Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g95 9/22 bl. 4-5
  • Dobbelary—Die verslawing van die negentigerjare

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Dobbelary—Die verslawing van die negentigerjare
  • Ontwaak!—1995
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is daarmee verkeerd om te dobbel?
    Ontwaak!—2002
  • Nuwe dobbelaars—Jongmense!
    Ontwaak!—1995
  • Mag Christene dobbel?
    Ontwaak!—1994
  • Veroordeel die Bybel dobbelary?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
Sien nog
Ontwaak!—1995
g95 9/22 bl. 4-5

Dobbelary—Die verslawing van die negentigerjare

’N KAMERA gelaai met kleurfilm vang die toneel vas. Die foto strek oor ’n volle twee bladsye in ’n Sondagkoerant—amper so ver as ’n mens kan sien, krioel ’n reusepakhuis wat duisende vierkante meter groot is en in ’n bingosaal omskep is van dobbelslawe van elke ouderdom en kleur. Sien jy hulle moeë gesigte en bloedbelope oë, tekens van ure se onafgebroke spelery? Hulle wag angstig dat die volgende nommer uitgeroep word, wat hopelik sal beteken dat hulle uiteindelik wen in wat moontlik ’n vrugtelose nag was.

Blaai die bladsye van die koerant om. Sien jy die bekommerde gesigte van mense met hande vol speelkaarte, bang vir ’n verloorhand? In baie gevalle word duisende rande gewen en verloor wanneer die volgende kaart getrek word. Kyk verder as die foto’s. Kan jy die natgeswete palm van ’n senuweeagtige hand sien? Kan jy die vinnige hartklop hoor, die stil gebed wat vra om ’n beter hand die volgende keer en ’n verloorhand vir die ander spelers?

Stap in by die luukse casino’s in spoggerige hotelle en op rivierbote. Is jy verlore in ’n doolhof van helderkleurige dobbelmasjiene? Verdoof die klank van hulle handvatsels wat getrek word en die tolgeluid van draaiende wiele alle ander geluide? Of hulle nou wen of verloor, dit is soos musiek op die ore van die spelers. “Die aantrekkingskrag is vir hulle die opwinding van wat met die volgende trek van die dobbelmasjien se handvatsel gaan gebeur”, het die hoof van een casino gesê.

Veg jou pad oop deur die massa mense na die stampvol roulettetafels. Die draai van die wiel met sy rooi en swart vakkies kan ’n mens hipnotiseer. Die klank van die vallende balletjie dra tot die betowering by. Dit draai al in die rondte, en waar dit gaan lê, beteken die verskil tussen wen en verloor. Duisende rande word dikwels op ’n enkele draai van die wiel verloor.

Daar is wêreldwyd tienduisende van hierdie tonele, miljoene der miljoene van hierdie spelers en duisende sulke plekke. Hulle kom per vliegtuig, trein, bus, skip en motor na alle wêrelddele om hulle dobbellus te bevredig. Dit is al beskryf as “die verborge siekte, die verslawing van die negentigerjare: Kompulsiewe dobbelary”. “Ek voorspel dat die negentigerjare wêreldwyd die bloeityd van gewettigde dobbelary in die geskiedenis sal beteken”, het die navorser Durand Jacobs, ’n Amerikaanse kenner wat betref die gedrag van dobbelaars, gesê.

In die Verenigde State het daar in 1993 byvoorbeeld meer Amerikaners na casino’s gegaan as na eersteligabofbalvelde—92 miljoen besoeke. Dit lyk asof die bou van nuwe dobbelhuise nooit tot ’n einde sal kom nie. Hotelbestuurders aan die Ooskus is in ekstase. “Daar is nie naastenby genoeg bestaande kamers om die geskatte 50 000 casinobesoekers per dag te huisves nie.”

In 1994, in baie van die suidelike state van die VSA, waar dobbelary tot kort gelede nog as sonde beskou is, word dit nou met ope arms ontvang en as ’n verlosser beskou. “Vandag kan die Bible Belt maar net sowel tot die Blackjack Belt hernoem word, aangesien daar oor die hele Mississippi en Louisiana casino’s op water en op land is en nog baie vir Florida, Texas, Alabama en Arkansas beplan word”, het die U.S.News & World Report gesê. Party godsdiensleiers verander nou heeltemal wat betref hulle beskouing dat dobbelary sonde is. Toe stadsamptenare van New Orleans, Louisiana, byvoorbeeld in 1994 sy eerste drywende casino op die Mississippi-rivier ingewy het, het een geestelike ’n gebed gedoen waarin hy God gedank het vir “die vermoë om te speel: ’n gawe waarmee U die stad geseën het”.

Daar word verwag dat 95 persent van alle Amerikaners teen die jaar 2000 binne 3 of 4 uur se ry van ’n dobbelcasino sal woon. Indiane maak ook groot geld uit die dobbelbedryf. Die Amerikaanse regering het tot dusver goedgekeur dat hulle landwyd 225 casino’s en bingosale bestuur waar groot bedrae verwed word, het die U.S.News & World Report berig.

Wanneer kaartspeelkamers, sportweddenskappe, perde- en hondewedrenne, kerkbingo, en so meer by die mengsel gevoeg word, word dit duidelik hoe die Amerikaners dit in 1993 reggekry het om $394 miljard (R1,43 biljoen) wettiglik te verwed, ’n styging van 17,1 persent oor die vorige jaar. Diegene wat teen dobbelary gekant is, is bekommerd. “Die grootste middele tot ons beskikking om mense te help, is kerke en tempels en die regering”, het die uitvoerende direkteur van een Raad op Kompulsiewe Dobbelary gesê. “En nou is hulle almal by die dobbelbedryf betrokke.” Een Amerikaanse koerant het die Verenigde State ’n “Dobbelnasie” genoem en het gesê dat dobbelary “in werklikheid Amerika se nasionale tydverdryf” is.

Engeland het sy eerste lotery in 1826 begin, en verkope is glo lewendig. ’n Geweldige oplewing van bingo word ook daar ondervind, het The New York Times Magazine berig. “Moskou is nou oortrek met besige casino’s. En Libanese dobbelaars stel letterlik hulle lewe in gevaar om Wes-Beiroet se dobbelhuise te ondersteun wat ewe veel deur burgersoldate as godsdiensfundamentaliste aangeval word”, het die Times berig. “Groot wenners word na hulle huise begelei deur casinowagte wat met masjiengewere gewapen is.”

“Die Kanadese besef nie dat hulle ’n nasie van dobbelaars is nie”, het ’n Kanadese provinsiale dobbelbeampte gesê. “In party opsigte is daar waarskynlik meer dobbelary in Kanada as in die VSA”, het hy bygevoeg. “Die Kanadese het verlede jaar meer as $10 miljard [R25 miljard] aan wettige weddenskappe bestee—byna 30 keer soveel as wat hulle daaraan bestee het om fliek toe te gaan”, het die koerant The Globe and Mail berig. “Die bingobedryf in Kanada is baie verder ontwikkel as wat dit in die VSA is of ooit was. Die loterybedryf is baie verder ontwikkel in Kanada. Dit is ook waar van perdewedrenne”, het die koerant gesê.

“Niemand weet hoeveel dobbelslawe daar in Suid-Afrika is nie”, het ’n Suid-Afrikaanse koerant geskryf, “maar daar is ten minste ‘duisende’.” Die regering van Spanje is egter deeglik bewus van sy probleem asook van die groeiende aantal dobbelaars. Amptelike syfers toon dat ’n groot deel van sy 38 miljoen inwoners in een jaar R90 miljard weggedobbel het, wat Spanje een van die grootste dobbellande ter wêreld maak. “Spanjaarde is verstokte dobbelaars”, het een man gesê wat ’n vereniging gestig het om dobbelaars te help. “Hulle was nog altyd. . . . Hulle wed op perde, op sokker, op loterye en natuurlik op roulette, op poker, op bingo en op daardie ellendige geldvretende masjiene.” Eers in onlangse jare is kompulsiewe dobbelary in Spanje erken as ’n sielkundige probleem.

Beskikbare getuienis toon dat Italië ook deur die dobbelkoors meegesleur is. Miljarde word uitgegee aan loterye en sportweddenskappe, maar ook aan koerantspeletjies en by dobbeltafels. “Dobbelary het elke aspek van die daaglikse lewe binnegedring”, het ’n verslag gesê wat deur ’n staatsgefinansierde ondersoekspan uitgereik is. Vandag “het die vlak van dobbelary hoogtes bereik wat vroeër ondenkbaar was”, het The New York Times geskryf, “en van regeringsamptenare tot plaaslike pastore is betrokke by die wedloop om maniere te vind om daaruit munt te slaan”.

Hoe waar is dit tog! In baie gevalle raak dobbelary elke aspek van mense se lewe, soos die volgende artikels sal toon.

[Lokteks op bladsy 4]

Eers ’n sonde —nou ’n “verlosser”

[Lokteks op bladsy 5]

Die dobbelepidemie word ’n wêreldwye probleem

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel