DIE AANBIDDING VAN DIE ENIGE WARE GOD WORD REEDS VERHEF
1, 2. Hoe het die aanbidding van die enige ware God gedurende die Eerste Wêreldoorlog ’n laagtepunt bereik, en hoe is dit in Miga 3:12 afgebeeld?
DIE Eerste Wêreldoorlog was ’n tyd van duisternis soos die mensdom nog nooit tevore beleef het nie. Dit was asof die magte van die duisternis orals geheers het. Dit het gelyk of “die owerste van hierdie wêreld” geseëvier het (Joh. 14:30). Toe sy wêreldryk van valse godsdiens, die valse Christendom inkluis, die oorlogsugtige nasies patrioties begin ondersteun het, is geweldige druk op alle godsdienstige persone uitgeoefen. Gevolglik het selfs die aanbidding van die enige ware en lewende God ’n laagtepunt bereik. Die verdedigers daarvan is vervolg en beperkings opgelê, selfs tronk toe gestuur. Hulle toestand het rampspoedig geword, soos die wat beskryf word in Miga 3:12:
2 “Daarom sal Sion om julle ontwil soos ’n land omgeploeg en Jerusalem puinhope word en die tempelberg bosrante”—soos ’n verlate saailand wat met verloop van baie tyd oortrek is met bosse wat so hoog soos bome gegroei het.
3. In watter siening van sake het aanbidders van die ware God berus, maar wat is daar voorspel dat hulle nog moes doen voordat die “einde” sou kom?
3 Dit het gelyk asof die hele stelsel op aarde se einde aangebreek het. Aanbidders van die God van die Bybel het in daardie siening van sake berus terwyl hulle “deur al die nasies gehaat” is (Matt. 24:9). Hulle het egter slegs “die voleinding van die wêreld” betree. Hulle moes nog baie lewensreddende werk doen voordat hulle die einde van daardie “voleinding van die wêreld” sou bereik. Die groot Heerser uit Betlehem het voorspel: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matt. 24:3, 14). Die profesie van Miga het hiermee ooreengestem, selfs al het Miga dit honderde jare tevore neergeskryf.
4. Watter verandering ten goede en tot Jehovah se eer voorspel Miga 4:1-4 na die beskrywing van hoe Jerusalem en die land Juda verwoes sou word?
4 Nadat Miga beskryf het tot watter mate die land Juda en sy hoofstad, Jerusalem (of Sion), deur die Babiloniërs verwoes sou word, het hy gesê: “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis [tempel] van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal daarheen toestroom. En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die HERE en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die verte; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. Maar hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik; want die mond van die HERE van die leerskare het dit gespreek.”—Miga 4:1-4.
5. Watter gebou staan vandag bo-op die berg van die huis van Jehovah, en vervul dit Miga 4:1-4?
5 Gedurende die Eerste Wêreldoorlog is aardse Jerusalem deur Britse troepe onder generaal Allenby verower, en ter erkenning hiervan het die Volkebond Groot-Brittanje die mandaat vir die gebied gegee tot 1948. Toe die mandaat geëindig het, het oorlog tussen die Jode en die Arabiere uitgebreek, en vandag is die nasie Israel selfs in besit van die ommuurde stad Jerusalem. Maar pryk daar vandag ’n tempel vir die aanbidding van Jehovah boop die berg waar die huis vir die aanbidding van Jehovah tot 70 G.J. gestaan het? Nee, maar die Rotskoepel vir die aanbidding van die Mohammedaanse god, Allah, staan daar, en mense uit baie nasies besoek dit as ’n toeriste-aantreklikheid. Dit is bepaald nie die vervulling van die profesie in Miga 4:1-4 nie.
6. Waarom word Miga 4:1-4 nietemin vervul, en hoekom speel aardse Jerusalem nie ’n rol in die vervulling nie?
6 Daardie profesie word nogtans sedert die na-oorlogse jaar 1919 vervul. Hoe so? Omdat ’n hoër Jerusalem by die saak betrokke is. Ons onthou hoedat Jesus Christus op 9 Nisan 33 G.J. as die Heerser uit Betlehem triomfantelik in Jerusalem ingery het maar nie as Koning aanvaar is nie. Twee dae later, op 11 Nisan, is hy beweeg om daardie aardse Jerusalem te beween en te sê: “Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ’n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis [julle tempel] word vir julle [mense] woes gelaat!” (Matt. 23:37, 38). Drie dae later, op 14 Nisan, het Jesus ’n marteldood op Kalvarie buitekant Jerusalem gesterf. Toe het Jehovah God daardie tempel verlaat al was dit aan hom toegewy. Dit was nie langer die plek van sy goedgekeurde aanbidding nie. Die vernietiging daar van in 70 G.J. het daardie feit gedramatiseer!
7. Wanneer het die hemelse Jerusalem die moeder van Jesus se dissipels geword, en hoe verwys Paulus hierna?
7 Veertig dae na Jesus se opstanding het hy opgevaar terug hemel toe en 10 dae later, op Pinksterdag, het hy die heilige gees uitgegiet op sy dissipels wat in aardse Jerusalem gewag het. Toe dit gebeur, het ’n nuwe Jerusalem, ’n hemelse Jerusalem, hulle moeder geword. In sy brief aan die gemeentes in Galasië het die Christenapostel Paulus in verband hiermee geskryf: “Jerusalem daarbo is vry; en dit is die moeder van ons almal” (Gal. 4:26). Later het dieselfde apostel aan Hebreeuse Christene oor die algemeen geskryf: “Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal” (Hebr. 12:22, 23). Dit is met verwysing na hierdie Nuwe Jerusalem, die geestelike Jerusalem, op ’n geestelike berg Sion, dat Miga 4:1-4 profeteer. Miga se profesie word vandag deur hierdie geestelike Jerusalem vervul!
8. Tot watter mate is die aanbidding van die enige ware God sedert 1914 op aarde verhef?
8 Sedert die oorlogsjare van 1914-1918 word die aanbidding van die God wat eens aanbid is by die “huis” of tempel wat bo-op een van eertydse Jerusalem se berge gestaan het, steeds verhef. Hierdie aanbidding van Jehovah ‘staan vas op die top van die berge’ waarop tempels vir die valse gode van hierdie stelsel gestaan het of nog staan. Die aanbidding van die enige lewende en ware God is dus ‘verhewe bo die heuwels’.
9. Hoe is die weg na die Eerste Wêreldoorlog gebaan vir die verheffing van Jehovah se aanbidding, en wat het Miga 2:12, 13 in hierdie verband gesê?
9 Dit is veral ná die einde van die Eerste Wêreldoorlog in die noordelike herfs van 1918 dat die aanbidding van Jehovah as die allerhoogste God hemelhoog verhef is. Hoe so? Omdat dit eers gedurende die na-oorlogse tyd vir die aanbidders van Jehovah moontlik was om herstel te word uit die verdrukte, verstrooide, ingeperkte staat wat ooreengekom het met die toestand van die Joodse ballinge in Babilon gedurende 607-537 v.G.J. Miga se profesie het voorspel dat die geestelike Israeliete weer versamel sou word en dat die weg om uit sulke Babiloniese slawerny te kom vir hulle geopen sou word: “Gewis sal Ek jou geheel en al versamel, o Jakob! Gewis sal Ek vergader die oorblyfsel van Israel; almal bymekaarbring soos skape in ’n kraal, soos ’n kudde in sy weiveld; en dit sal dreun van mense. Die deurbreker sal optrek voor hulle uit: hulle sal deurbreek en deur die poort intrek en daardeur uittrek; en hulle koning sal voor hulle uit gaan, en die HERE heeltemal vooraan.”—Miga 2:12, 13.
10. Wie was die “koning” in Miga se profesie, en hoe en wanneer en vir wie het hy ‘deurgebreek’?
10 Toe die Israeliete Babilon in 537 v.G.J. op die bevel van die Persiese veroweraar, Kores die Grote, verlaat het, is hulle nie uitgelei deur ’n mensekoning van die dinastie van Dawid nie. Sedekia, die laaste Dawidiese koning wat in ou Jerusalem geheers het, was teen daardie tyd dood en in Babilon begrawe. Miga se profesie moet dan klaarblyklik ’n geestelike toepassing hê. Wie is dus die koning”? Dit is die Koning wat aan die einde van die “tye van die nasies” (of “vasgestelde tye van die nasies”) in die noordelike herfs van 1914 G.J. aan God se regterhand in die hemele op die troon geplaas is (Luk. 21:24, AB; NW; Ps. 110:1, 2). Dit was ’n “koning” wat groter was as Kores die veroweraar van Babilon. Dit was die pasgekroonde “Koning”, Jesus Christus. Hy was die “deurbreker” vir die verdrukte geestelike Israeliete, die “oorblyfsel” van geestelike Israel of Jakob. Dit was dus in die na-oorlogse jaar 1919 dat die verheerlikte Jesus Christus ‘deurgebreek’ het vir sy toegewyde, gedoopte dissipels wat gedurende die Eerste Wêreldoorlog “deur al die nasies gehaat” is ter wille van sy naam.—Matt. 24:9.
11, 12. Wie was vooraan die oorblyfsel toe hulle na vryheid getrek het, en watter bevel van hom het hulle gehoorsaam?
11 Daardie bevryde dissipels was gereed om hom as hulle gekroonde Koning aan Jehovah se regterhand te volg. Deur die uitgangs-“poort” wat hy vir hulle gemaak het, het hy ‘voor hulle uit gegaan’. Hy het hulle na ware Christelike vryheid gelei. Dit was met “die HERE heeltemal vooraan”, omdat Jehovah die Vernaamste Een is wat daarvoor verantwoordelik was dat hulle na vryheid kon uittrek. Hy was die Een wat die beroep gedoen het op sy aanbidders wat in godsdienstige Babilon gevange gehou is deur te sê:
12 “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.”—Openb. 18:4; Jer. 50:8, 9; Jes. 48:20.
DIE PERSOONLIKE NAAM VAN DIE ENIGE WARE GOD KOM NA VORE!
13. Wat moes die enige ware God destyds vir homself maak, en hoe het die Watch Tower van 15 November 1919 dit bevestig?
13 Jehovah het teen daardie tyd begin om vir hom ’n naam te maak. Sy naam het tereg na vore begin kom, daar dit hoër is as die van sy verheerlikte Seun Jesus Christus. The Watch Tower and Herald of Christ’s Presence het by voorbeeld in sy nommer van 15 November 1919 die eerste van ’n reeks artikels met die titel “Jesaja se rapsodie” gepubliseer, en Deel I het onder meer gesê:
In die eerste elf verse van die veertigste hoofstuk word drie beelde van Jehovah vir ons gegee: hy word eerstens uitgebeeld as ’n Vertrooster na lang lyding; tweedens, hy word voorgestel as die Ware Een, wie se woord voortbestaan al laat alle ander dinge ons in die steek; derdens, as die Herder wat sy volk met vaderlike sorg lei.
Die tweede rede vir troos lê in die woorde “dat haar skuld betaal is”. In sy wysheid het God gesien dat die sewentig jaar van volksvernedering wat deur die Joodse volk verduur is genoeg kompensasie op die boeke van goddelike geregtigheid sou wees om te boet vir die neiging tot afgodediens of om gode benewens Jehovah te aanbid, ’n neiging wat hulle talle eeue lank geopenbaar het.
. . . Maar ons weet dat Jehovah nooit onregverdige straf sal oplê nie. Hy kan homself nie verloën nie. . . .
. . . Wenke [vir ’n naam vir ’n blad wat deur die Genootskap uitgegee word] het die feit na vore laat kom dat die Jiddisje ekwivalent vir “’n stem” dadelik deur alle Jode verstaan sal word as iets wat slaan op ’n spesiale boodskap van Jehovah af.
Enige klas wat deur Jehovah gebruik gaan word vir ’n verhewe doel soos om medeerfgename van Christus te word, het beslis deeglike voorbereidende ondervindinge nodig voordat hulle “geskik sal wees vir die erfenis van die heiliges in die lig”.
. . . Maar as herversekering dat die dinge wat hierbo beloof is, vervul sal word, heg Jehovah weer sy naam aan of endosseer hy sy tjek—“die woord van onse God hou stand in ewigheid”, ongeag die werklike of denkbeeldige hindernisse.—Bladsy 343, paragraaf 5; bladsy 344, paragrawe 5-7; bladsy 345, paragraaf 4; bladsy 346, paragraaf 4.
14. En hoe het die boek Die harp van God, wat in 1921 in Engels uitgegee is, God se naam op die voorgrond geplaas?
14 En in die eerste gebonde boek wat na die Eerste Wêreldoorlog deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee is, naamlik Die harp van God wat in 1921 in Engels uitgegee is, het paragraaf 2 van die voorwoord gesê: “Jehowa had ’n grootse plan nog voor die grondlegging van die wêreld; maar niemand het daarvan geweet nie. Gedurende die eerste vierduisend jaar van die menslike geskiedenis is Gods plan verborge gehou.”
15. ’n Resolusie in die vorm van ’n deklarasie vir wie is sewe jaar later deur die byeenkomsgangers by die internasionale byeenkoms in Detroit, Michigan, aangeneem?
15 By die internasionale byeenkoms wat van 30 Julie-6 Augustus 1928 in Detroit, Michigan, gehou is, het die duisende byeenkomsgangers eenparig die resolusie met die titel “Deklarasie teen Satan en vir Jehovah”, wat deur die destydse president van die Wagtoringgenootskap voorgelê is, aangeneem.—Kyk die Watch Tower van 15 September 1928, bladsye 278, 279.
16. Hoe is die klimaks drie jaar later by die internasionale byeenkoms in Columbus, Ohio, bereik?
16 Maar die klimaks het in 1931 gekom. Dit was op Sondag, 26 Julie, toe die duisende wat die internasionale byeenkoms in Columbus, Ohio, bygewoon het ’n resolusie met die titel “’n Nuwe naam” aangeneem het. Met hierdie resolusie het daardie toegewyde, gedoopte aanbidders van die allerhoogste God ’n naam aangeneem wat op die Skrif gebaseer is, naamlik “Jehovah se getuies”.—Jes. 43:10, 12, NW.
17. Wat het die byeenkomsgangers gedoen deur hierdie nuwe naam aan te neem, en wat het gemeentes rondom die aardbol daarna gedoen, sodat watter verantwoordelikheid nou op hulle gerus het?
17 Sodoende het daardie Christene al die skelname wat die valse Christendom vir hulle gegee het, opsy gestoot en die eerbare naam aangeneem wat die Heilige Bybel toon vir hulle gepas is. Na die byeenkoms in Columbus is die resolusie wat daar aangeneem is, in hulle verskillende tale, aan al die gemeentes van die gedoopte, toegewyde dissipels van die Here Jesus Christus rondom die aarde voorgele. Al die gemeentes wat die resolusie aangeneem het, het die hoofkwartier van die Wagtoring Bybel en Traktaatgenootskap daarvan verwittig. Al die indiwidue wat daardie resolusie aangeneem het, het hulself onder ’n swaar verpligting voor Jehovah God geplaas. As hulle sou versuim om die nuwe naam hoog te hou, sou dit ernstige gevolge vir hulle meebring. As hulle dit geeer het, sou God se naam verheerlik word.—Die Watch Tower van 15 September 1931, bladsye 278, 279.
18. Het die valse Christendom en die Jodedom iets soortgelyks gedoen, en wie het God dus gebruik om Miga 4:1-4 te vervul?
18 Bevat die sekulêre geskiedenis sedert die Eerste Wêreldoorlog ’n geval waar enige godsdiensdenominasie van die Christendom of die Jodedom gehandel het op ’n wyse soortgelyk aan dié van die getuies van Jehovah? Nee! Dit is gevolglik deur middel van daardie Getuies dat Jehovah God die profesie in Miga 4:1-4 vervul het. Die aanbidding van die enige lewende en ware God staan inderdaad as ’t ware “op die top van die berge” vas, want daar is getoon dat dit elke ander vorm van aanbidding oortref. Dit ‘staan vas’ en sal dus nooit uit sy verhewe posisie tot ’n val gebring word nie. Dit word deur Jehovah se Getuies verheerlik en word dus figuurlik gesproke “bo die heuwels” verhef.
19. Vir wie was goddelike aanbidding sigbaar omdat dit as ’t ware “bo die heuwels” verhef is, en watter verrassende toespraak is in 1918 in Los Angeles, Kalifonië, in ooreenstemming hiermee gehou?
19 Hierdie verheffing van die aanbidding van die enige lewende en ware God sodat dit van ver af sigbaar is, is gedoen tot voordeel van persone uit alle nasies en volke. Onder goddelike leiding het die destydse president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap dus op Sondag, 24 Februarie 1918, te midde van die Eerste Wêreldoorlog, ’n goed geadverteerde toespraak in Los Angeles, Kalifornië, V.S.A., gehou. Sy onderwerp was verrassend, maar het gestrook met die betekenis van die betekenisvolle tye soos gesien uit die Bybelstandpunt. Die onderwerp was “Miljoene wat nou lewe, sal dalk nooit sterf nie”. Hierdie tema was gebaseer op die Bybel se leerstelling dat daar menslike oorlewendes sal wees van die “groot verdrukking” waarmee hierdie gedoemde stelsel gaan eindig (Openb. 7:9, 14). Daardie begunstigde oorlewendes sal in die Duisendjarige Tydvak onder Christus se koninkryk ingelei word. Deur middel van daardie regering kan hulle ewige lewe verkry op ’n aarde wat in ’n paradys omgeskep is.
20. Watter gelykenis van Jesus is in 1923 by die byeenkoms in Los Angeles bespreek, en hoe is dit toegepas?
20 Vyf jaar later is nog ’n byeenkoms in die stad Los Angeles gehou, die keer van 18-26 Augustus 1923. En op Saterdag, 25 Augustus, het die Genootskap se president Jesus se gelykenis van die simboliese skape en bokke bespreek. Aangesien hierdie gelykenis ’n deel is van Jesus se profesie oor die “teken” wat die “voleinding van die wêreld” sou kenmerk, het die spreker dit op “die einde van die dae” toegepas; hy het dit toegepas op ’n tyd voor die millennium. Wie word dan afgebeeld deur die “skape” wat goed doen aan die Koning se geestelike “broeders” volgens hulle behoeftes? Niemand anders nie as die sogenaamde ‘mense van welbehae’ wat beloon sal word deur die vernietiging van die huidige stelsel te oorlewe en die Duisendjarige stelsel onder Christus se koninkryk te beerf! (Kyk die Watch Tower van 1 November 1923, bladsy 326; ook die nommer van 15 Oktober 1923, bladsy 307.) Hierdie simboliese “skape” van vandag is die “volke” wat stroom na die geestelike tempel van Jehovah se aanbidding, wat verteenwoordig word deur die oorblyfsel van Christus se “broers”, die geestelike Israeliete.—Miga 4:1; Matt. 24:3; 25:31-46.