’n Saailand wat koring en onkruid voortgebring het
“Verklaar vir ons die gelykenis van die onkruid in die saailand.”—Matt. 13:36.
1, 2. (a) Op watter beginsels kan ’n mens peil trek wat saaiwerk betref? (b) Watter gelykenis is op hierdie twee beginsels gebaseer?
“SAAITYD en oestyd” is een van die kringlope wat Jehovah God in sy hart gesê het “al die dae van die aarde” nie sal ophou nie (Gen. 8:21, 22). ’n Verwante, basiese beginsel is deur die apostel Paulus gestel toe hy geskryf het: “Net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.”—Gal. 6:7.
2 Op grond van hierdie fundamentele feite was ’n boer wat met saaityd hard gewerk het om goeie koring te saai, seker dat daar mettertyd ’n oes sou wees. Die een volg logies op die ander. Toe sy plaasarbeiders later vir hom gesê het dat sy saailand nie net koring voortgebring het nie, maar ook ’n sekere onkruid, was hy eweneens seker dat daar gemene spel was. Hy het geweet wat hy gesaai het: koring, nie onkruid nie. Hierdie nuwe verwikkeling het ’n besluit geverg. Sy werknemers het voorgestel dat daar dadelik opgetree word. Hulle wou dadelik die onkruid uittrek, maar die verstandige boer het hulle ywer getemper. Hy het vir hulle gesê om dit nie te doen nie uit vrees dat hulle die koring sou seermaak terwyl hulle die onkruid uittrek. Laat albei saam groei. Die oestyd sou ’n geskikte tyd wees om die ware koring van die valse te skei.
3. Watter belangrike verwikkelinge in verband met die Koninkryk het Jesus toegelig, en waarvan sou die skeidingswerk ’n kenmerk wees?
3 Hierdie gelykenis is deur Jesus Christus gebruik om sekere verwikkelinge af te beeld wat sou plaasvind in die werk wat hy op aarde begin het. Die doel van daardie saaiwerk was om die vereiste oes ware Christene voort te bring wat saam met hom sou regeer in die hemelse regering bekend as “die koninkryk van die hemele”. Hy het aldus voorspel dat die vyand Satan die Duiwel inbreuk sou maak op sy goeie saaiwerk. Die saailand sou nie alleen die gewenste oes koringagtige, ware Christene voortbring nie, maar ook ’n klomp onkruidagtige naamchristene. Albei sou toegelaat word om tot die oestyd te groei, maar dan sou hulle geskei word. Hierdie skeidingswerk sou daarbenewens ’n verdere kenmerk van die “laaste dae”, die “voleinding van die wêreld”, wees.—Matt. 13:24-30, 36-43; vergelyk Mattheüs 24:3; 2 Timotheüs 3:1.
4. Waarom moet hierdie gelykenis vir ons van belang wees?
4 Sou jy graag wou sien dat die huidige goddelose stelsel eindig? Sal jy persoonlik geraak word deur die uitslag van hierdie oeswerk? En, so terloops, bied Jesus se gelykenis ’n sleutel om die geskiedenis van die Christendom deur die eeue heen te verstaan? Kom ons kyk.
DIE GELYKENIS VAN DIE KORING EN DIE ONKRUID
5, 6. (a) Waarom kan die uitdrukking “die koninkryk van die hemele” in hierdie gelykenis nie na Christus se hemelse regering verwys nie? (b) Waarna verwys die gelykenisse oor die koninkryk dus, en wat word geïllustreer?
5 Op die kus van die See van Galilea, nie ver van die huis waar hy gewoon het nie, het Jesus hierdie gelykenis aan sy dissipels en ’n groot menigte nuuskierige mense ingelei deur te sê: “Die koninkryk van die hemele is soos ’n man wat goeie saad in sy land gesaai het; maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid onder die koring gesaai en weggegaan. En toe die spruitjies opgeskiet en vrug gevorm het, toe verskyn die onkruid ook.”—Matt. 13:24-26.
6 As ons vinnig na die ander gelykenisse oor die koninkryk in Mattheüs hoofstuk 13 kyk, help dit ons om te besef dat die uitdrukking “die koninkryk van die hemele” in hierdie gelykenisse nie kan verwys na die voltooide Messiaanse regering of koninkryk in die hemele nie. Kan ’n mens jou dit voorstel dat daar “onkruid”, suurdeegagtige “boosheid” (Mt 13 vers 33; 1 Kor. 5:8) of mense wat met goddelose, oneetbare “visse” (Mt 13 verse 47-50) vergelyk word saam met Christus in sy hemelse koninkryk sal wees? Nouliks! Hierdie gelykenisse moet dus verwys na goeie en slegte verwikkelinge ten opsigte van die uitverkiesing van Christus se toekomstige metgeselle in “die koninkryk van die hemele”. Die gelykenis van die koring en die onkruid illustreer in die besonder ’n toestand onder diegene op aarde wat bely dat hulle geroep is om saam met Christus in sy koninkryk te regeer. Hierdie toestand sal ’n ruk lank geduld word, voordat dit tydens die simboliese “oes” beëindig word.
7, 8. (a) Wie is die “Seun van die mens”? (b) Watter ander profesie meld die “Seun van ’n mens” en diegene wat deur die “goeie saad” afgebeeld word?
7 Jesus het self later die simboliese betekenis van die “huisheer”, of die ‘man wat gesaai het’, “sy land”, die “goeie saad”, “sy vyand” en die “onkruid” verduidelik. Die verslag lui: “Nadat Hy die skare weggestuur het, het Jesus huis toe gegaan; en sy dissipels het na Hom gekom en gesê: Verklaar vir ons die gelykenis van die onkruid in die saailand. En Hy het geantwoord en vir hulle gesê: Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens, en die saailand is die wêreld. Die goeie saad—dit is die kinders van die koninkryk, en die onkruid is die kinders van die Bose, en die vyand wat dit gesaai het, is die duiwel.”—Matt. 13:36-39.
8 Jesus het homself geïdentifiseer as die “Seun van die mens” (Matt. 8:20; 25:31; 26:64). Dit is interessant genoeg in verband met die Koninkryk dat Jesus profeties in ’n gesig van Daniel die “Seun van ’n mens” genoem is. Daardie profesie sê: “Aan Hom [die “Seun van ’n mens”] is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ’n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.” Om te toon dat die Seun van die mens medeheersers sou hê, het die profetiese gesig ook gesê: “Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is ’n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees.”—Dan. 7:13, 14, 27.
“GOEIE SAAD” WORD GESAAI
9. Wat is die “saailand”, en waarom het Jesus “goeie saad” daarin gesaai?
9 Dit is met die doel om die vereiste aantal “heiliges” of “kinders van die koninkryk” uit die wêreld te versamel dat Jesus, die “huisheer” van die gelykenis, “goeie saad in sy land gesaai het”. Daar is verduidelik dat die “saailand” “die wêreld [Grieks, ko’smos]”, die wêreld van die mensdom, is. Sedert Jesus se aardse bediening is die mensdom ’n “akker”, ’n godsdienstige saailand wat die geleentheid bied om die “goeie saad” of “kinders van die koninkryk” te saai en te kweek (1 Kor. 3:9). Jesus het die Joodse deel van die “saailand” gedurende die drie-en-’n-half jaar van sy aardse bediening ywerig voorberei (Matt. 9:35-38). Van Pinkster, 33 G.J., af het hy toe “goeie saad” gesaai, eers onder die Jode, en eindelik in die hele wêreld of “saailand”.—Hand. 1:8.
10. Watter vordering het die saaiwerk onder die Jode en die proseliete gemaak?
10 Toe Jesus verduidelik het wat die “goeie saad” is, het hy gesê: “Dit is die kinders van die koninkryk.” Die eerste van hierdie geesverwekte, gesalfde “kinders van die koninkryk” was Jesus se getroue apostels en die honderd of wat ander dissipels, manne sowel as vroue, wat die gawe van die heilige gees op Pinkster, 33 G.J., in Jerusalem ontvang het (Hand. 1:13-15; 2:1-4). Daardie selfde dag is omtrent 3 000 ander, Jode sowel as proseliete, by die pasgestigte Christengemeente gevoeg (Hand. 2:5-11, 41). Jehovah het hierdie saaiwerk geseën en “daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is” sodat “die getal van die manne [die vroue is moontlik nie ingereken nie] . . . omtrent vyfduisend geword” het. Die verslag voeg by wat ’n rukkie later gebeur het: “Daar is meer en meer gelowiges in die Here by gevoeg, menigtes van manne sowel as vroue” (Hand. 2:47; 4:4; 5:14). Die saai werk het vinnig onder die Jode en die proseliete gevorder.
11. Hoe het die saaiwerk onder die Samaritane en die nie-Jode gevorder?
11 Nadat die Saaier Jesus gereël het dat saad onder die Samaritane gesaai word (Hand., hfst. 8), het hy die saaiwerk deur middel van die heilige gees na die onbesnede nie-Jode of Heidene laat uitbrei (Hand., hfst. 10; 13:1-5, 46, 47). Binne ’n paar dekades was daar Christengemeentes van Noord-Afrika tot die Swart See en van Babilonië tot Italië, indien nie selfs verder wes nie (Hand. 2:5-11; 1 Pet. 5:13; Rom. 15:24; Kol. 1:5, 6, 23). As gevolg van ywerige saaiwerk het ‘spruitjies opgeskiet en is vrug gevorm’.—Matt. 13:26.
ONKRUID WORD GESAAI
12, 13. Wie is die “vyand”, en hoe het hy onkruid gesaai “terwyl die mense slaap”?
12 Maar alles was nie pluis nie. Jesus se gelykenis het gewaarsku: “Terwyl die mense slaap, het sy [die Saaier se] vyand gekom en onkruid onder die koring gesaai en weggegaan. En toe die spruitjies opgeskiet en vrug gevorm het, toe verskyn die onkruid ook” (Matt. 13:25, 26). Jesus het “sy vyand” geïdentifiseer as “die duiwel”, wat sy sabotasiewerk sou doen “terwyl die mense slaap”. In die Bybel kan “slaap” die dood of geestelike lomerigheid afbeeld (Matt. 9:24; Rom. 13:11; 1 Thess. 5:6). Nadat Paulus melding gemaak het van ‘die volbrenging van sy loopbaan’ het hy vir die ouere manne van die Christengemeente in Efese gesê: “Ek weet dit, dat na my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan. Daarom moet julle waak.”—Hand. 20:24-31.
13 Geskiedkundige feite toon dat Satan “gekom en onkruid onder die koring gesaai” het ‘terwyl die mense geslaap het’. Nadat die apostels, wat die afval gesamentlik ‘teëgehou het’, begin ontslaap het, het baie Christen- ouere manne nagelaat om te “waak” (2 Thess. 2:3, 6-8). Omdat hulle geestelik lomerig geword het, het hulle nie die “kinders van die koninkryk” beskerm teen die “wrede wolwe” wat begin het om onder hulle in te kom nie. Dit was “onkruid” wat tussen die “goeie saad” gesaai is. Met verwysing na die naderende einde van die apostoliese tydperk het Johannes, die apostel wat laaste gesterf het, geskryf: “Dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is. Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie.”—1 Joh. 2:18, 19.
14. Watter inligting word verstrek oor die soort onkruid waarna daar in Jesus se gelykenis verwys word?
14 Jesus het gesê: “Die onkruid is die kinders van die Bose” (Matt. 13:18). In sy boek Natural History of the Bible het H. B. Tristram die volgende geskryf oor die soort onkruid waarna daar in hierdie gelykenis verwys word: “Die onkruid (zizania) is dieselfde as die Arabiese zawân, waaruit die Griekse naam afgelei is, die Lolium temulentum, of drabok . . . Dit is ’n soort raaigras, en dit is die enigste spesie van die grasfamilie met giftige sade. Zawân is afgelei uit zân, ‘vomering’ daar drabok, wanneer dit geëet word, hewige naarheid, stuipe en diarree veroorsaak wat dikwels die dood meebring. Omdat die plant ’n breër blaar as die meeste wilde grassoorte het, lyk dit presies soos koring totdat die aar verskyn.”
15. (a) Is die “onkruid” “koring” wat ontaard het? (b) Waarvoor kan die “Seun van die mens” dus nie die skuld kry nie?
15 Daar moet gemeld word dat die “onkruid” nie koring is wat ontaard het soos party Joodse Talmoedistea en ander eens geglo het nie. Koringsaad verander nooit in onkruid nie. Dit sal strydig wees met Jehovah se onveranderlike wet: “Laat die aarde voortbring grasspruitjies, plante wat saad gee en bome wat, volgens hulle soorte, vrugte dra” (Gen. 1:11, 12). Hierdie wetenskaplike feit onthef die “Seun van die mens”, Christus Jesus, “hy wat die goeie saad saai”, van enige verantwoordelikheid vir wat in “sy land” gebeur het. Die “goeie saad” wat hy gesaai het, sou nooit ’n klomp onkruid gelewer het nie. Dit kon slegs “koring”, of ware “kinders van die koninkryk”, voortbring. Wat later in sy “land” gebeur het, was die regstreekse gevolg omdat sy vyand opsetlik en met voorbedagte rade “onkruid” of “kinders van die Bose” tussenin gesaai het.
16. Van watter geskiedkundige belang is die gelykenis van die “koring” en die “onkruid”?
16 Jesus se gelykenis van die “koring” en die “onkruid” werp dus baie lig op die geskiedenis van die Christendom deur die eeue heen. Die geskiedkundige feite toon dat Satan na die dood van die apostels baie “onkruid”, “wrede wolwe” en “antichriste” in die gemeentes van ware Christene ingebring het, net soos Jesus, Paulus, Petrus, Johannes en Judas voorspel het (Hand. 20:29; 2 Pet. 2:1-3; 1 Joh. 2:18; Judas 4). Dit is net soos Jesus gesê het: “Toe die spruitjies opgeskiet en vrug gevorm het, toe verskyn die onkruid ook.”—Matt. 13:26.
17. Wanner het die “onkruid” veral duidelik geword?
17 Hierdie “onkruid” het veral gedurende die tweede en derde eeu kenlik geword toe die sogenaamde kerkvaders onskriftuurlike leerstellings soos die inherente onsterflikheid van die siel, die helse vuur en die Drie-eenheid begin verkondig het. Baie van hierdie manne was eerder filosowe as ware Christenopsieners wat getrou was aan die leerstellings van die Bybel. Die klimaks het vroeg in die vierde eeu gekom toe heidense keiser Konstantyn hierdie afvallige Christelike godsdiens met die heidense godsdiens van Rome versmelt het. Hierdie valse Christelike godsdiens, met sy Rooms-Katolieke, Russies-Ortodokse, Grieks-Ortodokse en Protestantse vorme, het nie alleen deur die eeue heen nie, maar reg tot vandag toe ’n buitengewoon groot klomp “onkruid” gelewer.
“LAAT ALTWEE SAAM GROEI”
18. Watter verdere verwikkelinge was daar volgens Jesus se gelykenis?
18 Hierdie situasie sou ongetwyfeld die “Seun van die mens” se “diensknegte” ontstel. Jesus se gelykenis se voorts: “En die diensknegte van die huisheer het gekom en vir hom gesê: Meneer, het u dan nie goeie saad in u land gesaai nie? Waar kry dit dan die onkruid vandaan? En hy antwoord hulle: ’n Vyandige mens het dit gedoen. Toe sê die diensknegte vir hom: Wil u dan hê dat ons dit moet gaan bymekaarmaak? Maar hy antwoord: Nee, dat julle nie miskien, as julle die onkruid bymekaarmaak, die koring daarmee saam uittrek nie. Laat altwee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur.”—Matt. 13:27-30.
19. Waarom was die “diensknegte van die huisheer” ontsteld?
19 Jesus sê nie of hierdie bekommerde “diensknegte” (Mt 13 vers 27) dieselfde is as die “maaiers” (Mt 13 vers 30) nie. As dit die geval is, sou dit beteken dat die engele ontsteld is oor die welige “onkruid” in hulle Heer se saailand (Matt. 13:39). Hierdie “diensknegte” het gevra of hulle dadelik die drabok, wat die “kinders van die Bose” afbeeld, moet uittrek (Matt. 13:38). Hulle het gevrees dat hierdie naamchristene of “onkruid” wat met voorbedagte rade deur die “vyand”, die Duiwel, gesaai is die egte “koring”, die ware “kinders van die koninkryk”, sou verstik.
20. Wat het die “huisheer” vir sy “diensknegte” gesê, en hoe staaf die geskiedenis dit?
20 Maar die “huisheer”, die “Seun van die mens”, het nie sy “diensknegte” gemagtig om die “onkruid” of naamchristene te gaan uittrek en hulle van die “koring”, die ware Christene, te skei nie. Hy het gesê: “Laat altwee saam groei tot die oes toe.” So het dit dan gebeur dat die ware en valse Christendom saam in die “saailand” of “wêreld” van die mensdom gegroei het. Maar die “oestyd” sou kom. Wanneer? En hoe raak dit jou?
[Voetnoot]
a “Die Jerusalemse Talmoed haal ’n mening aan dat die onkruid zunim genoem word omdat die koring as gevolg daarvan mezannot (‘owerspel pleeg’), d.w.s., dit verander sy eienskappe en ontaard in onkruid.”—Encyclopœdia Judaica, Deel 15, kolom 810.
[Prent op bladsy 16]
Die onkruid drabok
Egte koring