Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 10/1 bl. 11-15
  • Die oordeelsdag van die gode

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die oordeelsdag van die gode
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE VALSE GODE SE AANSPREEKLIKHEID VIR TOESTANDE
  • Jehovah se knegte het ware hoop
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Ons sal vir ewig in Jehovah se naam wandel!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Bybelboek nommer 33—Miga
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Wat verwag Jehovah van ons?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 10/1 bl. 11-15

DIE OORDEELSDAG VAN DIE GODE

“Wie is ’n God soos U?”—Miga 7:18.

1. Aan watter sogenaamde bomenslike wesens glo die meeste mense, al word die bestaan van Jehovah geloën?

AL HOE meer mense sê vandag: ‘Daar is geen God nie!’ Wat ook al hulle rede waarom hulle so iets sê, die Bybel sê: “Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie” (Ps. 14:2). Alhoewel baie die bestaan van Jehovah loën, glo die meeste mense aan gode sonder tal. In Indië alleen glo die Hindoes aan honderd-miljoene gode.

2. Wie tree vandag, wanneer die godheid van al daardie sogenaamde gode bevraagteken word, as Regter op?

2 Die Bybel erken dat daar baie sogenaamde gode is, of persone wat probeer om van hulself gode te maak. Psalm 82:1, 6 sê: “God staan in die vergadering van die gode; Hy hou gerig te midde van die gode. Ek self het gesê: Julle is gode, en julle is almal seuns van die Allerhoogste.” Psalm 97:1, 7 sê ook: “[Jehovah] is Koning . . . Beskaamd staan almal wat die beelde dien, wat hulle op afgode beroem; al die gode buig hulle voor Hom neer.” Die godheid van al die gode wat deur mense aanbid word, word nou bevraagteken. Hulle oordeelsdag het aangebreek. Jehovah oordeel.

3. Watter Joodse profeet se naam was in die agtste eeu v.G.J. ’n uitdaging aan al die gode van die wêreld, en waarom?

3 In die agtste eeu voor ons Gewone Jaartelling was daar ’n profeet wie se naam op sigself ’n uitdaging aan al die gode van die wêreld was. Sy naam, Miga, beteken “Wie is soos Jah?” dit wil sê, soos Jehovah.—Miga 1:1; Jer. 26:18.

4. Watter uitdagende vraag stel Miga en sy profetiese boek aan almal wat gode genoem word?

4 Wanneer die profeet Miga homself met die mense van die Heidense nasies vergelyk, praat hy vir homself en vir ander getroues soos hy wanneer hy sê: “Al die volke mag wandel elkeen in die naam van sy god, maar óns sal wandel in die Naam van [Jehovah] onse God vir ewig en altoos” (Miga 4:5). Miga het heel gepas reg tot aan die einde van sy profetiese boek die uitdagende vraag gestel: “Wie is ’n God soos U, wat die ongeregtigheid vergewe en by die oortreding van die oorblyfsel van sy erfdeel verbygaan?”—Miga 7:18.

5. Voor wie stel Jehovah volgens Miga 1:2-4 sy saak openlik, en wat is die geskil?

5 Die kwessie van godheid is een waaraan daar wêreldwyd aandag geskenk moet word, en Jehovah stel sy saak oop vir die algemene publiek, veral vir diegene wat bely dat hulle hom op aarde verteenwoordig. Hierdie feit blyk duidelik uit sy woorde wat in Miga 1:2-4 aangehaal word: “o Volke, luister almal saam! o Aarde en sy volheid, let op! Sodat die Here HERE getuie teen julle kan wees, die Here uit sy heilige paleis. Want kyk, die HERE gaan uit sy woonplek uit, en Hy daal neer en betree die hoogtes van die aarde. En die berge smelt onder Hom, en die laagtes skeur oop, soos was voor die vuur, soos water wat langs ’n helling afstroom!”

6. Hoe verduidelik Jehovah die betekenis van daardie vreeswekkende beeldspraak in Miga 1:12; 2:3, 4; 4:10?

6 In sy verdere getuienis verduidelik Jehovah die betekenis van hierdie vreeswekkende beeldspraak deur te sê:

“Omdat onheil neerdaal van die HERE na die poort van Jerusalem” (Miga 1:12). “Daarom, so sê die HERE: Kyk, Ek bedink onheil teen hierdie geslag, waar julle jul nekke nie sal kan uittrek nie, en waarby julle nie regop sal kan loop nie; want dit sal ’n tyd van onheil wees! In dié dag sal hulle ’n spotlied oor julle aanhef en ’n klaaglied sing: Dit is gedaan—sal hulle sê—ons is heeltemal verwoes; die eiendom van my volk laat Hy van besitter verander. Hoe neem Hy dit van my af! Aan die afvalliges deel Hy ons velde uit” (Miga 2:3, 4). “Krimp inmekaar en bring voort, o dogter van Sion, soos een wat baar! Want nou sal jy . . . in Babel aankom.”—Miga 4:10.

7. Aan watter hedendaagse teenbeeld moet ons dink wanneer ons die redes lees wat Jehovah vir sulke drastiese optrede verstrek, en veral gedagtig aan watter slegte dinge?

7 Terwyl ons die redes hersien wat Jehovah vir sulke drastiese optrede verstrek, moet ons die hedendaagse valse Christendom in gedagte hou, want dit is die teenbeeld van die ontroue Israel van Miga se dag. Wanneer Jehovah verder in die openbaar getuig, verduidelik hy: “Dit alles vanweë die oortreding van Jakob en vanweë die sondes van Israel.” Jehovah meld dat daardie sondes aanbidding op die “hoogtes” in plaas van by die tempel in Jerusalem asook hulle afgodiese aanbidding van “gesnede beelde” insluit.—Miga 1:5-7.

8, 9. (a) Hoe het die Israeliete hulle mede-Israeliete volgens Miga 2:1, 2; 3:1-3 beroof? (b) Vir wie was Miga ’n sigbare getuie, en met behulp waarvan?

8 Benewens die voorgaande meld Jehovah ook “die wat onreg uitdink en kwaad smee op hulle bedde”. Hy voeg by: “By die môrelig voer hulle dit uit, want dit is in die mag van hulle hand. Ja, hulle begeer velde en roof dit; ook huise en neem dit. So pleeg hulle dan geweld teenoor die man en sy huis, teenoor die mens en sy erfdeel” (Miga 2:1, 2). “Betaam dit julle nie om die reg te ken nie? Haters van wat goed is, en liefhebbers van wat sleg is, wat die vel van die mense aftrek en hulle vlees van hul gebeente; en wat die vlees van my volk eet en hulle vel van hulle afslag; ook hulle gebeente verbrysel en hulle aan stukke kap soos vleis in ’n pot en soos vleis in ’n pan.”—Miga 3:1-3.

9 Dit is met sulke woorde dat die Soewereine Heer Jehovah ’n “getuie” teen die eertydse koninkryk van Juda was. Sy profeet Miga moes as Sy sigbare getuie dien, en dit het groot moed, ja, groot geestelike krag van sy kant geverg. Maar Miga was opgewasse teen die eise van hierdie diens. Hoe so? Hy deel ons mee: “Ek daarenteen is vol krag, met die Gees van die HERE, en reg en heldemoed, om aan Jakob sy oortreding te verkondig en aan Israel sy sonde.”—Miga 3:8.

10. Hoe het Israel God onregverdig behandel, en in watter opsig was Miga, as voorbeeld vir ons, geen geestelike swakkeling nie?

10 Dieselfde gees van Jehovah wat Miga die krag gegee het om die sterk bewoorde oordeelsboodskap mondelings oor te dra, het hom ook beweeg om die ernstige boodskap van die ware God af neer te skryf. Miga het iets gehad wat die valse profete, sieners en waarsêers van sy dag nie gehad het nie, en daarom het hy Jehovah se ‘oplossing’ vir die volksprobleme, naamlik die “oortreding” van Jakob en die “sonde” van Israel gehad. Miga het persoonlik ’n regsgevoel gehad, sodat hy terdeë besef het dat sy eie volk God onregverdig behandel het deur God se wet gevoelloos te verbreek en hulle volksverbond met hom deur die middelaar Moses te skend. Miga is ’n goeie voorbeeld vir die hedendaagse Christengetuies van Jehovah daar hy nie ’n godsdienstige swakkeling was nie, maar vol geestelike helde moed om sonde as sonde aan die kaak te stel!

DIE VALSE GODE SE AANSPREEKLIKHEID VIR TOESTANDE

11. Wie is verantwoordelik vir die slegte morele en godsdienstige toestande in eertydse Israel en nou in die valse Christendom?

11 Jehovah van die leërskare was nie verantwoordelik vir die slegte toestande in die eertydse nasie Israel nie. Hy is ook nie verantwoordelik vir die slegte morele en godsdienstige toestande in Israel se hedendaagse teenbeeld, die valse Christendom, nie. Dit is “die god van hierdie wêreld”, Satan die Duiwel, en al die demongode wat saam met hom werk, wat in Miga se dag en eweneens vandag daar voor verantwoordelik was en is (Matt. 4:3, 4; 2 Kor. 4:4). Daar is dienooreenkomstig geskrywe: “Al die volke mag wandel elkeen in die naam van sy god” (Miga 4:5). “Daar [is] ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is—soos daar baie gode en baie here is” (1 Kor. 8:5). Al hierdie valse gode het hulle kans gehad, en soveel skade moontlik aangerig.

12. Hoe gaan Jehovah nou waarneembare oordeel aan al daardie valse gode voltrek?

12 Maar nou het die tyd vir Jehovah die almagtige God aangebreek om hulle almal te oordeel en om ’n einde te maak aan al hulle vorms van aanbidding waarin tempels, priesters, afgode of gesnede beelde, ritusse en offerandes ’n rol speel. Jehovah het sy onherroeplike voorneme om dit in die geval van eertydse, tipiese Israel te doen deur sy profeet Miga bekend gemaak en gesê: “Verder sal Ek uitroei die towerye in jou hand, en jy sal geen goëlaars meer hê nie. En Ek sal uit jou midde uitroei jou gesnede beelde en jou klippilare, sodat jy jou nie meer voor die werk van jou hande sal neerbuig nie. En Ek sal uit jou midde uitruk jou heilige boom stamme en jou stede verwoes. En Ek sal in toorn en grimmigheid wraak neem op die nasies wat nie geluister het nie.”—Miga 5:11-14.

13. Van wanneer af is daar die grootste ontmaskering van valse gode, en waarom sluit dit die valse Christendom in?

13 Gedurende die afgelope 100 jaar is die valse gode van hierdie wêreld, selfs van die Christendom, aan die kaak gestel. Hierdie ontmaskering het geen gelyke in die geskiedenis van die nasies sedert die vernietiging van Jerusalem deur die Babiloniërs in die jaar 607 v.G.J. of omtrent 109 jaar nadat die profeet Miga sy profesie op skrif gestel het nie. Dit sluit die ontmaskering in van die Christendom se god, die sogenaamde Drie-eenheid, wat op onverklaarbare wyse ’n eenheid van drie gode is waar al hierdie gode ewe oud, gelykwaardig en mede-ewig is. Hierdie drie-enige god word soms afgebeeld deur ’n menseliggaam met drie koppe of ’n kop met drie gesigte. Die gebruik van mensgemaakte beelde in aanbidding kan duidelik in die tempels, katedrale en kerke van die Christendom gesien word.

14. (a) Wie op die aarde het ’n prominente aandeel aan hierdie ontmaskeringswerk gehad? (b) Wanneer en hoe het hierdie Miga-klas die naam “Jehovah se Getuies” aangeneem, en watter verpligting het hulle sodoende aanvaar?

14 Wie het met die ontmaskeringswerk voortgegaan in hierdie oordeelstydperk vir al die valse gode van hierdie wêreld? Die toegewyde, gedoopte Christene wat deur Jesus Christus met die gees van Jehovah God gesalf is. Hulle is as ’n groep of klas deur Jehovah se profeet Miga afgebeeld. ’n Werk soos die van Miga word in ons dag, en veral sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog in 1918 G.J., gedoen. Dit was toe dat die Miga-klas die na-oorlogse arena op onverskrokke wyse betree het en ’n prominente getuie vir die God van Miga teen die afgodsaanbiddende stelsels van die valse Christendom en die heidendom geword het. Dit was om gegronde redes dat hierdie Migaklas, toe hulle in 1931 vir ’n internasionale byeenkoms in Columbus, Ohio, vergader het, ’n resolusie aangeneem het waarin hulle bely het dat hulle “Jehovah se Getuies” is en hulle daartoe verbind het om hierdie verpligting om Sy getuies te wees na te kom. Gemeentes toegewyde Christene dwarsoor die wêreld wat hulself as “die Israel van God” beskou het, het daardie voorbeeld gevolg en daardie resolusie van 1931 eenparig aanvaar en die Bybelse naam “Jehovah se Getuies” aangeneem (Jes. 43:10-12, NW; Gal. 6:16). Alhoewel die valse Christendom dit betwis het, het hulle die naam behou!

15. (a) Wie is volgens sy eie woorde Jehovah se grootste getuie? (b) Wat sou Satan dus graag aan hierdie getuie wou gedoen het tydens sy lewe op aarde?

15 Die draers van hierdie nuwe naam het besef dat hulle Leier, Jesus Christus, die grootste van al Jehovah se getuies was en is. In die laaste boek van die Bybel, die Openbaring wat Jehovah God deur middel van die verheerlikte Jesus Christus aan die bejaarde apostel Johannes oorgedra het, sê die eniggebore Seun van God van homself: “Dit sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God” (Openb. 3:14). Net soos sy Vader, Jehovah, het die Here Jesus getuig teen die betreurenswaardige toestande in die Israel van sy dag, soortgelyk aan die wat Miga beskryf het. Jesus is by uitstek die een wat Jehovah nou in hierdie oordeelsdag van al die valse gode gebruik. Dit is dus nie vreemd dat Satan die Duiwel as “die god van hierdie wêreld” die eniggebore Seun van God gedurende sy lewe op aarde sou probeer vernietig nie. Hy het hierdie Seun van God se geboorte as ’n mens aangegryp as ’n goeie geleentheid om dit te doen. Dit ly geen twyfel dat Satan die Duiwel uit die profesie in Miga 5:1 geweet het waar die geboorte sou plaasvind nie.

16. Hoe het Miga 5:1 getoon waar die Messias gebore sou word?

16 Miga 5:1 lui: “En jy, Betlehem Efrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ’n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.”

17. (a) Na watter gebeurtenis sou die beloofde geboorte volgens die verband van Miga 5:1 plaasvind? (b) Waar het die Joodse maagd haar bevind toe die tyd vir die geboorte aangebreek het, en waarom was sy daar?

17 Volgens die verse rondom Miga 5:1 sou die profesie vervul word ná die terug keer van die Jode ná 70 jaar van ballingskap in die land Babilon. (Kyk Miga 1:16; 4:10.) En dit was inderdaad 535 jaar nadat die bevryde Jode hulle hervestig het in die land Juda, waar die dorpie Betlehem herbou is. Op die bestemde tyd het Jehovah sy engel na die Joodse maagd in die geslag van koning Dawid gestuur om te sê dat sy die moeder van die beloofde Messias, die Christus, sou word. Toe die tyd vir die geboorte aanbreek, het Maria haarself in haar geboortedorp Betlehem bevind om daar volgens die bevel van keiser Augustus geregistreer te word. Omtrent die middel van die sewende Joodse maand, Tisjri, of hier teen die begin van Oktober, is Maria se eersgebore seun aldaar gebore en Jesus genoem, net soos die engel beveel het. Dat Satan die Duiwel in hierdie betekenisvolle geboorte belanggestel het, blyk uit die feit dat sy aanbidders, naamlik heidense sterrewiggelaars, daadwerklik in die saak belanggestel het. ’n Geskiedskrywer, die apostel Mattheüs, skryf hieroor:

18. Hoe het Satan, as deel van sy bose plan, Jesus se geboorte onder koning Herodes van Judea se aandag gebring?

18 “Toe Jesus te Betlehem in Judea gebore is, in die dae van koning Herodes,” . . . was hy [Herodes] ontsteld en die hele Jerusalem saam met hom; en hy het al die owerpriesters en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar laat kom en by hulle navraag gedoen waar die Christus gebore sou word. En hulle het vir hom gesê: Te Betlehem in Judea, want so is daar deur die profeet geskrywe: En jy, Betlehem, land van Juda, is volstrek nie die geringste onder die vorste van Juda nie, want uit jou sal ’n leidsman voortkom wat vir my volk Israel ’n herder sal wees.”—Matt. 2:1-6.

19. Waarom het koning Herodes nie sy doel bereik toe hy die babas van Betlehem om die lewe laat bring het nie?

19 Koning Herodes het dus die sterrewiggelaars na Betlehem gestuur. Maar toe hierdie manne wat drome gehoor saam nie teruggekeer het om vir hom te sê waar hy die kindjie Jesus kon kry nie, het koning Herodes sy soldate na Betlehem gestuur en al die babaseuntjies van twee jaar en daaronder laat ombring. Maar Maria en haar man, Josef, is vroegtydig gewaarsku, het Betlehem verlaat en na Egipte gevlug om die kindjie Jesus se lewe te spaar. Dit ly geen twyfel dat jaloerse, magsugtige koning Herodes deur sy god, Satan die Duiwel, die simboliese Slang wie se kop deur die “saad” van God se “vrou” verbrysel sou word, aangehits is nie (Gen. 3:15). So is nie alleen koning Herodes nie, maar ook die onsigbare heerser van al die demongode uitoorlê.—Matt. 2:7-18.

20. Wie het verdien om Satan en sy demongode te veroordeel, en wat is reeds in hierdie oordeelstydperk met Satan en sy engele gedoen?

20 Om sake te laat balanseer, verdien Satan die Duiwel en al sy demongode om geoordeel te word deur middel van die een wat hulle probeer uitroei het. Dit vind reeds plaas sedert die einde van “die [vasgestelde] tye van die nasies” in 1914, die nasies waarvan Satan die Duiwel die god is (Luk. 21:24, vgl. NW; 2 Kor. 4:4). In ooreenstemming met God se woorde in Genesis 3:15 het die profesie van Miga 4:14 voorspel: “Met ’n stok slaan hulle die regeerder van Israel [dit wil sê, Jesus Christus] op die kakebeen.” Maar noudat die oordeelsdag van al die valse gode van die nasies begin het, het die groot aartsengel, Migael, wie se naam beteken “Wie is soos God?” teen Satan die Duiwel en sy demonengele oorlog gevoer en hulle uit die hemele gewerp.

21. Wat het op aarde plaasgevind gedurende die oorlog in die hemel, en wanneer sal Christus oor die hele mensdom heers sonder enige bemoeiing deur Satan en die ander demongode?

21 Daardie oorlog in die onsigbare hemele het saamgeval met die eerste wêreld oorlog in mensegeskiedenis gedurende 1914-1918. Omdat die verwoede Duiwel al die ander demongode tot die omgewing van ons klein aarde beperk is, het dit in derdaad ’n besondere tyd van ‘wee vir die bewoners van die aarde en die see’ geword (Openb. 12:7-12). Hierdie oordeelsdag van al die valse gode sal voortduur tot “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” te Armageddon verby is en Satan en al die ander demongode in die afgrond gewerp is vir die 1 000 jaar van Christus se bewind (Openb. 16:14-16; 20:13). Die verheerlikte Heerser uit Betlehem, Jesus Christus, sal gevolglik oor die hele mensdom heers sonder enige bemoeiing deur al die valse gode en sal al die geslagte van die aarde in die lewegewende aanbidding van die een lewende en ware God onderrig.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel