DIE “BESTUURDER” TERWYL HY ARMAGEDDON TEGEMOETGAAN
1. Wat sal plaasvind by Armageddon wat die “bestuurder”-klas nou tegemoetgaan, en deur wie is hierdie “bestuurder” in die dae van koning Hiskia van Jerusalem afgeskadu?
ARMAGEDDON is die Hebreeuse naam van die plek waar die “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” binnekort gevoer gaan word. Die oorblyfsel van die “bestuurder”-klas gaan nou daardie “oorlog” tegemoet waarmee hierdie wêreldstelsel vir ewig sal eindig. Die “bestuurder”-klas bly dus geestelik wakker om te sien hoe die heer, die verheerlikte Jesus Christus, wat teruggekeer het die sigbare vyande van die Koninkryk gaan vernietig. Dit is vir die koninkryk dat hulle tot Jehovah God bid: “Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Matt. 6:9, 10; Openb. 16:14-16). Hierdie wêreldwye toedrag van sake is afgebeeld of voorspel deur wat plaasgevind het gedurende die bestuurderskap van die Israeliet wat in ’n uiters kritieke tyd deur koning Hiskia van Jerusalem as sy koninklike bestuurder aangestel is.
2. Wie was daardie Jood, en wie het hy volgens Jesaja 22:15-25 as koninklike bestuurder vervang?
2 Die “bestuurder” was die Jood genaamd Eljakim, die seun van Hilkia. Daar word drie keer na hom verwys as die man wat “oor die paleis” van koning Hiskia was (Jes. 36:3, 22; 37:2). Hy het die man genaamd Sebna in hierdie koninklike posisie vervang. God se bevel in verband met Eljakim en Sebna is in Jesaja 22:15-25 opgeteken. Daar lees ons:
“So sê die Here, die HERE van die leërskare: Kom, gaan in by daardie bestuurder, by Sebna, wat oor die paleis aangestel is, en sê: Wat het jy hier, en wie het jy hier, dat jy vir jou hier ’n graf uitgekap het soos een wat in die hoogte sy graf uitkap, wat in die rots vir hom ’n woning uithol? Kyk, die HERE sal jou wegslinger, soos ’n man iets wegslinger, en jou vas inmekaar rol, jou vas inmekaar draai soos ’n tol garing, jou soos ’n bal wegslinger na ’n land wat alkante toe wyd is; daar sal jy sterwe, en daar sal jou pronkwaens wees, o skandvlek van die huis van jou heer! En Ek sal jou wegstoot uit jou pos, en uit jou plek sal Hy jou wegruk.a
“En in die dag sal Ek my kneg Eljakim, die seun van Hilkia, roep; en Ek sal hom jou gewaad aantrek en hom gord met jou gordel, en jou mag sal Ek in sy hand lê, en hy sal vir die inwoners van Jerusalem en vir die huis van Juda ’n vader wees. En Ek sal die sleutel van die huis van Dawid op sy skouer lê; en hy sal oopmaak, en niemand sal sluit nie; en hy sal sluit, en niemand sal oopmaak nie. En ek sal hom inslaan soos ’n pen in ’n vaste plek, en hy sal ’n eretroon wees vir die huis van sy vader. En hulle sal aan hom ophang die hele swaarte van die huis van sy vader, die spruite en die wilde lote, al die klein huisraad, van komme af tot allerhande kruike toe.
“ln dié dag, spreek die HERE van die leërskare, sal die pen padgee wat in ’n vaste plek ingeslaan is: dit word afgebreek en val, en die drag goed wat daaraan hang, raak tot niet, want die HERE het dit gespreek.”
3. (a) Wat beteken die naam Eljakim, en hoe is hierdie betekenis verwesenlik in die geval van die draer van die naam? (b) Wie is gestuur om na die lasterlike tirade voor die muur van Jerusalem te luister, en na wie is ’n beroep om hulp eindelik verwys?
3 In ooreenstemming met sy naam, “God verhef”, het Jehovah Eljakim tot bestuurder van koning Hiskia se paleis verhef. Dit het plaasgevind voordat die Assiriese keiser, Sanherib, die land Juda in 732 v.G.J. ingeval het. Sanherib het sy leër ’n ent van Jerusalem af laat laer opslaan en toe sy woordvoerder, Rabsake, saam met ’n lyfwag, gestuur om voor Jerusalem te gaan staan en op oorgawe aan te dring. Terwyl Rabsake dit gedoen het, het hy Jehovah as God verkleineer en Assirië en sy keiser verheerlik. Jerusalem se koning, Hiskia, het sy verteenwoordigers gestuur om na hierdie Goduittartende tirade te luister. Die groep het Eljakim, nou bestuurder, en ook Sebna, wat tot sekretaris of skrywer verlaag is, en Joa, die kanselier, ingesluit. Diep bedroef oor wat hulle gehoor het, het hulle aan koning Hiskia berig gebring. Omdat die koning heeltemal hulpeloos gevoel het, het hy hom op die profeet Jesaja, Jehovah se verteenwoordiger, beroep.—Jes. 36:1-37:7.
4. Wie beeld Sanherib, Hiskia en Eljakim af in die huidige vervulling van daardie eertydse drama?
4 Daar sien ons dieselfde kenmerke wat deel van die hedendaagse kritieke situasie is. Sanherib, die koning van Assirië, beeld dienooreenkomstig die vyand van God se koninkryk af, naamlik Satan die Duiwel,b wat daarop aandring dat Jehovah se georganiseerde volk hulle op straf van verslawing of vernietiging oorgee. Die gesalfde koning Hiskia, wie se naam beteken “Jah het versterk”, beeld die tans heersende Koning, Jesus Christus, af wat terdeë bewus is van die benoudheid van sy lojale dissipels op aarde terwyl die smaad verduur en met vernietiging deur die Duiwel se organisasie bedreig word. Eljakim, die “bestuurder” oor die paleis van koning Hiskia, beeld die oorblyfsel van die “bestuurder”-klas af wat gedurende hierdie “voleinding van die wêreld” sedert 1914 G.J. nog op aarde is. Net soos die tipiese bestuurder Eljakim ’n Jood of ’n Israeliet was, bestaan die hedendaagse oorblyfsel uit geestelike Israeliete onder die heersende Koning Jesus Christus.
5. Met wie het die gesalfde oorblyfsel hulself vereenselwig deur steeds Die Wagtoring wêreldwyd te versprei, en wanneer het hulle al die skelname wat aan hulle gegee is, verwerp?
5 Selfs nou nog versprei die verminderende lede van die gesalfde oorblyfsel steeds die tydskrif Die Wagtoring kondig Jehovah se koninkryk aan wêreldwyd in baie tale. Hierdie spesiale vereenselwiging van hulself met Jehovah God is die logiese gevolg van die 20ste-eeuse verloop van teokratiese gebeure. Ja, want in die onvergeetlike jaar 1931 het etlike duisende van die gesalfde oorblyfsel vir ’n algemene byeenkoms in Columbus, Ohio, vergader, en op 26 Julie het hulle aldaar eenparig ’n resolusie aangeneem waardeur hulle die Bybelse naam “Jehovah se Getuies” aangeneem het. So het hulle al die skelname wat die godsdiensstelsels van die Christendom aan hierdie internasionale vereniging Bybelstudente gegee het, verwerp. Al die gemeentes geestelike Israeliete rondom die aardbol het die naam dadelik eensgesind aangeneem.
6. Wat het hulle gewillig aanvaar deur God se naam aan te neem?
6 Sodoende het hulle die verantwoordelikheid aanvaar wat vervat word in die woorde wat gerig is tot die Israeliete van die profeet Jesaja se dag:
Júlle is my getuies, spreek [Jehovah], en my kneg wat Ek uitverkies het, sodat julle kan weet en My kan glo en insien dat dit Ek is . . . en julle is my getuies, spreek [Jehovah], en Ek is God.”—Jes. 43:10-12.
DIE VERANTWOORDELIKHEDE VAN ’N BESTUURDER
7. (a) Hoe het godsdienstige aanspraakmakers op rentmeesterskap voor die einde van die Eerste Wêreldoorlog in 1918 hulle aanspraak geloën? (b) In watter opsig was die geestelikes van die Christendom soos Sebna?
7 Net soos Sebna in koning Hiskia se regering gedurende Jesaja se tyd, is daar geestelikes van die Christendom wat aanspraak maak op die uitsluitlike reg op die aardse bestuurderskap of rentmeesterskap onder die Grotere Hiskia, Jesus Christus. Maar anders as die geestelikes het die getroue lede van die gesalfde oorblyfsel van Jehovah se Getuies opreg probeer om die verantwoordelikhede van Koninkryksrentmeesterskap inderdaad na te kom. Dit is veral waar sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog wat in die valse Christendom uitgebreek het. Teen daardie tyd het die oorlogstokende geestelikes van die Christendom vir hulle ’n onuitwisbare reputasie verkry waar dit kom by die rentmeesterskap wat hulle sê hulle van die Koning, Jesus Christus, ontvang het. Toentertyd het die getuienis reeds opgehoop dat “die [vasgestelde] tye van die nasies” in die noordelike herfs van 1914 geëindig het. Ja, ook dat die verheerlikte Jesus Christus destyds as die Grotere Hiskia in die hemele begin heers het (Eseg. 21:25-27; Luk. 21:24, vgl. NW). Maar het die geestelikes van die Christendom hulle ten gunste van Jehovah se opgerigte koninkryk in die hande van Christus uitgespreek? Nee!
8. Hoe het die geestelikes van die Christendom opgetree nadat die Volkebond misluk het, in teenstelling met die optrede van die oorblyfsel geestelike Israeliete?
8 In 1919 het die geestelikes van die Christendom aangebied om as bestuurders van die voorgestelde Volkebond te dien. Maar in 1939 het die Volkebond hopeloos misluk. Dit is nou vervang deur die hersiene vredesorganisasie, die Verenigde Volke. In skerp teenstelling met daardie geestelikes gaan die oorblyfsel geestelike Israeliete voort om die opgerigte koninkryk van God in die hande van Christus te ondersteun.
9. Wat is volgens die geskiedenisfeite die hedendaagse antwoord op Jesus se vraag in Lukas 12:42?
9 Wie is sedert die begin van goddelike oordeel in 1918 met die rentmeesterskap vereer of daarin bevestig? Die geskiedenisfeite sedert 1918, wat vir hulself spreek, antwoord: Die gesalfde oorblyfsel geestelike Israeliete. As ’n klas is hulle die antwoord op Jesus se vraag: “Wie is dan die getroue en verstandige bestuurder wat die heer oor sy diensvolk sal aanstel om hulle rantsoen op tyd te gee?” (Luk. 12:42). Hulle maak die Grotere Eljakim van vandag uit. Dit wil sê, hulle is die “bestuurder”-klas wat deur die getroue en verstandige Eljakim afgebeeld is gedurende koning Hiskia se bewind (745-716 v.G.J.), ten tye van die Assiriese inval in die land Juda.
10. Hoe sou die dienskneg-“bestuurder”, wat deur die oorblyfsel geestelike Israeliete verteenwoordig word, volgens Jesus se profesie in Lukas 12:43, 44 “gelukkig” gemaak word?
10 Ondanks die ellendes waarin die valse Christendom en die res van die wêreld van die mensdom gedompel is, is die oorblyfsel van die getroue “bestuurder”-klas inderdaad “gelukkig”, net soos Jesus voorspel het toe hy gesê het: “Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, so besig sal vind.” Waarom? Jesus het die rede vers trek deur voorts te sê: “Waarlik, Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel.”—Luk. 12:43, 44.
11. Hoe het Jehovah volgens Jesaja 22:20, 21 gesê dat hy Sebna sou vervang?
11 In ’n geestelike sin het dit met die getroue oorblyfsel geestelike Israeliete gegaan net soos dit gegaan het met Eljakim, die seun van Hilkia, wat selfverheerlikende Sebna as “bestuurder” oor koning Hiskia se paleis vervang het. Dit is soos Jehovah vir sy profeet Jesaja gesê het: “En in die dag [wanneer Jehovah Sebna uit sy pos stoot] sal ek my kneg Eljakim, die seun van Hilkia, roep; en Ek sal hom jou [Sebna se] gewaad aantrek en hom gord met jou gordel, en jou mag sal Ek in sy hand lê, en hy sal vir die inwoners van Jerusalem en vir die huis van Juda ’n vader wees.”—Jes. 22:20, 21.
12. Met watter optrede van Jesus Christus sedert die noordelike lente van 1919 het dit ooreengekom?
12 Dit kom ooreen met Jesus se aanstelling van die getroue, verstandige “bestuurder”-klas oor al sy Koninkryksbesittings. Dit is veral sedert die noordelike lente van die naoorlogse jaar 1919 dat ’n nuwe tydvak in godsdiensgeskiedenis begin het. Net soos Eljakim is die oorblyfsel van die getroue, verstandige “bestuurder”-klas toe beklee met die waardigheid van ambassadeurs van die opgerigte koninkryk van Jehovah God in die hande van Christus (2 Kor. 5:20, NW). In hierdie hoedanigheid het hulle die opgerigte koninkryk “in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies” geadverteer (Matt. 24:14; Mark. 13:10). Die almagtige God het figuurlik gesproke hulle lendene omgord vir die vervulling van hierdie gewigtige bediening deur die “gordel” van ’n bestuurder of huismeester (so·khen’, Hebreeus; oikonómos, Griekse Septuaginta) om hulle heupe te bind.—Vergelyk Sagaria 3:1-7.
13. Wanneer het diegene wat die samegestelde “bestuurder”-klas uitmaak uit Babilon die Grote gekom, en oor wie is die “mag” van hierdie “bestuurder” uitgebrei?
13 Dit is veral sedert die lente van 1919 dat Jehovah God ’n beroep op al sy toegewyde mense gedoen het om uit “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens, te gaan (Openb. 18:2, 4). Diegene wat die “bestuurder”-klas uitmaak, het gehoorsaam uitgegaan, en hulle hemelse Heer, die Here Jesus Christus wat onsigbaar teenwoordig is, het hulle as ’n klas gebruik om almal wat in aanmerking kom vir die hemelse koninkryk “hulle rantsoen op tyd te gee”. In hierdie opsig het die Eljakim-klas soos ’n “vader” geword wat sorg vir almal wat afgebeeld word deur “die inwoners van Jerusalem en . . . Die huis van Juda”. Dit is sulke “mag” wat Jehovah deur Christus in die hand van die “bestuurder”-klas gelê het, en hierdie samegestelde “bestuurder” het hierdie “mag” tot nou toe getrou en verstandig uitgeoefen. Dit is veral sedert 1935 dat die “groot menigte” van Christus se “ander skape” baat gevind het by sulke vaderlike sorg, net soos die “vreemdeling wat in” die poorte van antieke Jerusalem was.—Ex. 20:10; Joh. 10:16; Openb. 7:9-17.
14. Hoe het die “bestuurder” sy verantwoordelikheid nagekom soos afgebeeld deur die feit dat Eljakim “die sleutel van die huis van Dawid” op sy skouer gedra het?
14 ’n Swaar verantwoordelikheid is op die skouers van die hedendaagse Eljakim-klas geplaas, net soos die wat beskryf is in Jehovah se woorde in verband met die Eljakim van koning Hiskia se dag: “En Ek sal die sleutel van die huis van Dawid op sy skouer lê; en hy sal oopmaak, en niemand sal sluit nie; en hy sal sluit, en niemand sal oopmaak nie” (Jes. 22:22). Die samegestelde “bestuurder”-klas het getoon dat hulle waardig is om die koninklike “sleutel van die huis van Dawid” te dra. Hulle het wakker gebly om die aardse belange van God se Messiaanse koninkryk wat deur die “huis van Dawid” afgebeeld is, te beskerm. Hulle het diegene wat die Heer gekies het om die laaste lede van die oorblyfsel Koninkrykserfgename uit te maak, verwelkom. In 1935 het hulle begin om die “ander skape” wat dit die Goeie Herder behaag het om in “een kudde” met die gesalfde oorblyfsel saam te snoer, te verwelkom. Hulle het die deur gesluit vir al die uitgesette afvalliges en diegene wat probeer insluip het om Jehovah se Getuies te verderf.—Vergelyk Openbaring 3:7.
15. Soos wat wou Jehovah Eljakim in ’n vaste plek inslaan, en wat sou aan hom opgehang word?
15 Jehovah het soos volg verder oor die hedendaagse Eljakim-klas geprofeteer: “En Ek sal hom inslaan soos ’n pen in ’n vaste plek, en hy sal ’n eretroon wees vir die huis van sy vader. En hulle sal aan hom [soos aan ’n pen] ophang die hele swaarte [heerlikheid, NW] van die huis van sy vader, die spruite en die wilde lote, al die klein huisraad, van komme af tot allerhande kruike toe.”—Jes. 22:23, 24.
16. Wie het Eljakim vervang, en watter diens ten behoewe van die “diensvolk” is aan die teenbeeldige Eljakim opgedra?
16 Die permanent ingeslane “pen” waaraan daardie huisgereedskap sou hang, het Eljakim, die nuwe bestuurder wat Sebna vervang het, afgebeeld. Hy moes gevolglik sorg dat voedsel en drank aan die lede van die koning se huis voorgesit word. Die feit dat Eljakim in daardie hoedanigheid aangestel is, het afgebeeld dat die Grotere Hiskia, Jesus Christus, met sy koms in heerlikheid, dit goedgekeur het dat die ‘getroue bestuurder’-klas toesig hou oor die oorblyfsel van sy medeerfgename wat nog op aarde was om vir hierdie “diensvolk” die nodige “rantsoen op tyd te gee”, hetsy in klein maat of in groot maat. Dit sou afhang van die soort vaste spys of drank. Hierdie “rantsoen” sou natuurlik uit God se Woord kom. Uit ’n ander Bybelstandpunt beeld daardie “komme” en “kruike” egter die knegte van God met hulle verskillende diensvermoëns self af.—2 Tim. 2:20-22.
17. Hoe sou Eljakim ’n “eretroon” vir die huis van sy vader wees, en hoe sou die “spruite en die wilde lote” van sy vader hierby baat vind?
17 Eljakim sou ’n “eretroon” vir die huis van sy eie vader, Hilkia, word. Dit het beteken dat hy, in teenstelling met die voormalige bestuurder Sebna, nie sy vader se huis of dié se reputasie oneer sou aandoen nie. Hy sou hoër in die koninklike diens van koning Hiskia verhef word. Die feit dat hy soos ’n “eretroon” sou word, het al hierdie dinge afgebeeld. Hy sou nie gaan sit soos ’n koning wat bedien moet word nie, maar soos die koning se dienaar sou hy gesag en “mag” in sy pasaangewese gebied hê. Hy sou die koning van Jerusalem tot ’n sekere mate verteenwoordig en vir hom spreek. Hy sou “die huis van sy vader” geen oneer aandoen nie, maar hy sou eerder “heerlikheid” vir sy vader se huis meebring, en dit sou onderskraag word asof dit aan ’n onbeweeglike pen hang. Die “spruite en die wilde lote” van sy vader se huis sou nie in oneer gebring word omdat hulle op Eljakim staatgemaak het vir ’n aanbeveling nie. Al hierdie familielede van Eljakim sou op hom kon reken om hulle eerbaar en verdienstelik te verteenwoordig. Al sy familielede kon op hom staatmaak om hulle eerbaar in sy hoër posisie te verteenwoordig. Sulke afhanklike familielede sou aan gespoor word om as “komme” of “kruike” in koninklike diens te dien omdat hulle sterk steun geniet.
18. (a) Op wie rus daar vandag ’n spesiale verantwoordelikheid, en hoe is dit ’n koninklike verantwoordelikheid? (b) Wie is vandag “die spruit en die wilde lote”, en met watter voorwerpe word hulle vergelyk?
18 Daar rus vandag eweneens ’n swaar verantwoordelikheid op die ‘getroue bestuurder’-klas. Dit is ’n koninklike verantwoordelikheid, ’n heerlike, omdat dit gedra word in die diens van Jehovah se tans ingehuldigde Koning, Jesus Christus. Dit is ’n geestelike verantwoordelikheid teenoor almal wat aan die Eljakim-klas in die Koninkrykshoop verwant is, soos “die spruite en die wilde lote” van hulle geestelike Vader. Hulle maak staat op of hang aan die penagtige “bestuurder”-klas en is self soos intelligente, lewende “komme” of “kruike” om verskillende hoeveelhede voedsel aan ander lede van hulle geestelike familie te verskaf.—2 Tim. 2:20, 21; 2 Kor. 4:7.
19. (a) Op watter kritieke tyd is Eljakim tot koninklike bestuurder bevorder? (b) Na wie het die koning van Juda hom gewend vir hulp toe gevaar gedreig het?
19 Lank gelede, in die agtste eeu voor ons Gewone Jaartelling, is Eljakim tot koninklike bestuurder bevorder op ’n kritieke tydperk in die geskiedenis van Jehovah se tipiese koninkryk in Jerusalem. Hy het regstreeks die vreesinboesemende dreigemente gehoor wat deur die gesant van die invallende Assiriese koning, Sanherib, uitgeskreeu is. Eljakim het dit vir sy heer, koning Hiskia, herhaal. Koning Hiskia het op sy beurt nie militêre hulp by Egipte gaan soek nie, maar by sy God, Jehovah. Jehovah het ’n baie versterkende antwoord deur sy profeet Jesaja gegee. Wat het toe ter vervulling van Jehovah se uitdagende boodskap gebeur? Ons lees:
20. Wat het Jehovah toe gedoen ter vervulling van Sy uitdagende boodskap deur die profeet Jesaja?
20 “Toe het die engel van die HERE uitgetrek en in die laer van Assirië honderd-vyf-en-tagtigduisend verslaan. En toe hulle die more vroeg hul klaarmaak—was dit almal dooie liggame. En Sanherib, die koning van Assirië, het opgebreek en weggetrek en teruggegaan en in Nineve gebly. En toe hy hom neerbuig in die tempel van sy god Nisrog, het sy seuns Adrammeleg en Sareser hom met die swaard neergeslaan.”—Jes. 37:36-38; 2 Kon. 19:35-37.
21. (a) Wat het Jehovah se krygsoptrede daar afgebeeld? (b) Wat gaan die “bestuurder”-klas van vandag tegemoet, en van wanneer af en aan wie het hierdie klas die waarskuwing uitgebasuin?
21 Die destydse krygsoptrede van Jehovah ten behoewe van sy koninkryk in Jerusalem het sy nog groter daad gedurende die “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” te Armageddon afgebeeld. Daar sal sy engel van vernietiging ’n aartsengel, die ingehuldigde Koning, Jesus Christus, wees wat al die hemelse engele aanvoer (Openb. 16:14-16; 19:11-21). Die oorblyfsel van die “bestuurder”-klas gaan hierdie oorlog van alle oorloë, wat nooit herhaal sal word nie, tegemoet. Die “bestuurder”-klas, wat aangestel is oor die “rantsoen” uit God se Woord, word veral sedert 1919 gebruik om die waarskuwing omtrent hierdie komende “oorlog” by wat Armageddon genoem word, uit te basuin. Net soos in die geval van Eljakim in die dae van koning Hiskia, gaan hulle die naderende aanval deur die Grotere “Assiriër”, Satan die Duiwel, en sy hordes tegemoet (Miga 5:5, 6, NW). Hulle hou aan om al die lede van hulle hemelse Heer se huis en die hele mensdom te waarsku.
22. Wie het op daardie waarskuwing gereageer, en waarom word hulle bemoedig deur wat met Eljakim en die ander inwoners van Jerusalem gebeur het en deur die betekenis van hierdie dinge?
22 ’n Internasionale “groot menigte” het op die waarskuwing gereageer en dit op hulle beurt aan ander uitgebasuin (Openb. 7:9-17). Hulle word bemoedig deur wat met Eljakim, die bestuurder van koning Hiskia, en ander inwoners van Jerusalem gebeur het, want dié het aan grootskaalse vernietiging deur die Assiriese invallers ontkom. Die “bestuurder”-klas in hierdie “tyd van die einde”, sowel as die “groot menigte” van Christus se “ander skape”, sal dus nie saam met die wêreldstelsel tydens “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” te Armageddon vernietig word nie (Dan. 12:4). Na Jehovah se oorwinning aldaar sal die Grotere Sanherib, Satan die Duiwel, en al sy demonengele in die afgrond gewerp word vir die 1 000 jaar van die bewind van die Grotere Hiskia, Jesus Christus.
23. Wanneer sal daar geen twyfel bestaan oor die regte antwoord op die vraag wat Jesus in Lukas 12:42 gestel het nie?
23 Solank as wat dit hulle heersende Heer, Jesus Christus, behaag om hulle verder op aarde te gebruik, sal die oorblyfsel van ‘die getroue bestuurder’-klas die verskuldigde “rantsoen” aan hulle mede-oorlewendes, die “groot menigte” van hulle Heer se “ander skape”, gee. Om die verwesenliking van daardie opwindende vooruitsig te beleef, moet alle “skape” voortdurend daarteen waak dat hulle by Armageddon ‘tot niet raak’ soos diegene wat aan daardie gediskwalifiseerde “pen”, die Sebna-klas in die valse Christendom, hang (Jes. 22:17-19, 25). Diegene wat die regte antwoord op Jesus se vraag: “Wie is dan die getroue en verstandige bestuurder?” gevind het en trou daaraan bly, is voorwaar gelukkig. Laat hulle, in lojaliteit aan sy rentmeesterskap, voortgaan om op hierdie regte tyd die nodige “rantsoen” uit die hande van die ‘getroue bestuurder’, die Grotere Eljakim, te aanvaar. Daardie simboliese “pen” is volgens God se voorkennis in ’n “vaste plek” ingeslaan om daar te bly, met God se hulp. Hang dit dus vol vertroue en in volkome lojaliteit aan.
[Voetnote]
a In die Griekse Septuaginta-vertaling van die Hebreeuse Skrifte lui Jesaja 22:19: “En jy sal verwyder word uit jou bestuurderspos [oi·ko·no·mi’a], en uit jou plek.”—Die Septuaginta, Grieks en Engels, deur Samuel Bagster and Sons Limited, Londen, Engeland.
b Kyk Die Wagtoring van 1 September 1945, bladsy 4, paragraaf 1; ook van 15 Maart 1952, bladsy 85, paragraaf 10.
Kan jy hierdie vrae ter hersiening beantwoord?
♦ Wie was Eljakim en Sebna?
♦ Wie beeld Eljakim en Sebna in ons dag af?
♦ Wie beeld koning Sanherib en koning Hiskia vandag af?
♦ Waaraan gee die Eljakim-klas sy steun, in teenstelling met dit wat deur die Sebna-klas gesteun word?
♦ Wie word afgebeeld deur die “inwoners van Jerusalem en . . . die huis van Juda”?
♦ Wie benewens die hedendaagse ‘inwoners van Jerusalem en Juda’ geniet die vaderlike sorg van die Eljakim-klas?
♦ Wat word afgebeeld deur die “huis van Dawid”?
♦ Wie is die “pen” in Jesaja se profesie, en wie stel hy voor?
♦ Wat word afgebeeld deur die feit dat hierdie “pen” ’n “eretroon” word?