Siekte—Watter hoop op verlossing?
TOEGERUS met ’n groter begrip van die oorsake van menslike kwale, het dokters ongetwyfeld merkwaardige vordering gemaak in hulle pogings om party kwale te beheer. Maatskaplike probleme het egter verhoed dat baie die voordele van hierdie mediese vooruitgang geniet. Daar is dus baie plek vir verbetering.
Maar daar is ’n onderliggende oorsaak van siekte en die dood waaraan dokters niks kan doen nie. Daarom sal mense nooit op hulle eie ’n klinkende oorwinning in hulle stryd teen siekte behaal nie. Maar as ons daardie basiese oorsaak kan erken, sal dit ons help om te sien of ons op verlossing van hierdie vyand kan hoop.
WAAROM WORD ONS SIEK?
Die basiese rede waarom mense siek word en sterf, word geopenbaar in ’n merkwaardige belofte van God aan die eertydse Israeliete: “Geen inwoner sal sê: Ek is siek nie; aan die mense wat daarin woon, is die skuld vergewe” (Jes. 33:24). Hier word siekte met “skuld” of sonde verbind. En verlossing van siekte hou verband met die vergifnis van sonde.
IS SIEKTE DAN ’N STRAF VIR SONDE?
Siekte kan die regstreekse gevolg van sonde wees. Die Bybel waarsku: “Net wat die mens saai, dit sal hy ook maai” (Gal. 6:7). Soos ons reeds gesien het, “maai” diegene wat onsedelikheid “saai”, rokers, dronkaards en vrate talle kwale. Nie alle kwale word deur sulke dinge veroorsaak nie. Alle siekte kan nietemin eindelik na “skuld” of sonde teruggespoor word.
WAAROM WORD GOEIE MENSE SIEK?
Dit is omdat die sonde wat die grond-oorsaak van siekte is, nie ons eie is nie. Dit is lank gelede, reg aan die begin van mensegeskiedenis, gedoen. Die Bybel deel ons mee dat God die eerste man, Adam, volmaak, gesond en met die vooruitsig op ewige lewe geskape het. As hy wou aanhou om al hierdie dinge te geniet, moes hy sy Skepper gehoorsaam. Adam het verkies om in opstand te kom en homself sodoende van God, by wie “die fontein van die lewe” is, afgesny. Die eerste man het dus onvolmaak, vatbaar vir siekte, geword en mettertyd gesterf.—Gen. 2:17; 3:1-19; Ps. 36:10.
Dit is welbekend dat sekere kwale oorerflik is. Sonde, onvolmaaktheid en die dood is eweneens oorerflik. “Soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het” (Rom. 5:12). Die erfenis wat Adam aan sy kinders nagelaat het, was ’n onvolmaakte lewe met vatbaarheid vir siekte en die dood. Dit is die basiese rede waarom mense vandag siek word.
STEL GOD DAARIN BELANG OM MENSE GESOND TE HOU?
Beslis! Hy het byvoorbeeld vir die Israeliete gesê: “Die HERE sal elke krankheid van jou wegneem.”—Deut. 7:15.
HOE HET GOD DIE GESONDHEID VAN DIE ISRAELIETE BESKERM?
Hy het vir hulle ’n stel wette gegee wat voorskrifte ingesluit het wat hulle gesondheid beskerm het. Een dokter het van hierdie wette gesê: “Die bes ingeligte mediese navorsers wat nou die beste werk verrig, kom tot die gevolgtrekking dat die Bybel ’n baie akkurate wetenskaplike boek is . . . Die lewensfeite, diagnose, behandeling en voorkomende geneeskunde wat in die Bybel verstrek word, is baie meer gevorderd en betroubaarder as die teorieë van Hippokrates.” Hippokrates, wat soms die “vader van die hedendaagse geneeskunde” genoem word, het gelewe ongeveer 1 000 jaar nadat God die Wet aan die Israeliete gegee het.
HELP GOD ONS VANDAG OM GESOND TE BLY?
Ja, die Bybel bevat bevele vir ons wat ons gesondheid beskerm as ons hulle gehoorsaam. Dronkenskap, vraatsug, homoseksualiteit, owerspel en hoerery, wat tot talle emosionele probleme sowel as fisiese kwale aanleiding gee, word uitdruklik in die Bybel verbied (Spr. 23:20, 21, 29-35; 1 Kor. 6:9-11). As ons ons eweneens “van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig”, sal ons die kwale vermy wat veroorsaak word deur die rookgewoonte, dwelmmisbruik en betelneutkouery (2 Kor. 7:1). Selfs deur gereeld te was, beskerm ons ons gesondheid.
Ons word daarbenewens meegedeel: “’n Vrolike hart bevorder die genesing, maar ’n verslae gees laat die gebeente uitdroog” (Spr. 17:22). Die rol wat spanning, neerslagtigheid, eensaamheid en ander emosies by siekte speel, word vandag erken. Een dokter het gesê dat omtrent 90 persent van alle pasiënte wat na sy kliniek kom aan spanning ly. Die Bybel toon hoe belangrik ’n “vrolike hart” is en gee ons praktiese hulp om ons harte vrolik te hou.
As ons volgens hierdie en soortgelyke Bybelbeginsels lewe, sal ons beskerm word teen baie van die kwale wat mense vandag teister.
SAL ONS OOIT PERMANENTE GESONDHEID GENIET?
Ja, ons sal, as ons doen wat Adam nie gedoen het nie—ons volle vertroue in God stel en Hom gehoorsaam. Ons volkome bevryding van siekte word deur middel van Jesus Christus bewerkstellig. Jesus is op ’n unieke wyse gebore, daar sy lewe deur die krag van die almagtige God van sy heerlike posisie in die hemel oorgeplaas is na die eiersel in die baarmoeder van ’n maagd. Omdat hy geen menslike vader gehad het nie, het hy nie die onvolmaakte lewe geërf wat Adam as ’n erfenis aan die res van ons nagelaat het nie.
Jesus was volmaak. As ’n blyk van groot liefde het hy sy volmaakte lewe vir ons geoffer sodat ons daardie volmaaktheid wat Adam verloor het, kon terugkry. Wanneer die waarde van daardie offer ten volle ten behoewe van die mensdom aangewend word, sal siekte, die dood en al die probleme wat met onvolmaaktheid gepaard gaan, verwyder word.—Matt. 1:18-23; 20:28; Hebr. 7:26.
So sal die profesie oor Jesus vervul word: “Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, . . . en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.”—Jes. 53:5; 1 Pet. 2:24.
HET JESUS WERKLIK DIE MAG GEHAD OM MENSE TE GENEES?
Ja, voor tallose getuies het Jesus “elke siekte en elke kwaal” genees (Matt. 9:35). Hy het selfs die dode opgewek (Joh. 11:43, 44). Jesus het dit nie deur ’n studie van die mediese wetenskap gedoen nie, maar in die krag van God se gees. Sodoende is daar getoon dat alle siekte, en selfs die dood, eendag verwyder kon en sou word. Die genesings wat Jesus destyds verrig het, was natuurlik tydelik. Die geneesdes kon weer siek word, en die verresenes het weer gesterf.
WAAROM WORD ONS STEEDS SIEK, AANGESIEN JESUS NAGENOEG 2 000 JAAR GELEDE VIR ONS GESTERF HET?
Die antwoord is dat die verwydering van siekte verband hou met God se ander voornemens—soos die beslegting van die geskil oor soewereiniteit, die verwydering van Satan die Duiwel, die beoordeling van die mensdom, die redding van die gene wat getrou bevind word en die totstandbrenging van ’n bevredigende regering vir hierdie wêreld. Al hierdie voornemens sal volbring word deur God se koninkryk in die hande van Christus (Matt. 6:10). Tyd was nodig om sulke wonderlike voornemens te volbring.—2 Pet. 3:5-13.
WANNEER SAL SIEKTE EINDELIK WEGGEDOEN WORD?
Ons weet dat dit nie meer lank sal wees nie! Jesus het sy volgelinge ’n hoogs gedetailleerde “teken” gegee sodat hulle kon weet wanneer hy as koning in die hemele begin heers het—die gebeurtenis wat lei tot die vervulling van God se ander voornemens. Daardie “teken” het wêreldoorloë, groot vrees vir die toekoms, algemene hongersnood, pessiektes en soortgelyke gebeure wat ons vandag sien plaasvind, ingesluit. Lees gerus Jesus se woorde, asook die bykomende inligting wat deur die apostel Paulus verstrek is. Kyk of jy nie saamstem dat ons lewe in die tyd waarna Jesus verwys het nie.—Kyk Mattheüs, hoofstuk 24, Markus, hoofstuk 13, Lukas, hoofstuk 21, en 2 Timotheüs 3:1-5.
Dit is nou die tyd vir God se koninkryk om in menslike aangeleenthede in te gryp (Matt. 24:14; 25:31-46; Dan. 2:44). As ons uitvind wat God se wil vir ons is en dit doen, kan ons lewe om die vervulling van party van die wonderlikste beloftes in die Bybel te sien. Ons sal toestande beleef soos die wat God aan die eertydse Israeliete beloof het: “Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel.”—Jes. 35:5, 6.
Ouers sal nie meer pyn ervaar weens die siektes van hulle kinders nie. Die belofte wat die jonkheid inhou, sal nie verydel word nie; en bejaardheid sal nie ’n moeilike tyd wees as gevolg van liggaamlike swakhede nie. Dit sal eerder wees soos die apostel Johannes in ’n gesig gesien het: “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie.”—Openb. 21:4.
Sal hierdie dinge werklik gebeur? Beslis. Johannes het gehoor hoe Jehovah dit self waarborg, want ons lees: “Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar” (Openb. 21:5). Op daardie dag wat vinnig nader kom, sal die mens algehele verlossing van siekte geniet. Dit sal op ’n wonderlike wyse waar wees dat “geen inwoner sal sê: Ek is siek nie; aan die mense wat daarin woon, is die skuld vergewe”.—Jes. 33:24.