Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 11/15 bl. 18-23
  • Gelukkig is diegene wat God teregwys

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gelukkig is diegene wat God teregwys
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • WYS MEKAAR IN LIEFDE TEREG
  • WANNEER FERME OPTREDE NODIG IS
  • “TEKEN DIÉ MAN”
  • VERGADERING MET ’N KOMITEE VAN OUERE MANNE
  • Hoe om teregwysing te aanvaar
    Ontwaak!—2014
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Bewaar die vrede en reinheid van die gemeente
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 11/15 bl. 18-23

GELUKKIG IS DIEGENE WAT GOD TEREGWYS

“Gelukkig is die man wat u teregwys, o Jah, en wat u uit u eie wet onderrig.”—Ps. 94:12, NW.

1, 2. Hoe moet ons godvrugtige teregwysing beskou?

WANNEER was die laaste keer dat jy in woord of daad aan God se regverdige weë en standaarde te kort geskiet het? Jy sal waarskynlik nie te ver hoef terug te dink nie, moontlik net ’n paar ure of dae, want ons sondig almal en versuim om God se heerlikheid behoorlik te weerspieël.—1 Kon. 8:46; 1 Joh. 1:8-10.

2 Ons kan bly wees dat Jehovah ons in sy liefde wil en kan teregwys. “Kan Hy wat die nasies teregwys, nie bestraf nie? Ja, Hy wat die mense kennis leer? Gelukkig is die man wat u teregwys, o Jah.” As ons toelaat dat Jehovah ons “teregwys”, sal ons gelukkig wees, want dan sal ons in harmonie met hom wees.—Ps. 94:10, 12, NW.

3. Watter onderwerpe gaan tereg bespreek word?

3 Christene kan die Bybel se versekering vertrou: “Die Here tugtig hom wat Hy liefhet” (Hebr. 12:6). Ons is gevolglik bly dat ons ’n Bybelse bespreking van sake in verband met teregwysing, berou en uitsetting kan aanbied. Twee artikels in hierdie reeks verskyn in hierdie nommer van Die Wagtoring, en die oorblywende drie sal in die volgende nommer gepubliseer word. Hierdie vyf artikels behoort almal te help om ’n duidelike begrip van die betrokke Skriftuurlike beginsels te verkry en om “herstel te word, vertroos te word, eensgesind te wees, vreedsaam te lewe”.—2 Kor. 13:11, NW.

4, 5. Hoe wys Jehovah God ons tereg?

4 God wys ons dikwels op so ’n sagte en vriendelike manier tereg dat ons dit dalk nie eens as teregwysing herken nie. Ons lees moontlik iets in sy Woord wat ons weglei van ’n onwenslike weg of ons denke regstel. Ander kere kan teregwysing van God af skerper en selfs effens pynlik wees. Hy weet egter hoeveel en watter metode van teregwysing vir ons die beste is (Jer. 30:11, NW). Hoe goed is dit tog wanneer ons gewillig sy teregwysing aanvaar, want God tugtig uit liefde net soos ’n vader ’n dierbare seun tugtig! Dit is ook baie verstandiger van ons om enige beperkte of beheerste teregwysing van Jehovah God af te aanvaar sodat dit nie nodig is dat ons gestraf word tot die mate dat ons uitgewis word nie.—Jer. 10:24; Hebr. 12:5.

5 Soms wys God ander deur middel van mense tereg. Hy het profete en rigters na die nasie Israel gestuur. Maar hy kan verstandige teregwysing selfs op ’n indiwiduele grondslag voorsien. Een van Job se valse “vertroosters” moes erken dat Job “baie mense tereggewys” het (Job 4:3; 16:2). Watter seën moes dit tog gewees het om verstandige teregwysing van Job, ’n besonder godvrugtige man, te ontvang! Maar ons kan onsself afvra: ‘Is ek vatbaar vir nuttige teregwysing van hierdie aard, teregwysing deur ’n mens, maar wat op God se volmaakte wysheid gebaseer is?’

WYS MEKAAR IN LIEFDE TEREG

6. Op watter grondslag kan ’n broer ons teregwys?

6 Jesus het iets gesê wat ons rede gee om te verwag dat ander ons, en ons ander, liefdevol sal teregwys. Jesus se woorde oor gevalle van ernstige oortreding teenoor ander, maar wat in beginsel op baie situasies toegepas kan word, was: “As jou broer verkeerd optree, wys hom tereg; en as hy berou kry, vergewe hom” (Luk. 17:3, The New American Bible). Die apostel Paulus het ook geskryf dat “’n dienskneg van die Here” ander “in sagmoedigheid [moet] teregwys”.—2 Tim. 2:24, 25.

7. Wat moet gebeur in die geval van growwe sonde?

7 Die herders of aangestelde opsieners in die gemeente wil elke Christen indiwidueel en die kudde as geheel beskerm (Hebr. 13:17; 1 Pet. 5:2, 3). Wanneer iemand hom gevolglik aan growwe sonde skuldig maak, moet dit onder hulle aandag gebring word. Die sondaar self behoort ‘die ouere manne van die gemeente in te roep’. Of, enige ander Christen wat van die ernstige sonde te wete kom, moet die ouere manne daarvan verwittig, uit besorgdheid oor die oortreder en oor die reinheid van die gemeente (Lev. 5:1). Hierdie ouere manne kan dan moontlik die persoon wat in sonde verval het, help, hom tot inkeer bring en aldus ‘sy siel uit die dood red’.—Jak. 5:14, 16, 19, 20.

8. Hoe moet ons ons broers se geringe foute beskou?

8 Daar is gebreke of sondes van ’n minder ernstige aard waar ryp Christene in ’n posisie sal wees om Bybelse teregwysing en hulp te gee. Ons moet natuurlik daarteen waak om te krities teenoor ander se geringer foute te staan, want God spoor ons aan om lankmoedig te wees en mekaar te verdra (Kol. 3:12, 13). Ons moet ‘nederig wees, die een die ander hoër ag as homself, nie na ons eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n’ (Filip. 2:3, 4). God verseker ons dat dit vir ons “’n eer [is] om die oortreding te vergewe”.—Spr. 19:11.

9, 10. Wat kan gedoen word as ’n broer oënskynlik ’n misstap begaan?

9 Dit kan nietemin gebeur dat ons ’n Christenmetgesel ’n misstap sien begaan of op gevaar sien afstuur weens ’n slegte gedragspatroon. In ons noue omgang met ’n broer, merk ons dalk dat hy geneig is om straf te drink. Dit lyk nie of hy ’n dronkaard is nie, maar dit is duidelik dat hy hom ‘oorgee aan baie wyn’ (1 Tim. 3:8, NW). Nuttige teregwysing kan dus gegee word. Maar deur wie?

10 Paulus het aan die Christene in Galasië geskryf: “Selfs al doen iemand ’n misstap voordat hy daarvan bewus is, moet julle wat geestelike hoedanighede het, so iemand in ’n gees van sagmoedigheid probeer herstel” (Gal. 6:1, NW). ’n Christen met geestelike hoedanighede kan iemand op verskeie maniere vriendelik en taktvol teregwys. Hy kan byvoorbeeld iets in die loop van ’n algemene gesprek sê sodat dit nie eens na doelbewuste raad klink nie (Spr. 15:23). Of hy kan die persoon privaat vermaan. Maar—en dit is noodsaaklik—sy poging moet nie die gevolg van ’n kritiese gees wees nie; dit moet voortspruit uit liefdevolle besorgdheid.—1 Kor. 13:4, 5.

11. Hoe kon die broers en susters in Filippi gehelp het met ’n probleem wat party aldaar gehad het?

11 Daar is ook ander situasies waarin Christenbroers en susters kan help. Paulus het die volgende geskryf aangaande ’n probleem in Filippi:

“Ek vermaan Euodia en ek vermaan Sintiche om eensgesind te wees in die Here. En ek vra jou ook, opregte metgesel, wees hierdie vroue behulpsaam wat met my saamgestry het in die evangelie” (Filip. 4:2, 3).

Daar het klaarblyklik ’n probleem of groot meningsverskil tussen hierdie twee gesalfde Christinne bestaan. Die apostel het sekerlik nie die Filippense aangespoor om kant te kies in die saak nie. Dit sou die gemeente verdeel en aanleiding gee tot partyskap, jaloesie en tweedrag (1 Kor. 1:10-13; 3:2-9). Dit is ’n ernstige gevaar wat vermy moet word. Maar sonder om hulle neuse in die vroue se griewe of beskouings te steek, kon die broers en susters, net soos die “opregte metgesel” in Filippi, hulle korrektief aanspoor tot Christelike eenheid, vergewensgesindheid en liefdevolle samewerking (Matt. 5:23-25; Ef. 4:16, 31, 32; Tit. 2:3-5). As jy sulke goedbedoelde teregwysing van ’n mede-aanbidder ontvang, moet jy dit as ’n blyk van liefde beskou.—Ps. 141:5.

WANNEER FERME OPTREDE NODIG IS

12, 13. Watter soort ernstiger sonde kan in ’n gemeente bestaan?

12 Soms sal daar ’n Christen wees wat ’n weg inslaan wat nie met God se voorskrifte strook nie en wat nie verander nie ondanks hulp van selfs die ouere manne. Dit is nie ’n geval waar iemand se persoonlikheid bloot met die van ’n ander bots nie. En dit is ook nie net ’n indiwidu wat nog nie Christelike rypheid bereik het nie en gevolglik op verskeie maniere toon dat hy nog moet groei nie. Paulus het erken dat daar onryp Christene sal wees wat gehelp moet word met geduld, liefde en ’n begeerte om hulle te sien vordering maak (Rom. 14:1; 15:1; 1 Kor. 13:11; Filip. 3:15, 16). Maar afgesien hiervan kan daar iemand wees wat verkies om ’n weg te bewandel wat duidelik in stryd met God se raad is, al kom dit nog nie op ernstige sonde neer nie.

13 Dit behoort ons nie te skok dat daar nou en dan sulke Christene sal wees nie. Die Bybel sê: “In ’n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en erdewerk; en sommige tot eer, maar ander tot oneer” (2 Tim. 2:20, 21). Die gemeente is vergelyk met ’n huis waarin daar sommige indiwidue kan wees wat soos eerlose voorwerpe is en wie se weë of invloed ongesond is. Timotheüs en ander getroue Christene is gewaarsku om van sulke eerlose voorwerpe af weg te bly.—Vergelyk Romeine 16:17.

14, 15. Watter probleem het in die gemeente in Thessalonika ontstaan, en hoe kan Christene op so ’n probleem reageer?

14 In ooreenstemming met hierdie begrip en toepassing van Paulus se woorde, sien ons dat daar so ’n geval in antieke Thessalonika was. Die gemeente as geheel is gewaarsku teen sommige wat nie wou werk nie al was hulle skynbaar gesond en daartoe in staat. Hierdie paar wou op ander teer, in stryd met God se raad oor luiheid. Paulus het dus geskryf: “Ons beveel julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, dat julle jul onttrek aan elke broeder wat onordelik wandel en nie volgens die oorlewering wat hy van ons ontvang het nie.”—2 Thess. 3:6; Spr. 20:4; 24:30, 31; Pred. 5:11, 17; 10:18.

15 Ja, daar kan iemand wees wat hom ‘nie met woorde laat waarsku het nie’, onder meer Skriftuurlike raad van die ouere manne aan die gemeente, en wat voortgaan om in stryd met God se beginsels op te tree. Christene voel dan moontlik verplig om hulle aan hom te “onttrek”, soos Paulus aangeraai het.—Spr. 10:17; 29:19.

“TEKEN DIÉ MAN”

16. Watter raad het Paulus aan die Thessalonicense gegee?

16 Toe Paulus sy raad aan die Thessalonicense oor die lui, onordelike persone voortgesit het, het hy geskryf: “As iemand aan ons woord in hierdie brief nie gehoorsaam is nie, teken dié man en hou geen gemeenskap met hom nie, sodat hy skaam kan word. En beskou hom nie as ’n vyand nie, maar vermaan hom as ’n broeder” (2 Thess. 3:14, 15). Christene kan dus iemand wat voortgaan om God se beginsels te veronagsaam “teken”.

17. (a) Waarom moet ons versigtig wees wanneer ons daardie raad toepas? (b) Wat het Jesus in hierdie verband gesê?

17 Ons moet egter baie versigtig wees wanneer ons hierdie goddelike raad toe pas. In ons onvolmaaktheid kan ons geneig wees om persoonlike oordele te vel wat gebaseer is op persoonlike voorkeur of teensin, soos die in verband met klere drag of persoonsversorging. Maar as ’n suster se kleredrag byvoorbeeld nie onbeskeie, onbetaamlik of skokkend in die oë van die broers oor die algemeen is nie, moet ons besef dat sy bloot ’n ander smaak of voorkeur het (Gen. 37:3, 4; Joh. 19:23; 1 Tim. 2:9, 10). Ons is nie aan gestel as regters van ons broers en susters waar dit kom by onbelangrike menings verskille of variasies in smaak of gewete nie (Rom. 14:4, 10-12). Of, selfs al het iemand dit verkeerd waar dit kom by ’n waarlik onbenullige punt, moet ons Jesus se raad onthou:

“Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; . . . waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie?”—Matt. 7:1-3.

18. Wat moet gedoen word wanneer iemand baie duidelik in stryd met God se raad optree?

18 Maar gestel nou daar is iemand wat ernstig van God se beginsels afwyk, miskien iemand wat uitermate lui of krities is of wat “onsin praat” en voortdurend “bemoeisiek” is (2 Thess. 3:11). Of die probleem is miskien dat die persoon planne beraam om materieel voordeel uit ander te trek, vermaak geniet wat duidelik onfatsoenlik is, of hom skuldig maak aan twyfelagtige gedrag wat nie op hierdie stadium optrede deur die regterlike komitee regverdig nie.a Die ouere manne het probeer om hom te help, maar hy volhard op sy weg en beïnvloed ander in die gemeente of hou ’n gevaar vir ander in. Die ouere manne kan die saak bespreek en een uit hulle geledere aanwys om ’n ferme, reguit Skriftuurlike toespraak oor die aangeleentheid voor die gemeente te hou. Sonder om die ‘onordelike’ persoon by name te noem, kan die ouere manne aldus so ’n tugtelose persoon se ‘mond stop’.—Tit. 1:10-13.

19. Hoe kan ander in die gemeente reageer indien die probleem voortduur?

19 As so ’n situasie in ’n gemeente bestaan, sal indiwiduele Christene moontlik verplig voel om die persoon te teken”.b Paulus verduidelik wat dit onder meer behels deur te sê: “Hou geen gemeenskap met hom nie, sodat hy skaam kan word” (2 Thess. 3:14). Dit beteken dat jy jou sosiale omgang met die ‘getekende’ persoon inkort. Jy moet nie jou persoonlike besluit aankondig of bekendmaak nie, en nie probeer om ander te beïnvloed nie. Maar jy sal persoonlik die geselskap van die ‘getekende’ persoon vermy in ooreenstemming met die gesonde raad wat deur die gemeente se ouere manne gegee is. Jy sal hom egter nie heeltemal verwerp nie, want hy is nog jou broer, ’n mede-Christen vir wie Christus gesterf het. In plaas daarvan om toe te laat dat saadjies van “haat” ontkiem, moet jy hom “berispe”. Hoe? Wel, benewens jou eie goeie voorbeeld is jou vriendelike maar ferme gehoorsaamheid aan die opdrag “hou geen gemeenskap met hom nie” een vorm van teregwysing. Maar jy kan meer doen om te help.—Lev. 19:17; Tit. 2:7, 8.

20. Watter verantwoordelikheid het jy as jy iemand wat onordelik is, ‘geteken’ het?

20 Jy sal steeds tydens gemeentelike vergaderinge en in die velddiens met die ‘getekende’ Christen in aanraking kom. So sal jy die geleentheid kry om jou ander verpligting na te kom nadat jy hom ‘geteken’ het: “Beskou hom nie as ’n vyand nie, maar vermaan hom as ’n broeder” (2 Thess. 3:14, 15). As jy nie jou verantwoordelikheid nagekom het deur hierdie deel van God se raad uit te voer nie, maar die ‘getekende’ persoon as ’n vyand behandel het, kan jou handelwyse net so liefdeloos soos syne wees.

21. Wat is die doel van hierdie Bybelse reëling? (Num. 35:12; Deut. 19:11, 12)

21 Ons hoop dat die ‘getekende’ indiwidu skaam sal word. Hy sal moontlik besef dat dit weens Skriftuurlike voorskrifte is dat jy sosiale omgang met hom vermy. Hierdie dissipline kan hom help om ‘die slap hande en die verlamde knieë weer op te rig sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak kan word’. In die lig van die groot aantal lojale broers wat vandag met God se gemeente omgaan, sal dit waarskynlik selde wees dat Christene ’n onordelike broer moet “teken”. Maar wanneer dit wel gebeur, sal teregwysing, tesame met volgehoue vermaning, moontlik “’n vredevolle vrug van geregtigheid” lewer.—Hebr. 12:11-13.

VERGADERING MET ’N KOMITEE VAN OUERE MANNE

22, 23. Hoe moet gevalle van growwe sonde hanteer word?

22 Soos ons reeds (in paragraaf 7) gemeld het, het ’n indiwidu wat ‘ernstige sonde gedoen het’ die aandag van ‘die ouere manne van die gemeente’ nodig (Jak. 5:14, 15). Hierdie manne is in ’n goeie posisie om godvrugtige teregwysing te gee aan ’n persoon wat oormeester is en in ernstige sonde verval het. Hulle kan die geestelike hulp verleen wat hy nodig het.—Spr. 6:23.

23 ’n Komitee wat uit drie ouere manne bestaan, word gewoonlik aangestel om ’n geval van ernstige oortreding te hanteer. Hulle tree nie bloot as regters of ‘geestelike polisiemanne’ op nie. Hulle is herders van die kudde, en gedra hulle as sodanig in hulle handelinge met ’n oortreder. ’n Herder van letterlike skape lê nie wraaksug, hardvogtigheid of ’n kritiese gees aan die dag nie. En die ouere manne moet dit ook nie doen nie. Hulle is daar om te help, nie om te veroordeel nie (Jud. 23). Hulle oogmerk is om die sondaar van sy weg te bekeer, indien moontlik.—Jak. 5:19, 20.

24. Wat probeer die ouere manne om vir die sondaar te doen?

24 Maar in hulle handelinge met ’n persoon wat hom aan ernstige sonde skuldig gemaak het, moet die ouere manne “vashou aan die betroubare woord” sodat hulle “in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê” (Tit. 1:9). Hulle moet dus nie aarsel om vir die oortreder reguit uit die Skrif te toon hoe verkeerd sy handelwyse is en waarom hy die regte weg moet inslaan nie. Hulle wil hê dat hy berou moet toon en weer vrede met God moet geniet.—1 Pet. 3:10-12.

25. Watter sake moet nog bestudeer word?

25 Maar hoe moet die ouere manne oortreders teregwys? Wat is godvrugtige berou? Hoe word dit aan die dag gelê? Hoe moet die ouere manne optree in gevalle van growwe sonde waar berou getoon word? Moet die oortreder voor die hele gemeente tereggewys word? Hierdie sake sal in die volgende artikel bespreek word.

[Voetnote]

a ’n Voorbeeld in verband met afsprake wanneer ’n persoon nie Skriftuurlik vry is om weer te trou nie, is bespreek in “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 Oktober 1980.

b ’n Mens “teken” ’n persoon deur spesiaal op hom te let. Vergelyk die gunstige gebruik van ‘oplet’ in Psalm 37:37; Filippense 3:17 en Hebreërs 13:7.

[Venster op bladsy 22]

HOE IS ONS BY GODVRUGTIGE TEREGWYSING BETROKKE?

Soms wys God ons deur die Bybel of Bybelstudiehulpe tereg.

Of ’n Christen, veral ’n ouere man, kan ons aandag liefdevol op ’n fout vestig.

As sommige weier om ’n onordelike handelwyse te staak, moet die ouere manne dalk die gemeente op hulle hoede stel en waarsku teen die handelwyse of eienskap.

Dan behoort ons indiwidueel enige sodanige onordelike persone te “teken” (2 Thess. 3:14, 15).

As ons dit doen, sal ons sosiale omgang met sulke persone vermy, MAAR ons moet ook ons verpligting nakom om sulke onordelike persone te help en te vermaan, want hulle is nog ons Christenbroers.

[Prent op bladsy 19]

Sal jy vriendelike raad gee as jy ’n Christenmetgesel op gevaar sien afstuur?

[Prent op bladsy 20]

Hou aan om diegene wat korrektiewe aansporing nodig het “behulpsaam” te wees, het Paulus vermaan

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel