Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 1/15 bl. 3-6
  • Geslagsedelikheid—ls dit werklik moontlik?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Geslagsedelikheid—ls dit werklik moontlik?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “ROME SE AFGRYSLIKE SEDES”
  • ‘AS ’N GOD DIT DOEN, WAAROM SOU EK DAN NIE?’
  • “’N MARK VIR HOERERY”
  • ’N SEDELIKE WONDERWERK
  • DIE BETER “BEELD”
  • ’N DAAGLIKSE STRYD
  • Jongmense, is Bybelse sedelikheid die beste weg?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Voorhuwelikse seks
    Ontwaak!—2013
  • Jou beskouing van seks—Maak dit saak?
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Wat sê die Bybel oor seks?
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 1/15 bl. 3-6

Geslagsedelikheid—ls dit werklik moontlik?

ONS lewe in ’n wêreld wat deurdrenk is van seks, en dit het jonk sowel as oud beïnvloed. Jy voel dalk soos een jong man wat gesê het: “Alles rondom ons beklemtoon seks. Dit is so algemeen soos om asem te haal en te slaap. Elke keer wanneer jy ’n tydskrif optel of die TV aanskakel, staar dit jou in die gesig. Wanneer jy winkel toe gaan, met jou motor ry, by die werk is, by die skool is—dit is daar! Die manier waarop mense optree, praat en aantrek, vestig voortdurend die aandag op die menslike liggaam en seks. Dit is die vernaamste onderwerp van gesprekke.” Onlangse statistiek toon dat ’n ongeëwenaarde aantal tienderjariges—selfs kinders wat nog nie hulle tienderjare bereik het nie—dwarsoor die wêreld voorhuwelikse geslagsomgang het.

GROOT-BRITTANJE: “Slegs een uit ses meisies wat uit hulle tienderjare kom, is nog ’n maagd en een uit vier het geslagsomgang voordat sy 16 is”, toon ’n opname van 1980.

KANADA: Volgens ’n regeringsverslag in 1979 is daar “‘’n epidemie’ ongetroude tienermoeders”.

VERENIGDE STATE: ’n Studie in 1981 het getoon dat ‘vier uit vyf jong mans en twee uit drie jong vroue seks gehad het teen die tyd dat hulle 19 is’.

JAPAN: ln party stede het die ‘ongetroude moeders in hulle laat tienderjare en vroeë twintigerjare tussen 1970 en 1979 sestigvoudig toegeneem’.

FRANKRYK: “Meer as die helfte van Frankryk se skooldogters sê dat hulle gereeld geslagsomgang het”, aldus ’n opname in 1980.

“Tienerswangerskappe ’n toenemende wêreldprobleem”, sê ’n opskrif in ’n onlangse koerantartikel in die Brazil Herald. Die artikel het sulke vermeerderinge in Engeland, Wallis, Oos-Duitsland en Rusland gedokumenteer. Tot 85 persent van alle aangemelde gevalle van veneriese siekte kom by jongmense voor. Sulke siektes het wêreldwyd epidemiese afmetings aangeneem.

Maar nie alle jongmense aanvaar die leuse “Chaste makes waste” nie. Baie het besluit dat hulle sal wag totdat hulle getroud is voordat hulle geslagsomgang geniet. Maar dit is nie vir hulle maklik om hulle reinheid te bewaar en hulle ‘van die hoerery te onthou’ soos die Bybel beveel nie (1 Thess. 4:3). Hulle kan tereg vra: ‘Bestaan daar ’n krag wat ’n persoon kan help om die verskriklike vlaag seksuele promiskuïteit die hoof te bied?’

Ja, daar is. Verbasende bewys van hierdie krag is 2 000 jaar gelede gesien tydens een van die onsedelikste tydperke in die geskiedenis.

“ROME SE AFGRYSLIKE SEDES”

Die Romeinse staatsman Seneca was ’n ooggetuie van die toestande in die Romeinse wêreld tydens die wordingsjare van die Christelike godsdiens. Hy het erken: ‘Elke dag is die begeerte om verkeerd te doen groter. Goddeloosheid het sulke mag oor almal se harte verkry dat onskuld nie seldsaam is nie—dit bestaan nie meer nie.’ Juvenalis, wat ook in daardie tydperk gelewe het, skryf van “Rome se afgryslike sedes”.

“Heeltemal afgestomp” is hoe ’n Bybelskrywer die mense van sy dag beskryf het (Ef. 4:19, NTP). Promiskueuse geslagsomgang is as die norm beskou. Eertydse geskiedskrywer Lampridius het van daardie tydperk gesê dat ’n ongetroude persoon ’n meisie moes hê met wie hy gereeld geslagsomgang kon hê, “want dit was onmoontlik dat hy sonder een kon lewe”. Maar wat het tot so ’n walglike atmosfeer aanleiding gegee?

‘AS ’N GOD DIT DOEN, WAAROM SOU EK DAN NIE?’

Die gode van die Romeine, wat in die meeste gevalle aan Griekse mitologie ontleen is, het as voorbeelde van gedrag gedien. Maar watter onsedelike karakters was hulle tog! Venus en Flora was onbeskaamde prostitute, Bacchus was ’n dronkaard, Mercurius was ’n struikrower en Apollo het baie vroue verlei. Selfs Jupiter, die vernaamste en wysste van al die gode, het glo met 59 vroue owerspel of bloedskande gepleeg!

Hoe het hierdie voorbeelde die mense beïnvloed? Een van die toneelstukke van daardie tydperk beeld ’n jong man uit wat wonder of hy met ’n pragtige jong meisie moet hoereer of nie. Sy oog val dan op ’n prent van Jupiter wat besig is om ’n vrou te verlei. “As ’n god dit doen, waarom sou ek, ’n mens, dit dan nie doen nie?” redeneer hy, en “daarom het ek besluit om dit te doen”. Hierdie toneelstuk het die werklike lewe uitgebeeld, want Seneca het geskryf dat geslagsonsedelikheid nie langer vir ’n man ’n skande was “wanneer hy gesien het dat die gode niks beter as hy is nie”. Die aanstigters agter daardie denkbeelde van gode was ongetwyfeld die ‘seuns van God’ wat in Noag se dag in opstand gekom het en na die aarde gekom het om onsedelike omgang met die dogters van die mense te hê. Alhoewel hierdie seksuele verdorwenes na die geesteryk teruggekeer het, het hulle voortgegaan om die mensdom met die gees van onsedelikheid te deurweek.—Gen. 6:1-4; Jud. 6, 7.

“’N MARK VIR HOERERY”

Tweede-eeuse skrywer Athenagoras sê dat party in sy dag “’n mark vir hoerery opgerig en berugte oorde vir jongmense vir elke soort walglike genot geopen het”. Die teater was deel van hierdie “mark” wat ongeoorloofde seks in die openbaar “verkoop” het. Die temas van die toneelstukke het gehandel oor die onsedelike liefdeslewe van die gode. Die toneelspelers was dikwels in “nousluitende drag” geklee wat die indruk van naaktheid geskep het. Teen die mure van huise en tempels, wat dikwels deur almal gesien kon word, was daar boonop skilderye van “onbeskryflike onkuisheid”, en dit het soms selfs geslagsomgang uitgebeeld. Die beelde van die onsedelike gode, wat dikwels naak afgebeeld is, is in die openbaar opgerig sodat selfs die jongste oë dit kon sien. En lektuur met die vuilste taal en beskrywings wat ooit opgeteken is, is vryelik onder die jongmense versprei. Kinders se verstande is van kleins af besoedel wanneer hulle van die eskapades van die gode en godinne gelees of ander dit vir hulle voorgelees het.

Voeg hierby die baie gewilde baddens wat deur die massas besoek is en wat eintlik maar net “bordele met ’n ordentlike naam” was; die gimnasiums, waar talle jong en ou manne naak geoefen het en wat homoseksueleneste geword het, en die feeste, wat dikwels net openbare seksuele orgieë was. Die situasie was presies soos die apostel Paulus dit in sy brief aan die Romeinse Christene beskryf het. Met verwysing na diegene wat “die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper” en wat die destydse sedes gehad het, het hy geskryf: “Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe” (Rom. 1:24-27). Paulus se beskrywing was skokkend akkuraat, want die morele verdorwenheid van die Grieks-Romeinse wêreld het gelei tot een van die walglikste gebruike in die geskiedenis—die geslagtelike skending van jong seuns deur ouer mans. Hierdie vuige gebruik is deur poësie en toneelstukke verheerlik, en die hele gemeenskap is daarmee besmet.

Hoe moeilik sou dit gewees het om rein te bly as jy destyds gelewe het en sedelike onreinheid oral om jou gesien het! Ja, dit sou waarlik morele krag en beginselvastheid geverg het vir ’n jong man of ’n jong vrou om kuis te bly. Maar te midde van al hierdie dinge, en asof deur middel van ’n wonderwerk, het party sulke deugsaamheid getoon.

’N SEDELIKE WONDERWERK

Nadat die apostel Paulus die soort onsedelike mense opgenoem het waarvan die antieke stad Korinthe vol was—hoereerders, owerspelers, homoseksuele en dies meer—het hy in sy brief aan die Christen-gemeente aldaar geskryf: “Dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas” (1 Kor. 6:9-11). Die leerstellings van die ware Christelike godsdiens het morele krag verleen sodat die aanhangers daarvan kon verander en vry van geslagsonsedelikheid kon bly.

“Die opvallendste oorspronklikheid van die Christelike leerstelling was moontlik die klem wat dit op kuisheid gelê het”, sê William Sanger in sy boek The History of Prostitution, wat eertydse sedes breedvoerig bespreek. Hy voeg by: “Van die begin af het die Christengemeenskap hom tereg op die reinheid van sy sedes beroem.” Wat het tot so ’n reputasie aanleiding gegee? Met die hulp van God kon hulle ’n beter “beeld” navolg as dié van die seksbehepte gode.

DIE BETER “BEELD”

“Beklee julle met die nuwe persoonlikheid, wat deur middel van juiste kennis vernuwe word na die beeld van Hom wat dit geskep het”, het die apostel Paulus aangeraai (Kol. 3:10, NW). Met inligting uit die geïnspireerde Skrif en deur die leerstellings en voorbeeld van Jesus Christus, die Seun van God, kon Christene ’n “juiste kennis” verkry van die eienskappe van die ware God, Jehovah. Sy “beeld” het ’n skerp kontras met dié van die Romeinse gode gevorm.

Ware Christene het hulle Skepper gesien as hulle hemelse Vader wat hulle liefgehad en vir hulle gesorg het (1 Pet. 5:6, 7). Hulle het geleer hoe hy altyd met geregtigheid, regverdigheid en barmhartigheid opgetree het. Hy was rein en heilig (Deut. 32:4; 1 Pet. 1:15, 16). Hulle is beweeg deur sy eienskappe, en het probeer om die geïnspireerde raad toe te pas: “Wees dan navolgers van God soos geliefde kinders” (Ef. 5:1). Hulle het God, wat deur Christus geopenbaar is, as ’n immer-teenwoordige vriend beskou. Hulle kon hom liefhê. Die gees van opregte liefde het hulle harte gevul en hulle tot Christelike werke aangespoor.

God het hierdie vroeë Christene deur middel van sy heilige gees gehelp, en dit het hulle “krag bo die normale” gegee. Daarbenewens is hulle by hulle godsdiensvergaderinge herinner aan die nodigheid om rein te bly. Deur na aan hulle metgeselle in die Christelike broederskap te bly, het hulle daarin geslaag om getrou te bly (2 Kor. 4:7, NW; Hebr. 10:24-26). “Ons wat tevore genot uit hoerery geput het, streef nou reinheid na”, het Justinus Martyr, ’n erkende Christen van die tweede eeu, gesê. Dit was nietemin nie maklik om sedelik rein te bly nie.

’N DAAGLIKSE STRYD

Ons moet nie vergeet dat die vroeë Christene in ’n verdorwe wêreld gelewe het nie. Party persone wat Christene geword het, het “aan die keiserlike huis behoort” (Filip. 4:22). Nero was destyds die keiser, en sy skokkende sedelike vergrype is welbekend. Hy het die vieslikste vermaak gereël. Hy het selfs met ’n jong man “getrou”, “met al die aspekte van ’n gewone huwelik”.a Diegene van sy “huis” wat Christene was (moontlik regerings-amptenare of dienaars) het egter kuis gebly ondanks die milieu.

Daar is baie druk op die Christene in Rome uitgeoefen deur hulle kennisse, en hulle moes veel spot verduur. Seneca weerspieël byvoorbeeld die algemene beskouing wanneer hy skryf: “Iemand sonder liefdesverhoudings word verag.” “Kuisheid is bloot ’n bewys van lelikheid.” Ander het glo gekla: ‘Wat ’n vrou was sy tog! Hoe wulps, hoe uitgelate! Wat ’n jong man was hy tog! Hoe losbandig, hoe wellustig! Nou het hulle Christene geword—hoe jammer tog!’

Maar daardie vroeë dissipels was nie bejammerenswaardig nie. Hulle kon hulle hoofde hoog hou met selfrespek. Hulle het rein gewetens gehad. As “kinders van die lig” het hulle hulle rein boodskap sonder enige verleentheid wyd en syd verkondig (Ef. 5:8). Sou jy dit nie ’n voorreg geag het om as een van hierdie sedelike “rotse” in daardie see van modder geïdentifiseer te word nie? Hulle waarlik bevredigende lewenswyse het ’n skerp teenstelling gevorm met dié van die mense van die nasies ‘wat God nie geken het nie en hulle hartstogtelike begeerlikheid’ tot hulle nadeel gebotvier het.—1 Thess. 4:5.

Gedurende daardie eerste eeu het baie mense se lewe byvoorbeeld sinloos geword. Hulle het die bedwelmende beker van genot tot die droesem geledig—hulle het alle moontlike vorms van genot op die proef gestel. Geen betowering, geen lekkerny het oorgebly nie—en ook geen bevrediging nie. Volgens die geskrifte van Juvenalis het een homoseksueel, wat deur sy minnaar verwerp is toe hy ouer geword het, gepleit: “Wat is die beste ding om nou te doen na al hierdie verkwiste jare en verydelde verwagtings? Die fleur van die lewe sal te gou verwelk, ons ellendige tydjie op aarde is besig om te verstryk: Terwyl ons drink, terwyl ons vra vir kranse en parfuums en meisies, bekruip die ouderdom ons meedoënloos.” Maar geen teleurstelling en ellende het op daardie getroue Christene gewag nie.

Al moes Jesus se ware volgelinge elke dag ’n stryd voer om sedelik rein te bly, het hulle gemoedsrus dit die moeite werd gemaak. Geslagsedelikheid was moontlik.

Sien ons vandag soortgelyke morele krag? Ja. Tallose jongmense dwarsoor die wêreld sal sê dat geslagsedelikheid moontlik is. Hierdie jongmense is verbonde aan die gemeentes van Jehovah se Getuies. Ondanks die verderflike sedelike invloed van vermaak en die sosiale lewe van vandag se samelewing—nie ’n tree agter dié van antieke Rome nie—dien hierdie jongmense as ’n groep opvallend as ligtende voorbeelde van reinheid.

Maar party jongmense wat aan hierdie Christengemeentes verbonde is, het probleme op hierdie gebied. Selfs party wat in Christenhuise grootgemaak is, verloor nou en dan hulle waardering vir Bybelse sedes. Hoe kan jong Christene dieselfde morele reinheid handhaaf wat so duidelik was onder ware Christene van die eerste eeu—ondanks ontsaglike hindernisse? Hoe kan hulle ouers hulle help? Die volgende twee artikels is geskryf om praktiese hulp te verleen.

[Voetnoot]

a Annals (IX, 37) van die Romeinse geskiedskrywer Tacitus.

[Lokteks op bladsy 4]

Onlangse statistiek toon dat ongeëwenaarde getalle jongmense hulle aan geslagsonsedelikheid skuldig maak

[Lokteks op bladsy 5]

Ondanks die “afgryslike sedes” van antieke Rome was die vroeë Christene wonderwerke van morele reinheid

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel