Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 1/1 bl. 10-14
  • Behaag Jehovah as ’n gesin

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Behaag Jehovah as ’n gesin
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE GESINSREËLING
  • DIE ROL VAN MAN EN VROU
  • KINDERS SE VERANTWOORDELIKHEID
  • LIEFDE IN DIE GESIN
  • Respek vir gesag—Waarom is dit noodsaaklik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Jehovah se liefdevolle gesinsreëling
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Wie se gesag moet jy erken?
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • Christengesinne—Volg Jesus se voorbeeld!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 1/1 bl. 10-14

Behaag Jehovah as ’n gesin

“Vroue, wees julle mans onderdanig . . . Manne, julle moet jul vroue liefhê . . . Kinders, julle moet jul ouers in alles gehoorsaam wees, want dit is die Here welbehaaglik.”—Kol. 3:18-20.

1. Wat is ’n basiese vereiste vir ’n gesin wat Jehovah wil behaag, en watter hindernis moet ons onder die oë sien?

’N BASIESE vereiste vir ’n Christengesin wat die Skepper wil behaag, is gehoorsaamheid aan behoorlik ingestelde gesag. Wat is jou beskouing van gesag? Koerante en tydskrifte, televisienuusprogramme en radionuusberigte lewer oorvloedige bewys dat mense wêreldwyd ’n uitdagende houding teenoor gesag aanneem. Hierdie gesindheid kan moontlik ’n persoon se denke beïnvloed. Op gesinsvlak kan dit groot ontwrigting meebring as ’n persoon se beskouing van gehoorsaamheid aan gesag gevorm word deur gebeure wat daagliks rondom hom plaasvind.

2-4. Watter vrae kan gesinslede hulself afvra waar dit by hul erkenning van gesag kom?

2 Hoe beskou jy die uitoefening van jou gesag in die gesin as jy ’n eggenoot en vader is? Is jy die mening toegedaan dat die hoof van die gesin, die man, die laaste sê in gesinsake moet hê, en dat dit jou reg is om jou huisgesin te regeer? Of sou dit jou meer behaag om jou vrou maar toe te laat om die verantwoordelikhede van hoofskap na te kom net om die vrede in die gesin te bewaar?

3 Maak die gesag wat deur jou man uitgeoefen word jou ergerlik as jy ’n eggenote en moeder is? Vind jy dit moeilik om die manier te aanvaar waarop jou man gesag in die gesin uitoefen? Vind jy dat jy opstandig is en op bevryding van sulke gesag aandring?

4 Hoe beskou jy die gesag van jou ouers, hetsy jou vader, jou moeder of ’n voog, indien jy ’n seun of ’n dogter is? Vind jy dat jy jou gewillig aan hulle voorskrifte onderwerp? Of verset jy jou teen hulle gesag? Dring jy aan op onafhanklikheid en vryheid van hulle gesag?

5. Watter verhoudings word geraak deur ’n persoon se beskouing van gesag?

5 ’n Persoon se beskouing van gesag en sy onderworpenheid daaraan het ’n groot en blywende uitwerking op sy verhouding met die Skepper, Jehovah, en met ander, in die alledaagse wêreld waarin ons lewe sowel as in die gesinsverwantskap. Dit is dus goed om te weet hoe diegene wat vandag bely dat hulle Christene is nou eintlik op gesag moet reageer, veral waar dit die gesinsreëling raak. Dit behoort ons begeerte te wees om die Skepper as ’n gesin te behaag.

DIE GESINSREËLING

6, 7. Watter bevel het Jehovah aan die eerste menslike egpaar gegee, en watter rol het hy vir die vrou in gedagte gehad?

6 Om mee te begin, Jehovah God, ons Skepper, is die Insteller van die gesin. Dit het in Eden begin met God se bevel aan die eerste man en vrou: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit” (Gen. 1:28). Tot vandag toe speel die gesin ’n uiters belangrike rol in die ontplooiing van Jehovah se voorneme met die aarde.—Ef. 3:14, 15. NW.

7 Ons word meegedeel dat die vrou, in die eerste gesinsreëling wat deur God ingestel is, as ’n komplement vir die man gemaak is en geensins ’n minderwaardige skepping was nie. Die vrou is eerder geskep om ’n ondersteunende rol as haar man se helper te vervul (Gen. 2:18). Saam moes hulle kinders hê en die gesin uitmaak.

DIE ROL VAN MAN EN VROU

8. (a) Hoe moes gesag uitgeoefen word? (b) Hoe moes die man sy vrou beskou?

8 As ’n gesin die Skepper wil behaag, moet dit ordelik en koersvas wees. Die eerste menslike egpaar is beveel: “Heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip” (Gen. 1:28). Die man, Adam, was die eerste mens wat deur God geskape is. Omdat Jehovah die almagtige God en Skepper is, het hy die reg om te sê hoe gesag op aarde uitgeoefen moet word. God het bepaal dat gesag deur die man na die vrou en dan na hulle kinders moet vloei (1 Kor. 11:3). Uit die Bybelverslag is dit duidelik dat hierdie gesag nie op ’n diktatoriale of outoritêre manier uitgeoefen moet word nie. Let op Adam se woorde toe hy die eerste keer die komplement gesien het wat God vir hom gemaak het: “Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees” (Gen. 2:23). Hierdie pragtige woorde bevat geen aanduiding dat Adam ’n diktator oor ’n mindere moes wees nie. Hy het gesê dat die vrou wat na hom gebring is, ‘been van sy gebeente en vlees van sy vlees’ was, iets wat net soos sy eie liggaam vertroetel en versorg moes word. Baie eeue later het die apostel Paulus aan Christene geskryf en bevele gegee oor hoe ’n man sy vrou moet liefhê en vir haar moet sorg. Hy het gesê: “So behoort die mans hul eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit.”—Ef. 5:28, 29.

9. (a) Watter gesindheid moet ’n vrou teenoor haar man hê? (b) Hoe moet albei ouers ’n bydrae tot hulle kinders se opvoeding lewer?

9 Dit was Jehovah se voorneme dat die man die hoof van die vrou moes wees (Ef. 5:23, 24). Die vrou, die man se komplement, moes met waardigheid en liefde behandel word, sodat sy op haar beurt groot ‘eerbied’ vir haar man kon hê en gewillig aan hom “onderdanig” kon wees (Ef. 5:33; 1 Pet. 3:1). Die twee moes saamwerk om kinders te hê en deur woord en voorbeeld die dinge wat Jehovah behaag by hulle kinders inskerp sodat die gesinsreëling sy seën kon geniet. Soos God later getoon het, moet die vader en die moeder nie hulle kinders irriteer deur die wyse waarop hulle hulle gesag uitoefen nie. Die kinders moet eerder grootgemaak word in die tug en vermaning van Jehovah. Hulle moet Christelike dissipline en onderrig ontvang. (Ef. 6:4; vergelyk Spreuke 1:8, 9.) Daar word ook van ouers verwag om die tugroede te gebruik wanneer nodig (Spr. 13:24; 29:15). Hoewel ons die verantwoordelikhede van die man en vrou net kortliks bespreek het, is dit duidelik dat dit Jehovah se reëling is dat gesag in die gesin met liefde en regverdigheid uitgeoefen moet word.

KINDERS SE VERANTWOORDELIKHEID

10. Hoe reageer baie jongmense weens ’n begeerte om onafhanklik te wees, en wat is die doel van die informasie wat nou aangebied gaan word?

10 Die nuusmedia en ander bronne in ons dag het mense se gedagtes gevul met die begeerte om onafhanklik te wees. Baie jongmense kom in opstand teen enige toesig oor hulle lewens deur hulle ouers of enige ander gesag. Hoewel dit so is dat die vader en die moeder ’n groot verantwoordelikheid het om gesag behoorlik in die gesin uit te oefen, het kinders ook verantwoordelikhede. Dit is weens die behoefte aan sterk, geestelik gesonde gesinne wat Jehovah behaag dat ons ’n paar probleme in verband met kinders gaan bespreek, sowel as hulle waardering vir gesag en behoorlike onderworpenheid daaraan.

11. (a) Wat beteken dit om ‘jou vader en jou moeder te eer’? (Spr. 1:8, 9; 4:1-3). (b) Hoe moet ’n kind reageer al dink hy dat sy persoonlike regte geskend word? (Spr. 3:11, 12)

11 “Eer jou vader en jou moeder”: Toe die apostel Paulus hierdie woorde, die vyfde van die Tien Gebooie, bespreek het, het hy gesê “dit is die eerste gebod met ’n belofte”, naamlik “sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde” (Ex. 20:12; Ef. 6:2, 3). ’n Kind wat sê dat hy ’n Christen is, staan onder verpligting om gehoorsaam te wees aan die bevel om sy vader en moeder te eer. Hoe betoon ’n kind eer of agting vir sy ouers en respekteer hy hulle? Die kind moet beslis liefde vir sy ouers bewys en waardering toon vir die poging wat hulle aanwend om hom te versorg en op te lei. Kinders moet leer om die oordeel en besluite van hulle ouers te respekteer (Spr. 22:15). Selfs al dink kinders dat hulle persoonlike regte geskend word, is hulle verplig om hulle “ouers gehoorsaam [te] wees in die Here” (Ef. 6:1). As kinders ‘lank op die aarde wil lewe’ en Jehovah se goedkeuring vir ’n toekomstige lewe wil hê, moet hulle hulle ouers eer.

