Gilead-skool stapel steeds ’n ‘hoop getuienis’ op
GILEAD-SKOOL het waarlik sy naam, wat ‘hoop getuienis’ beteken, gestand gedoen! ’n Berg lof is opgebou as gevolg van hierdie skool.” Dit was die woorde van C. W. Barber, voorsitter tydens die gradeplegtigheid van die 70ste klas sendelinge van die Wagtoring-Bybelskool Gilead. Die plegtigheid is op Sondag, 8 Maart, by Jehovah se Getuies se Byeenkomssaal in Long Island City, New York, gehou.
Baie van die aanwesiges kon onthou dat daar slegs so wat 110 000 verkondigers van die goeie nuus van die Koninkryk in die hele wêreld was toe die Skool in 1943 gestig is. Nou doen meer as tweemiljoen mense daardie werk.
Die 49 graduerende manne en vroue het uit 9 lande gekom en is na 18 gestuur. Na vyf maande van intensiewe opleiding het hierdie ervare voltydse bedienaars ’n paar afskeidswoorde van raad ontvang wat al 2 124 aanwesiges tot voordeel gestrek het.
W. K. Jackson het vir die studente gesê dat hulle net soos Jesaja gehoor gegee het aan die oproep om diens. Jesaja het gesê: “Hier is ek, stuur my” (Jes. 6:8). Jackson het die studente aangespoor om voort te gaan om hierdie antwoord te bevestig.
M. G. Henschel het die studente se aandag gevestig op die apostel Paulus se woorde: “Daarom gee ons nie moed op nie” (2 Kor. 4:16-18). Hy het gesê dat hulle ouer sal word en probleme sal hê, maar hulle moet aanhou om die ewige te soek.
A. D. Schroeder het dit opgevolg deur Jesus se woorde te beklemtoon: “Kom hier, volg My” (Matt. 19:21). Schroeder het die studente aangespoor om nooit moed op te gee nie, maar om Jesus tot in alle ewigheid te volg.
J. Redford het studente aangespoor om steeds voort te beweeg, om te vergeet van die dinge wat agter is en steeds die dinge wat voorlê na te jaag (Filip. 3:13-16). Hy het vertel wat getroue broer Giovanni DeCecca (nou oorlede) 30 jaar gelede vir hom gesê het toe hy die broer geprys het omdat hy soveel in Jehovah se diens gedoen het. DeCecca, wat teen daardie tyd al meer as 40 jaar by die hoofkwartier van Jehovah se Getuies gedien het, het ernstig na hom gekyk en gesê: “Broer, dis nie wat jy reeds gedoen het nie. Dis wat jy nog gaan doen wat belangrik is!”
U. V. Glass het die studente aangespoor om in hulle toewysings te bly. Hy het gesê: “Kom tot ’n besluit en sê vir jouself: ‘As iemand sy toewysing gaan verlaat, is dit nie ek nie.’”
G. M. Couch het beklemtoon dat hulle hulle doel voortdurend moet nastreef en nooit moet moed opgee nie. Met Jesus se woorde in Lukas 9:62 in gedagte, het hy hulle vermaan: “Julle het julle hand aan die ploeg geslaan. Moenie omdraai nie.”
F. W. Franz, die president van die Skool, het almal daaraan herinner dat ons in ’n tyd van vurige beproewing lewe soos in Lukas 12:49-53 gemeld word. Die inhoud van verse 40-48 toon dat die geskil gaan om wie die ‘getroue bestuurder’ van God is. Franz het die studente aangespoor om steeds met Jehovah se getroue bestuurder’-klas saam te werk en om daarna uit te sien om Armageddon saam met hierdie klas te oorlewe.
Maak jy geestelik vordering? Kan jy jou beskikbaar stel vir die voltydse sendingwerk? Daar bestaan steeds ’n behoefte. ’n Groter ‘hoop getuienis’ moet nog opgestapel word.