God se Woord is lewend
Pas op vir liefde wat slegs op hartstog berus
DIE ALMAGTIGE GOD het ’n wonderlike aantrekkingskrag vir mekaar in die man en vrou geplaas. Maar wanneer hierdie aantrekkingskrag nie beheer word nie, vind daar dikwels groot tragedies plaas. Die geval van Amnon, die seun van koning Dawid, toon dat dit die geval is.
Amnon het verlief geraak op sy mooi halfsuster Tamar. Sy gevoel was so sterk dat hy eintlik siek was. Maar dit het hom ontstel dat hy nie naby Tamar kon kom nie. Toe Amnon se neef Jonadab verneem het hoe verlief Amnon op Tamar was, het hy vir hom gesê: ‘Hou jou siek. As jou vader, koning Dawid, dan kom om jou te sien, moet jy vir hom sê: “Laat Tamar tog kom en vir my iets gee om te eet.”’
Wel, Dawid het gedoen net soos Amnon hom gevra het. Tamar het gekom en vir Amnon iets te ete gemaak, soos jy kan sien. Maar toe sy dit na hom neem, het hy geweier om te eet. Hy het gesê: ‘Stuur almal weg.’ Die mense in die huis het moontlik gedink dat Amnon so siek gevoel het dat hy nie geselskap wou hê nie, en almal is daar weg, behalwe Tamar.
Amnon het toe gesê: ‘Bring die kos hier na my bed toe en voer my soos ’n pasiënt.’ Toe sy dit gedoen het, het Amnon haar gegryp en gesê: ‘Kom lê by my.’ Maar Tamar het probeer wegkom. Amnon was egter sterker en het haar oorweldig. Wat het toe gebeur? Het dit Amnon se liefde vir Tamar sterker gemaak?
Nee, net mooi die teenoorgestelde het gebeur. Amnon het begin om Tamar te haat met ’n haat wat groter was as die liefde wat hy vir haar gehad het. Hy het dus vir haar gesê: ‘Gaan weg.’ Toe sy weier om te gaan, het hy sy kneg geroep en vir hom gesê: ‘Gooi hierdie vrou uit en sluit die deur.’ Maar dit was nie die einde van die saak nie.
Tamar het haar rok geskeur, as op haar hoof gestrooi en al wenende weggeloop. Toe haar bloedbroer Absalom haar sien, het hy te hore gekom wat Amnon gedoen het. Absalom het Amnon begin haat, en hy het sy kans afgewag om op Amnon wraak te neem omdat hy Tamar onteer het.
Twee jaar later het Absalom al die seuns van koning Dawid na ’n feesmaal genooi. Maar Absalom het vir sy dienaars gesê: ‘Maak Amnon dood wanneer hy dronk is.’ En dit is wat hulle op Absalom se bevel gedoen het. Daarna het Absalom uit die land gevlug. Kan jy dus sien hoeveel moeilikheid veroorsaak is omdat Amnon nie sy hartstog vir beeldskone Tamar beheer het nie?—2 Sam. 13:1-38.
Die wonderlike aantrekkingskrag tussen die geslagte is waarlik ’n seën en dra by tot ’n gelukkige hofmakery en huwelik. Maar wanneer die geslagsdrang nie beheer word nie, is buite-egtelike kinders, aborsies en veneriese siektes dikwels die gevolg, om nie eens van ander moeilikhede te praat nie. Gaan jy by Bybel verslae soos hierdie een baat vind deur God se hulp te vra om hartstog te beheer?—Gal. 5:22; Kol. 3:5; 1 Thess. 4:3-7.