Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 1/1 bl. 15-19
  • Heilige diens as ’n gesin

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Heilige diens as ’n gesin
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “SOEK EERS DIE KONINKRYK”
  • MEDEDEELSAAMHEID
  • PIONIERDIENS
  • SENDINGWERK
  • BETHELDIENS
  • WAT GAAN JY DOEN?
  • Dit maak Christene gelukkig om te dien
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Heilige diens in hierdie “tyd van die einde”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Bied die Goeie Nuus Aan—As ’n gesin
    Ons Koninkryksbediening—1986
  • Heg groot waarde aan heilige diensvoorregte
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 1/1 bl. 15-19

Heilige diens as ’n gesin

“Ek smeek julle . . . om julle liggame aan te bied as ’n slagoffer wat lewend, heilig en aan God welgevallig is, ’n heilige diens met julle denkvermoë.”—Rom. 12:1, NW.

1, 2. (a) Aan watter vereistes moet ’n Christengesin voldoen om aanneemlike “heilige diens” te verrig? (b) Meld van die probleme wat op ’n Christengesin se “heilige diens” inbreuk kan maak.

IN DIE Christengemeente word die gesin as die basiese eenheid beskou. As daar liefde, vrede en eenheid in die gesinskring is, asook ’n bewustheid van die belangrikheid van “heilige diens” aan Jehovah, kan die gesin ’n groot aanwins vir die Christengemeente wees (Rom. 12:1, NW). Die uitdaging is om so ’n gesin te bou en te behou.

2 Daar is vandag baie dinge wat die welslae van Christengesinne teëwerk. ’n Man en vrou meen byvoorbeeld dikwels dat dit nodig is om albei te werk om genoeg te verdien om die gesin te onderhou. In hierdie situasie is gesinslede geneig om van mekaar vervreemd te raak. Weens die ongelykmatige aantrekking van hierdie stelsel word die gesin soms verdeel deur die begeerte om bo hulle inkomste te lewe, in plaas daarvan dat hulle ag slaan op die Bybel se raad om tevrede te wees met hulle “voedsel en klere” (1 Tim. 6:8). Die gees van onafhanklikheid en die begeerte van elkeen om te doen wat hy wil, eerder as om saam te werk, is ook faktore wat gesinne verdeel in plaas daarvan om hulle saam te snoer. Ongeag wat die invloed is, is daar ’n weg wat vir die Christengesin van onskatbare waarde kan wees as hulle dit inslaan.

3. Watter weg word aanbeveel?

3 Hierdie weg word beskryf in ’n verklaring in die Bergpredikasie. Die Here Jesus het gesê: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matt. 6:33). Hierdie bespreking sal oor daardie weg handel. Dit sal nie handel oor die huislike aspekte van gesinslewe nie, maar oor die positiewe dinge wat ’n gesin kan doen om eers die Koninkryk te soek en die dinge voor te staan wat lei tot ’n gelukkige, liefdevolle Christengesin, een wat effektief “heilige diens” vir God kan verrig.

“SOEK EERS DIE KONINKRYK”

4. Weens watter oorgeërfde toestand moet ons geleer word hoe om Jehovah te behaag? (Jer. 10:23)

4 As iets eerste in ’n persoon se lewe kom, geniet dit voorkeur, is dit van die allergrootste belang. Jesus het gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg” (Luk. 9:23). Om ’n ware volgeling van Jesus te wees en jouself te verloën, moet ’n mens waarlik ‘eers die Koninkryk soek’. As gevolg van ons onvolmaakte neiging van verstand en hart reg van geboorte af weens oorgeërfde sonde, moet ons almal geleer word wat van ons verwag word om God te behaag (Gen. 8:21; Rom. 5:12). Ons moet geleer word om ‘eers die Koninkryk te soek’, want as ons aan onsself oorgelaat word, sal ons sonder uitsondering eers ons eie persoonlike begeertes en behoeftes soek. Jehovah het dus onderrig voorsien wat ons in sy Woord aantref en regte leiding gee.

5. Hoe omvattend was die opleidingsprogram wat Jehovah in Deuteronomium 6:6-9 vir die eertydse Israeliete uiteengesit het?

5 Jehovah het sy uitverkore volk, die eertydse Israeliete, beveel om hulle kinders sy wette en gebooie te leer. Hulle moes die leringe herhaal wanneer hulle tuis was, wanneer hulle van die huis af weg was, wanneer hulle gerus het en wanneer hulle gewerk het (Deut. 6:6-9). Daardie selfde bevel is gepas vir hedendaagse gesinne wat “heilige diens” aan God verrig. Wanneer ons geleer word om ‘eers die Koninkryk te soek’, leer ons om verantwoordelikhede te aanvaar. Een van daardie verantwoordelikhede is mededeelsaamheid.

MEDEDEELSAAMHEID

6. (a) In watter vorm van mededeelsaamheid stel ons hier belang? (b) Hoe groot is ouers se verantwoordelikheid waar dit by mededeelsaamheid kom? (c) Watter hindernis het die apostel Paulus in 2 Korinthiërs 2:14-16 beskryf, en hoe kan dit party laat voel?

6 Ons wil nie hier uitwei oor die betekenis van mededeelsaamheid in ’n materiële sin, wat natuurlik ook noodsaaklik is vir ware geluk nie (Hand. 20:35). Ons wil praat oor mededeelsaamheid wat vir ander die geleentheid bied om die hoop op God se koninkryk te hê wat Christene het. Een van die beste eienskappe wat ’n ouer by sy kind kan inskerp, is die begeerte om die Koninkryks-“evangelie” aan ander te verkondig. Kinders kan van kleins af geleer word om met ander oor die “evangelie van die koninkryk” te praat (Matt. 24:14). Dit verg baie inspanning aan die kant van die ouers, want die Koninkryksboodskap is van so ’n aard dat dit nie geredelik deur die meeste mense na wie dit gebring word, aanvaar of begeer word nie. Dit is omdat Satan, “die god van hierdie wêreld”, die mense se sinne verblind het vir die “evangelie van die heerlikheid van Christus” (2 Kor. 4:4). Die apostel Paulus het ’n verklaring gemaak oor ons nakoming van hierdie verantwoordelikheid en die gevolge daarvan. Hy het gesê: “Deur ons versprei [God] die kennis van Christus oral soos ’n aangename geur. Ons is die wierook wat deur Christus vir God gebrand word, waarvan die geur dié bereik wat gered word, sowel as dié wat verlore gaan. Vir dié wat verlore gaan, is dit ’n doodsreuk wat dood bring; vir dié wat gered word, is dit ’n lewensgeur wat lewe wek” (2 Kor. 2:14-16, NTP). Die probleem is dat die oorgrote meerderheid mense hierdie allerbelangrike boodskap as iets dodeliks beskou, as iets wat vir hulle onaanvaarbaar is. Die verkondiging van hierdie boodskap aan sulke mense kan moeilik en ontmoedigend wees.

7. Watter aanmoediging het kinders nodig sodat hulle kan voortgaan in die dinge wat hulle geleer het?

7 Dit maak Christenouers se rol by die opleiding van hulle kinders om ’n aandeel in hierdie “heilige diens” te hê, baie belangrik. Hierdie diens versprei die “kennis van Christus”, iets wat vir ’n paar groot vreugde verskaf, maar wat deur baie heeltemal verwerp word. Ouers het die geleentheid en verpligting om hulle kinders van kleins af te begin oplei sodat hulle voorbereid en toegerus is om hierdie “heilige diens” te verrig deur die boodskap oor Christus en die Koninkryk aan ander te verkondig. Kinders het baie hulp nodig om te besef dat jong verkondigers van die “evangelie” nie hulle vreugde en ywer moet verloor net omdat baie die heerlike boodskap van God as dodelik beskou nie. Hulle moet ook nie die hand verslap en ophou om “heilige diens” vir Jehovah te verrig nie.—1 Kor. 9:16, 17.

8. (a) Hoe belangrik is ouers se voorbeeld by die verrigting van “heilige diens”? (b) Waarom is dit goed vir ouers om ’n regstreekse aandeel aan sulke opleiding te hê?

8 Dit is dus duidelik dat ouers ’n groot en blywende verantwoordelikheid het om hulle ywer en toewyding in hulle eie lewens te weerspieël deur gereeld deel te neem aan die werk om die Koninkryk te verkondig. Hulle moet dit ’n deel van hulle lewensroetine maak om saam met hulle kinders Koninkryksdiens te verrig, en nie hulle kinders voortdurend uitstuur sodat ander na hulle moet omsien nie. Niemand anders kan hierdie verantwoordelikheid vir hulle nakom nie. ’n Goeie voorbeeld is die beste manier om regte doelwitte en beweegredes by kinders in te skerp. Onthou die Skriftuurlike opdrag: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie” (Spr. 22:6). Om behoorlike opleiding te voorsien, moet die vader of die moeder, of albei waar moontlik, hulle kinders vergesel. Hulle moet as ’n gesin “heilige diens” verrig.

9. Skets twee goeie resultate van deelname aan heilige Koninkryksdiens.

9 Hierdie verkondiging van die “evangelie” aan ander lewer goeie resultate, benewens die bevrediging wat verskaf word deur die wete dat ’n mens doen wat Jehovah beveel het. Dit gee ’n mens se kinders regte doelwitte om in die lewe na te streef. Die strewe na ydel doelwitte deur die oorgrote meerderheid jongmense verskaf nie aan hulle ware en blywende geluk nie. Die najaging van ’n doel wat Jehovah behaag, lei tot godsvrug saam met vergenoegdheid, die allerbeste doel wat ons kan hê. Terwyl die wêreld oor die algemeen na tevredenheid soek, vind godvresende gesinne in die Christengemeente dat dit binne hulle bereik is—hulle moet dit net aangryp. Daar is baie maniere om tevredenheid te vind.—Ef. 5:15, 16.

PIONIERDIENS

10. Hoe kan pionierdiens in die Christengesin voorgestaan word, en watter voordeel hou dit in?

10 Gedurende die 1980-diensjaar het meer as 137 000 van Jehovah se Getuies rondom die wêreld ’n aandeel in een of ander vorm van die voltydse bediening, die pionierdiens, gehad. Hierdie individue het groot tevredenheid gesmaak omdat hulle so ’n groot aandeel in die Koninkryksverkondiging gehad het. Hierdie vorm van “heilige diens” het vir hulle baie seëninge van Jehovah af gebring. Soms kan die lede van ’n gesin reël dat een van hulle in die voltydse pionierdiens tree. Dit sal vereis dat elkeen opofferings moet maak, maar die beloninge sal dubbel en dwars die moeite werd wees. Het julle al die moontlikheid oorweeg dat een van die lede van julle gesin aan hierdie vertakking van “heilige diens” kan deelneem? Baie ongetroude persone en egpare wat pionierdiens begin doen, eers as hulppioniers en later as gewone of spesiale pioniers, vind dat hulle selfs in die posisie is om hulle bediening na ander vertakkings van “heilige diens” uit te brei.

SENDINGWERK

11. (a) Watter ander vorm van “heilige diens” het baie begin doen? (b) Hoe dra dit tot die bevordering van “heilige diens” by?

11 Die Wagtoring-Bybelskool Gilead is nou al meer as 38 jaar in werking. Dit lei mense op en rus hulle toe om na buitelandse gebiede te gaan waar hulle ‘eers die Koninkryk kan soek’. Baie Christen-vaders en -moeders was bereid om die genot prys te gee om hulle kinders naby hulle te hê, maar het hulle aangespoor om hulle bediening uit te brei en aldus ander in die buiteland te help. Duisende ongetroude broers en susters, sowel as egpare, is al geseën met die voorreg om sendingwerk in ander lande te doen. Hulle is verryk deur talle seëninge in daardie vorm van “heilige diens” en het gehelp om die “evangelie” na afgeleë dele van die aarde te dra. Daar dien tot vandag toe gegradueerdes van die eerste klasse van Gilead-skool in ander lande, en in baie gevalle vorm hulle die vaste grondslag van die werk waarmee daar dekades gelede begin is. Is julle, as ’n gesin wat “heilige diens” doen, in die posisie om enige van julle kinders aan te spoor om hierdie vertakking van diens te oorweeg?—Mal. 3:10.

BETHELDIENS

12. Watter rol kan Bethel in die “heilige diens” van party gesinne speel?

12 By die takkantore van die Wagtoring-genootskap dwarsoor die aarde is daar Bethelhuise waar ten volle toegewyde jong manne en vroue hulle Skepper in die dae van hul jonkheid kan dien (Pred. 12:1). Hierdie vorm van “heilige diens” verskaf ook baie vreugde aan diegene wat daarvoor kwalifiseer, aangesien hulle ’n diens kan verrig vir hulle broers en susters wat in die predikings- en onderrigtingsdiens is. Baie gesinne word geseën met die voorreg om kinders of familielede in ’n Bethelhuis te hê. Hoewel hierdie vertakking van voltydse werk ’n mens nie toelaat om so ’n groot aandeel aan die openbare bediening te hê as wat pioniers of sendelinge het nie, preek diegene wat by Bethel dien nietemin van huis tot huis en verkondig hulle die Koninkryksboodskap (Hand. 20:20). Daarbenewens verskaf hulle noodsaaklike dienste wat verseker dat die wêreldwye bediening aanhou vooruitgang maak.

WAT GAAN JY DOEN?

13. Watter geleentheid het Christengesinne nog steeds?

13 In sy brief aan die gemeente in Korinthe het Paulus geskryf dat hy ’n ruk in Efese gaan aanbly omdat ‘’n groot deur wat tot aktiwiteit lei vir hom oopgegaan het’ (1 Kor. 16:9, NW). Daar is vandag nog steeds vir Jehovah se volk ’n groot deur wat na aktiwiteit, “heilige diens”, lei en dit staan oop. Ons lewe gedurende die finale vervulling van baie Bybelprofesieë in verband met die “tyd van die einde” wanneer die goeie nuus van die Koninkryk in die hele wêreld tot ’n getuienis verkondig moet word (Dan. 12:4; Matt. 24:14). Wat gaan die Christengesinne van Jehovah se Getuies doen? Die dringendheid is daar, want daar is min tyd oor. Die voorsienings is daar, want Jehovah het sy Woord, die Bybel, voorsien asook publikasies wat voorberei word deur die “getroue en verstandige dienskneg” tot voordeel van Godvresende persone (Matt. 24:45-47). Die gesinne is daar, en Jehovah het voortgegaan om duisende by die geledere van die Koninkryksverkondigers te voeg.—Vergelyk Jesaja 60:22.

14. (a) Watter pertinente vrae kan gesinne hulself afvra? (b) Hoekom kan ons bekwaam geag word om “heilige diens’’ te verrig?

14 Die vrae is dus: Wat gaan julle doen? Gryp julle die geleentheid wat julle nou het om “heilige diens” vir die Skepper te verrig as ’n gesin sowel as individueel aan? Spoor julle ander aan om dit te doen? Is julle gesin een van die in die gemeente wat toon dat dit op ’n vaste fondament gebaseer is en die vrugte van die Koninkryk wil dra? Toe Paulus gepraat het van Christene wat soos wierook is wat versprei onder diegene wat gered word sowel as diegene wat verlore gaan, het hy verder gesê: “En wie is tot sulke dinge in staat? Ons, omdat ons nie is soos baie ander wat geld maak uit die woord van God nie. Ons verkondig die woord in opregtheid, in verbondenheid met Christus, in opdrag van God.”—2 Kor. 2:16, 17, NTP.

15, 16. (a) Hoe kan party hulle aandeel in die bevordering van Koninkryksbelange vergroot? (b) Wat is die seëninge van meer “heilige diens”?

15 Deur liefde, vrede en eenheid in die gesinskring te bevorder, deur ‘eers die Koninkryk te soek’, deur te gaan sit en die koste te bereken, sal Christene moontlik vind dat hulle wel hulle aandeel in die bevordering van die allerbelangrikste boodskap wat ooit op hierdie aarde verkondig is, die “evangelie” van God se opgerigte koninkryk, kan vergroot. As gevolg van hulle opregte, verenigde pogings sal hulle Jehovah se seën geniet, en hy voeg geen pyn by die seëninge wat hy gee nie.—Spr. 10:22, NW.

16 Gaan sit gerus as ’n gesin en bespreek wat julle doen en wat julle kan doen. Eerlikheid sal die meeste van ons ongetwyfeld noop om te erken dat ons, met ’n bietjie meer inspanning, ons gesin se aandeel in Jehovah se “heilige diens” kan vergroot. Onthou, Jehovah verwag nie dat ons meer moet doen as wat redelik is nie. Ons liefde vir hom, vir ons gesin en vir die mensdom oor die algemeen behoort ons aan te spoor om onsself te ondersoek en vas te stel wat ons kan doen. Dink na oor die verskeie sye van jou “heilige diens”, jou heerlike bediening as Christus se dissipel (2 Kor. 4:7). Bid tot Jehovah oor die saak en vra sy leiding en hulp met die pogings wat jy aanwend. Daar gaan nou baie seëninge met godvrugtige vergenoegdheid gepaard, en die toekoms hou die belofte van ewige lewe in God se nuwe stelsel in.—Matt. 25:34; 1 Tim. 6:6, 17-19.

GEDAGTES WAT JULLE AS ’N GESIN KAN BESPREEK

• Waarom moet gesinne, benewens ons persoonlike toepassing van Jesus se woorde in Mattheus 6:33, daarin belangstel om hierdie woorde eensgesind toe te pas?

• Hoe kan jy ’n groter aandeel hê in die gesinsprogram om kinders te leer om die Koninkryksboodskap met ander te deel?

• Watter praktiese aanpassings kan julle in julle gesin maak sodat kinders ’n groter aandeel in hierdie werk kan hê?

• Watter spesiale vertakkings van “heilige diens” kan vir jou of ’n lid van julle gesin redelike doelwitte wees?

• Hoe kan julle gesin saamwerk sodat ten minste een van julle so ’n doelwit kan bereik?

[Prent op bladsy 16]

Jongmense kan belangrike lesse oor mededeelsaamheid leer terwyl hulle ’n ouer vergesel wat die Christelike boodskap verkondig

[Prent op bladsy 17]

Baie jongmense wat “heilige diens” saam met hulle gesin geniet het, put genot daaruit om as voltydse pionierpredikers te dien

[Prent op bladsy 18]

Diens in ’n Bethelhuis kan ’n bron van groot genoegdoening wees. Dit is ’n belangrike bydrae tot die “heilige diens” wat aardwyd verrig word

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel