Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 8/15 bl. 28-30
  • Joël profeteer van Jehovah se wraak en liefde

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Joël profeteer van Jehovah se wraak en liefde
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • PLAAG EN HONGERSNOOD
  • BEROU EN HERSTELLING
  • DIE OORDEELSVOLTREKKING
  • Bybelboek nommer 29—Joël
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • ’n Aanval uit die noorde!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • Hou die dag van Jehovah goed in gedagte
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Jehovah se dag is naby
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 8/15 bl. 28-30

Joël profeteer van Jehovah se wraak en liefde

“DAARNA sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien. En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dag my Gees uitgiet.”—Joël 2:28, 29.

Omdat Petrus hierdie twee verse op Pinksterdag aangehaal het, is hulle ongetwyfeld die bekendste deel van Joël se profesie (Hand. 2:14-18). Maar die Bybelboek Joël het veel meer te sê, hoewel sy profesie uit slegs drie hoofstukke met altesaam 73 verse bestaan. Die boek vertel ook van ’n vernietigende sprinkaanplaag en die gepaardgaande hongersnood, van ’n tyd van berou en herstelling en hoe Jehovah sy wraak op die nasies gaan uitoefen. In ons Bybel verskyn Joël as die tweede van die sogenaamde Klein Profete—klein wat die lengte van elke boek betref, maar beslis nie wat betekenis betref nie.

’n Bybelbeginsel wat duidelik blyk wanneer ons die profesie van Joël bespreek, is dat die boodskap belangrik is, nie die persoon wat dit dra nie. Al wat ons dus van die skrywer, Joël, af weet, is dat hy die seun van Petuel is. Die betekenisse van Bybelname is dikwels betekenisvol, en dit is waar van Joël en sy vader “Petuel” beteken “God verlos”, en “Joël” beteken “Jehovah is God”.

Die boek se inwendige getuienis toon dat Joël heel waarskynlik in die twee-stammeryk van Juda gewoon het. Dit word aangedui deur die profesie se klem op Juda en Jerusalem en die tempeldiens te Jerusalem.

Wanneer is hierdie profesie geskryf? Ons kan nie dogmaties wees nie. Verskeie geleerdes gee datums wat wissel van die 10de eeu v.G.J. tot die tweede eeu. Die oorwig van die getuienis dui egter op omstreeks 820 v.G.J. Hierdie jaartal word oënskynlik gestaaf deur die feit dat daar melding gemaak word van Israel se vroeë vyande—Tirus, Sidon, Filistea, Edom en Egipte—eerder as latere vyande soos Assirië en Babilon. Dit word ook aangedui deur die boek se plek in die Hebreeuse kanon.

Die skryfstyl steun ook ’n vroeër jaartal. Baie beskou Joël se styl so elegant dat sy profesie vergelyk kan word met ’n blink geslypte diamant. Trouens, die letterkundige gehalte daarvan is so hoog dat party geleerdes Joël se profesie bo al die latere profete plaas. Sy geskrif is baie poëties en word deur ’n verskeidenheid ritmes gekenmerk. Hy toon ook dat hy lief was vir vergelykings en beeldspraak.

Die egtheid van Joël se profesie is nog nooit deur die Israeliete in twyfel getrek nie; dit beklee ’n vroeë en eerbare plek in hulle kanon. Die egtheid daarvan word verder gestaaf deur die feit dat die apostels Petrus en Paulus daaruit aangehaal het. Die egtheid daarvan word ook bevestig deur die vervulling van die profesieë daarin teen Tirus, Filistea en Edom.—Hand. 2:14-18; Rom. 10:13.

PLAAG EN HONGERSNOOD

Ons kan Joël se profesie beskou as een wat uit drie dele bestaan. Deel een (1:1 tot 2:11) bevat ’n tweevoudige beskrywing van ’n sprinkaanplaag. Die eerste beskrywing vergelyk dit met ’n plaag wat sprinkane met tande en kake soos die van leeus insluit. In verband met Joël se verslag daaroor word ons meegedeel: “Volgens baie wat al so ’n plaag aanskou het, is die verskriklik vernietigende uitwerking wat ’n sprinkaanplaag op die landbou, ekonomiese en godsdienslewe van ’n volk kan hê, met amper wetenskaplike akkuraatheid beskryf.”

Volgens wat Joël ons meedeel, word alles opgevreet, word die veld verwoes, staan die landbouers beskaamd en weeklaag die wynboere. Selfs die vee sug en die beeste is onrustig. Dit is geen wonder dat die priesters en bedienaars by Jehovah se huis aangesê word om te huil, in rouklere te vernag, om ’n vasdag uit te roep en tot Jehovah om hulp te roep nie!—Joël 1:14.

Die tweede beskrywing van die sprinkaanplaag begin met die bevel om ’n waarskuwing te rig: “Blaas die basuin op Sion, en blaas alarm op my heilige berg!” Dan volg die beskrywing: “Soos helde hardloop hulle, soos krygsmanne klim hulle op die muur . . . die een druk nie die ander nie; elkeen gaan sy eie pad; en tussen wapens deur val hulle; maar hulle bly in gelid. Hulle oorval die stad, hulle hardloop op die muur, hulle klim in die huise, hulle dring by die vensters in soos ’n dief.”—Joël 2:1, 7-9.

In die lig van die beeldspraak wat gebruik word, blyk dit dat ons Joël se woorde as ’n profesie moet beskou eerder as ’n verslag van iets wat in die verlede plaasgevind het. Waarop is dit van toepassing? Die feite dui daarop dat dit van toepassing is op die hedendaagse, ywerige huis-tot-huisgetuieniswerk wat sedert die vroeë twintigerjare van hierdie eeu deur Jehovah se Getuies gedoen word. Hulle is voorwaar vir die hedendaagse valse Christendom ’n plaag en beweeg soos ’n goed gedissiplineerde leer vorentoe.a

BEROU EN HERSTELLING

Die tweede deel van Joël se profesie handel oor berou en die herstelling wat daarop gevolg het. Ons lees in Joël 2:12-14: “Bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween en rouklag. En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die HERE julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid . . . wie weet of dit Hom nie weer sal berou nie, sodat Hy ’n seën sal agterlaat—’n spysoffer en ’n drankoffer aan die HERE julle God.”

Hierdie deel van die profesie is oënskynlik ook in hedendaagse tye vervul, veral gedurende die Eerste Wêreldoorlog toe God se volk onrein lippe gehad het en Jehovah toornig op hulle was. Dit was toe dat Jehovah se volk God berouvol gesmeek het, soos opgeteken in Joël 2:17: “o, HERE, spaar u volk, en gee u erfdeel nie oor aan smaadheid, dat die nasies met hulle spot nie; waarom sou hulle onder die volke se: Waar is hulle God?”—Vergelyk Jesaja 12:1; 6:5.

Joël se profesie in 2:21-27 en 3:18-21 beskryf die vrugte van hierdie berou, die herstellingsbeloftes. Na die folterende ervarings van Jehovah se volk gedurende daardie jare van die Eerste Wêreldoorlog, is hulle waarlik in ’n geestelike paradys herstel.—Kyk Jesaja hoofstuk 35.

In die lig van die apostel Petrus se woorde (Hand. 2:14-18) kan daar geen twyfel bestaan dat Joël 2:28, 29 op Pinksterdag, 33 G.J., vervul is nie. Maar dit het skynbaar nog ’n vervulling gedurende die “laaste dae” van Satan se hele stelsel (2 Tim. 3:1). Jehovah se gees is in die besonder in 1919 en 1922 uitgegiet, veral in verband met die twee byeenkomste van Jehovah se toegewyde volk te Cedar Point, Ohio.

DIE OORDEELSVOLTREKKING

Ons kom nou by die derde deel, wat handel oor oordeel en teregstelling (Joël 3:2-16, 19). Dit vertel vir ons waarom Jehovah toornig is op die nasies—weens die wyse waarop hulle sy knegte behandel het. Hulle het hulle onder die nasies verstrooi en diensknegte van hulle gemaak. Hulle het Jehovah se tempel van sy goud, silwer en ander kosbare skatte beroof en dit na hulle eie tempels gebring. Hulle het die kinders van Juda geweld aangedoen en onskuldige bloed vergiet. Let daarop dat Jehovah God hier sê dat dit was asof hulle hom mishandel het, net soos Jesus vir Saulus van Tarsus gesê het dat hy Hom vervolg het toe Saulus Jesus se volgelinge vervolg het.—Hand. 9:5.

Nadat Jehovah hierdie nasies tot verantwoording geroep het, beveel hy sy volk om sy dag van wraak aan te kondig en onder die nasies te verkondig: “Heilig ’n oorlog! Wek die helde op.” Dan het ons die teenoorgestelde van Jesaja 2:2-4 en Miga 4:1-3, naamlik: “Smee van julle pikke swaarde en van julle snoeimesse spiese; laat die swakke sê: Ek is ’n held.” Hulle word ontbied na die dal van Josafat, ’n naam wat beteken “Jehovah is Regter”.—Joël 3:9-12

Vervolgens het ons ’n beskrywing van Jehovah se wraak op die nasies. Die sekel word ingesteek om die goddelose nasies te oes wat in die parskuip gegooi gaan word sodat dit oorloop. Hierdie deel van die profesie sluit gepas af deur hierdie allerbelangrikste rede daarvoor te verstrek: “Dan sal julle weet dat Ek [Jehovah] julle God is, wat woon op Sion, my heilige berg” (Joël 3:17). Hierdie profesie kom baie ooreen met wat die boek Openbaring ons omtrent Armageddon meedeel.—Openb. 16:14-16; 19:15-21.

Die boek Joël verheerlik Jehovah God se soewereiniteit. Dit blyk uit die feit dat hy die sprinkaanplaag teen die ‘dronkaards van Juda’ (die valse Christendom) stuur, dat hy die nasies tot ’n geveg uitdaag en dat hy hulle in die “dal van Josafat” teregstel. Hierdie profesie beklemtoon ook Jehovah se groot barmhartigheid, soos ons lees in Joël 2:13: “Bekeer julle tot die HERE julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil.” Daarbenewens is die bevel aan Jehovah se volk om die waarskuwing oor sy komende dag van wraak te laat hoor terwyl hulle onder die nasies verkondig: “Heilig ’n oorlog!” onuitgesproke in die boek vervat. Gelukkig het ons nou daardie dag bereik wanneer Jehovah “sit om gerig te hou oor al die nasies rondom”!—Joël 3:9-12.

[Voetnoot]

a Kyk Die Wagtoring van 1 Oktober 1979, bladsye 20-22, vir besonderhede.

[Prent op bladsy 29]

“Soos krygsmanne klim hulle op die muur . . . hulle klim in die huise.” Waarop is dit van toepassing?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel