Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 10/15 bl. 21-26
  • Oeswerk in die “tyd van die einde”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Oeswerk in die “tyd van die einde”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “SYNTE’LEIA” EN “TELOS”
  • ‘DIE OES VAN DIE AARDE HET OORRYP GEWORD’
  • ONKRUID VERSAMEL OM VERBRAND TE WORD
  • “DIE REGVERDIGES SKYN SOOS DIE SON”
  • “DIE OES VAN DIE AARDE” DUUR VOORT
  • “Kyk! Ek is met julle al die dae”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • ‘Die regverdiges sal so helder soos die son skyn’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • ’n Saailand wat koring en onkruid voortgebring het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Die illustrasie van die koring en die onkruid
    Ons Christelike lewe en bediening — Vergaderingwerkboek — 2018
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 10/15 bl. 21-26

Oeswerk in die “tyd van die einde”

“Die oes is die voleinding van die wêreld.”—Matt. 13:39.

1. Waarom is die “oes” wat deur Jesus voorspel is ’n tweevoudige rede tot vreugde?

’N GOEIE oes is altyd ’n rede tot vreugde en danksegging. Dit is ’n tyd om die vrugte van lang, harde arbeid te maai. Die oes wat in Christus se gelykenis van die “koring” en die “onkruid” voorspel is, sou aan die hele mensdom ’n tweevoudige rede gee om hulle te verheug. Waarom? Nie alleen omdat dit die insameling sou beteken van die vereiste aantal “kinders van die koninkryk” of “heiliges” wat ’n aandeel in Christus se “ewige heerskappy” sal hê en aldus goeie regering op die aarde sal verseker nie, maar ook omdat hierdie “oes” op sigself bewys sou wees dat ons aan die “voleinding van die wêreld” en die daeraad van ’n regverdige nuwe orde lewe.—Dan. 7:14, 27; Matt. 13:38, 39; 2 Pet. 3:13.

“SYNTE’LEIA” EN “TELOS”

2. Waarom word die Griekse woord synte’leia beter vertaal deur “voleinding” as deur “einde”, en met watter tydperk wat in Daniël gemeld word, stem die synte’leia dus ooreen?

2 Jesus het nie gesê dat die “oes” “die einde van die wêreld” is, soos party Bybelvertalings ons wil laat glo nie (Die Lewende Nuwe Testament; Authorized Version; American Standard Version; The Jerusalem Bible). Sulke vertalings tref geen onderskeid tussen die twee Griekse woorde synte’leia en telos nie. Waar dit synte’leia verduidelik, se W. E. Vine se Expository Dictionary of New Testament Words: “Die woord slaan nie op ’n beëindiging nie, maar op die opbouing van gebeure tot die bepaalde klimaks”. Toe Jesus dus gesê het: “Die oes is die voleinding [synte’leia] van die wêreld”, het hy gepraat van ’n tydperk van bedrywigheid wat ’n begin en ’n einde sou hê. Volgens Mattheüs 13:30 het Jesus na “die oestyd” verwys en klaarblyklik ’n tydperk bedoel, die tydperk waarvan die profeet Daniel as “die tyd van die einde” gepraat het (Dan. 12:4). Dit is interessant dat die vertalers van die Griekse Septuaginta-vertaling die woord synte’leia gebruik het toe hulle hierdie vers in Daniël vertaal het.

3. Waarmee staan die “oestyd” in verband, en wat beteken die Griekse woord telos in Mattheüs 24:14 en waarna verwys dit daar?

3 Dieselfde woord word in Mattheüs 24:3 gebruik waar die dissipels vir Jesus gevra het: “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms [teenwoordigheid, NW] en van die voleinding [synte’leia] van die wêreld?” Die “oestyd” staan dus in verband met Christus se onsigbare teenwoordigheid as Oester. In antwoord op sy dissipels se vraag het Jesus internasionale oorlogvoering, voedseltekorte, pessiektes, groot aardbewings, ongeregtigheid en ’n algemene klimaat van vrees gemeld. (Vergelyk parallelle verslae in Mattheüs 24, Markus 13 en Lukas 21.) Om te toon dat die “oestyd” ten einde sou loop, het hy toe by gevoeg: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde [telos] kom” (Matt. 24:14). Die woord telos beteken “einde” “in die sin van beëindiging, staking . . . die laaste deel slot, voleinding veral van die laaste dinge, die laaste bedryf van die wêrelddrama”.a

4. Wanneer het die “voleinding” of die “tyd van die einde” begin, en wat kan dus van die “oes” gesê word?

4 Die feite van eietydse geskiedenis sedert 1914 toon, ter vervulling van Bybelprofesie, dat die huidige stelsel reeds diep in sy “tyd van die einde” of “voleinding” (synte’leia) is. Ons aanskou, om W. E. Vine weer aan te haal, “die opbouing van gebeure tot die bepaalde klimaks” of einde (telos). Die “oes” van Jesus se gelykenis moet dus aan die gang wees; trouens, dit moet besig wees om sy hoogtepunt te nader. Kan die gebeure wat in die res van die gelykenis voorspel is sedert 1914 waargeneem word?

‘DIE OES VAN DIE AARDE HET OORRYP GEWORD’

5. Wat sou die “Seun van die mens” sy engele in die oestyd beveel om te doen?

5 Toe Jesus voortgegaan het met die verduideliking van “die gelykenis van die onkruid in die saailand”, het hy gesê: “Die oes is die voleinding van die wêreld, en die maaiers is die engele. Net soos die onkruid dan bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit wees in die voleinding van hierdie wêreld: die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen, en sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande.”—Matt. 13:39-42.

6. Tussen wie moes die “koring” groei?

6 Die “maaiers” of engele sal aan “die voleinding van die wêreld” deur die “Seun van die mens” uitgestuur word om “al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen” uit die ware “kinders van die koninkryk” bymekaar te maak. Soos die vorige artikel getoon het, het die Duiwel se nagtelike “onkruid”-saaiery gelei tot ’n georganiseerde afval, naamlik die valse Christendom onder ’n hiërargie verdrukkende godsdiensleiers wat mettertyd die samegestelde “mens van sonde” uitgemaak het wat deur die apostel Paulus voorspel is (2 Thess. 2:3-12). Die egte “koring” moes tot die “tyd van die einde” tussen sulke “onkruid” groei. Dan sou die “Seun van die mens” sy “maaiers” beveel om die “kinders van die koninkryk” van die “kinders van die Bose” te skei.

7. Watter parallelle profesie help ons om die oestyd te identifiseer?

7 Wanneer het hierdie skeidingswerk begin? ’n Interessante parallelle profesie laat by ons geen twyfel oor wanneer dit sou plaasvind nie. Dit lui: “En ek het gesien, en kyk, daar was ’n wit wolk en een soos ’n Menseseun wat op die wolk sit, met ’n goue kroon op sy hoof en in sy hand ’n skerp sekel. En ’n ander engel het uit die tempel gekom en met ’n groot stem geroep na Hom wat op die wolk sit: Slaan u sekel in en maai, want die uur het vir U gekom om te maai, omdat die oes van die aarde oorryp geword het. En Hy wat op die wolk sit, het sy sekel oor die aarde laat gaan, en die aarde is afgemaai.”—Openb. 14:14-16.

8. Hoe word die “Seun van die mens” in Openbaring 14:14 afgebeeld, en ná watter gebeurtenis moet die oes dus begin het?

8 Hier sien ons die “Seun van die mens”, Jesus Christus, nie as ’n saaier wat ‘goeie saad in sy land saai’ nie, maar as ’n gekroonde koning wat begin met die “oes van die aarde”. Die feit dat hy op ’n wolk sit, beeld sy onsigbare teenwoordigheid af (Hand. 1:9-11; Openb. 1:7). Die “oes” moet dus plaasvind gedurende Christus se teenwoordigheid, nadat hy gekroon is en “heerskappy en eer en koningskap” van Jehovah, die “Oue van dae”, ontvang het (Dan. 7:13, 14). Die oeswerk moes dus die een of ander tyd na 1914 begin het, die jaar waarin die “tyd van die einde” of die “voleinding van die wêreld” begin het.

9. Wanneer het die skeidingswerk begin?

9 Wanneer, ná 1914, het die Seun van die mens ‘sy engele uitgestuur’ om die “kinders van die koninkryk” te skei van “die kinders van die Bose”, die namaak-“koring”, dit wil sê, “die wat die ongeregtigheid doen” en wat die “mens van sonde”, die godsdiensleiers van die valse Christendom, insluit? Die antwoord moet met die feite strook, en dié toon dat dit in 1919 was dat die geesverwekte, gesalfde “kinders van die koninkryk”, wat deur die “koring” afgebeeld is, begin bevry is van die “onkruid” of naamchristene wat die godsdiens-saailand van die mensdom vervuil het. Die “oes van die aarde” was ryp en die tyd het vir die “Seun van die mens” aangebreek om sy sekel in te slaan en te maai. Die gelykenis toon dat hy dit deur middel van sy “maaiers”, engele, gedoen het.

ONKRUID VERSAMEL OM VERBRAND TE WORD

10. Waarom was dit moeilik om die egte “koring” deur die eeue heen te identifiseer, maar van wanneer af is dit moontlik om die “koring” duidelik van die “onkruid” te onderskei?

10 In sy “gelykenis van die onkruid in die saailand” het Jesus gesê: “In die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand” (Matt. 13:30). Die duidelike identiteit van die “koring” of ware “kinders van die koninkryk” is eeue lank verberg deur die welige “onkruid” of afvallige Christene, wat beweer het dat hulle die hemelse hoop as erfgename van die Koninkryk het. Dit was eers na 1919, toe die waarlik geesverwekte Christene uit Babilon die Grote, die Duiwel se wêreldryk van valse godsdiens, bevry is, dat ’n duidelike verskil tussen die “koring” en die “onkruid” gesien kon word.

11. Wie sluit die “onkruid” in, en hoe is hulle in bondels gebind?

11 Die simboliese “onkruid” sluit alle naamchristene in, onder meer enige hedendaagse afvalliges wat dinge leer wat as “struikelblokke” dien, asook “die wat die ongeregtigheid doen”. Dit sluit die “slegte dienskneg”, die ,’dwase maagde’ en die “slegte en luie dienskneg” in (Matt. 24:48-51; 25:1-12, 14-30). Die feit dat hulle ‘in bondels gebind’ word, gereed om verbrand te word, stel nie voor dat hulle in die onderskeie kerke en sektes van die valse Christendom gegroepeer word nie, want daar kan nouliks gesê word dat die engele vir sulke afvallige kerkstelsels verantwoordelik is. Daarbenewens vind die werk om hulle in bondels saam te bind gedurende die “oestyd”, in die “tyd van die einde”, plaas, terwyl baie van die kerke van die valse Christendom al eeue lank bestaan. Die feit dat die “onkruid” in bondels gebind word, beteken dat die skeiding tussen die ware Christene en naam-christene sedert 1919 al hoe duideliker geword het, in mense se gedagtes sowel as deur daadwerklike skeiding. Die “onkruid” of die “kinders van die Bose” word ‘gebind’ daar die engele toesien dat hulle nie weer onder die “koring” of die ware “kinders van die koninkryk” beland nie.

12. Wat beeld die “vuuroond” af, en wanneer sal die “onkruid” daarin gegooi word?

12 Toe Jesus gepraat het oor wat die engele met die “onkruid” sou doen nadat hulle dit vasgebind het, het hy gesê: “[Hulle] sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande” (Matt. 13:42). Hou in gedagte dat ons ’n gelykenis bestudeer. As die “koring” en die “onkruid” simbolies is, dan ook die “vuuroond”, die “geween” en die “gekners van die tande”. Mattheüs 25:41, 46 toon dat “ewige vuur” “ewige straf” afbeeld, en Openbaring (20:14; 21:8) sê dat die “poel van vuur” “die tweede dood” beteken, naamlik vernietiging met geen hoop op ’n opstanding nie. Die “onkruid” sal dus vernietig word.

13. Wanneer en hoe het diegene wat deur die onkruid afgebeeld word, geween en op hulle tande gekners, maar wanneer sal hulle nog meer treur?

13 Aangesien die “vuuroond” algehele vernietiging afbeeld, moet die “onkruid” se “geween” en “gekners van die tande” plaasvind voordat hulle vernietig word. Naamchristene, en veral die “mens van sonde”—die Christendom se geestelikes—betreur nou al dekades lank die feit dat “die kinders van die koninkryk”, Jehovah se gesalfde getuies, hulle met kragtige, Skriftuurlike waarhede bestook en hulle aan die kaak stel vir wat hulle werklik is: “kinders van die Bose” (Matt. 13:38; Openb., hfste. 8, 9b). Die afvallige geestelikes kners op hulle tande omdat Jehovah se Getuies nie alleen Jehovah se “jaar van die welbehae” onverskrokke verkondig nie, maar ook sy “dag van . . . wraak” (Jes. 61:1, 2). Maar al hierdie “onkruid” sal nog meer treur en op hulle tande kners wanneer die “Seun van die mens” binnekort kom om hulle en die res van Satan se wêreld te vernietig.—Matt. 24:30.

“DIE REGVERDIGES SKYN SOOS DIE SON”

14. Waar word die “koring” bymekaargebring, en wat doen sulke “regverdiges”?

14 Nadat die “Seun van die mens” die “maaiers” beveel het om die “onkruid” in bondels te bind sodat dit vernietig kan word, gee hy sy engele hierdie verdere bevel: “Bring die koring bymekaar in my skuur” (Matt. 13:30). En Jesus het sy verduideliking van die gelykenis afgesluit deur te sê: “Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.—Matt. 13:43.

15, 16. (a) Waarom is dit nie in die hemel waar die “regverdiges” skyn nie? (b) Waar en hoe skyn die “regverdiges”, en waar word hulle bymekaargebring?

15 Openbaring 21:23 sê van die hemelse Koninkryksregering, die Nuwe Jerusalem: “En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp.” Daardie hemelse koninkryk maak dus nie op die verrese “kinders van die koninkryk” staat vir lig nie. Dit word gebaai in heerlike, goddelike lig. Hoe anders is dit tog met die nasies hier op aarde gesteld! (Ef. 4:17, 18; 5:8). Waar Paulus verduidelik wat Jehovah vir die “kinders van die koninkryk” doen terwyl hulle nog op aarde is, skryf hy: “Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde.”—Kol. 1:13.

16 Die feit dat die “regverdiges” “soos die son in die koninkryk van hulle Vader” skyn, verwys dus na die verligte toestand en die glorieryke diens van sulke gesalfde Christene op aarde, waar hulle “skyn soos ligte in die wêreld” (Filip. 2:15; Matt. 5:14). Daar kan gesê word dat die “skuur” waarin hulle sedert 1919 bymekaargemaak word, “die koninkryk van hulle Vader” is, aangesien die Christen-gemeente ’n teokratiese organisasie is wat Jehovah se universele soewereiniteit erken. Dit is ’n skoon organisasie, want die engele maak “al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen” daaruit bymekaar.—Matt. 13:30, 41, 43.

“DIE OES VAN DIE AARDE” DUUR VOORT

17. Hoeveel “kinders van die koninkryk” word geoes, maar waarom duur die insamelingswerk voort?

17 Hoe raak al hierdie dinge jou? Onthou dat Jesus hierdie gelykenis afgesluit het met die woorde: “Wie ore het om te hoor, laat hom hoor” (Matt. 13:43). Hierdie gelykenis illustreer weliswaar die insameling van die volledige getal “kinders van die koninkryk” wat nodig is om Christus se hemelse regering te vorm. Dieselfde hoofstuk (14) van Openbaring wat praat van die “oes van die aarde”, openbaar dat die getal van diegene wat so geoes word om saam met “die Lam” op die hemelse “berg Sion” te regeer 144 000 is. Maar daardie hoofstuk voeg by: “Dit is hulle wat gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam” (Openb. 14:1-4). Die insameling van “eerstelinge” dui aan dat daar later ander vrugte ingesamel sal word, soos afgebeeld deur die insameling van die ander vrugte van die land aan die einde van die landboujaar. Die insamelingswerk duur dus voort, en dit raak jou.

18. Watter ander skeidingswerk vind plaas benewens die insameling van die “kinders van die koninkryk”?

18 Die insameling van die “kinders van die koninkryk” het van 1919 tot die vroeë dertigerjare vinnig gevorder. Omdat hierdie getroue, gesalfde Christene ,hulle lig laat skyn’, het baie ander met horende ore toegelaat dat hulle afgeskei word van die “onkruid” of naamchristene in die kerke en sektes van die Christendom (Matt. 5:16). Hierdie skeidingswerk is ook deur Jesus voorspel in sy profesie oor “die voleinding van die wêreld” (Matt., hfste. 24, 25). Hy het gesê: “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit. En hulle [die bokke] sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.”—Matt. 25:31-33, 46.

19. Wat sal op God se bestemde tyd met die oorblywende lede van die “koring”-klas en met die “groot menigte” gebeur?

19 Terwyl die insameling van die “koring”-klas gesalfde Christene dus ten einde loop, duur die insameling van die “skape” voort. Op God se bestemde tyd sal die oorblywende lede van die “koring”-klas hulle aardse loopbaan voltooi en by die “Seun van die mens” aansluit as deel van sy hemelse koninkryk of regering. Hulle sal “die koningskap” saam met die res van die 144 000 “heiliges” ontvang (Dan. 7:18, 22, 27). En die “groot menigte” “skape” wat nou ingesamel word, sal die “groot verdrukking” oorleef wat die einde (telos) van die huidige duiwelse stelsel gaan kenmerk en sal deel word van die “volke en nasies en tale” wat die “Seun van die mens” op aarde sal dien onder sy “ewige heerskappy” of hemelse koninkryk.—Openb. 7:4, 9, 10, 14; Dan. 7:13, 14.

20. Wat word bewys deur die feit dat die oes al ver gevorder het; wat moet jy dus doen, en waarom?

20 Waar pas jy in by die vervulling van die gelykenis van die “koring” en die “onkruid”? Die feit dat die “oes” van die “kinders van die koninkryk” al ver gevorder het, bewys dat die “voleinding [synte’leia] van die wêreld” sy einde (telos) nader. Jou gesindheid teenoor die koringagtige, gesalfde “broeders” van Christus en die wyse waarop jy hulle behandel, sal die beslissende faktor wees wat bepaal of jy in die “ewige straf” sal weggaan of die “ewige lewe” sal ontvang (Matt. 25:34-46). Wees ’n lojale metgesel van die gesalfde “koring”-klas, die “getroue en verstandige dienskneg”, wat deur Christus aangestel is om geestelike “voedsel op tyd” te gee (Matt. 24:45). Bly besig in die insamelingswerk, want onthou: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde [telos] kom”, en: “Wie volhard tot die einde [telos] toe, hy sal gered word.”—Matt. 24:13, 14.

[Voetnote]

a A Greek-English Lexicon of the New Testament and Other Early Christian Literature, W. Bauer, vertaal deur W. F. Arndt en F. W. Gingrich.

b Kyk hoofstukke 16 en 17 van die boek “Then Is Finished the Mystery of God”, wat in 1969 deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee is.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel