Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 11/1 bl. 21-26
  • Heilige diens in hierdie “tyd van die einde”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Heilige diens in hierdie “tyd van die einde”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • HOE EN WANNEER DIT VERRIG WORD
  • Dit maak Christene gelukkig om te dien
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Heilige diens as ’n gesin
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Het jy Jehovah se beskouing van heilige dinge?
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Waardeer jy heilige dinge?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 11/1 bl. 21-26

Heilige diens in hierdie “tyd van die einde”

1. Hoe weet ons dat ons in die “tyd van die einde” lewe, en wat sê Daniël 12:4 daaromtrent?

IN DIE lig van die ontseëlde profesieë van die Bybel behoort dit nie vir ons moeilik te wees om te sien dat ons in die voorspelde “tyd van die einde” lewe nie. In verband met hierdie kritieke tydperk sê die profesie van Daniël 12:4: “En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder.” Die Griekse Septuaginta lui: “En jy, Daniël, maak toe die woorde, en verseël die boek tot die tyd van die einde; totdat baie geleer word en kennis vermeerder” (Bagster; Thomson; Latynse Vulgata; Lamsa se Holy Bible from Ancient Eastern Manuscripts). Die “groot menigte” wat in die laaste boek van die Bybel beskryf word, het baat gevind by hierdie vermeerdering van Bybelkennis en -begrip.—Openb. 7:9-17.

2. (a) Waarom is die manier waarop die “groot menigte” “heilige diens” verrig belangrik? (b) Hoe verskil die Griekse woord wat vertaal word met ‘om te dien’ van die woord wat weergegee word as “heilige diens”

2 Sedert daar in 1935 G.J. begin is om hierdie “groot menigte” te versamel, “verrig [hulle] . . . heilige diens” aan Jehovah God. Hoe hulle dit presies doen, is baie belangrik. Waarom? Want tydens sy laaste nag saam met sy getroue 11 apostels het Jesus Christus vir hulle gesê: “Hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat julle nie mag struikel nie. Hulle sal julle uit die sinagoges ban. Ja, daar kom ’n uur dat elkeen wat julle om die lewe bring, sal dink dat hy ’n [heilige] diens aan God bewys” (Joh. 16:1, 2, vgl. NW). In plaas van “heilige diens” sê The Jerusalem Bible “heilige plig”; The New English Bible sê “godsdiensplig”; Rotherham se The Emphasised Bible sê “goddelike diens”. Die oorspronklike Griekse woord wat so vertaal word, is la·trei’a. Die werkwoordvorm van daardie Griekse selfstandige naamwoord is la·treu’ein. Dit verskil van die Griekse werkwoord di·a·ko·nein’, wat beteken “om te dien”, en wat selfs vir gewone, alledaagse, aardse dinge gebruik word, dinge wat nie heilig is nie, soos in Mattheüs 8:15.

3. Waarom het die Jode wat by die Wetsverbond gehou het, gedink dat hulle nie ’n fout kon maak deur Jesus dood te maak en sy dissipels te vervolg nie?

3 Saulus van Tarsus, Klein-Asië, was eens ’n misleide Jood wat Christene vervolg het totdat hy bekeer is. Hy het van sy mede-Jode gepraat as “Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort en die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens [la·trei’a; heilige diens, NW] en die beloftes; aan wie die vaders [Abraham, Isak en Jakob] behoort en uit wie die Christus is na die vlees” (Rom. 9:4, 5). Omdat hulle gehou het by daardie “heilige diens” wat in die Wetsverbond uiteengesit is, het die ongelowige Jode gemeen dat hulle nie ’n fout kon maak toe hulle Jesus Christus aan die paal genael en sy getroue dissipels selfs tot die dood toe vervolg het nie.

4. Wat noem Paulus die diens van die priesters in die tentafdelings, en wat het daardie bedrywighede afgebeeld?

4 Terwyl die Wetsverbond van krag was, het daardie “heilige diens” wat ’n deel daarvan was sy plek gehad, en was dit vir God aanneemlik. Die apostel Paulus plaas dit dus op ’n hoë vlak wanneer hy sê: “So het dan die eerste verbond sowel verordeninge vir die erediens [la·trei’a; heilige diens, NW] asook sy aardse heiligdom gehad. Want die tabernakel is so ingerig: die eerste [tentafdeling], waarin die kandelaar was en die tafel en die toonbrode, wat die Heilige genoem word; en agter die tweede voorhangsel die tabernakel wat genoem word die Allerheiligste . . . En nadat hierdie dinge so ingerig was, het die priesters wel gedurig in die eerste tabernakel ingegaan om die [heilige] dienste [la·trei’a] te vervul” (Hebr. 9:1-6, vgl. NW). Daardie seremoniële heilige diens het in verband gestaan met die offerandes wat ten behoewe van die nasie Israel geoffer is. Dit het nie na die alledaagse take van die mense verwys nie. Soos die apostel Paulus aantoon, was al sulke “heilige diens” onder die ou Wetsverbond tipies en het dit Christelike sake afgebeeld.

5. Is dit wat Paulus Christene in Romeine 12:1 aansê om te doen iets alledaags, en wat noem hy dit?

5 Ooreenkomstig hiermee het Paulus die volgende in sy brief aan die Christene in Rome gesê: “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer—dit is julle redelike godsdiens [la·trei’a; heilige diens, NW]. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie” (Rom. 12:1, 2). Wanneer hulle so ’n offer bring, sou dit dus iets buitengewoons wees, iets wat nie oor die algemeen deur die onchristelike mense van hierdie wêreldlike stelsel van dinge gedoen word nie.

6. Wat het die Israeliete hulle verbind om vir God te doen toe hulle die Wetsverbond deur Moses gesluit het, en wat het die martelaar Stefanus hieromtrent gesê?

6 Nadat die nasie Israel uit die slawehuis in eertydse Egipte bevry is, is daar aan hulle ’n georganiseerde vorm van heilige diens aan God gegee. Die Christenmartelaar Stefanus het dit so gestel: “‘En die nasie wat hulle as slawe sal dien, sal ek oordeel’, sê God, ‘en na hierdie dinge sal hulle uittrek en in hierdie plek heilige diens [la·treu’ein] vir my verrig’” (Hand. 7:7, NW). Deur die Wetsverbond met Jehovah God deur Moses as hulle middelaar aan te gaan, het die Israeliete hulle verbind om heilige diens vir Hom te verrig. Later het die meerderheid Israeliete, wat almal deur die verbond gebind was, verkies om ander gode te aanbid. “Daarom”, het Stefanus voorts gesê, “het God hom afgewend en hulle oorgegee om heilige diens [la·treu’ein] te verrig aan die leer van die hemel, net soos geskrywe staan in die boek van die profete: ‘Dit was nie aan my dat julle gedurende die veertig jaar in die wildernis offerdiere en slagoffers gebring het nie, of hoe, o huis van Israel?’”—Hand. 7:42, NW.

7. (a) Wat het Paulus gesê dat die Jode vir God verrig om die vervulling van Sy belofte te verkry? (b) Wat het die apostel Paulus vir die God van sy voorvaders verrig volgens die weg wat die Jode ’n sekte genoem het?

7 Dit was baie jare nadat Jehovah God sy Wetsverbond met die natuurlike huis van Israel beëindig het dat die apostel Paulus tydens ’n verhoor voor koning Agrippa te Cesarea gesê het: “Ons twaalf stamme hoop om die vervulling van hierdie belofte te verkry deur nag en dag intensief heilige diens [la·treu’ein] vir [God] te verrig. Oor hierdie hoop, o koning, word ek deur die Jode beskuldig” (Hand. 26:7, NW). Weens so ’n beskuldiging kon Paulus die volgende voor die Romeinse goewerneur Felix in die teenwoordigheid van Joodse beskuldigers sê: “Dit gee ek u egter toe, dat ek, volgens die weg wat hulle ’n ‘sekte’ noem, heilige diens [la·treu’ein] vir die God van my voorvaders verrig, aangesien ek al die dinge glo wat in die Wet uiteengesit word en in die Profete geskrywe staan.”—Hand. 24:14, NW; 28:22.

8. (a) Wat is daardie “sekte” waarvolgens selfs die “groot menigte” Jehovah vandag aanbid? (b) Waarom bestaan daar groot gevaar om ’n verkeerd gerigte “heilige diens” te verrig, en wat het Paulus gesê is ons beveiliging?

8 Die sogenaamde ketter-“sekte” waarvolgens Paulus Jehovah as God aanbid het, was die Christelike godsdiens (Hand. 11:26; 1 Pet. 4:16). Die “groot menigte” bely vandag openlik dat hulle Christengetuies van Jehovah is, en om daardie rede moet hulle baie versigtig wees hoe hulle probeer om Jehovah op ’n heilige manier te dien. Sedert die “tyd van die einde” na die einde van die “tye van die nasies” in 1914 begin het, het valse gode en valse here toegeneem (Luk. 21:24). Selfs 19 eeue gelede het die apostel Paulus dit nodig gevind om die “Christene” in die hoofstad van die Romeinse Ryk daaraan te herinner dat Joodse afvalliges “die waarheid van God vir die leuen verruil het en die skepping vereer het en heilige diens [la·treu’ein] daarvoor verrig het in plaas daarvan om dit te doen vir die Een wat geskep het” (Rom. 1:25, NW). Hy het getoon wat sy beveiliging teen verkeerd gerigte heilige diens was toe hy gesê het: “Al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is—soos daar baie gode en baie here is—tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.”—1 Kor. 8:5, 6.

HOE EN WANNEER DIT VERRIG WORD

9. Van wanneer af was dit nie meer in orde om “heilige diens” vir God volgens die Mosaïese Wetsverbond te verrig nie, en waarom nie?

9 Gedurende die 1 545 jaar dat die Wetsverbond op die Joodse nasie van krag was, naamlik van 1513 v.G.J. tot 33 G.J., het die getroue Jode, “heilige diens” vir Jehovah God verrig wat vir hom aanneemlik was. Maar toe daardie Wetsverbond afgeskaf is toe die verheerlikte Jesus Christus die nuwe verbond in 33 G.J. in die hemel bemiddel het, was die Mosaïese Wetsverbond nie langer die manier waarvolgens mense heilige diens moes verrig wat vir Jehovah, die God van die nuwe verbond, welgevallig is nie (Hebr. 8:10-13). Indien hulle wou hê dat hulle godsdiens vir Jehovah God welgevallig moes wees, moes die Jode dit verrig deur die Middelaar wat groter is as Moses, naamlik Jesus Christus die Seun van God, die ‘saad van Abraham’ (Gal. 3:16). Daar is hierna verwys op daardie noordelike lentedag in 2 v.G.J. toe die Joodse priester genaamd Sagaria gesê het dat sy agtdae-oue seuntjie Johannes genoem moes word.

10. (a) Wat wou God hê dat Sy volk vir Hom moes verrig nadat hulle van hulle vyande bevry is, volgens Sagaria se woorde op die dag toe sy seun besny is? (b) Van wie het Johannes ter wille van daardie geswore verbond die voorloper geword?

10 Toe het die geïnspireerde Sagaria vertel van God se voorneme “om barmhartigheid aan ons voorvaders te bewys en sy heilige verbond te gedenk, die eed wat hy aan ons voorvader Abraham gesweer het om ons, nadat hy ons uit die hand van ons vyande verlos het, die voorreg te gee om al ons dae onbevrees heilige diens [la·treu’ein] vir hom te verrig met lojaliteit en regverdigheid” (Luk. 1:59-75, NW). Johannes, die seun van Sagaria, het die voorloper geword van Jesus Christus, die een wat deur God gebruik is om uitvoering te gee aan die verbond wat hy met Abraham gemaak en met ’n onverbreeklike eed bevestig het.—Gen. 12:3; 22:15-18; Gal. 3:8, 16; Hebr. 6:13-17.

11. (a) Waar stel die “groot menigte” hulle dit ten doel om vandag vir God “heilige diens” te verrig? (b) Watter vraag ontstaan ten opsigte van daardie “groot menigte” in die lig van 1 Korinthiërs 10:31?

11 As persone wat reeds deur die Abrahamitiese verbond geseën is, bevind die “groot menigte” hulself in die aardse voorhowe van Jehovah se geestelike “tempel” en stel hulle hulle dit ten doel om onbevrees “heilige diens” vir die God van Abraham te verrig. Maar hoe? Die woorde van die apostel Paulus in 1 Korinthiërs 10:31 geld weliswaar vir die “groot menigte” sowel as die oorblyfsel van die 144 000 geestelike Israeliete, naamlik: “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.”

12. Maak die feit dat ons hierdie alledaagse dinge met ’n ander beskouing en onder die naam van Christengetuies van Jehovah doen hulle op sigself “heilige diens” of nie?

12 Bedoel die apostel Paulus daarmee dat alles wat ons nou as Christene doen “heilige diens” (la·trei’a) word omdat ons hierdie dinge anders beskou? Waarom moet dit die geval wees? Wie dien ons werklik wanneer ons eet, drink en slaap en die dinge doen wat alle ander mense verplig is om te doen om aan die lewe te bly? Onsself, natuurlik. Ja, wanneer ons nou hierdie dinge doen, het ons God se verheerliking in gedagte. Ons ooreet ons dus nie sodat ons naar voel of vrate is nie; ons drink nie sterk drank totdat ons dronk is nie; ons slaap nie gereeld te veel sodat ons lui of traag word nie. Maar eet, drink en slaap is basiese, noodsaaklike funksies van menslike lewe, iets wat alle mense onder hulle godsdiensname doen. Verander hierdie dinge nou skielik in “heilige diens” wanneer ons dit onder die godsdiensnaam van Christengetuies van Jehovah doen? Nee; waarom sou dit?

13. Waarom is dit ’n ander saak wanneer die gesalfde getuies van Jehovah die Here se Aandmaal elke jaar op die regte datum vier?

13 Wanneer Christengetuies van Jehovah wat met sy heilige gees gesalf is elke jaar die Here se Aandmaal of Nagmaal vier, maak dit natuurlik ’n verskil. Wanneer hulle op die noordelike lentenag van 14 Nisan die ongesuurde brood eet en die rooi wyn drink, doen hulle dit op bevel van Jesus Christus en het dit die diepe betekenis wat hy daaraan gegee het. Dit is dus ’n belangrike deel van die “heilige diens” wat hierdie lede van Christus se geestelike liggaam vir God verrig.—1 Kor. 11:20-26; Matt. 26:26-30; Luk. 22:19, 20.

14. Waarom is dit raadsaam om die dinge te doen wat in Romeine 13:1-7 gemeld word, en verskil ons van alle ander wetsgehoorsame burgers van die land wanneer ons dit doen?

14 Wanneer alle Christengetuies van Jehovah andersyds doen wat die apostel Paulus hulle in Romeine 13:1-7 beveel om te doen, doen hulle slegs iets wat van alle ander burgers of vreemdelinge in ’n land verwag word. Ons doen dit tereg as goeie en ordelike persone, en dit verhoed dat ons by die “hoëre owerhede” in die moeilikheid beland. Ons doen dit ook met ’n meer verhewe beweegrede, naamlik om ’n goeie gewete en ’n waardering vir wat reg en gepas is te behou. Maar hierdie optrede onder die naam van Christengetuies van Jehovah verander nie outomaties ons behoorlike gedrag in die Skriftuurlike “heilige diens” nie. Alle ander wetsgehoorsame burgers doen dieselfde, selfs sonder dieselfde beweegredes as wat ons het. Hoe verskil ons dus in hierdie opsigte?

15. Watter soort diens word dit wanneer ons mensgemaakte verbooie op Jehovah se aanbidding trotseer en doen wat ander burgers nie doen nie, en waarom?

15 Maar gestel nou dat die owerheid van die land ons verbied om ons aanbidding as Christengetuies van Jehovah voort te sit. En gestel ons maak die woorde van die apostels van Christus ons eie: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (Hand. 5:29). As ons voortgaan om te doen wat alle ander burgers nie doen nie omdat ons God se bevele aan sy toegewyde, gedoopte getuies wil gehoorsaam, bly ons dade ’n heilige diens aan hom. Dit is die geval selfs al veroordeel die owerheid en ander burgers van die land dit as onwettig en wetteloos.

16. Watter voorbeeld van hierdie verpligte “heilige diens” word in Hebreërs 10:23-25 gegee?

16 God se Woord beveel byvoorbeeld: “Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou; en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”—Hebr. 10:23-25.

17. Verander die manier waarop die “hoëre owerhede” ons gehoorsaamheid aan die goddelike vermaning wetties bestempel die geestelike aard van ons handelwyse?

17 Ons gehoorsaamheid aan hierdie geïnspireerde vermaning, selfs al ly ons as gevolg daarvan deur die toedoen van mense, is onteenseglik ’n heilige diens aan die Opperwese, Jehovah God. Laat die ontevrede “hoëre owerhede” van die land dit wetties noem wat hulle wil.—2 Tim. 2:8-10.

18. Met watter regering staan die “belydenis van die hoop” in verband, en watter bevel van Jesus sluit dit dus in?

18 Die openbare bekendmaking of “belydenis van die hoop” staan in verband met God se Messiaanse koninkryk wat tot seën van al die geslagte van die aarde gaan regeer. Jesus het die volgende bevel aangaande sulke “belydenis” gegee toe hy oor die “voleinding van die wêreld” geprofeteer het: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde [tel’os] kom” (Matt. 24:3, 14). “[Julle sal] voor goewerneurs en konings gebring word om My ontwil, vir hulle tot ’n getuienis. En die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word.”—Mark. 13:4, 9, 10.

19. Wie moet daardie profetiese woorde vervul, en waarvan is hulle vervulling van daardie woorde ’n deel?

19 Wie moet daardie profesieë vervul sodat hulle bewaarheid kan word? Niemand anders as die toegewyde, gedoopte dissipels van die Gewer van die profesieë. Jesus Christus, diegene aan wie die profesieë gegee is nie. Hulle pligsbewustheid en hulle deelname aan die vervulling van daardie profesieë is ’n deel van die “heilige diens” wat hulle nie mag ontduik nie.

20. Wat het Jesus by ’n berg in Galilea vir sy dissipels gesê wat bewys dat sy dissipels hierdie “heilige diens” moet verrig, en wat moet diegene wat in die “voleinding van die wêreld” lewe dus doen?

20 Om die feit te beklemtoon dat sy dissipels hierdie “heilige diens” moes verrig, het die verrese Jesus by ’n berg in “Galilea van die heidene” aan sowat 500 van sy dissipels verskyn en hulle beveel: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding [syn·tel’i·a] van die wêreld” (Matt. 28:19, 20; 4:15; 1 Kor. 15:6). Sedert die einde van “die tye van die nasies” in 1914 lewe ons in die “voleinding van die wêreld”. Al ons toegewyde, gedoopte dissipels van die verrese, ten volle gemagtigde Jesus Christus staan dus onder bevel om hierdie “heilige diens” te verrig wat hy ons opgelê het. Ons moet dit tot aan die einde van hierdie “voleinding van die wêreld” doen en nooit die hande laat slap hang nie.

21. (a) Watter voorregte sal diegene geniet wat toegang tot die hemelse Nuwe Jerusalem verkry? (b) Watter seëninge sal die lede van die “groot menigte” wat tot aan die einde van die “groot verdrukking” getrou bly, geniet?

21 Van die 144 000 geestelike Israeliete wat toegang verkry tot die hemelse stad, die Nuwe Jerusalem, staan daar geskrywe: “En daar sal geen enkele vervloeking meer wees nie. Maar die troon van God en van die Lam sal in die stad wees, en sy slawe sal heilige diens [la·treu’ein] vir hom verrig; en hulle sal sy aangesig sien, en sy naam sal op hulle voorhoofde wees” (Openb. 22:3, 4, NW). Die getroue, gehoorsame persone wat die ontelbare “groot menigte” uitmaak, sal geseën word met “redding” uit die “groot verdrukking” waarmee hierdie “tyd van die einde” sal eindig, en onder die duisendjarige koninkryk van die Lam van God sal hulle voortgaan om ‘heilige diens vir God te verrig’ in die aardse voorhowe van sy geestelike tempel. “En God sal alle trane van hulle oë afvee.”—Openb. 7:9-17.

[Prent op bladsy 24]

Vir die Jode het heilige diens altyd verband gehou met die aanbidding in gehoorsaamheid aan die Wetsverbond

[Prent op bladsy 25]

“Heilige diens” sluit gehoorsaamheid aan God tydens vervolging, die openbare belydenis van ons hoop en die onderrigting en maak van dissipels in

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel