Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 12/1 bl. 3-4
  • Spreek God werklik vandag?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Spreek God werklik vandag?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • GOD SPREEK WEL
  • IS DIT WERKLIK GOD WAT SPREEK?
  • Wat die Bybel ons leer oor die Skrywer daarvan
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
  • Die Bybel is God se boodskap aan ons
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
  • Kom die goeie nuus regtig van God?
    Goeie nuus wat van God kom!
  • Ware leringe wat God behaag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 12/1 bl. 3-4

SPREEK GOD WERKLIK VANDAG?

’N UNIVERSITEITSLEKTOR het stelling voor die klas ingeneem, gereed om met sy les te begin. Toe het hy opgemerk dat ’n student iets op die bord geskryf het: “QUESTION AUTHORITY!” Sonder om ’n woord te sê, het die lektor onderaan geskryf: “If authority answers, will you listen?”

Dit is ’n goeie vraag. En dit geld ook ten opsigte van die allerhoogste gesag, Jehovah God. Die meeste sal saamstem dat die mensdom vandag hulp nodig het. So baie dinge het skeefgeloop en is buite beheer—besoedeling, oorbevolking, algemene hongersnood, inflasie en die onheilspellende bedreiging van kern-, gas- of kiemoorlogvoering. Jy dink dalk: ‘As God iets vir die mensdom te sê het, is dit gewis nou ’n goeie tyd vir hom om dit te sê!’

Dit is waar. Maar die vraag is: Wie sal luister indien God wel sou spreek? Dit is duidelik dat die mens leiding nodig het. Maar sal hy dit aanvaar indien dit aangebied word?

GOD SPREEK WEL

Maar kom ons bespreek eers die vraag: Spreek God vandag tot ons? As hy dit nie doen nie, is ons toekoms duister. Gelukkig toon die getuienis dat hy dit wel doen. Hoe?

Wel, wat sou die beste manier wees om ’n belangrike boodskap oor te dra indien God werklik een vir die mensdom het? ‘Deur ’n stem uit die hemel’ sê jy moontlik. Dit sou weliswaar ’n voor-die-handliggende metode wees. Maar sou dit die mees praktiese metode wees?

’n Man met baie bestuursondervinding het gesê: “Wanneer ek belangrike informasie wil oordra, doen ek dit nooit mondelings nie. Ek skryf dit altyd neer. So is daar later geen verwarring nie.”

Dit het sin. As God uit die hemele gespreek het, sou dit ongetwyfeld baie dramaties gewees het. Maar as 1 000 000 mense hom gehoor het, sou daar gou 1 000 000 weergawes wees van wat hy gesê het. As hy andersins sy instruksies laat neerskryf het, sou daar later geen twyfel bestaan oor wat sy boodskap was nie.

Maar ’n skriftelike boodskap van God af sal ’n baie spesiale dokument moet wees. Dit sal duidelik goddelike wysheid moet bevat, en dit sal algemeen beskikbaar moet wees, sodat almal wat wil, dit kan lees. Dit sal ook op die een of ander manier die wêreld se talle taalskeidsmure te bowe moet kom.

Bestaan daar ’n dokument wat sê dat dit van God af kom en aan hierdie vereistes voldoen? Ja, daar is een, en slegs een. Dit is die boek met die grootste verspreiding in die geskiedenis, met ’n sirkulasie van duisendmiljoene eksemplare. En dit is nou, in sy geheel of gedeeltelik, in 1 710 tale beskikbaar, sodat amper enige geletterde persoon wat wil, ten minste ’n deel daarvan in sy eie taal kan lees. Watter dokument is dit? Dit is die Bybel.

IS DIT WERKLIK GOD WAT SPREEK?

Hoe reageer jy op daardie verklaring? Dink jy: ‘Ag, tog nie die Bybel nie! Hoe kan God vandag deur so ’n outydse boek spreek?’

Die Bybel is natuurlik oud, want die mensdom is oud, en God spreek al lank tot die mensdom. Maar is dit werklik outyds? Nouliks!

Sou jy sê dat ’n boek wat duisende jare gelede die hedendaagse toestand van die mensdom, die mensdom se vrees vir die toekoms, die gevaar dat dit die hele aarde kan verderf en selfs die bedreiging deur wapens diep in die see en in die buitenste ruimte voorspel het, outyds is? En tog is dit wat die Bybel doen.—Luk. 21:25-28; 2 Tim. 3:15; Openb. 6:3-8; 11:18.

Sou jy, in ’n tydperk wanneer egskeiding en huweliksverbrokkeling epidemiese afmetings aanneem, sê dat ’n boek outyds is as dit die mees geslaagde huweliksraad bevat wat ooit gegee is? Dit is nie gewilde raad by vandag se selfsugtige, egoïstiese geslag nie, maar dit werk. En dit staan in die Bybel.—Ef. 5:21-33.

Dit is vandag in party kringe in die mode om te dink dat die Bybel bloot ’n versameling mites en oorleweringe is. Maar verklaar dit werklik die verskynsel wat die Bybel genoem word? Duisende jare gelede, toe dit saamgestel is, het daar boeke met mites en oorleweringe bestaan. Maar die meeste van hulle het mettertyd vergete geraak. Party is eers onlangs weer deur argeoloë gevind. Waarom het die Bybel voortbestaan en daardie boeke nie?

Gedurende sy lang geskiedenis het die Bybel buitengewone teenstand verduur. Tallose eksemplare is verbrand. Persone wat probeer het om dit vir die gewone man beskikbaar te maak, is doodgemartel. En omtrent 200 jaar lank al word dit voortdurend aan intellektuele aanvalle deur hoër kritici, evolusioniste en moderniste onderwerp. Geen ander boek het nog ooit sulke vyandige behandeling ontvang nie. Die Bybel het egter seëvierend voortbestaan en beïnvloed steeds die lewens van miljoene mense. Waarom? Omdat dit nie bloot ’n boek met mites en volkskunde is nie. Dit is waarlik God se boodskap vir ons.

Een jong ateïs het gesê: “Ek het gemeen dat dit nie saak maak of daar ’n God is of nie, aangesien ek nie kon sien dat hy enigiets vir die mensdom doen nie.” Toe is sy uitgedaag om die Bybel en lektuur te lees wat haar sou help om die boodskap daarvan te verstaan. Die gevolg? “Ek was beïndruk, om die minste te sê, omdat alles . . . so logies was.” Ja, sy het geluister na wat God gesê het, en wat hy sê, het sin.

Teen die einde van die 19de eeu het ’n vermaarde Bybelgeleerde geskryf: “Toe Columbus die Orinoco-rivier ontdek het, het iemand gesê dat hy ’n eiland gevind het. Hy het geantwoord: ‘’n Rivier soos daardie sal nooit van ’n eiland kom nie. Daardie magtige stroom moet die waters van ’n vasteland aflei.’ Net so oortuig die diepte en krag en wysheid en omvang van die Bybel se getuienis om ons dat die almagtige God, en nie die mens nie, die outeur van sy planne en openbarings is.”

Ons nooi jou om self die Bybel te bestudeer. Kyk of jy nie saamstem dat dit inderdaad die gedagtes van God self is nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel