Die meerderheid is ten gunste van “’n onsedelike gebruik”
Toe die lidmate van ’n Grieks-Ortodokse Kerk in Schenectady, New York, met 43 stemme teen 13 gestem het vir bingo by die kerk, het die plaaslike priester dit teengestaan en gesê: “Ek meen nie dat die kerk enige vorm van dobbelary moet begin gebruik om voort te bestaan nie.” Hy het dus bedank en as rede aangevoer: “Ek twyfel nie daaraan dat ons saal stampvol sal wees vir bingo nie. Dit is nie stampvol vir ’n lesing of preek nie. As ek ’n kerk het en 30 mense soontoe kom vir aanbidding en 500 kom om bingo te speel, waarom is daar dan ’n kerk? Dit is net ’n sosiale klub.”
Die bedanking het die aartsbiskop in die stad New York ’n sterk bewoorde brief aan die plaaslike kerkraad laat skryf. “Ons raai en spoor julle vaderlik aan om nie bingo in julle gemeente te begin speel nie”, het die brief gesê. “Dit is ’n onsedelike gebruik.” Wat was die raad se reaksie? “Die aartsbisdom kyk anderpad. Hulle sê dat jy dit nie moet doen nie, maar die kerke doen dit.” Die feit is dat omtrent 50 uit die 500 Grieks-Ortodokse gemeentes in die Verenigde State die “onsedelike gebruik” het.