Vrae van lesers
Watter omstandighede het daartoe gelei dat Juda geslagsomgang gehad het met ’n vrou wat hy gedink het ’n hoer was, soos Genesis 38:15, 16 sê?
Hoewel Juda geslagsomgang gehad het met ’n vrou wat hy gedink het ’n hoer was, was sy in werklikheid nie ’n hoer nie. Volgens Genesis hoofstuk 38 het die volgende gebeur.
Voordat Juda se eersgebore seun enige seuns verwek het by sy vrou, Tamar, is hy doodgemaak omdat hy “sleg [was] in die oë van Jehovah” (Genesis 38:7). Destyds was die swaershuwelik ’n aanvaarde gebruik. Dit het vereis dat die broer van ’n man wat sonder ’n erfgenaam gesterf het, die weduwee as vrou neem om ’n erfgenaam te verwek. Maar Juda se tweede seun, Onan, het geweier om sy verpligting na te kom. Gevolglik het God hom met die dood gestraf. Juda het toe sy skoondogter Tamar teruggestuur na haar vader se huis totdat Juda se derde seun, Sela, oud genoeg sou wees om met haar te trou. Maar die jare het verbygegaan en Juda het Sela nie aan Tamar in die huwelik gegee nie. Daarom het Tamar, ná die dood van Juda se vrou, ’n plan beraam om ’n erfgenaam te kry by Juda, die Israeliet wat haar skoonvader was. Sy het dit gedoen deur haar as ’n tempelprostituut te vermom en langs die pad te gaan sit waarlangs sy geweet het Juda sou kom.
Min wetende dat dit Tamar was, het Juda gemeenskap met haar gehad. Sy het slim te werk gegaan deur sekere items as pand by hom te neem in ruil vir haar gunste, en sy het dit later gebruik om te bewys dat sy by hom swanger geword het. Toe die waarheid aan die lig kom, het Juda nie die blaam op haar gewerp nie, maar nederig gesê: “Sy is regverdiger as ek, omdat ek haar nie aan my seun Sela gegee het nie.” En heel gepas het hy “daarna nie weer met haar gemeenskap gehad nie”.—Genesis 38:26.
Juda het verkeerd gehandel deur Tamar nie aan sy seun Sela te gee soos hy beloof het nie. Hy het ook geslagsomgang gehad met ’n vrou wat hy gedink het ’n tempelprostituut was. Dit was in stryd met God se voorneme, naamlik dat ’n man slegs in die huweliksreëling geslagsomgang mag hê (Genesis 2:24). Maar in werklikheid het Juda nie geslagsomgang met ’n hoer gehad nie. Hy het eerder onwetend in die plek van sy seun Sela die swaershuwelik gesluit en sodoende ’n wettige nageslag verwek.
Wat Tamar betref, haar handelswyse het nie op onsedelikheid neergekom nie. Haar tweelingseuns is nie as kinders van hoerery beskou nie. Toe Boas van Betlehem ’n swaershuwelik met die Moabitiese vrou Rut gesluit het, het die ouer manne van Betlehem Tamar se seun Peres gunstig vermeld en vir Boas gesê: “Mag jou huis soos die huis van Peres word, wat Tamar vir Juda gebaar het, uit die nageslag wat Jehovah jou uit hierdie jong vrou sal gee” (Rut 4:12). Peres word ook genoem onder die voorouers van Jesus Christus.—Matteus 1:1-3; Lukas 3:23-33.