12. (a) Watter gesag van ’n mens se ouers of voog moet erken word om Jehovah te behaag? (b) Hoe beskou ’n mens se tydgenote dikwels diegene wat hulle kuis gedra? (Spr. 1:10-16)

12 Erkenning van gesag: Iets wat nou in verband staan met eerbetoning aan ’n mens se ouers, is die erkenning van gesag, die ouers se reg om sekere perke te stel en te bepaal wat hulle kinders mag doen of nie mag doen nie. Dit is dikwels vir kinders baie moeilik om hulle aan gesag te onderwerp, en dit kan tot baie argumente in die huis lei. Soos reeds gemeld, bied die nuusmedia en ander bronne dikwels informasie aan wat ouers se gesag ondermyn en jongmense aanspoor om op vryheid van ouerlike gesag aan te dring. ’n Voorbeeld hiervan is die hedendaagse gesindheid teenoor promiskuïteit. Dit het nou die punt bereik waar hulle tydgenote dikwels neersien op jong manne of vroue wat kuis gebly het. Sulke persone beskou diegene wat volgens die Bybel se hoë morele standaarde lewe as mense wat die een of ander gebrek het, wat onaantreklik is, wat “outyds” is wat hulle sogenaamde vriende betref.—Kyk 1 Petrus 4:4.

13. Hoe dien party wette van die mens soms as ’n aansporing tot oortreding?

13 Party landswette spoor jong vroue in werklikheid aan om losbandig te wees deur voorsiening te maak vir aborsies sonder hulle ouers se toestemming. Een 15-jarige meisie het daarop gewys dat ’n dokter geweier het om gaatjies in haar ore te maak sonder haar ouers se toestemming, maar dat die Appèlhof van die Verenigde State beslis het dat ’n minderjarige meisie ’n aborsie sonder haar ouers se toestemming kan hê. ’n Dokter het onlangs die volgende in die Journal of the American Medical Association geskryf oor pogings om voorbehoedmiddels meer te adverteer: “Ek is geskok deur die bereidwilligheid van professionele medici om promiskueuse gedrag te aanvaar—en dit selfs in die hand te werk. . . . Myns insiens moet ons van ons middele aanwend om verantwoordelike en gesonde geslagsgebruike, onder meer onthouding en getrouheid, voor te staan.”

14. Hoe moet seuns en meisies wat Jehovah wil behaag, ouers beskou wat probeer om hulle teen onsedelikheid te beskerm?

14 Die reguit raad van God se Woord in Efesiërs 6:1 is: “Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg.” Gehoorsaamheid verg die erkenning van gesag. Ouers het die verantwoordelikheid om hulle kinders groot te maak in die weë wat in God se Woord uiteengesit word sodat hulle hom kan behaag, en daardie Woord verbied promiskuïteit, losbandigheid (Ex. 20:14; 1 Kor. 6:9, 10). As kinders ouers het wat hulle teen die onsedelike wêreld wil beskerm, verdien daardie ouers die lojale ondersteuning van hulle kinders. In plaas daarvan om geïrriteer te word deur die gesag van sulke ouers, sal die verstandige, Godvresende kind die Bybel se raad toepas om aan hulle gehoorsaam te wees, daar die kind weet dat dit God se goedkeuring wegdra, vir sy of haar beswil is en die belofte van ’n veilige toekoms inhou.—Spr. 3:1, 2.

15. Hoekom is dit so ’n ernstige saak wanneer ’n mens weier om jou aan die gesag van jou ouers te onderwerp?

15 Weiering om aan ’n mens se ouers onderdanig te wees, is ongehoorsaamheid aan Jehovah God. Net soos Jehovah reëls en regulasies gemaak het waarvolgens die menslike gesin regeer moet word, het hy ouers die reg gegee om regverdige regulasies—jy kan maar sê huisreëls—te maak vir die gedrag van die gesin waarvan die kinders ’n deel is. As daardie reëls en regulasies nie met die Woord van God bots nie, is kinders verplig om aan die gesag van die ouers gehoorsaam te wees.

LIEFDE IN DIE GESIN

16, 17. (a) Hoe belangrik is liefde vir ’n gesin wat Jehovah wil behaag? (b) Watter reguit raad bevat Kolossense 3:12-14? (c) Wat word aanbeveel sodat Paulus se raad aan die Kolossense doeltreffend kan wees?

16 Liefde vir ’n mens se gesin: As ’n mens wil hê dat die gesin Jehovah moet behaag, moet jy liefde aan jou ouers betoon. Mans word aangesê om hulle vrouens lief te hê soos hulself, en vrouens moet groot eerbied vir hulle mans hê. Almal, ouers en kinders, moet die koninklike wet van liefde teenoor mekaar volbring (Jak. 2:8). Die apostel Paulus het reguit raad oor hierdie saak gegee toe hy geskryf het: “Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind.”—Kol. 3:12-14, NTP.

17 Dit is nie woorde wat net gelees moet word of wat ’n mens soos ’n papegaai moet opsê nie. Dit is die uiting van die heilige gees waaraan ons ernstige aandag moet skenk. Ons beveel aan dat elkeen wat hierdie materiaal lees, oor elk van daardie Christelike vereistes nadink. Peins daaroor. Dink na hoe hulle toegepas kan word in die gesin waarvan jy ’n lid is. Hoe raak Paulus se woorde jou verhouding met jou man, jou vrou, jou vader, jou moeder of ander in die gesin? Behaag jy Jehovah op elk van hierdie maniere wat deur die apostel gemeld is? ’n Persoon kan nie sy woorde na daardie woorde van raad skik en terselfdertyd aandring op onafhanklikheid van ouerlike beheer en hewige woordewisselings met sy of haar ouers hê nie. Ouers kan ook nie so teenoor hulle kinders optree nie. Die gelukkige gesin wat Jehovah se seën geniet, moet diep, ernstig en gereeld nadink oor die vermanings in God se Woord sodat hulle die “Hoorder van die gebed”, wat mense met sy heilige gees geïnspireer het om sulke woorde neer te skryf, kan navolg.—Ps. 65:3; Ef. 4:31, 32; Kol. 3:15-17.

18. Watter nugtere feite moet ons vandag onder die oë sien, en tot watter vrae gee dit aanleiding?

18 Of daar nou ’n vader en ’n moeder in die huis is, of net een ouer, die vermaning en die verantwoordelikheid is dieselfde. Maar ongelukkig wend Satan ’n geweldige, en soms suksesvolle, poging aan om gesinne te laat verbrokkel, om te verdeel en te verower. Elkeen wat hierdie materiaal lees, moet in gedagte hou dat die Duiwel rondloop “soos ’n brullende leeu [wat] soek wie hy kan verslind” (1 Pet. 5:8). Gaan ons toelaat dat hy ons gesinseenheid, wat Jehovah so behaag, verbreek? Gaan ons swig voor ’n gees van onafhanklikheid, een wat sê: “Ek hoef nie na my ouers te luister nie; ek sal doen wat ek wil”? So ’n handelswyse kan ons ons geluk kos en ons God se misnoeë op die hals haal.

19. Hoe verkry ’n Christengesin Jehovah se seën?

19 As ons Jehovah se goedkeuring wil geniet—en hy is immers die een met mag oor lewe en dood—moet ons gesag ondersteun soos hy dit in die gesinsreëling ingestel het. Dit strek tot ons voordeel as ons ons daaraan onderwerp. Slegs dan sal ons ware geluk en tevredenheid kan vind. Omdat ons ons vir gesinseenheid en harmonie beywer, kan ons daarna streef om die seën te ontvang waarvan koning Dawid van die ou tyd gepraat het toe hy gesê het: “Wie mag klim op die berg van die HERE? En wie mag staan in sy heilige plek? Hy wat rein van hande en suiwer van hart is, wat sy siel nie ophef tot nietigheid en nie vals sweer nie. Hy sal seën wegdra van die HERE en geregtigheid van die God van sy heil.”—Ps. 24:3-5.

VAN WATTER NUT WAS HIERDIE BESPREKING VIR JOU?

• Waarom is jou beskouing van gesag belangrik vir gesinsgeluk?

• Watter Bybelverse beskryf die rol van die man en die vrou in ’n Christelike gesin?

• Watter goeie gevolge het dit wanneer kinders hulle ouers eer en hulle ouers se gesag erken?

• Hoe kan dit magte wat geneig is om baie gesinne te verdeel, teëwerk as ons ons beywer om gesinsliefde te vergroot?

• Waaraan gaan jy na hierdie bespreking aandag skenk sodat julle gesin Jehovah meer kan behaag?

[Prent op bladsy 11]

Dit was Jehovah se voorneme dat die man en vrou mekaar aanvul en hom verenig dien

[Prent op bladsy 13]

Jongmense, stel julle opreg belang in julle rol in die gesin? Ouers, behandel julle julle kinders op die wyse wat God aanbeveel?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel