Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 12/1 bl. 5-7
  • Gaan jy na God luister?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gaan jy na God luister?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • PARTY HOOR MAAR LUISTER NIE
  • LUISTER EN GEHOORSAAM
  • LUISTER IEMAND WANNEER GOD SPREEK?
  • WAT GOD SÊ
  • Hoe luister ons na God?
    Luister na God en lewe vir ewig
  • Die kuns om met liefde te luister
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Luister na Jehovah terwyl die einde nader kom
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Volg die Groot Dissipelmaker na
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 12/1 bl. 5-7

GAAN JY NA GOD LUISTER?

‘MAAR ons het die Bybel dan al so lank, en die wêreld is vandag slegter as ooit!’ Dit is heeltemal waar, en die rede is dat mense nie luister wanneer God praat nie. Waarom nie?

In party gevalle is dit omdat hulle eenvoudig nie belangstel nie. ’n Onlangse verklaring deur ’n groep sekulêre humaniste het gesê: “[Ons] verwerp die gedagte dat God wonderdadig in die geskiedenis ingegryp of homself aan ’n gekose groepie geopenbaar het, of dat hy sondaars kan red of vrykoop.” God spreek in werklikheid vandag nie net tot ’n “gekose groepie” nie, maar tot almal wat wil luister. “God . . . verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer” (Hand. 17:30). Desnieteenstaande sal persone wat selfs die gedagte dat God tot ons spreek, verwerp beslis nie na hom luister nie. Hulle toekoms moet baie duister lyk.

Baie wêreldleiers het nou wel geloof in God bely. Maar hulle het nie juis gehelp om sake te verbeter nie. Waarom nie? Die hoofrede kom neer op wat die Franse filosoof Voltaire eenkeer gesê het: “Die meeste groot manne van hierdie wêreld lewe asof hulle ateïste is.” Hulle bewerings dat hulle God aanbid, het hulle nie weerhou van die bloedbaddens, aggressiewe oorloë, verdrukking, foltering en verraad wat dwarsdeur die geskiedenis voorgekom het nie. Hulle het klaarblyklik ook nie geluister wanneer God gespreek het nie.

PARTY HOOR MAAR LUISTER NIE

‘Maar is dit nie so dat baie gelowe die Bybel in hulle dienste gebruik en dat mense elke Sondag die woorde daarvan hoor nie?’ Dit is korrek. Hulle hoor wel. Maar luister hulle werklik, dit wil sê, skenk hulle aandag aan wat hulle hoor?

Baie kerke gebruik byvoorbeeld die “Onse Vader”-gebed in hulle dienste op Sondae. Hierdie gebed is ’n deel van die Bybel. Die eerste woorde van die gebed is: “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.”—Matt. 6:9, 10.

Wat is God se wil wat op aarde moet geskied? ’n Deel daarvan word vervat in hierdie belofte: “Die ootmoediges . . . sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede” (Ps. 37:11). Volgens die “Onse Vader”-gebed sal sulke vrede teweeggebring word deur God se “koninkryk”, sy regering.

Dit was dus interessant om in 1965, na pous Paulus VI se besoek aan die Verenigde Volke, in die koerante te lees dat hy gesê het: “Die volke van die aarde wend hulle tot die Verenigde Volke as die laaste hoop op harmonie en vrede.” (Ons kursiveer.) Hierdie verklaring het lede van die Verenigde Volke ongetwyfeld gehelp om te dink dat hulle werk belangrik en die moeite werd is. Maar as hulle die laaste hoop op vrede is, wat dan van God se koninkryk? Pous Paulus VI het klaarblyklik nie werklik na die woorde van die “Onse Vader”-gebed geluister nie.

Daar is baie ander voorbeelde wat toon dat selfs wanneer mense hoor hoe die Bybel vir hulle gelees word, dit dikwels vir hulle bloot ’n ritus is en dat hulle versuim om aandag te skenk en te verstaan wat dit sê.

LUISTER EN GEHOORSAAM

“Om te luister” beteken ook “om ernstig te beskou”. Baie mense verstaan vandag ten volle wat God oor sekere sake sê, maar hulle neem sy woorde nie ernstig op nie. Hulle volg hulle eie kop. Hulle luister dus nie wanneer God spreek nie.

’n Voorbeeld hiervan is die kwessie van moraliteit. God gee ’n duidelike standaard van moraliteit. Hy sê: “Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete . . . sal die koninkryk van God beërwe nie.”—1 Kor. 6:9, 10.

Moderniste, baie godsdiensleiers inkluis, verwerp hierdie standaard. Hulle bestempel dit as outyds en is voorstanders van ’n “liberaler” lewenswyse. Die gevolg? ’n Epidemie tienerswangerskappe, aborsies, veneriese siektes, egskeidings en emosionele verwarring.

Dit behoort ons nie te verbaas nie. “God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai” (Gal. 6:7). Net soos sy fisiese wette is God se morele wette gegee vir ons beskerming en welsyn. Wanneer daar uittarting van God gesaai word, sal dit beslis slegte vrugte oplewer. Wanneer iemand God se standaarde afkeur, is dit soos om die swaartekragwet af te keur. Wat ook al ons persoonlike mening, ons trotseer dit op ons eie risiko!

LUISTER IEMAND WANNEER GOD SPREEK?

Jy vra moontlik: ‘As so baie godsdiens- en wêreldleiers nie luister wanneer God spreek nie, is daar dan iemand wat luister?’ Ja, daar is. Jesus het eenkeer gesê: “Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.” Aangesien hy verduidelik het dat alles wat hy gesê het in werklikheid van God kom, beteken dit dat ’n mens na God luister as jy na Jesus luister. Diegene wat “aan die waarheid behoort”, luister gevolglik na God.—Joh. 18:37, NTP; 7:16, 17.

En hierdie persone luister nie net nie. Hulle gaan ook uit en help ander om te luister. Jesus het hulle beveel: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle . . . en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Matt. 28:19). Is daar iemand wat dit vandag doen?

’n Paar jaar gelede was dit ’n vraag in ’n jong vrou se gedagtes. Sy was ontnugter deur die verwarring en teenstrydighede in die gelowe wat sy geken het en het ’n agnostikus geword. Sonder om dit te weet, het sy gesoek na ’n eienskap wat Jesus gesê het diegene sou kenmerk wat “aan die waarheid behoort”: “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken.” Omdat sy nie geweet het van enige godsdiensgroep wat godvrugtige vrugte voortgebring het nie, het sy gemeen dat God nie vandag spreek nie.—Matt. 7:16.

Om ’n vriend te behaag, het die jong vrou eenkeer ’n godsdiensgroep besoek met wie sy nog nie tevore omgegaan het nie. Omdat hulle vriendelik was, het sy ’n vraag aan een van hulle gestel, net om te sien wat sou gebeur. Sy was verbaas toe hy haar ’n reguit antwoord uit die Bybel gegee het. Toe is sy na ’n ander lid van die groep en het sy dieselfde vraag gestel. Tot haar verbasing het hy die Bybel oopgemaak en haar dieselfde antwoord gegee. Sy het die eksperiment herhaal en gevind dat hierdie mense op godsdiensgebied verenig en nie verward is nie.

Dit het die vrou beïndruk. Sy het onwetend afgekom op nog ’n eienskap van die mense “wat aan die waarheid behoort”: hulle probeer om “verenig [te] wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening” (1 Kor. 1:10). Hulle besef dat ‘die hele Skrif deur God ingegee is’. Hulle bestudeer en verkondig dus nie mense se menings nie, maar wat God in die Bybel sê.—2 Tim. 3:16.

Die jong vrou het geleidelik haar agnostisisme laat vaar. Sy het met graagte geluister wanneer God gespreek het. En dit was vir haar ’n plesier om om te gaan met ’n volk “wat aan die waarheid behoort” en wat die Bybel vir ander gaan lees en aldus soveel mense moontlik help om te luister wanneer God spreek. Sy het mettertyd ’n bedrywige lid van daardie gemeente van Jehovah se Getuies geword.

WAT GOD SÊ

Behoort jy “aan die waarheid”? Dan sal jy wil luister—waarlik luister in die sin dat jy aandag skenk aan wat God sê en dit ter harte neem. As jy dit doen, sal jy jou onder die minderheid bevind, aangesien die meeste mense vandag nie na God luister nie. Net soos die eertydse Israeliete “het hulle die weg van Jehovah geïgnoreer”.—Jer. 5:4, NW.

Dit is nietemin verstandig om na God se wysheid te luister. “Die wat na my luister, sal veilig woon en gerus wees teen die skrik vir die onheil” (Spr. 1:20-33). Diegene wat vandag na God luister, word gelei om die valstrikke van die lewe in hierdie onvolmaakte wêreld te vermy. Hulle vermy dus onnodige onheil. En as hulle getrou bly, sal hulle binnekort in ’n wêreld lewe waarin daar geen “onheil” meer sal wees nie. Dan sal God “al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie”.—Openb. 21:4.

Dit is die wêreld wat God gaan berei vir diegene “wat aan die waarheid behoort”. Wil jy graag daarin lewe? Stel jou dit dan ten doel om te luister wanneer God spreek. Jehovah se Getuies sal jou met graagte help om dit te doen.

[Venster op bladsy 7]

Voordele as daar na God geluister word

● Die hoop op ’n paradysaarde

● Vertroue in die toekoms

● Gelukkige gesinslewe nou

● Vrede

● Eenheid in ware aanbidding

● Geloof in God se koninkryk deur Christus

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel