“WIE IS DAN DIE GETROUE EN VERSTANDIGE BESTUURDER?”
“Wie is dan die getroue en verstandige bestuurder wat die heer oor sy diensvolk sal aanstel?”—Luk. 12:42.
1. Hoe oud is die vraag wat gestel is, en wat verbeur diegene wat nie die antwoord vind nie?
DIE vraag is nou meer as 1 900 jaar oud. Etlike honderdduisende glo vandag dat hulle die antwoord gevind het. Diegene wat nie die antwoord vind nie, ontvang nie die voordele wat hulle ewige toekoms raak nie. Die vraag is: “Wie is dan die getroue en verstandige bestuurder wat die heer oor sy diensvolk sal aanstel om hulle rantsoen op tyd te gee?”—Luk. 12:42.
2. (a) Wanneer is die vraag die eerste keer gestel, en deur wie? (b) Vir wie behoort die vraag van belang te wees, en waarom?
2 Die vraag is die eerste keer in die Midde-Oosterse land Israel gestel. Dit was in die jaar 32 van ons Gewone Jaartelling, tussen die Israelitiese huttefees in die noordelike herfs en die wydingsfees van hulle herboude tempel in Jerusalem in die vroeë noordelike winter. Die man wat die vraag gestel het, het wêreldwyd ’n omstrede figuur geword. Sy naam is Jesus Christus. Sy vraag behoort veral vir die Christendom van belang te wees, aangesien daardie godsdiensstelsel hom “Here” noem en beweer dat dit vol van sy dissipels is.
3, 4. (a) Waarin het Jesus se toehoorders belang gestel, en waaroor het hy gevolglik vir hulle gesê om nie bevrees te wees nie? (b) Watter twee gelykenisse het Jesus vir hulle gegee om die nodigheid toe te lig dat hulle moet waak?
3 Volgens die Bybelverslag is die deurdringende vraag gestel in antwoord op ’n ander vraag en was dit gerig tot persone wat belang gestel het in die grootste regering wat ooit oor die aarde opgerig sou word, die koninkryk van die Skepper van hemel en aarde, “die koninkryk van God”. Dit is waarom Jesus Christus vooraf vir sy Israelitiese toehoorders gesê het: “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ’n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee. Verkoop julle besittings en gee aalmoese; maak vir julle beurse wat nie oud word nie, ’n skat in die hemel wat onuitputlik is, waar geen dief by kom of mot verteer nie. Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.
4 “Laat julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand. En julle moet wees soos mense wat op hulle heer wag wanneer hy van die bruilof terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop. Gelukkig is daardie diensknegte vir wie die heer wakker sal vind as hy kom. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom omgord en hulle aan tafel laat gaan en hulle kom bedien. En as hy in die tweede of in die derde nagwaak kom, en dit so vind—gelukkig is daardie diensknegte. Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter uur die dief sou kom, sou hy gewaak het en nie in sy huis laat inbreek het nie. Julle moet dan ook gereed wees, omdat die Seun van die mens kom op ’n uur dat julle dit nie verwag nie.”—Luk. 12:32-40.
5. (a) Wat het Petrus Jesus se vermaning genoem, en as wat moet Jesus se antwoord dus geklassifiseer word? (b) Watter vraag oor die toepassing van Jesus se antwoord word geopper deur Petrus se vraag oor die toepassing van Jesus se woorde?
5 Die apostel Petrus het daardie woorde van die Here Jesus Christus ’n “gelykenis” genoem, want Lukas se verslag se voorts: “Toe sê Petrus vir Hom: Here, vertel U hierdie gelykenis [parabolé] vir ons of ook vir almal?” (Luk. 12:41). Jesus se antwoord sou dus logies beskou word as ’n gelykenis, iets wat sekere toekomstige werklikhede sou afbeeld of toelig. Dit wil sê, Jesus se antwoord in Lukas 12:42-44 sou deel uitmaak van die gelykenis van die “getroue en verstandige bestuurder”. Wanneer ons nou die gelykenis ondersoek, moet ons Petrus se vraag, wat ook vir die daaropvolgende gelykenis geld, in gedagte hou, naamlik: “Here, vertel U hierdie gelykenis vir ons of ook vir almal?” (Luk. 12:41). Ons vra dus: Is hierdie gelykenis van die “bestuurder” van toepassing op ’n klas, ’n “ons”-klas, van Jesus Christus, of op almal wat destyds na Jesus geluister het en, vandag, die 12 apostels op elke individu wat Jesus se gelykenis lees, ongeag sy godsdiensbande binne of buite die Christendom? Is die gelykenis van toepassing op ’n klas of op ’n individu?
“SY HEER”
6. Met watter gelykenis het Jesus Petrus se vraag beantwoord?
6 Jesus het nie Petrus se vraag oor die voorafgaande “gelykenis” regstreeks beantwoord nie, maar in antwoord ’n ander gelykenis vertel deur te sê: “Wie is dan die getroue en verstandige bestuurder wat die heer oor sy diensvolk sal aanstel om hulle rantsoen op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, só besig sal vind. Waarlik, Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel.”—Luk. 12:42-44.
7. Wie beeld die bestuurder se “heer” af, en wat moet diegene onder daardie “heer” dus gedurende die “voleinding van die wêreld” doen?
7 Niemand sal dit in twyfel trek dat die “heer” van die getroue bestuurder die verteller van die gelykenis self, die Here Jesus Christus, afbeeld nie. In die gelykenis wat tot Petrus se vraag aanleiding gegee het, het Jesus homself as ’n bruidegom beskryf wat, vanweë die bruilof, op ’n onbepaalde uur van die nag of vroeë oggend terugkeer huis toe (Luk. 12:35-40). Diegene wat betrokke is by die vervulling van Jesus se gelykenis, moet dus beslis waak, veral gedurende die “voleinding van die wêreld”.—Matt. 24:3.
8. Van wanneer af is Jesus Christus “heer” oor ’n “diensvolk”, en hoe beskryf Openbaring 7:1-8 hulle?
8 In die gelykenis van die bestuurder het die heer ’n “diensvolk”, waarvan die bestuurder self ’n lid is. Dit strook met die feit dat die verteller van die gelykenis, die Here Jesus Christus, in ’n geestelike sin ’n huis het. Ons lees daaromtrent in Hebreërs 3:4-6: “Hy wat alle dinge gebou het, is God. En Moses was wel getrou in sy hele huis as ’n dienaar, om te getuig van wat nog gespreek sou word, maar Christus as Seun oor sy huis.” Die profeet Moses was oor die huis van die 12 stamme van Israel met die totstandkoming van daardie nasie. Jesus Christus, as die Grotere Moses, is vanaf Pinksterdag van 33 G.J. tot nou toe oor die huis van geestelike Israel. Openbaring 7:1-8 toon dat die “huis” uit 144 000 geestelike Israeliete bestaan wat in 12 stamme van 12 000 elk verdeel is. Dit is ’n “huis” wat bestaan uit geestelike seuns van God, net soos hulle Hoof Jesus Christus ook is. Hulle maak gesamentlik die “klein kuddetjie” uit aan wie Jehovah God, die hemelse Vader, dit goedgevind het om die hemelse koninkryk te gee, soos Jesus gesê het.—Deut. 18:15-18; Luk. 12:32; Hand. 3:19-23.
9. Watter probleem kom ons tee by die bepaling van ’n definitiewe tyd vir die heer se koms as daar geredeneer word dat die “bestuurder” ’n enkele Christen afbeeld wat in die eerste eeu G.J. aangestel is?
9 Die 144 000 geestelike seuns van God maak dus die “diensvolk” uit oor wie die Heer, die Here Jesus Christus, die “bestuurder” van die gelykenis aanstel. Die identiteit van daardie “bestuurder” (oikonómos, Grieks; so·khen’, Hebreeus—Delitsch se vertaling) in die gelykenis is steeds ’n twispunt onder baie naamchristene. As ons sê dat die “bestuurder” ’n enkele Christen afbeeld, skep ons vir ons onoorkoomlike probleme. Die gelykenis sê byvoorbeeld dat die bestuurder se heer op reis gaan en na ’n onbepaalde afwesigheid op ’n onbepaalde uur terugkeer huis toe. In die eerste eeu G.J. kon ’n definitiewe uur nie bepaal word nie, want die mensdom het destyds nie moderne geriewe soos telefone, radiokommunikasie en vinnige vervoermiddels met vaste roosters gehad nie.
10. Watter probleem ontstaan oor die ouderdom van enige enkele Christen ten tye van die “heer” se koms?
10 Volgens Jesus se woorde is die “bestuurder” oor die “diensvolk” aangestel voordat sy heer op sy reis vertrek het. Aangesien die bestuurder se heer die Here Jesus Christus afgebeeld het, is sy “bestuurder” dienooreenkomstig aangestel voor sy vertrek met sy hemelvaart 10 dae voor die Joodse Pinksterfees, 33 G.J. Die “bestuurder” moes lewend wees en sy aangewese verantwoordelikheid getrou nakom wanneer sy heer terugkeer. Daar het al 19 eeue verloop sedert die Here Jesus Christus na sy hemelse Vader se huis vertrek het. As iemand redeneer dat die “bestuurder” in die gelykenis ’n enkele Christen in die ware Christengemeente afbeeld, ontstaan die vraag: Hoe sou hy vandag nog kon lewe as hy in 33 G.J. deur Jesus Christus aangestel is? Geen mens het al ooit so lank gelewe nie, nie eens die beroemde Metusalag nie.—Gen. 5:27.
11. Wat beeld die “bestuurder” dus af, en watter Skriftuurlike steun is daar vir hierdie beskouing?
11 Rede, gerugsteun deur soortgelyke Skriftuurlike voorbeelde, toon duidelik dat die “bestuurder” (oikonómos) ’n klas, ’n samegestelde liggaam, afbeeld wat ooreenkom met ’n regspersoon soos ’n korporasie wat deur die landswet erken word. Jehovah God het byvoorbeeld die hele nasie van eertydse Israel “my kneg wat Ek uitverkies het”, genoem (Jes. 43:10). Op dieselfde manier beeld die “bestuurder” die “klein kuddetjie” geestelike Israeliete af, die volledige liggaam toegewyde, gedoopte dissipels van die “heer”, Jesus Christus, wat deur God se gees verwek is tot die hemelse erfenis saam met hulle “heer”, die verheerlikte Jesus. Hierdie samegestelde “bestuurder” was lewend en beskikbaar vir aanstelling deur die vertrekkende Heer, en ’’n oorblyfsel van daardie “bestuurder”-klas is vandag op aarde en getrou aan die Heer Jesus Christus. Aangesien elke lid getrou en verstandig is, is die hele klas dit ook.
12. Waarom is die “bestuurder” oor die “diensvolk” aangestel, en toon die feite of die “bestuurder”-klas aan hierdie doel beantwoord het?
12 In die gelykenis is die “bestuurder” oor sy heer se “diensvolk” aangestel om hulle “hulle rantsoen op tyd te gee” (Luk. 12:42). Deur die samegestelde “bestuurder”-klas is daar tot op hede aan hierdie doel beantwoord. Gedurende die eerste eeu G.J. was dit die geval, naamlik gedurende die dae van die 12 apostels van Jesus Christus tot met die dood van die laaste apostel, Johannes, wat sy laaste bydraes tot die Heilige Skrif omstreeks die jaar 98 G.J. gelewer het (Joh. 21:20-23). Nou, gedurende hierdie “voleinding van die wêreld” wat in die rampspoedige jaar 1914 begin het, sou dit veral die “tyd” wees om die “rantsoen” aan die “diensvolk” te gee, en dit is ook die geval. Die oorblyfsel van die “bestuurder”-klas was getrou in daardie opsig.—Matt. 24:3-14.
13. Met watter doel het die Here Jesus Christus teruggekeer, en wat het die “bestuurder”-klas tot op daardie stadium gedoen?
13 Dit stem ooreen met die feit dat die Here Jesus Christus aan die einde van die Tye van die Nasies in 1914 Koninkryks mag saam met sy hemelse Vader ontvang het en uiteindelik gekry het wat hy weg gegaan het om te kry (Luk. 19:12). Hy kon dus onsigbaar met ’n geesliggaam terugkeer om rekenskap van sy “bestuurder” te eis. Intussen was dit geen geringe taak om die “rantsoen op tyd te gee” nie. Maar die lede van die “bestuurder”-klas het saamgewerk om die geestelike “rantsoen” progressief vir mekaar te gee namate Jehovah God ander geroep het om erfgename van die Koninkryk en lede van die “klein kuddetjie” te word.
AANGESTEL “OOR AL SY BE SITTINGS”
14. Waarom was dit vir die “bestuurder” ’n vreugdevolle tyd toe sy heer teruggekeer en gevind het dat hy besig was om sy plig as ’n dienskneg na te kom?
14 In sy gelykenis van die getroue en verstandige “bestuurder” het die Heer, die Here Jesus Christus, van hom gepraat as ’n “dienskneg” en gesê: “Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, so besig sal vind.” Waarom? Jesus sê: “Waarlik, Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel.”—Luk. 12:43, 44.
15. Waarom sou die “bestuurder” se aanstelling oor al sy heer se “besittings” hom verbly?
15 Dit beteken dat die “dienskneg” groter verantwoordelikheid as ’n “bestuurder” ontvang as beloning omdat hy getrou en verstandig was en voortdurend wakker gebly het in afwagting van sy heer se terugkeer. Dit was moontlik. Waarom? Omdat die heer iets met welslae tydens sy reis verkry het en teruggekeer het met meer as wat hy met sy vertrek gehad het. Sy “besittings” het meer geword, en gevolglik was daar meer waaroor hy sy getroue “bestuurder” kon aanstel. Die feit dat hy in die amp van “bestuurder” aangehou sou word, sou beteken dat hy in ’n groter hoedanigheid dien. Sy heer self het in ’n groter hoedanigheid teruggekeer as wat hy gehad het toe hy op sy sending vertrek het. In die hedendaagse vervulling van die gelykenis is dit waar van die oorblyfsel van die “bestuurder”-klas en sy Heer, die verheerlikte Jesus Christus.
16. Watter woorde van Jesus, wat kort na die gelykenis geuiter is, toon dat hy die gelykenis van die “bestuurder” in ’n vurige tyd vertel het?
16 Maar hoe kan ons bevestig dat dit die regte tyd is vir die oorblyfsel van die “bestuurder”-klas om oor die vermeerderde “besittings” of belange van die Heer aangestel te word? Wel, etlike verse na die gelykenis het Jesus gesê: “Ek het gekom om vuur op die aarde te werp en hoe wens Ek dat dit al aangesteek was!” (Luk. 12:49). Hierdie beeldspraak het ooreengekom met wat Johannes die Doper net ’n paar maande voordat Jesus met sy bediening begin het aangaande Jesus voorspel het. Johannes het onder meer gesê: “Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur. Sy skop [om die graan van die kaf te skei] is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring in die skuur saambring, maar die kaf sal Hy met onuitbluslike vuur verbrand.”—Matt. 3:11, 12.
17. Wie van Jesus se dag sou ’n vurige ondervinding hê en met watter ramp sou dit ’n hoogtepunt bereik?
17 Daardie profetiese woorde toon dat die vurige einde van die Joodse stelsel op hande was. Net soos kaf sou die ongekerstende Jode ’n vurige ondervinding hê. Dit sou uitloop op die vernietiging van Jerusalem en die verstrooiing van die Jode van Palestina af oor die hele wêreld. Die Romeinse legioene het gesorg dat dit in 70 G.J. gebeur.
18, 19. (a) Watter gelykenis het Jesus in sy profesie oor die “teken” van die “voleinding van die wêreld” gegee wat met die gelykenis van die bestuurder” ooreenkom? (b) Was die lede van daardie klas getrou en verstandig gedurende die voleinding van die Joodse stelsel in Palestina en hoe het die oorblyfsel van daardie klas gedurende hierdie “voleinding van die wêreld” gevaar?
18 Sewe-en-dertig jaar voordat die simboliese “kaf’ in 70 G.J. met onuitbluslike “vuur” verbrand is, het Jesus Christus sy profesie gegee oor die “teken” van die vurige “voleinding van die wêreld” asook die teken van sy onsigbare “teenwoordigheid” in die gees. Diep in daardie profesie het hy na ’n “getroue en verstandige dienskneg” verwys wat op aarde werk saam sou wees wanneer die wêreldstelsel sy einde nader. Jesus se opmerkings oor hierdie “dienskneg” stem baie ooreen met dié oor die “getroue en verstandige bestuurder”. Dit is duidelik dat dit op dieselfde klas van toepassing is, maar die uitdrukking “bestuurder” slaan spesifiek op die soort werk wat die “dienskneg” doen.
19 Let op Jesus se beskrywing: “Wie is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind. Voorwaar, Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel” (Matt. 24:45-47). Lede van die “getroue en verstandige dienskneg”-klas, die “bestuurder”-klas, het ywerig tot aan die einde van die Joodse stelsel in 70 G.J. gedien. Die oorblywende lede van die “dienskneg”-klas, die “bestuurder”-klas, was en is getrou en verstandig gedurende die hedendaagse “voleinding van die wêreld” sedert die jaar 1914 G.J.
20. Aan watter woorde van Jesus voordat hy van die Olyfberg af hemel toe opgevaar het, gee die oorblyfsel van die “bestuurder”-klas vandag gehoor sodat hulle uitgeken kan word?
20 Die oorblyfsel van die “bestuurder”-klas kan vandag maklik uitgeken word, want hulle gee gehoor aan wat Jesus, die Heer, vir diegene gesê het wat die oorspronklike deel van die “bestuurder”-klas sou uitmaak. Net voordat hy van die Olyfberg af opgevaar het hemel toe, het Jesus vir hulle gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8). Deur getuies van die Here Jesus Christus te wees, moes daardie Joodse dissipels terselfdertyd getuies van sy God en Vader, Jehovah, wees. Hulle het nooit opgehou om Jehovah se getuies te wees nie!
21. Wie se getuies was daardie Joodse dissipels volgens geboorte, en wanneer het hulle die oorspronklike lede van die samegestelde “bestuurder” geword?
21 Daardie Joodse dissipels moes getuies van Jehovah wees, want hulle was volgens geboorte lede van die nasie aan wie se voorvaders God gesê het: “Júlle is my getuies, spreek [Jehovah], en my kneg wat Ek uitverkies het, . . . julle is my getuies, spreek [Jehovah], en Ek is God” (Jes. 43:10-12). Daardie Joodse getuies van Jehovah sou nou ook getuies van sy Seun Jesus Christus word. Op Pinksterdag, 10 dae na sy hemelvaart, is hulle met die heilige gees gedoop en aldus deur hulle verheerlikte Heer Jesus Christus gemagtig om oor sy “diensvolk” te wees, om geestelike voedsel aan hulle te gee. Dit is hoe hulle die eerste of oorspronklike lede van die samegestelde “bestuurder” geword het. Met hulle het hierdie klas ’n goeie begin gehad.
22. Vir wie se naam is die “bestuurder”-klas ’n volk, en hoe is hierdie feit beklemtoon tydens ’n spesiale vergadering in Jerusalem ’n geruime tyd na 36 G.J.?
22 Hierdie “bestuurder”-klas is ’n volk vir Jehovah se naam. Hierdie feit is ’n geruime tyd na die jaar 36 G.J. beklemtoon tydens ’n spesiale vergadering van die apostels en ouere manne van die gemeente in Jerusalem. Daar het Jakobus, die halfbroer van Jesus Christus, gesê: “Simeon [dit wil sê, die apostel Simon Petrus] het vertel hoe God in die begin uitgesien het om ’n volk uit die heidene [die onbesnede nie-Jode] vir sy Naam aan te neem.”—Hand. 15:1-14.
23. Wie se getuies moet die oorblyfsel van die “bestuurder”-klas eenvoudig gedurende hierdie “voleinding van die wêreld” wees, en wie se naam is oor hulle uitgeroep?
23 Sulke nie-Jode het deel van die eerste-eeuse “bestuurder”-klas geword. Hierdie klas was gevolglik die gesalfde volk vir God se naam, naamlik Jehovah. God se naam, Jehovah, is oor hulle uitgeroep. Hulle kon nie die verantwoordelikheid ontduik om sy getuies te wees nie. Dit moet ook waar wees van die hedendaagse gesalfde oorblyfsel van die “bestuurder”-klas, wanneer die “teken” wat sedert 1914 gesien word, toon dat die heer van die “bestuurder”-klas teruggekeer het en teenwoordig is en dat “die voleinding van die wêreld” sy hoogtepunt by Armageddon nader.—Matt. 24:3.
Hoe sou jy hierdie vrae beantwoord ter hersiening van hierdie artikel oor ‘Die getroue bestuurder’?—
♦ Wie is die “heer” in Jesus se gelykenis van die ‘getroue bestuurder’?
♦ Wie is die ‘getroue bestuurder’?
♦ Wie is die “diensvolk”?
♦ Wat is die “huis” in Hebreërs 3:6 waaroor Christus aangestel is?
♦ Waarom kan die ‘getroue bestuurder’ nie ’n enkeling wees nie?
♦ Is die ‘getroue bestuurder’ dieselfde as “die getroue en verstandige dienskneg”?
♦ In watter bedrywigheid gee die ‘getroue bestuurder’ die toon aan, sodat dit moontlik is om hierdie klas vandag te identifiseer?
[Prent op bladsy 22]
“Toe sê Petrus vir Hom: Here, vertel U hierdie gelykenis vir ons of ook vir almal? En die Here antwoord: Wie is dan die getroue en verstandige bestuurder?—Luk. 12:41, 42a.