Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 11/15 bl. 13-17
  • ’n Dag in die lewe van ’n sendeling

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Dag in die lewe van ’n sendeling
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ONS DOEL AS SENDELINGE
  • ONS DAAGLIKSE ROETINE
  • VOLDOENDE VOORSIENING
  • KOOKDAG
  • ’N WARE GESINSATMOSFEER
  • IS DIT DIE MOEITE WERD?
  • Sendelinge bevorder wêreldwye uitbreiding
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Sendingywer—’n kenmerk van ware Christene
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • “Die hand van Jehovah was met hulle”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Voltydse bedienaars aan die spits van die predikingswerk
    Jehovah se Getuies—Verenig in die uitvoering van God se wil wêreldwyd
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 11/15 bl. 13-17

’N DAG IN DIE LEWE VAN ’N SENDELING

“WAS dit die halfsewe-klok?”

“Miskien was dit die vyf-voor-sewe-klok en het ons slegs vyf minute om by die ontbyttafel te kom. Ontspan maar, dis nou eers halfsewe. Daar is nog baie tyd.”

Dit is ’n tipiese vroeëmôregesprek tussen my en my kamermaat. Vir ons is halfsewe nog steeds ’n vroeë tyd om op te staan, al doen ons dit reeds jare lank. As Jehovah se Getuies wat in ’n sendinghuis hier in Taipei, Taiwan, woon, vergader ons om sewe-uur saam met medesendelinge vir ’n geestelike bespreking voor ontbyt.

Verskillende lede van ons “gesin” kry beurte om kos te kook, mark toe te gaan, huiswerk te doen en na ander pligte om te sien. Dit sluit die lui van daardie klokke in wat ons help om ons gereed te maak vir maaltye en ander bedrywighede.

ONS DOEL AS SENDELINGE

Wanneer jy die woord “sendeling” hoor, sien jy in jou geestesoog dalk ’n verpleegster in wit geklee, of ’n onderwyser wat ’n klas vol kinders in ’n afgeleë dorpie onderrig. Maar dit is nie die opdrag wat Jesus aan sy volgelinge gegee het nie. Hy het hulle beveel om dissipels te maak (Matt. 28:19, 20). Net soos dit met Jehovah se Getuies op alle ander plekke die geval is, is ons vernaamste werk om vir mense hier in ons buitelandse sendingtoewysing Bybelwaarhede te leer.

As sendelinge wy ons ten minste 140 uur elke maand aan die predikings- en onderrigtingswerk. Om diegene te vind wat graag God se Woord beter wil leer ken, gebruik ons omtrent die helfte van daardie tyd om van huis tot huis te preek en Bybelgesprekke met die mense by hulle deure te voer. Ons gebruik dan die res van die tyd om terug te gaan na diegene wat vantevore belangstelling in die Koninkryksboodskap getoon het en gratis tuis-Bybelstudies te hou by indiwidue en gesinne wat meer wil leer. Deur die stelselmatige studiemetode te gebruik wat Jehovah se Getuies dwarsoor die wêreld gebruik, vind ons dat ons Boeddhiste en ander, wat voorheen niks van die Bybel af geweet het nie, die basiese leerstellings daarvan kan leer. Dit kan van ses maande tot ’n jaar duur, maar wanneer hulle hierdie insig verkry het, is persone in ’n beter posisie om te besluit of hulle Christengetuies van Jehovah wil word of nie.

ONS DAAGLIKSE ROETINE

Ons lewens draai om geestelike dinge. Dit verklaar ons Skriftuurlike bespreking in Mandarynetaal, die amptelike taal van Taiwan, vroeg in die oggend. Hierdie besprekings laat ons dag op ’n opbouende en geloofversterkende wyse begin. Soms verleen dit ook ’n tikkie humor, soos die keer toe ’n nuwerige sendelinge verbouereerd gemaak is deur die gelag van ander terwyl sy oor ’n bepaalde Bybelteks kommentaar gelewer het. Sy kon niks snaaks sien aan haar verklaring dat Jesus ons Hoëpriester is nie. Ten minste, dit is wat sy gedink het sy gesê het. Ongelukkig het ’n klein foutjie haar kommentaar verander in ’n opmerking dat Jesus ons groot hoender is!

Na ontbyt leer ons 15 minute lank hoe om ’n paar nuwe Chinese woorde of uitdrukkings te gebruik. Ons probeer om elke week 20 by te leer. Dit word op ’n skoolbord geskryf en elke oggend probeer ’n Chinese suster wat in ons sendinghuis woon dapper om ons uitspraak te korrigeer. Ons waardeer dit dat sy ons help om ons sinsbou en uitspraak (wat in Chinees tone insluit) te verbeter, want haar pogings help ons om God se Woord beter aan ander te leer.

Daarna verdaag ons met gebed en berei ons ons voor vir die dag se bedrywighede. Die meeste van ons wy soggens twee tot drie uur aan huisbesoeke op mense in ons toegewese gebied. Ja, elke paar sendelinge het ’n deel van die stad waarop hulle moet konsentreer. Ons probeer om belangstellendes te vind en geleidelik in ’n groep lowers van Jehovah op te bou wat mettertyd die kern van ’n nuwe gemeente van Jehovah se Getuies kan word.

Die getuieniswerk word hier op baie dieselfde patroon gedoen as elders in die wêreld. Daar is egter ’n paar verskille. Een verskil is hoe ons by die gebied kom. Ek onthou nog goed dat een van my eerste indrukke van die Ooste was dat dit wemel van mense, mense en nogmaals mense. Ek en my maat ry met busse na en van die gebied. Daar is baie busse, maar hulle is sonder uitsondering propvol. Gedurende spitstye moet ’n mens dit sien om dit te kan glo! Ons weet al net hoe om vinnig op of af te klim. Maar totdat ons geleer het hoe om dit te doen, was dit nie buitengewoon dat ons tasse nog agter toe deure op die bus was terwyl ons die handvatsels styf op die sypaadjie vasgeklou het nie! ’n Hele paar sendelinge verkies klein motorfietse of bromponies aangesien dit ’n geriefliker en goedkoper vorm van vervoer is.

Net soos in die res van die wêreld bejeën die mense ander hier met meer agterdog. Maar die Chinese betoon dikwels hulle tradisionele vriendelikheid wanneer ons by hulle deure aanklop. Ons vind steeds dat ons in die reël ingenooi word en ’n stoel aangebied word, asook tee of water wat so warm is dat ons ons gesprek uitrek totdat dit koel genoeg is om te drink! In Taiwan is dit nie buitengewoon dat mense met bitter min belangstelling in die Bybel ons lektuur neem nie. Ons kan gevolglik baie publikasies by die huise laat, en hierdie lektuur sal dalk gelees word deur persone wat meer daarin belangstel as diegene wat aanvanklik na ons geluister het.

Wanneer ons herbesoeke by die mense doen, vind ons dat baie, met inbegrip van Boeddhiste en persone wat die filosofie van Confucius aanhang, bereid is om verdere gesprekke met ons te voer en selfs tot gereelde weeklikse Bybelstudies instem. Ek kan dus gewoonlik 10 of meer Bybelstudies per week hou, en dit is net die gebrek aan tyd wat verhoed dat ek meer hou. Baie van hierdie mense woon ons vergaderinge sommer uit die staanspoor by, sodat daar 20 tot 50 meer mense teenwoordig is as wat daar Getuies in die gebied is.

VOLDOENDE VOORSIENING

As sendelinge word ons goed versorg. Die Wagtoringgenootskap besef dat sendelinge in die buiteland nie so maklik vir hulleself kan sorg as wat hulle in hulle tuisland sou kon doen nie. Trouens, in baie lande bepaal regerings dat sendelinge nie sekulêre werk mag doen nie. Reëlings is dus getref sodat daar in ons materiële behoeftes voorsien word. Ons ontvang nie ’n salaris nie, maar die Genootskap huur of koop ’n geskikte huis vir die groep sendelinge wat in ’n stad sal werk. In die meeste gevalle in Taiwan beteken dit dat tussen vier en agt persone in ’n sendinghuis sal woon. Maar omdat ek en my maat in die sendinghuis woon wat ook die Genootskap se takkantoor huisves, woon daar soms tot 18 persone in die huis.

’n Bedrag word voorsien om die sendelinge in staat te stel om kos te koop en vir die huur, nutsdienste, ensovoorts te betaal. Daarbenewens ontvang ons ’n klein persoonlike toelae wat ons in staat stel om dinge te koop wat ons van dag tot dag nodig het. In Taiwan is hierdie bedrag gelyk aan omtrent R8 per maand. Ons ontvang ook ’n toelae om ons vervoerkoste te help dek, en die Genootskap gee ons ’n beskeie persoonlike-uitgawerekening om ons te help om die nodige klere te koop, by byeenkomste te kom en dies meer. Ons is baie dankbaar dat ons ons nie oor materiële dinge hoef te bekommer nie, maar ons tyd en al ons aandag aan ons werk as sendelinge kan wy.

Omdat ons weet dat al hierdie voorsienings moontlik gemaak word deur die liefdevolle bydraes van ons medegelowiges wat nie self sendingwerk in die buiteland kan doen nie, probeer ons om ons waardering op twee basiese maniere te toon. Eerstens, ons probeer om ons sendingwerk so doeltreffend moontlik te maak. Tweedens, ons beskou die geld as die eiendom van die Here en probeer dus om dit verstandig te bestee. Kookdag bied ’n mens die geleentheid om juis dit te doen.

KOOKDAG

Ons ontvang elkeen die toewysing om die maaltye op ’n sekere dag voor te berei—ons noem dit kookdag.

Nadat almal ontbyt genuttig het en die skottelgoed gewas is, gaan ons mark toe. Soggens het die twee markte naby ons huis ’n verstommende voorraad vars groente, vleis, vis en vrugte. Chinese verkopers hou daarvan om te onderhandel, en dit kan aangenaam wees en ’n mens sommer ook in staat stel om te bespaar. Ons weet al net wat om te betaal en hoe om artikels volgens die seisoen te koop, sodat ons die deel van die huisgeld wat op ons kookdag aan ons toevertrou word, verstandig kan bestee.

Ons het al op baie groente en vrugte afgekom wat ons nog nooit tevore gesien het nie. Dit is te begrype dat ons effens versigtig is om dit te koop omdat ons nie weet hoe om dit voor te berei nie. Maar ons laat die saak nie daar nie. Wanneer ons navraag doen, vertel die verkoper met graagte vir ons hoe hy of sy die item voorberei. Ons het gevolglik geleer om nuwe groentesoorte soos patatblare en ’n plant met ’n klein, groen, driehoekige stam met ’n knoppie boaan en met ’n effense knoffelgeur te geniet. Omdat ons geleer het om plaaslike kosse te eet, eet ons goed sonder om enige van die Here se voorsienings te verkwis.

Met al die lewende hoenders, lewende visse, vars vark en bees vleis en al die vars groente op die tafels, verskil die atmosfeer en aroma van die mark van die waaraan ons in ander lande gewoond is. Dit het byvoorbeeld al my selfbeheersing geverg om die uitroep te smoor wat wou uitkom toe ek die eerste keer gesien het hoe ’n verkoper ’n mes vat en die keel van ’n hoender afsny wat ’n klant sorgvuldig uitgesoek het!

Benewens die mark oor die algemeen, is dit nie buitengewoon om te sien hoedat die verkeer in die strate en stegies amper versper word deur klere, materiaal en snuisterye wat uitgestal word nie. As ons sorg dat ons nuuskierigheid nie die oorhand kry nie, kan ons gou ons inkopies doen en huis toe gaan om met die voorbereiding van die middagmaal, wat in ons huis die hoofmaal is, te begin. Ons het saans ’n kafeteria-ete sodat dit makliker is vir diegene wat smiddae en saans Bybelstudies hou. Dit gee ons ook op ons kookdae die kans om huiswerk te doen, ons klere te was en ander voorbereidings te tref vir ons bedrywigheid gedurende die volgende sewe dae.

’N WARE GESINSATMOSFEER

Alhoewel ons gesin groter as die meeste sendelinggesinne in Taiwan is, geniet ons ’n regte gesinsatmosfeer. Ons het byvoorbeeld ons eie gesinstudie op Maandagaande. Ons bestudeer die Bybel eers ’n uur lank aan die hand van Die Wagtoring. Dan bestudeer ons ’n deel van een van die Genootskap se jongste boeke, sodat ons tred kan hou met al die jongste inligting selfs al is party van hierdie publikasies nie in Chinees beskikbaar nie. Aan die ontbyttafel lees ons ondervindings en verslae uit die Yearbook of Jehovah’s Witnesses en materiaal uit Ons Koninkryksdiens (Chinees) wat ons daardie week tydens ’n gemeentelike vergadering sal behandel. Nou en dan het ons informele gesellighede of gaan ons as ’n groep piekniek hou. Al hierdie dinge laat ons meer soos ’n gesin voel.

IS DIT DIE MOEITE WERD?

Party lesers dink moontlik dat die stryd om ’n nuwe taal te leer sendinglewe so ’n groot las sal maak dat dit nie die moeite werd is nie. Maar ek stem nie saam nie, selfs al was dit nie vir my maklik om Chinees te leer nie. Die wete dat daar ’n groot behoefte aan die “evangelie” in ons gebied bestaan, is byvoorbeeld altyd vir my ’n groot aansporing. Selfs al het die aantal Getuies in Taipei verdriedubbel in die tyd dat ek hier is, kan ons ons gebied nie eens een keer per jaar dek nie! Persone wat na geregtigheid honger, herken keer op keer die klank van die waarheid, selfs al hoor hulle dit van ’n sendeling met gebrekkige taalkennis. Beskou hierdie ondervinding wat een van my medesendelinge ’n paar jaar gelede gehad het.

Sy was slegs drie maande in Taiwan en was nog besig om Chinees te leer toe sy ’n jong universiteitstudente uit ’n Boeddhistegesin ontmoet het. Hierdie meisie se lewe was vol tragiese gebeure, onder meer die dood van twee gesinslede. Sy het verskeie kere tevergeefs probeer om troos in kerke van die Christendom te vind en het getwyfel of hierdie nuwe sendelinge haar kon help.

Die jong vrou is uit die staanspoor beïndruk deur die sendelinge se vermoë om die Bybel te gebruik om haar vrae te beantwoord, ondanks haar gebrekkige kennis van die taal. Sy het kort daarna begin om vergaderinge by te woon en vinnig vordering gemaak. Na nege maande van Bybelstudie was sy bly om ’n toegewyde, gedoopte Getuie van Jehovah te word. Al was hierdie vrou ’n voltydse onderwyseres, het sy etlike jare lank elke maand hulppionierdiens gedoen en 60 uur per maand aan die Koninkrykspredikingswerk gewy. Sy het nou uit haar werk bedank en ’n lid van die Bethelgesin in Taipei geword. Talle soortgelyke ondervindings kan verhaal word om te toon dat dit waarlik die moeite werd is om ’n sendeling in ’n ander land te wees.

Elke regskape persoon geniet dit om goeie dinge met ander te deel, en dit is wat Jehovah se Getuies aanspoor om so ywerig in hulle predikings- en onderrigtingswerk te wees, ongeag waar hulle hulle bevind. Maar dit is vir my ’n groot voorreg om te dien in ’n land waar miljoene nog nooit die Bybel gesien het nie. Hoeveel vreugde verskaf dit tog om mense te help om ’n kennis te verkry van die wonderlike hoop wat in God se Woord uiteengesit word! Alhoewel ons sendelinge nie ’n salaris ontvang nie, het ons groter beloninge. Dit sluit hegte vriendskap met talle Oosterlinge in wat hulle, weens die ywerige werk van sendelinge uit ander lande, van die tevergeefse aanbidding van afgode bekeer het om die lewende God Jehovah te dien. Ons het self die groot seëninge ontvang wat voortspruit uit volkome vertroue op Jehovah en sy sigbare organisasie wanneer ’n mens jou vir sendingwerk in die buiteland aanbied.

Al is ek en my kamermaat nie uit eie keuse persone wat graag vroeg opstaan nie, is ons bly dat iemand elke oggend die klok om 6:30 lui. Dit laat ons vroeg ontwaak tot ’n dag wat ons weet vol interessante en nuttige sendingwerk sal wees.

[Prent op bladsy 14]

Die dinge wat ons tydens ons taalstudie vroeg in die oggend geleer het. Word later in Koninkryksdiens toegepas

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel