Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 2/1 bl. 30-31
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Soortgelyke materiaal
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Elisa het strydwaens van vuur gesien—Sien jy dit?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • ’n Voorbeeld van selfopoffering en lojaliteit
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • “O Jehovah, maak asseblief sy oë oop”
    Wees moedig en maak God gelukkig
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 2/1 bl. 30-31

Vrae van lesers

• Is dit gepas om soos Elisa om “’n dubbele deel” van God se gees te vra wanneer jy moeilike beproewings verduur of moeilike take moet verrig?

In plaas daarvan om te dink dat jy partykeer om “’n dubbele deel” van God se gees moet vra, is dit beter om God te vra om vir jou heilige gees te gee volgens jou behoeftes.

Nadat die profeet Elia deur die Jordaanrivier gegaan het en net voordat hy in ’n wa van vuur hemelwaarts weggevoer is, het sy metgesel en opvolger, die profeet Elisa, ’n spesiale versoek gerig. Volgens die Afrikaanse Bybel het Elisa vir die vertrekkende Elia gesê: “Laat dan tog ’n dubbele deel van u gees op my kom” (2 Kon. 2:9). Op grond van daardie woorde het party Christene al gedink dat hulle ‘’n dubbele deel gees’ nodig het of God al inderdaad daarom gevra.

Maar die New World Translation help ons om Elisa se versoek te verstaan. Dit lui: “Laat asseblief twee dele van u gees op my kom” (2 Kon. 2:9). Elisa het om ’n eersgeborene se deel van Elia se gees gevra. Hoe so?

Elisa se woorde berus op die gebruik in eertydse Israel om ’n man se eiendom te verdeel wanneer hy gesterf het. Hoewel die ander seuns ’n deel van die erfenis sou ontvang, het die eersgeborene, of oudste lewende seun, ’n dubbele deel sowel as die verantwoordelikheid van hoofskap in die huis ontvang.—Deut. 21:17.

Toe dit God se wil was om Elia van die toneel af weg te neem as die vernaamste profeet vir Israel, moes Elisa hom opvolg. Elisa sou nie as die enigste profeet van daardie tyd oorbly nie. Daar was verskeie ander manne wat bekend gestaan het as “die profete-seuns” (2 Kon. 2:3, 5). Maar as die vernaamste opvolger van Elia sou Elisa die grootste onder hulle wees (2 Kon. 4:38; 6:1-3). Al het hulle dus ’n mate van God se gees gehad en sekere profetiese werke verrig, was Elisa soos die eersgebore seun van Elia en kon hy gepas om twee dele van Elia se gees vra.

Jehovah God gee heilige gees aan sy getroue aanbidders volgens hulle behoeftes en omstandighede. Toe Moses, weens die groot aantal mense wat betrokke was, hulp nodig gehad het, het God beveel dat 70 bekwame ouere manne gekies word om hom te help. Jehovah het vir Moses gesê: “Van die Gees wat op jou is, sal Ek afsonder en op hulle lê: en hulle sal jou help om die las van die volk te dra” (Num. 11:16, 17). Dit het egter nie beteken dat Moses daarna ’n ontoereikende voorraad heilige gees of ’n gebrek aan gees sou hê nie. Nee, God sou genoeg gees aan Moses en die 70 assistente gee sodat hulle hulle take kon verrig. Elisa sowel as die “profete-seuns” sou eweneens genoeg heilige gees hê om hulle pligte uit te voer en die komende toetse of beproewings die hoof te bied.

Christene kan ook genoeg van God se werkende krag of gees ontvang. Dit is te begrype dat hulle nie so moet leef dat hulle die vloei en werking van die heilige gees belemmer nie. (Vergelyk Efesiërs 4:30.) En hulle moet om die gees bid en glo wat Jesus gesê het: “As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?” (Luk. 11:13). Ons kan daarvan seker wees dat God “die Gees nie met mate” of “spaarsaam” gee nie (Joh. 3:34, AB; Centenary Translation of the New Testament). In plaas van “’n dubbele deel” sal hy die hoeveelheid heilige gees aan ons gee wat ons nodig het om lewensprobleme die hoof te bied, om deel te neem aan die belangrike werk om die “evangelie van die koninkryk” te verkondig en om sy Woord te verstaan en toe te pas.—Matt. 24:14.

• Beteken Mattheüs 26:74 dat die apostel Petrus onder druk vloektaal gebruik het?

Nee. Hierdie vers beskryf hoe Petrus gereageer het toe hy, na Jesus se inhegtenisname, daarvan beskuldig is dat hy een van Sy volgelinge is. Ons lees aangaande Petrus se derde ontkenning: “Toe begin [Petrus] vloek, en hy sweer: ‘Ek ken die man [Jesus] nie!’—Matt. 26:74, NTP.

In party tale kan die woorde “vloek” en “sweer” na vloektaal verwys. Maar toe Petrus ‘gevloek’ en ‘gesweer’ het, het hy nie vuil taal gebruik of geswets soos party doen wanneer hulle kwaad is nie.

In die Bybel beteken “vloek”, in die oorspronklike Hebreeus sowel as in die oorspronklike Grieks, om iemand of iets kwaad toe te wens. Dit was nie vloektaal nie en hoef geensins met toorn verband te hou nie (Gen. 3:14, 15; 4:11, 12). Om die waaragtigheid van ’n verklaring te bevestig, het ’n persoon dalk ’n vloek geuiter. Daardeur het hy gesê: ‘Mag ek vervloek wees as dit wat ek sê nie waar is nie; laat die kwaad my tref.’ Iemand kon eweneens oor ’n saak “sweer” en ’n eed aflê dat dit waar was en dat ’n onheil hom mag tref as dit nie so was nie.

Petrus het dus nie vloektaal gebruik nie, maar het vreesbevange probeer om diegene om hom te oortuig dat sy ontkennings die waarheid was. Dit was natuurlik ’n leuen waaroor hy berou moes toon (Luk. 22:61, 62). Die Bybel toon egter duidelik dat Christene vloektaal moet vermy deur vir ons te sê: “Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie.”—Ef. 4:29.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel