omsien.
In Augustus 1925, en weer in die noordelike lente van 1926, is ek aangestel as ’n pelgrim om die gemeentes in oostelike Switserland te besoek. Dit was omtrent daardie tyd dat ek my aanstaande vrou, Antoinette, ontmoet het. Maar ek wou nie hê dat my huwelik op my voltydse diens inbreuk moes maak nie. ’n Oplossing het net op die regte tyd gekom. In Mei 1926 was iemand nodig om om te sien na die kantoor en lektuurdepot wat die Genootskap in Lens, noordelike Frankryk, opgerig het. Ek is soontoe gestuur, eers alleen, maar in 1927 is ek en Antoinette getroud. Sy het in Lens by my aangesluit en die huiswerk gedoen en kos gekook, asook ’n bietjie kantoorwerk saam met broer François Jankowski, wat die korrespondensie met die Poolse broers in die noorde van Frankryk behartig het.
“VEILIG OP DIE BERGE” VAN JEHOVAH SE AANBIDDING
In 1928 is ons eerste baba, Daniel, gebore, en ’n jaar later is Frédy gebore. Ek moes dus my lewe herorganiseer. Ek moes sekulêre werk soek om vir my gesin te sorg (1 Tim. 5:8). Die groot vraag was “waar?” Moes ons terugkeer na Switserland en die Alpe wat ek so liefgehad het, of moes ons in Frankryk bly, waar hulle skynbaar meer hulp nodig gehad het?
Ons het eindelik besluit om huis op te sit in die omgewing van Parys, waar daar destyds slegs ’n handjievol Koninkryksverkondigers was. En hier is ons nog steeds, meer as 50 jaar later. Al het Antoinette (Mimi) en ek nie meer soveel energie nie, probeer ons steeds om Jehovah getrou op sy heilige “berg” te dien, en dit verbly ons om te sien dat party van ons kinders en kleinkinders dit ook doen.
Wat ’n steil opdraande was dit tog van 1915 tot 1981! Maar ek is die hele pad deur Jehovah en sy organisasie, in die hande van sy Seun, Christus Jesus, gehelp. Daar ek nou die einde van my aardse loopbaan nader, wil ek my innige waardering uitspreek teenoor die “getroue en verstandige dienskneg” vir die wonderlike geestelike voorsienings wat getref is om my en al my mede-Christene dwarsoor die wêreld te help om die nodige geestelike krag te hê vir die moeilike werk en die hindernisse wat te bowe gekom moet word (Matt. 24:45-47). Net soos Habakuk van die ou tyd kan ek sê: “Die Soewereine HERE [Jehovah] gee my krag. Hy maak my vas op die voete soos ’n hert en bewaar my veilig op die berge.”—Hab. 3:19, Today’s English Version.