Versteek op die dag van Jehovah se toorn
“Soek [Jehovah], . . . Soek geregtigheid, soek ootmoedigheid—miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van [Jehovah].”—Sef. 2:3.
1. Van watter belang is Sefanja se naam en profesie vandag?
‘Versteek deur Jehovah’—dit is die gedagte agter die naam van God se profeet Sefanja, wie se naam beteken “Jehovah het verberg”. Is dit jou begeerte om deur Jehovah versteek te word? Dit behoort te wees, want die wêreld van vandag sink al hoe dieper weg in benoudheid en wanhoop. Die regverdige God, Jehovah, sal nie sulke toestande veel langer duld nie. Sy dag, Armageddon, is ophande. Ons behoort almal baie belang te stel in Sefanja se profesie, want dit het baie te sê oor daardie dag van beslissing. Dit toon hoe ons die toevlugsoord kan vind om deur ‘Jehovah versteek’ te word.
2. Waarom is die profesie se impak allesbehalwe klein?
2 Sefanja het geprofeteer gedurende die vroeë deel van koning Josia van Juda se bewind, wat omstreeks 659 v.G.J. begin het, en gevolglik omtrent 50 jaar voordat Jehovah Juda en Jerusalem verwoes het. Omdat Sefanja se profesie so kort is, verwys mense dikwels daarna as een van die “Klein Profete”, maar die impak van sy profesie is allesbehalwe klein. In Sefanja se dag het dit ’n goddelike boodskap bevat wat nie geïgnoreer kon word nie. Dit reik eweneens reg tot in ons 20ste eeu met ’n dinamiese waarskuwing waarop almal wat hoop om gedurende die naderende dag van Jehovah se gloeiende toorn bewaar te word, ag moet slaan. Dit is deel van Jehovah se kragtige “profetiese woord” wat die apostel Petrus vergelyk met “’n lamp wat in ’n donker plek skyn”.—2 Pet. 1:19; kyk ook Romeine 15:4.
3. (a) Hoe het Sefanja se profeteerdery dadelik voordele meegebring? (b) Waarom kon dit nie blywend wees nie?
3 Sefanja was skynbaar die agter-agterkleinkind van getroue koning Hiskia. As ’n profeet wat verwant was aan die koningshuis, sou hy voorwaar moedig moes wees om Jehovah se gloeiende oordele aan die vorste van Juda te verkondig (Sef. 1:1, 8). Sy profeteerdery het klaarblyklik goeie vrugte afgewerp in die dae van jong koning Josia, wat die land van valse godsdiens gesuiwer het en bekend geraak het vir “vrome dade, volgens wat geskrywe is in die wet van die HERE” (2 Kron. 34:3, 14, 19, 33; 35:26). Die voltrekking van Jehovah se oordeel is gevolglik tydelik uitgestel. Maar Josia se regverdige handelwyse het nie ’n einde gemaak aan die goddeloosheid wat sy volk verswelg het nie, en dit het ook nie versoening gedoen vir die sondes van sy grootvader Manasse, wat “Jerusalem met onskuldige bloed gevul het” nie (2 Kon. 24:3, 4). Jehovah se dag van afrekening was ophande!
“DIE UITSPRAAK VAN JEHOVAH”
4. (a) Met watter beslissende uitspraak begin die profesie? (b) Wat identifiseer dit as die oorsaak van Juda se probleme, en hoe?
4 Deur Sefanja het Jehovah dit duidelik gestel dat hy ’n einde aan goddeloosheid sou maak. Die profesie open met die woorde:
“Saamskraap, wegraap sal Ek alles van die aardbodem af weg, spreek die HERE [is die uitspraak van Jehovah, NW].”
Dit sou ’n uitwissing, ’n verdelging wees van alles wat in Jehovah se oë verfoeilik is. Hierdie “uitspraak” het sonder enige omhaal getoon wat die oorsaak van Juda se probleme was—valse godsdiens! Want Jehovah het voorts gesê:
“Ek sal my hand uitstrek teen Juda en teen al die inwoners van Jerusalem; Ek sal ook uit hierdie plek uitroei wat van Baäl oorgebly het, die naam van die afgodsdienaars saam met die priesters; en die wat op die dakke die leër van die hemel aanbid; en die aanbidders wat by die HERE sweer en sweer by Milkom. Ook die wat van die HERE afvallig word en wat die HERE nie soek en Hom nie raadpleeg nie.”—Sef. 1:2-6.
5. (a) Waarom het Baälaanbidding geen regmatige plek onder Jehovah se volk gehad nie? (b) Watter verfoeilike gebruike het dit ingesluit?
5 Hoe goddeloos tog! Daardie Judeërs het die reine aanbidding van Jehovah verlaat om die Baälaanbidding van omliggende nasies te beoefen. Baälaanbidding—met sy menseoffers, sy rituele prostitusie, sy aanbidding van stom afgode en sy formalistiese gebede om materiële voorspoed—het geen regmatige plek onder Jehovah se aanbidders gehad nie (Num. 25:1-5; Jer. 7:30, 31; 11:17; 19:3-5). Valse godsdiens het hulle in allerhande verkeerde gebruike laat verval. Juda se priesters het die Eerste Gebod oortree deur met “afgodsdienaars” om te gaan (Ex. 20:2, 3). Hulle het die slegte voorbeeld van koning Manasse gevolg deur “die leër van die hemel” te aanbid en hulle tot mediums te wend vir leiding (2 Kron. 33:1-6). Ooreenkomstig die verkeerde veronderstelling dat ‘daar iets goeds in alle godsdiens steek’, het hulle die afgod Milkom gelykgestel met Jehovah. Omdat hulle afvallig geword het van die lewende God, het hulle “’n bose en ongelowige hart” verkry.—Hebr. 3:12.
6. Watter treffende ooreenkomste bestaan daar tussen gebruike in Juda en vandag in die valse Christendom?
6 Is dit vandag enigsins anders met die valse Christendom gesteld? Die nasies van die Christendom dra steeds ’n ontsaglike bloedskuld as gevolg van die miljoene lewens wat gedurende hierdie eeu op die oorlogsaltaar geoffer is. Die Christendom se geestelikes aan albei kante het daardie oorloë gesteun, en is nog steeds bloedskuldig. (Vergelyk Jeremia 2:34, 35.) Net soos die Judeërs hulle skuldig gemaak het aan allerhande vorme van geslagsonsedelikheid, vind ons dat die volke van die Christendom vandag skuldig is aan voorhuwelikse omgang, promiskuïteit, vroueruilery, egskeiding, homoseksualiteit en dies meer, terwyl baie van die geestelikes dit deur die vingers sien of selfs sulke gebruike goedkeur. Hoe strydig tog met die Bybelstandaard!—1 Kor. 6:9, 10; Hebr. 13:4.
7. (a) Watter parallelle vind ons vandag vir die spiritisme en interkerklike samewerking waaraan die afvallige Judeërs hulle skuldig gemaak het? (b) Watter tydige raad word in hierdie verband in God se Woord aangetref?
7 Sterrewiggelary, fortuinlesery, spiritisme—hierdie dinge word ook onder erkende Christene aangetref. Onder die voorwendsel dat ‘alle gelowe na dieselfde plek lei’, kom interkerklike samewerking vandag algemeen in die Christendom voor. Die bygelowe van valse godsdiens word met die Bybel vermeng. In plaas daarvan om Jesus se bevel te gehoorsaam en die Herdenking van sy dood een maal elke jaar te vier, beklemtoon die valse Christendom Pase (“Easter”), wat in Engels na die godin van sinlike liefde, Astoret (Astarte, Grieks), vernoem is en vrugbaarheidsritusse en -simbole soos konyne en Paaseiers insluit. Enigiemand wat hom aan sulke gebruike skuldig gemaak het, kan gerus die goeie raad in 1 Samuel 7:3 toepas: “As julle met jul hele hart julle tot die HERE bekeer, verwyder dan die vreemde gode en die Astartes onder julle uit, en rig julle hart op die HERE en dien Hom alleen; dan sal Hy julle red.” Ja, eerbied vir Jehovah, sy Woord en sy vereistes is onontbeerlik as ons onder diegene wil wees wat genooi is om in sy dag van regverdiging te deel. Dit is soos Sefanja self sê:
“Swyg voor die Here HERE! Want die dag van die HERE is naby; want die HERE het ’n offer berei, sy gaste geheilig.”—Sef. 1:7.
8. Teen watter gevaarlike denke waarsku “die woord van die HERE”?
8 In Sefanja se dag het Jehovah sy erkende aanbidders deeglik ondersoek. “Die woord van die HERE” sê dus voorts:
“En in dié tyd sal Ek Jerusalem met lanterns deursoek en besoeking doen oor die manne wat dik geword het op hulle afsaksel, wat in hulle hart sê: Die HERE doen geen goed en Hy doen geen kwaad nie” (Sef. 1:1, 12).
Sulke egosentriese persone was tevrede met die bestaande toestand. Hulle wou nie hê dat enigiemand die afsaksel in hulle wynvate moes omroer nie. Hulle het ooreengekom met die trouelose Christendom van vandag, en ook met party wat afvallig geword het van Jehovah en sê: ‘Waar is die bewys dat ons werklik in die “laaste dae” lewe?’ Sulke denke was rampspoedig in Sefanja se dag, en dit kan in ons dag selfs rampspoediger wees, daar ons die einde van die hele wêreldstelsel tegemoetgaan.—2 Pet. 3:3, 4, 10.
9. Waarom is dit nou, net soos in die dae van Juda, belangrik om ’n geestelike eerder as ’n materialistiese beskouing te verkry?
9 Van sulke trouelose, materialistiese persone sê Jehovah verder:
“Hulle rykdom sal geplunder word, en hulle huise verwoes word; en as hulle huise bou, sal hulle dit nie bewoon nie; en as hulle wingerde plant, sal hulle die wyn daarvan nie drink nie” (Sef. 1:13).
Wêreldsgoed sal niks help op die dag van goddelike oordeel nie! Hoeveel praktieser is dit tog om ’n Skriftuurlike lewensbeskouing te verkry, en vir jongmense om hulself vir voltydse diens aan Jehovah toe te rus, as om vandag sulke materiële dinge na te jaag! Salig is diegene wat ‘skatte in die hemel’ verkies in plaas daarvan om ‘skatte op die aarde bymekaar te maak’!—Matt. 6:19-21; Pred. 12:1; 1 Tim. 6:6-8.
‘DIE GROOT DAG IS NABY’
10, 11. Hoe en waarom ‘verhaas’ Jehovah sy groot dag?
10 Dan verseker die Soewereine Heer ons:
“Naby is die groot dag van die HERE, naby en baie haastig.”—Sef. 1:7, 14.
11 Niemand moet dink dat God hierdie goddelose wêreld eers in die verre toekoms gaan oordeel nie. Alle menselewe op aarde word vandag met vernietiging bedreig, maar dit is iets wat Jehovah nie sal toelaat nie! Dit is die Soewereine Heer Jehovah en nie politiek gesinde mense nie wat ’n einde aan hierdie kranksinnigheid van die kerneeu sal maak. Hy sal sy dag, Armageddon, ‘verhaas’. Enige “held” wat probeer om daardie voltrekking van oordeel te dwarsboom, is gedoem om bitterlik te skreeu, want Jehovah self sê:
“Dié dag is ’n dag van grimmigheid, ’n dag van benoudheid en angs, ’n dag van woestheid en verwoesting, ’n dag van duisternis en donkerheid, ’n dag van wolke en wolkenag, ’n dag van basuingeklank en krygsgeskreeu teen die versterkte stede en teen die hoë hoekvestings.”—Sef. 1:15, 16.
12. Waarom kan ons bly wees dat daar op daardie dag ’n selektiewe vernietiging sal wees?
12 Selfs al kan die vestings van hierdie gemilitariseerde wêreld aanvalle deur kernmissiele deurstaan, sal hulle nutteloos wees teen die wapens van Jehovah se hemelse arsenaal. Dit sal bowendien ’n selektiewe vernietiging wees, in ooreenstemming met Dawid se profetiese woorde: “Die HERE bewaar almal wat Hom liefhet, maar Hy verdelg al die goddelose” (Ps. 145:20). Dit sal voorwaar ’n verskriklike oordeelsdag wees vir diegene wat nie eerbiedig voor Jehovah geswyg het nie, want deur Sefanja sê hy vervolgens:
“Ek sal die mense in benoudheid bring, en hulle sal rondloop soos blindes, omdat hulle teen die HERE gesondig het; en hulle bloed sal vergiet word soos stof en hulle ingewande soos drek.”—Sef. 1:17.
13. Watter beleggings sal niks baat op die dag van toorn nie?
13 Wat sal ’n groot bankrekening, selfs in ’n “neutrale” land, of opgegaarde goud, of groot beleggings in eiendom, of ondergrondse skuilplekke ’n mens in daardie dag baat? Niks! Die Soewereine Heer Jehovah maak dit self duidelik wanneer hy sê:
“Hulle silwer of hulle goud sal nie in staat wees om hulle op die dag van die grimmigheid van die HERE te red nie, maar deur die vuur van sy ywer sal die hele aarde verteer word; want Hy bring vernietiging, ja, ’n verskriklike, oor die inwoners van die aarde” (Sef. 1:18).
In hierdie finale dag van beslissing word God se finale oordeel aan “die hele aarde” voltrek. Maar daar is ’n manier om te ontvlug! Wat is dit?
“VERGADER JULLE”
14. Wat bewys dat (a) Juda (b) die valse Christendom nie ag geslaan het op die beroep in Sefanja 2:1 nie?
14 Asof hy ’n laaste beroep op sy volk doen, spoor God se profeet nou toekomstige oorlewendes aan deur te sê:
“Kom tot julleself [Vergader julle, NW], ja, kom tot inkeer, o nasie wat nie skaam word nie!” (Sef. 2:1).
Maar het Juda as ’n nasie gunstig op daardie beroep gereageer? Jehovah se vurige teregstelling van daardie nasie in 607 v.G.J. toon dat hulle dit nie gedoen het nie. Hulle het op hulle skandelike weg volhard. Maar daar was indiwidue—Judeërs en ander, onder meer Jeremia, EbedMeleg en die huis van Jonadab—wat behoue gebly het omdat hulle ag geslaan het op die woord van Jehovah (Jer. 39:11, 12, 16-18; 35:18, 19). Daar bestaan vandag ’n soortgelyke situasie. Die valse Christendom het skaamteloos die Koninkryksboodskap teengestaan wat Jehovah se Getuies dwarsdeur die Christenheid verkondig het. Dit het God se koninkryk in die hande van Christus Jesus verwerp as die enigste hoop van die nasies en dit vervang deur ’n mensgemaakte hulpmiddel wat vandag as die Verenigde Volke bekendstaan. Enige versameling deur die valse Christendom is slegs tot vernietiging by Armageddon.—Ps. 2:2, 3; Openb. 16:13-16.
15. Watter ander versameling vind in hedendaagse tye plaas?
15 Maar daar was ’n ander versameling gedurende “die einde van die dae”, waarin ons ons nou bevind. Daar was eerstens ’n versameling van ware, gesalfde Christene, hoofsaaklik uit die valse Christendom. Dit is gevolg deur ’n versameling van ’n ontelbare “groot menigte” “uit alle nasies en stamme en volke en tale” sodat hulle die naderende verdrukking kan oorleef (Openb. 7:1-4, 9, 14; Jes. 2:2, 3). Wie maak hierdie “groot menigte” uit? Ootmoediges wat bereid is om hulself te verneder en ag te slaan op die raad van God se profeet.
16, 17. Watter aftelling is nou aan die gang, en op watter beroep moet ons dus gehoor gee om behoue te bly?
16 Die aftelling na Armageddon duur meedoënloos voort. Die waarskuwing van God se profeet aan hierdie ootmoediges is dus tydig:
“Voordat die besluit baar—soos kaf gaan die dag verby—voordat daar oor julle kom die toorngloed van die HERE, voordat oor julle kom die dag van die toorn van die HERE”,
moet julle optree!—Sef. 2:2.
17 Dit is die verordening en besluit van Jehovah dat die valse Christendom moet vergaan, net soos trouelose Jerusalem in 607 v.G.J. verdelg is, en om soortgelyke redes (Eseg. 22:3-5). Sy is bloedskuldig, en haar geestelikes het die wet van Jehovah verlaat. Haar godsdiens is deel van Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, waaromtrent die apostel Johannes geskryf het: “Deur jou towery is al die nasies verlei. En die bloed van profete en heiliges is in haar gevind, en van almal wat op die aarde gedood is.” Dit is dus geen wonder dat die volgende beroep gedoen is op almal wat God wil behaag nie: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie”!—Openb. 18:4, 23, 24.
‘SOEK JEHOVAH’
18. Wat moet ootmoediges daarbenewens doen?
18 Maar is dit genoeg as ’n mens jou van die wêreld en sy valse godsdiens afskei? Sefanja toon dat ootmoediges nog iets, iets positiefs, moet doen.
19. Wat behels dit as ’n mens ‘Jehovah soek’?
19 God se profeet sê eerstens:
“Soek [Jehovah], o alle ootmoediges van die land, wat sy ordening onderhou” (Sef. 2:3a).
Hulle moet daarna streef om Jehovah te ken, met inbegrip van sy wonderlike eienskappe en voornemens, net soos sy Seun, Jesus Christus, hom verklaar het. As hulle dit nederig doen, wag daar ’n groot beloning op hulle, soos Jesus self gesê het: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het” (Joh. 1:18; 17:3). As hulle Jehovah soek, sal dit daartoe lei dat hulle hom met hulle ‘hele hart, siel, verstand en krag’ liefhet, en dat hulle Jesus se voorbeeld volg deur die “heilige diens” te verrig wat Jehovah van hulle verwag.—Mark. 12:29, 30; 1 Pet. 2:21; Matt. 4:17; Openb. 7:15, NW.
20. Watter soort geregtigheid moet ons soek, en met watter vertroue?
20 Sefanja sê vervolgens:
“Soek geregtigheid” (Sef. 2:3b).
Nee, nie Fariseïese eiegeregtigheid nie! Dit baat niemand om “’n ywer vir God” te hê as dit nie in ooreenstemming met juiste kennis van sy Woord is nie. Ons moet ‘die geregtigheid van God ken om ons aan daardie geregtigheid te onderwerp’. Ons moet ons lewens na God se standaarde—nie die mens s’n nie—skik en ons met die Christelike persoonlikheid beklee wat “na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid [lojaliteit, NW]” (Rom. 10:2, 3; Ef. 4:22-24). Hierdie ware geregtigheid en lojaliteit verg dat ons nie toelaat dat die onrein denke of weë van die wêreld in ons lewens insluip nie. Ons moet, soos Jesus aangeraai het, “eers die koninkryk van God en sy geregtigheid” soek, vol vertroue dat hy, solank ons hom dien, die nodige sal voorsien om ons lewens te onderhou en ons deur die dag van Jehovah se toorn sal bewaar.—Matt. 6:31-33.
21. (a) Hoe beklemtoon die profesie ootmoedigheid? (b) Waarteen moet ons in hierdie verband op ons hoede wees?
21 Jehovah se profeet sê derdens:
“Soek ootmoedigheid” (Sef. 2:3c).
Sefanja het reeds diegene wat op sy profesie ag slaan, beskryf as die “ootmoediges van die land”. Hy lê nou dubbele klem op hierdie eienskap. Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons aanhou om ‘ootmoedigheid te soek’ terwyl ons omring word deur die trotse, veeleisende, eiesinnige, egoïstiese gesindheid van die wêreld! Die gevaar bestaan altyd dat ons met hierdie gesindheid besmet kan raak. Ons moet op ons hoede wees en altyd bereid wees om deur Jehovah en sy organisasie getugtig te word en om ons na sy wil te skik. Ons moet nooit dink dat “eenmaal gered, altyd gered” in ons geval geld nie, want dit is diegene wat aanhou om ‘in die waarheid te wandel wat met redding beloon sal word.—Spr. 22:4; Joh. 8:31, 32; 3 Joh. 3, 4.
22. (a) Waarom sê Sefanja “miskien”? (b) Wat sal die uitslag wees vir diegene wat ‘deur Jehovah versteek word’?
22 Sefanja sê dan vir die “ootmoediges van die land”:
“Miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van die HERE” (Sef. 2:3d).
Waarom “miskien”? Dit is omdat finale redding afhang van die handelwyse van die indiwidu, net soos Jesus aangedui het toe hy gesê het: “Wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” Volhard dus, alle ootmoediges, deur nederig God se wil vir ons dag te doen, en dit sluit die verkondiging van hierdie evangelie van God se opgerigte koninkryk in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies in (Matt. 24:13, 14). Sodoende kan julle onder diegene wees wat deur ‘Jehovah versteek word’ op die dag van sy toorn. Die psalmis Dawid skryf van sulke persone:
“Die ootmoediges . . . sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.”—Ps. 37:11.
[Venster op bladsy 23]
“BLOOT ’N KWESSIE VAN TYD”
In sy uittreerede het die voormalige president van die Verenigde State, Jimmy Carter, die volgende omtrent kernwapens erken: “Die gevaar word al hoe groter. Namate die arsenale van die supermoondhede groter en meer gesofistikeerd word en namate ander regerings—moontlik dosyne regerings in die toekoms—hierdie wapens bekom, sal dit bloot ’n kwessie van tyd wees voordat kranksinnigheid, wanhoop, hebsug of misrekening die verskriklike mag laat losbars.” En daar is reeds genoeg kranksinnigheid in die wêreld! ’n Hoofartikel in New York se “Times” van 31 Januarie 1981 het gewaarsku dat die supermoondhede “Hoogstens ’n jaar vir wapenbeheer” het, anders sal hulle “alle moontlike kanse om kernwapens te beperk” verloor.