Sal God die goddelose teregstel? Habakuk sê ja!
MENSE dwarsoor die wêreld het al gevra: ‘Sal God ooit oordeel aan die goddelose voltrek?’ Die geïnspireerde profesie van Habakuk gee ons volkome vertroue dat God binnekort teen goddelose mense dwarsoor die wêreld gaan optree. Dan, slegs dan, sal die aarde “vol word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos die waters die seebodem oordek”.—Hab. 2:14.
Habakuk se kort profesie is in werklikheid ’n reeks van drie doodvonnisse wat deur die God van hemel en aarde gevel is. Twee van hulle is reeds voltrek; die derde sal binnekort voltrek word. As ons hierdie oordele bestudeer, sal dit ons vertroue in Habakuk se beskrywing en die uitslag van die komende globale oorlog, Armageddon, gee.
OORDEEL TEEN JUDA
Net waar die profeet Habakuk in die land Juda gekyk het, het hy geweld, verdrukking, stryd, twis en onreg gesien. Dit het hom laat uitroep: “Hoe lank, o HERE, roep ek om hulp, maar U hoor nie; skreeu ek tot U: Geweld!—maar U help nie?” (Hab. 1:1-4). Habakuk het ’n antwoord gekry wat ongelooflik geklink het. Dit het selfs die profeet geskok (Hab. 1:5). Wat was die oordeel van Jehovah?
God antwoord: “Ek gaan die Chaldeërs opwek, daardie kwaai en onstuimige nasie wat trek deur die wydtes van die aarde, om wonings in besit te neem wat aan hom nie behoort nie. Verskriklik en gedug is hy.”—Hab. 1:6, 7.
Die Chaldeërs of Babiloniërs sou dus God se instrument wees om die ontroue Israeliete te straf, en niks sou die Babiloniërs keer om God se bevel uit te voer nie. Hierdie nasie sou dan glad ‘elke vesting inneem’! Die koninkryk van Juda, met Jerusalem as hoofstad, kon eenvoudig nie hoop om te ontvlug nie.—Hab. 1:10.
Net soos Jehovah aan Habakuk gesê het, het die Chaldeërs teen Jerusalem en die land Juda opgetrek. Die Bybel deel ons mee dat die koning van Babilon, Nebukadnesar, “hulle jongmanne met die swaard in die huis van hulle heiligdom gedood en geen jongman of jongmeisie, oue of gryse, verskoon [het] nie . . . En die wat van die swaard oorgebly het, het hy na Babel in ballingskap weggevoer.”—2 Kron. 36:17-20.
Jehovah het inderdaad oordeel aan al die goddelose in die land Juda voltrek.
OORDEEL TEEN BABILON
Die Babiloniërs het volgens hulle eie begeertes opgetree en onwetend as God se skerpregter gedien om sy regverdige oordeel aan ’n ontroue volk te voltrek. Maar wat van Babilon? Habakuk het dit moeilik gevind om te verstaan hoe God die goddelose Babiloniërs kon gebruik om Sy oordeel te voltrek. Hulle was nie alleen nie sy aanbidders nie, maar hulle was meedoënloos en net daarop uit om te verower. Hulle het mense beskou as blote ‘visse en kruipende gedierte’ wat gevang en onderwerp moes word.—Hab. 1:14-17.
In antwoord op Habakuk se beswaar teen die gebruik van die Chaldeërs het God bekend gemaak dat hy hulle nie ongestraf sou laat weens hulle meedoënlose hebsug en bloedskuld nie. Hy het aangaande Babilon gesê: “Omdat jy baie nasies uitgebuit het, sal al die volke wat oorgebly het, jou uitbuit, weens die bloed van die mense en die geweld teen die land.”—Hab. 2:8.
Die Babiloniërs was boonop afgodsaanbidders. Jehovah het dus deur sy profeet gesê: “Wat baat ’n gesnede beeld dat sy maker dit reggekap het, ’n gegote beeld, wat ’n leuenleraar is, dat die maker op sy eie maaksel vertrou, deur stomme afgode te maak? Wee hom wat vir ’n stuk hout sê: Word wakker! vir ’n dooie klip: Ontwaak!”—Hab. 2:18, 19.
Die afgodsaanbiddende Babiloniërs het nou verdien dat God se oordeel aan hulle voltrek word. Dit het in 539 v.G.J. gebeur toe Babilon deur die Mede en die Perse omvergewerp is.
Diegene wat die oordele teen Juda en Babilon gehoor het, het gemeen dat dit ongelooflik, selfs skokkend, is. Maar die profetiese woord deur Habakuk is vervul. Hab. 2:2, 3.
Die Bybel toon dat iets soortgelyks binnekort met die goddelose dwarsoor die wêreld gaan gebeur.
GOD SE AARDWYE OPMARS TEEN DIE GODDELOSE
Die Christelike Griekse Skrifte haal uit Habakuk se profesie aan en plaas die finale vervulling daarvan in die toekoms, in ons geslag (Hebr. 10:36-39; Hab. 2:3, 4). Dit is waarom ons veral daarin belangstel. In die derde hoofstuk van Habakuk se profesie bid hy dat God weer Sy triomfantelike werk van die verlede in die lewe moet roep (Hab. 3:1, 2). Habakuk beskryf dan God se opmars teen al Sy vyande. Dit is ’n aardwye opmars. Op hoeveel verskillende maniere sal God tog sy vyande vernietig!
“Voor Hom uit loop die pes”, sê die profeet, “en ’n koorsgloed trek uit agter Hom aan” (Hab. 3:3-5). Wanneer Jehovah in die nabye toekoms optrek na die “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” te Armageddon sal hy baie van sy vyande op ’n nie-gewelddadige, stil manier teregstel—met die pes. Dit sal dan gevaarlik, noodlottig, wees om in die weg van Jehovah se opmars na oorwinning te staan. Want hy sal die pes voor hom uitstuur; agter hom sal hy slagoffers laat wat aan ’n dodelike koorsgloed ly.—Openb. 16:14, 16.
Habakuk se klaaglied-gebed lui voorts: “Hy tree op en laat die aarde wankel, Hy kyk en laat nasies opskrik; verpletterd lê die ewige berge, en neergesink die ou, ou heuwels.”—Hab. 3:6.
Wanneer Jehovah optree, veroorsaak dit ’n opskudding in die figuurlike aarde wat voor hom lê. Dit veroorsaak as ’t ware ’n aardbewing in die aardse organisasie van die vyand. Wanneer dit duidelik word dat dit inderdaad Jehovah is wat hulle genader het en voor hulle staan, raak die aardse organisasie in beroering voordat dit ineenstort. Die nasies besef uiteindelik dat die almagtige God hulle sien. Hulle is inderdaad verskrik. Hulle spring op, nie uit vreugde nie maar met skok in ’n vlaag van ontsteltenis. Geen bergagtige organisasie sal Jehovah se seëvierende opmars stuit nie. Dit sal verpletter word. Jehovah se onstuitbare opmars vul almal wat daarvan hoor en wat Jehovah en sy volk nie goedgesind is nie met vrees.
Jehovah het nog ander soorte wapens in sy goddelike arsenaal waarmee hy die goddelose kan vernietig. Habakuk vertel ons hiervan deur te sê: “’n Wolkbreuk storm verby, die wêreldvloed verhef sy stem, steek sy hande omhoog. Die son, die maan bly in hulle woonplek by die lig van u pyle wat verbyskiet, by die glans van u flikkerende spies.”—Hab. 3:7-11.
Die Skepper het fratsoorstromings tot sy beskikking waarmee hy die vyande kan verswelg. Water kan tydens ’n wolkbreuk uit die hemele neergiet. En die water diep in die aarde kan uitspuit asof die diepte sy hande omhoog steek om deel te neem aan die vernietiging van die goddelose.
Jehovah se bomenslike oorlogswapens sal verseker dat geen vyand ontvlug nie. Nie een van die goddelose sal wegkom nie. Dreunende donderslae en knetterende weerligstrale is tot Jehovah se beskikking. Wanneer God se teregstellingsmiddele flikker, sal die lig bedags en snags so intens wees dat die natuurlike son en maan as ’t ware sal meen dat hulle nie nodig is vir verligting nie. Dit sal wees asof hulle in hulle woonplek bly en nie as ligdraers funksioneer nie, maar toelaat dat Jehovah se stralende missiele ’n vertoning van verligtende krag lewer. Jehovah se groter wapen sal soos ’n spies deur die lug trek en die slagveld verlig. Stel jou voor watter uitwerking dit op die vyande van Jehovah en van sy volk sal hê!
WARE AANBIDDERS WORD GERED
Die profeet gaan voort: “In grimmigheid betree U die aarde, in toorn dors U die nasies. U trek uit tot redding van u volk, tot redding van u Gesalfde. U verbrysel die kop van die huis van die goddelose en ontbloot die fondament tot by die nek.”—Hab. 3:12, 13.
Jehovah se volk kan vertrou dat hy tydens die oorlog van Armageddon tot hulle redding sal kom. Die aanbidders van Jehovah sal dan aangeval word deur al die wêreldlike nasies, wat teen daardie tyd almal ateïsties is. Waarom is hulle ateïsties? Omdat die nasies reeds georganiseerde valse godsdiens sou aangeval en van die aarde af uitgewis het. Hierdie aanval op God se ware aanbidders vind dus plaas na die verbasende vernietiging van “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens, met inbegrip van die valse Christendom (Openb. 17:15, 16-18, vgl. NW). Die ongodsdienstige nasies wat vir hierdie vernietiging verantwoordelik sou gewees het, sal hulle dan daarop toelê om die reine aanbidding van die enige lewende en ware God, Jehovah, van die aarde af uit te wis. Die toneel word nou reeds opgestel vir hierdie vernietiging van georganiseerde valse godsdiens. Trouens, party nasies het reeds aangekondig dat dit hulle doelwit is om ateïsme te bevorder.a
Om te verhoed dat die goddelose nasies in hulle goddelose doel slaag, sal Jehovah moet uittrek tot redding van sy volk. In “grimmigheid” teenoor die nasies met hulle bose oogmerke sal hy dus die aarde betree en die nasies toornig dors deur hulle te vertrap soos graan op ’n dorsvloer.
Hierdie optrede van Jehovah sal redding vir sy “volk” beteken. Die “volk” wat tydens Armageddon aangeval word, is die oorblyfsel van Jesus Christus se geesgesalfde dissipels. Hulle maak Jehovah se “Gesalfde” tydens Armageddon uit. Benewens Jehovah se “Gesalfde” sal daar ook ’n “groot menigte” medeaanbidders tydens Armageddon gered word.—Openb. 7:9-17.
In dramatiese teenstelling met die redding van die “gesalfde” en die “groot menigte” sal die “huis van die goddelose” heeltemal verwoes word. Soos ’n huis wat van die dak af tot by die fondament ontbloot en vernietig word, sal die goddelose stelsel wat onder die onsigbare invloed van Satan die Duiwel opgebou is, stukkend geslaan word. Die “kop” of hoof van hierdie internasionale “huis” sal verbrysel en verpletter word. Diegene wat die onderste deel van die wêreldwye struktuur uitmaak, sal nie vryspring nie, want dit sal tot by die fondament afgebreek word. Nie eens die “fondament” sal in die grond oorbly as ’n grondslag vir ’n nuwe gebou nie. Die “huis van die goddelose” sal nie meer op aarde bestaan nie.
Op die slagveld van Armageddon sal die vyande van Jehovah se “Gesalfde” en hulle metgeselle in die war gestuur word. In ’n profetiese gesig hiervan sê die profeet Habakuk in sy gebed tot Jehovah as ’n Kryger:
“U deurboor met sy eie pyle die hoof van sy leiers wat storm om my te verstrooi; wie se gejuig is asof hulle die ellendige in die skuilhoek wil verslind. U betree die see met u perde, ’n hoop magtige waters.”—Hab. 3:14, 15.
Wanneer Habakuk van die internasionale poging praat om “my” met geweldige krag “te verstrooi”, gebruik hy homself om Jehovah se “Gesalfde”, Sy volk wat van die aanvallers gered moet word, voor te stel. Soos plunderaars wat in ’n versteekte plek vir ’n slagoffer lê en wag, sal die nasies wat in slagorde by Armageddon opgestel is, skielik op Jehovah se “Gesalfde” en die “groot menigte” medeaanbidders afstorm om hulle almal te vernietig net soos hulle godsdienstige “Babilon die Grote” vernietig het. Die vyand doen dit met “gejuig”, want hulle is seker dat hulle ontslae sal kan raak van Jehovah se aanbidders wat soos ’n “ellendige” lyk.
Maar Jehovah sal nie onkant betrap word nie. Hy sal nie sy geteisterde “Gesalfde” en hulle lojale metgeselle in ’n lokval van die vyand lei nie. Wanneer die nasies wat teen God gekant is verwoed uitstorm om diegene wat ware aanbidding beoefen te verstrooi, sal God die wapens van die aanvallende nasies teen hulself keer sodat hulle onder mekaar en teen mekaar veg. Jehovah se vyande sal hulle eie pyle gebruik om die hoofde van hulle eie krygers te deurboor. God sal selfs meer doen: Hy sal bomenslike kragte gebruik om hulle vernietiging te voltooi. Met die “perde” van sy hemelse leërs onder aanvoering van Jesus Christus sal hy seëvierend deur die “see” en die “hoop magtige waters” van die onstuimige, dreunende vyande klief (Openb. 19:11-21). Sy eie volk sal dus ooggetuies van Jehovah se heerlike oorwinning wees!
Al die goddelose sal dan uitgewis wees! En tot in alle ewigheid sal niemand tereg hierdie algehele vernietiging van die aanvallende hordes wat teen Jehovah gekant is, kan bevraagteken nie.
Habakuk se profesieë gee ons sterk vertroue dat God binnekort oordeel aan al die goddelose gaan voltrek. Niks kan dit keer nie. Gaan jy, in die lig hiervan, nou jou standpunt vir die ware God inneem terwyl daar nog tyd is om dit te doen? Jehovah, die groot Kryger, sal in die stryd teen die goddelose seëvier. Dit is nou die tyd om stappe te doen sodat jy aan die wenkant kan wees!
[Voetnoot]
a Die National Geographic van Oktober 1980 sê: “Ander Kommunistiese lande bedwing godsdiens; Albanië verbied dit en het ditself in 1967 ‘die eerste ateïstiese staat in die wêreld’ genoem. Die 2 169 moskees, kerke, kloosters en ander ‘sentrums van obskuratisme en mistisisme’ is almal gesluit, afgebreek of in vermaaklikheidsentrums, klinieke, skure of stalle omgeskep . . . Albanië se nuwe geslag ken slegs ateïsme.”
En die tydskrif Time van 17 November 1980 het die volgende gesê oor Kambodja, wat nou Kampuchea genoem word: “Die Khmer Rouge het begin met ’n stelselmatige vernietiging van elke spoor van godsdiens. Christelike evangeliedienaars is om die lewe gebring en Moslemitiese moskees is vernietig. Die Boeddhiste, wat 90 persent van Kampuchea se bevolking uitgemaak het, moes egter die grootste vernederings verduur. Rebelle wat pas tevore uit die oerwoud gekom het, het die land se 2 800 tempels geplunder. ‘Boeddhabeelde is in riviere gegooi of as vuurmaakhout gebruik’ sê Oum Soum, 62, onderdirekteur van Phnom-Penh se Boeddhistiese Instituut. ‘Tempels wat nie vernietig is nie, het kunsmisskure geword.’ Monnike is as ‘parasiete’ uitgekryt. Die gelukkiges is net uit hulle tempels die veld in gejaag. Van 80 000 Kambodjaanse monnike is 50 000 vermoor.”—Bl. 90.