Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 11/1 bl. 25-30
  • Dien Jehovah “skouer aan skouer”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Dien Jehovah “skouer aan skouer”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “’N VERWOESTING”
  • “WEE . . . DIE VERDRUKKENDE STAD”
  • HOE OM DAARAAN TE ONTKOM
  • ’N TYD VIR VREUGDEVOLLE BEDRYWIGHEID
  • Jehovah se herstelde volk loof hom wêreldwyd
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Bybelboek nommer 36—Sefanja
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Versteek op die dag van Jehovah se toorn
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • “Laat jou hande nie slap hang nie”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 11/1 bl. 25-30

Dien Jehovah “skouer aan skouer”

“Dan sal ek die volke ’n suiwer taal laat spreek sodat hulle almal die naam van Jehovah kan aanroep, ten einde hom skouer aan skouer te dien.”—Sef. 3:9, NW.

1. Watter versekering word ons oor Jehovah se profetiese woord gebied?

JEHOVAH se profetiese woord word altyd sekuur vervul. Hyself deel ons mee: “So sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur” (Jes. 55:11). Dit is presies wat gebeur het met so baie van die besonderhede van Sefanja se groot profesie.

2. (a) Na watter volke word daar in Sefanja 2:4-8 verwys? (b) Hoe sou ’n besoek aan daardie lande vandag die juistheid van die profesie bevestig?

2 Sefanja teken byvoorbeeld een na die ander Jehovah se uitsprake van ondergang teen die stede van Filistea, die nasie van die Kretiërs, die land van die Filistyne en Moab en Ammon aan (Sef. 2:4-8). Al daardie profesieë is gedurende die daaropvolgende jare en eeue op merkwaardige wyse vervul. Waar is die nasie van Filistea met sy stede vandag, en waar is die afhanklike Kretiërs? Hulle bestaan nie meer nie. Wat van Moab en Ammon? Die profesie sê:

“So waar as Ek leef, spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Moab sal word soos Sodom en die kinders van Ammon soos Gomorra—’n veld van brandnekels en soutpanne en ’n verwoesting vir ewig” (Sef. 2:9).

Wat vind jy as jy vandag deur die gebiede oorkant die Jordaan reis waar die trotse nasies van Moab en Ammon eens gedy het? Verwoesting—net soos Jehovah voorspel het! Die geskiedenis toon dat ook Ethiopië (Kus) en Egipte gely het weens die toedoen van die Babiloniese invallers.—Sef. 2:12.

“’N VERWOESTING”

3, 4. (a) Wat was Jehovah se uitspraak omtrent Assirië en Nineve? (b) Waarom het dit ongelooflik geklink? (c) Watter getuienis is daar dat die profesie sekuur vervul is?

3 Die vervulling van Jehovah se uitspraak oor Assirië en Nineve is uiters verbasend. Sefanja het geprofeteer toe Assirië se trotse hoofstad, Nineve, sy bloeityd beleef het, ten minste 15 jaar voordat daardie nasie sy posisie as die tweede wêreldmoondheid van Bybelgeskiedenis ontneem is. Wie kon hom so iets voorstel? Maar Jehovah was gekant teen daardie nasionalistiese “bloedstad” (Nah. 3:1, 5). Deur Sefanja het Jehovah gesê dat hy met hom gaan afreken:

“Dan sal Hy sy hand uitstrek teen die noorde, en Hy sal Assur vernietig en Nineve tot ’n verwoesting maak, dor soos die woestyn. . . . Dit is die uitgelate stad wat so veilig gewoon het, wat in sy hart gesê het: Dit is ek, en niemand anders nie! Hoe het dit ’n verwoesting geword, ’n lêplek vir wilde diere! Almal wat daar verbytrek, spot, skud met die hand.”—Sef. 2:13-15

4 ‘Onmoontlik!’ sou mense van daardie dag gesê het. Maar daardie selfde geslag het dit gesien! In 633 v.G.J. het Nabopolassar van Babilon en Cyaxares die Meder Nineve beleër en ingeneem. Die Babiloniese Kronieke deel ons mee: “Die groot buit van die stad en die tempel het hulle weggevoer en die stad in ’n puinhoop verander.” Nineve is so deeglik vernietig dat die ligging daarvan eeue lank onbekend was. In die negentiende eeu is dit weer ontdek, en is die beroemde biblioteek van Assurbanipal II oopgegrawe. Maar die gebied is tot vandag toe ’n dorre woesteny waar troppe vee nou en dan rus. Hoe akkuraat is Jehovah se profetiese woord tog vervul!

5. Watter kragtige boodskap bevat hierdie profesie vir ons dag?

5 Maar van die allergrootste belang is die feit dat daardie profetiese verslag ’n boodskap vir vandag bevat. Dit dien as “’n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Kor. 10:11, 12; Rom. 15:4; 2 Tim. 3:16, 17). Dit spoor ons aan om die hoogmoed, die gemaksugtige najaging van genot, die materialistiese denke en gewelddadige gesindhede te vermy wat meegebring het dat daardie nasies hulle God se oordeel op die hals gehaal het. En ons moet onthou dat daardie profesieë vandag baie lewend is en dat hulle kritieke vervulling vinnig naderkom. Jehovah, die lewende God, het hulle nie bloot as ’n geskiedkundige verslag tot vandag toe bewaar nie. Daardie eertydse nasies het hulle hedendaagse teenbeeld, veral in die Assirië-agtige polities-militêre moondhede wat hulle op hulle wapens beroem. Jehovah sal beslis wraak neem op al sulke teenstanders van sy koninkryk.—Nah. 1:2; Sef. 1:2, 9.

“WEE . . . DIE VERDRUKKENDE STAD”

6. Watter vraag word nou gestel, en waarom is dit pertinent?

6 Hedendaagse totalitêre, outoritêre regerings kom baie ooreen met wrede Nineve van die magtige Assiriese Ryk. Maar Jehovah toon duidelik dat daar ’n deel van die huidige wêreldstelsel is wat selfs laakbaarder in sy oë is. Wat is dit?

7. (a) Watter “verdrukkende stad” kom met eertydse Jerusalem ooreen, en in watter opsigte? (b) Hoe het dit geweier om tugtiging aan te neem?

7 Dit is daardie deel van die wêreld wat beweer dat dit God se volk is, net soos Juda en Jerusalem dit in Sefanja se dag beweer het. Dit bely dat dit “Christelik” is, en staan algemeen as “die Christendom” bekend. Maar die geestelikes daarvan het afvallig geword van die reine leerstellings van God se Woord, die Bybel, en die nasies en volke daarvan het opgehou om te lewe volgens die voortreflike morele standaarde wat in daardie Woord uiteengesit word. Sefanja profeteer dus nou teen daardie Godonterende “stad” en sê:

“Wee die opstandige en die besoedelde, die verdrukkende stad. Dit luister na geen stem nie, dit neem geen tugtiging aan nie; op die HERE vertrou dit nie, tot sy God kom dit nie nader nie.”

Jehovah het sy getuies dwarsdeur die valse Christendom gestuur om in sy stede en dorpe van huis tot huis te preek. “Elke more” het hy sy oordele bekendgemaak. “By daglig” is sy regverdige vereistes verduidelik. Maar die Christendom se leiers en geestelikes was en is “ligsinnig” en “ken geen skaamte” in die wyse waarop hulle hierdie boodskappers van die regverdige Jehovah en sy koninkryk teengestaan het nie.—Sef. 3:15, vgl. NW.

8, 9. (a) Watter verklaring het Jehovah nou self gemaak? (b) Wie word almal daardeur geraak? (c) Waarom moet ons daarvoor dankbaar wees?

8 Ter ondersteuning van sy getroue profeet voer die Soewereine Heer Jehovah nou die doemvonnis verder en brei hy dit uit om al die nasies in te sluit. Hy voer dit tot ’n hoogtepunt met hierdie woorde:

“Daarom, verwag My, spreek die HERE, op die dag wat Ek My gereed maak vir die buit; want dit is my strafoordeel om nasies te versamel, koninkryke te vergader om my grimmigheid oor hulle uit te stort, al die gloed van my toorn. Want die ganse aarde sal deur die vuur van my ywer verteer word!”—Sef. 3:6-8.

9 Die voltrekking van Jehovah se oordeel eindig dus nie met die vernietiging van die valse Christendom, wie se godsdiens saam met die res van die wêreldryk van valse godsdiens, wat in die Bybel “Babilon die Grote” genoem word, moet vergaan nie (Openb. 18:2-4, NW). Die dag van sy ‘toorngloed’ en van “die vuur van [sy] ywer” sal alle goddeloosheid van die aarde af wegneem. (Kyk ook Jesaja 34:2-8; Jeremia 25:32, 33.) Hoe dankbaar kan ons tog wees dat hierdie grootste verdrukking van alle tye volgens Jesus se getuienis in Mattheus 24:21 die laaste sal wees! Dit sal Jehovah se voorneme volbring deur ’n “volslae verdelging”, soos die van eertydse Nineve, te veroorsaak. “Die benoudheid sal nie twee maal kom nie.”—Nah. 1:9, vgl. NW; Dan. 12:1; Openb. 19:11-21.

HOE OM DAARAAN TE ONTKOM

10. Watter ‘onsuiwer taal’ word nou in die wêreld gepraat?

10 Is daar ’n manier om hierdie wêreldramp te oorleef? Ja! In die daaropvolgende woorde van die profesie toon Jehovah God self wat daardie manier is. Hy sê:

“Dan sal ek die volke ’n suiwer taal laat spreek sodat hulle almal die naam van Jehovah kan aanroep, ten einde hom skouer aan skouer te dien” (Sef. 3:9, NW).

Ongeag watter van die honderde volkstale die wêreldlike nasies gebruik, hulle maak propaganda in ’n “taal” wat vir Jehovah verfoeilik is. In plaas van God se koninkryk verhef hulle hulle eie nasionalistiese programme en probeer hulle om ’n verdeelde V.V.O. vir selfsugtige politieke doeleindes te gebruik. Hulle verwerp Jehovah se koninkryk in die hande van Christus Jesus.

11. (a) Watter “suiwer taal” word vandag gehoor? (b) Hoe omvattend word hierdie “taal” gepraat? (c) Hoe roep diegene wat dit praat ‘die naam van Jehovah aan’, en met watter gevolg?

11 Wat is dan hierdie “suiwer taal” wat hulle begin praat? Dit is die boodskap van waarheid, die verkwikkende “evangelie” of “goeie nuus”, die “voorbeeld van gesonde woorde”, wat Jehovah en sy regverdige voornemens deur Christus Jesus loof (2 Tim. 1:13). Hierdie “suiwer taal” verenig hulle. En dit getuig dat “die koninkryk van die wêreld” in 1914, die jaar wat ’n nuwe tydvak ingelui het, “die koninkryk van onse Heer en van sy Christus geword [het], en hy sal as koning regeer tot in alle ewigheid” (Openb. 11:15, NW). Met hierdie boodskap op hulle lippe roep toegewyde, ware Christene dwarsoor die wêreld ‘Jehovah se naam aan’ deur harmonies vir hom “heilige diens” te verrig. As die enigste waarlik verenigde volk op aarde gaan hulle na die huise van die mense om die “evangelie” van Jehovah se opgerigte koninkryk te verkondig. Sodoende dien hulle Jehovah “skouer aan skouer” (Matt. 24:14; Rom. 12:1, NW). Het jy jou van die wêreld afgeskei om God ywerig te dien as ’n persoon wat aan Hom toegewy is? Dit is deur aldus met Jehovah se georganiseerde volk saam te werk dat jy ‘gered sal word’.—Joël 2:32; kyk ook Hosea 14:2, 3; Hebreërs 13:15.

12, 13. (a) Watter probleme kan ’n mens ondervind wanneer jy hierdie “taal” leer? (b) Waarom is ootmoedigheid nodig om “skouer aan skouer” te kan dien? (c) Hoe kan ons ootmoedigheid aankweek?

12 Dit was vir party moeilik om die “suiwer taal” aan te leer. Dit is nie maklik om uit die wêreld met sy gemaksugtige, permissiewe weë te kom en om die opofferings te maak wat nodig is om ‘die naam van Jehovah aan te roep’ nie. Dit vereis dat ons ontslae raak van verkeerde gedagtes, slegte gewoontes en ’n selfsugtige, losbandige lewenswyse sodat ons ons kan skik na die rein, verdienstelike standaarde van God se volk (Ef. 4:17, 18, 29; 1 Pet. 4:3). Dit vereis dat ons behoorlike erkenning verleen aan die een organisasie wat Jehovah vandag op die aarde gebruik, iets wat ons doen deur met die “getroue en verstandige dienskneg” te assosieer. Dit vereis ootmoedigheid sodat ons God se Woord noukeurig met behulp van daardie “dienskneg” se publikasies kan “ondersoek”, ten einde ons geloof te versterk.—Matt. 24:45; Hand. 17:11.

13 Om Jehovah “skouer aan skouer” te dien, moet ons ootmoedigheid aankweek, soos Sefanja so dikwels beklemtoon het. Laat ons, wanneer ons net soos alle onvolmaakte mense foute maak, bereid wees om dit te erken, net soos die “getroue en verstandige dienskneg”, wat uit onvolmaakte, vleeslike mense bestaan, hulself al moes korrigeer. Maar laat ons nooit krities staan teenoor die wonderlike versameling waarhede wat Jehovah oor die afgelope 100 jaar onder sy verenigde volk opgebou het en wat, deur korreksie en wysiging, steeds helderder op “die pad van die regverdiges” skyn nie.—Spr. 4:18.

14. (a) Watter gesindheid is die teenoorgestelde van ootmoedigheid, en hoe word dit aan die dag gelê? (b) Hoe tree sulke hoogmoediges op, en op watter waarskuwings moet ons ag slaan? (c) Waar sal ons vind dat daar ‘niks ontbreek nie’?

14 Van tyd tot tyd was daar onder die geledere van Jehovah se volk persone wat net soos die oorspronklike Satan ’n eiesinnige, kritiese houding aangeneem het. Hulle wil nie “skouer aan skouer” saam met die wêreldwye broederskap dien nie. (Vergelyk Efesiërs 2:19-22.) Hulle bied Jehovah se woorde eerder ’n ‘wederstrewige skouer’ (Sag. 7:11, 12). Deur die patroon van die “suiwer taal” wat Jehovah so goedgunstiglik oor die afgelope eeu aan sy volk geleer het te beskimp, probeer hierdie hoogmoediges om die “skape” afvallig te maak van die een internasionale “kudde” wat Jesus op aarde versamel het (Joh. 10:7-10, 16). Hulle probeer om twyfel te saai en niksvermoedende persone weg te kry van die oorvloedige “tafel” geestelike voedsel wat by die Koninkryksale van Jehovah se Getuies berei is en waar daar waarlik ‘niks ontbreek’ nie (Ps. 23:1-6). Hulle sê dat dit voldoende is om net die Bybel te lees, hetsy alleen of in klein groepies by die huis. Maar vreemd genoeg, as gevolg van sulke ‘Skriflesing’ het hulle teruggekeer na die afvallige leerstellings wat die handleidings van die Christendom se geestelikes 100 jaar gelede geleer het, en party het selfs begin om weer die valse Christendom se feeste, soos die Romeinse Saturnalieë op 25 Desember, te vier! Jesus en sy apostels het teen sulke wettelose persone gewaarsku.—Matt. 24:11-13; Hand. 20:28-30; 2 Pet. 2:1, 22.

15. (a) Hoe tree Jehovah op teenoor ‘hoogmoediges’? (b) Hoe word die “nederige en geringe volk” geïdentifiseer? (c) Watter versekering bied Jehovah hulle?

15 Deur sy profeet Sefanja vertel Jehovah vir Sy volk hoedat Hy ontslae gaan raak van diegene wat skaamteloos probeer om tweedrag in Sy aardse organisasie te saai. Hy sê:

10. Watter ‘onsuiwer taal’ word nou in die wêreld gepraat?

“Dan sal Ek uit jou midde wegruim die wat in jou oormoedig jubel, en jy sal jou nooit hoogmoedig gedra op my heilige berg nie.”

15. (a) Hoe tree Jehovah op teenoor ‘hoogmoediges’? (b) Hoe word die “nederige en geringe volk” geïdentifiseer? (c) Watter versekering bied Jehovah hulle?

In blye teens telling hiermee sê Jehovah:

“Ek sal tussen jou in laat oorbly ’n ellendige [nederige, NW] en geringe volk wat by die Naam van [Jehovah] skuiling soek” (Sef. 3:11, 12).

Ja, dit is die ootmoediges wat “skouer aan skouer” werk terwyl hulle deelneem aan “die heilige werk van die goeie nuus” (Rom. 15:15, 16, NW). Hulle is nie te trots om die nederige werk te doen om van huis tot huis te gaan volgens die patroon wat Jesus se dissipels by die Heer geleer het nie (Matt. 10:5-13; Luk. 9:2-6; Hand. 5:42). Omdat hulle by die naam van Jehovah skuiling soek, verkondig hulle daardie glorieryke naam en sy voorneme om dit deur die seëvierende koninkryk van sy Christus te regverdig (Eseg. 38:23; Dan. 2:44). Terwyl Jehovah se volk volgens sy geregtigheid dien en lewe, is hulle vol vertroue dat ‘niemand hulle sal verskrik nie’ (Sef. 3:13). Hulle geniet ware gemoedsrus!

’N TYD VIR VREUGDEVOLLE BEDRYWIGHEID

16. (a) Hoe spreek Sefanja sy eie blydskap uit? (b) Aan watter profetiese beroep word daar vandag gehoor gegee, en deur wie?

16 Sefanja self word verbly deur hierdie versekering van Jehovah, sodat hy ’n beroep op God se volk doen en sê:

“Jubel, o dogter van Sion, juig, o Israel! Verheug jou en jubel van ganser harte, o dogter van Jerusalem! Die HERE het jou oordele opgehef, jou vyand weggeveeg; die koning van Israel, die HERE is by jou, jy sal geen kwaad meer vrees nie” (Sef. 3:14, 15).

Sedert 1919, toe hulle uit geestelike gevangenskap aan Babilon die Grote bevry is, dien die gesalfde getuies van Jehovah hom “skouer aan skouer” deur vreugdevol in die openbaar te getuig. Jehovah het hierdie kinders van die hemelse Jerusalem geoordeel en goedgekeur (Gal. 4:26; 1 Pet. 4:17). Tronke en slawe-arbeidskampe kon nie weer geestelike gevangenes van hulle maak nie. Hulle blydskap word nou gedeel deur ’n “groot menigte” mede-Getuies wat sedert 1935 as die Heer se “ander skape” geïdentifiseer word.—Joh. 10:16; Openb. 7:9, 10.

17. (a) Watter versekering help Jehovah se volk om in “heilige diens” te volhard? (b) Hoe “swyg” Jehovah terwyl hy nogtans “juig . . . met gejubel”, en hoe moet ons reageer?

17 Jehovah self doen nou ’n beroep regstreeks op sy gesalfdes, wat die hemelse Sion verteenwoordig, en deur hulle op hulle medewerkers, die “groot menigte”:

“Vrees nie, o Sion, laat jou hande nie slap hang nie!” (Sef. 3:16).

Al is misdadigheid en geweld vandag verskriklik, al word die uitdagings van die kerneeu ook hoe vreeswekkend, al is die vervolging wat Jehovah se Getuies nog moet verduur ook hoe wreed, hulle intieme verhouding met Jehovah en vertroue op hulle God sal hulle onderskraag. Mag ons nooit, noudat ons ons hand aan die ploeg van “heilige diens” geslaan het, agtertoe kyk en ophou om “skouer aan skouer” vorentoe te ploeg nie! (Luk. 9:62; Openb. 7:15, NW). Want nou bied die profesie hierdie verdere goddelike versekering:

“Die HERE jou God is by jou, ’n held wat verlossing skenk. Hy verheug Hom oor jou met blydskap; Hy swyg in sy liefde; Hy juig oor jou met gejubel” (Sef. 3:17).

Jehovah “swyg” daar hy rus vind en verkwik word deur liefde aan sy herwonne, herstelde volk te bewys. En groot is sy vreugde en blydskap oor hulle onkreukbaarheid en ywer in sy diens. In hierdie “laaste dae” moet ons baie na aan ons lewende God, Jehovah, voel terwyl ons in sy diens verenig skouer aan die wiel sit.—2 Tim. 3:1.

18. (a) Hoe is Jehovah se volk sedert 1919 “’n roem en . . . ’n lof” gemaak? (b) Hoe kan ons ten behoewe van nog duisende ander “skouer aan skouer” dien?

18 Sedert 1919 is dit ’n wonderlike dag van herstelling vir God se hele volk. As getroue getuies het hulle voortgegaan om met sendingywer te preek, sodat Jehovah se organisasie tot aan die eindes van die aarde uitgebrei het (Rom. 10:10, 18). Dit was voorwaar ’n tyd om God se volk aan te bring, om hulle te versamel. En met watter doel? Jehovah self antwoord:

“Ek maak julle tot ’n roem en tot ’n lof onder al die volke van die aarde” (Sef. 3:20).

Gelukkig het die gesalfde oorblyfsel van God se volk “’n roem en . . . ’n lof” geword deurdat hulle die kosbare naam van die Soewereine Heer Jehovah hooggehou het, en nou werk baie van daardie “volke van die aarde” “skouer aan skouer” saam met hulle om sy Koninkryksvoornemens bekend te maak. Die feit dat ons die “suiwer taal” aangeleer het en voortgaan om daardie “evangelie van die koninkryk” te verkondig, sal nog duisende ander help om ‘die naam van Jehovah aan te roep’ sodat hulle ook deur ‘Jehovah versteek’ kan word op die dag van sy toorn en moedig kan voortkom om hom tot in alle ewigheid te loof.

[Lokteks op bladsy 30]

“Wie ag gee op die Woord, sal die goeie vind; en hy wat op die HERE vertrou, is gelukkig.”—Spr. 16:20.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel