Hulpmiddele om ons soos minderes te gedra
1. Watter Skriftuurlike informasie wat reeds bespreek is, kan ons help om ons soos minderes te gedra?
WAT sal ons help om ons soos minderes te gedra? Alles wat in die vorige artikel gesê is oor die slegte vrugte wanneer mense dit nie doen nie, behoort beslis as ’n waarskuwing vir ons te dien om ons soos minderes te gedra. Ons wil tog seker nie faal in ons soeke na die lewe nie, of hoe? Al die goeie Skriftuurlike voorbeelde van diegene wat hulle soos minderes gedra het en die belonings wat hulle ontvang het, behoort ons andersyds aan te spoor om hulle voorbeeld te volg.
2, 3. (a) Hoe kan ’n goeie verhouding met Jehovah ons help om ons soos minderes te gedra? (b) Waarom kan nederigheid ons help?
2 Hoewel dit dalk nog nie by party van ons opgekom het nie, is een van die grootste hulpmiddele in hierdie verband ’n goeie verhouding met Jehovah God en volle vertroue in hom. Sodoende sal ons nie onnodig besorg wees indien ons sou faal, verlaag of verwaarloos word nie. Ja, ons wil ‘met ons hele hart op Jehovah vertrou en nie op ons eie insig steun nie. As ons Hom in al ons weë ken, sal Hy ons paaie gelykmaak’ (Spr. 3:5, 6). Dan sal ons ook die vertroue kan hê dat hy al sy werke tot ons beswil laat meewerk.—Rom. 8:28.
3 Dit verg ook nederigheid om ons soos minderes te gedra. En waarom sou ons nie nederig wou wees nie? Ons word meegedeel: “Dit is beter om nederig van gees te wees saam met die ootmoediges as om buit te verdeel met die trotsaards.” Die trotse weg is ongetwyfeld selfverydelend: “Trotsheid kom voor die verbreking, en hoogmoed kom voor die val.” Bowendien bring trotsheid mee dat God ons weerstaan, soos ons lees: “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” Die apostel Paulus voer dieselfde punt as die dissipel Jakobus aan waar hy se: “Wees almal met ootmoed bekleed in onderdanigheid aan mekaar.” Ja, ons moet ons soos minderes gedra—“want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade”.—Spr. 16:18, 19; Jak. 4:6; 1 Pet. 5:5; vergelyk Romeine 12:16.
DIE BEGINSEL VAN HOOFSKAP
4, 5. (a) Hoe kan dit ons op hierdie gebied help as ons die beginsel van hoofskap waardeer? (b) Hoe kan dit goed toegelig word?
4 Nog ’n hulp is as ons die beginsel van hoofskap verstaan. Wanneer daar ’n werk is wat deur meer as een persoon gedoen moet word, moet daar iemand wees wat die leiding gee en finale besluite neem, so nie sal daar verwarring wees en sal mense mekaar in die wiele ry. Met ander woorde, organisasie is nodig. ’n Organisasie wat uit baie persone bestaan, kan met die menseliggaam vergelyk word. Ons liggame het so baie en verskillende lede, en tog word hulle almal deur die een hoof gerig! Party lede is weliswaar prominenter, belangriker as ander, maar soos die apostel duidelik toon, kan geen lid vir ’n ander sê nie: “Ek het jou nie nodig nie.” Almal is noodsaaklik. Behoort ons nie, volgens hierdie patroon, tevrede te wees met ’n aandeel in die bereiking van die organisasie se doel nie?—1 Kor. 12:21.
5 ’n Mens kan ook met ’n orkes goed toelig hoe belangrik dit is om die beginsel van hoofskap te erken. In ’n groot simfonieorkes kan daar 100 talentvolle musici wees, en tog moet elkeen hom soos ’n mindere gedra. Selfs die dirigent moet hom soos ’n mindere gedra, want hy staan onder verpligting om die musiek te vertolk soos die komponis dit wou hê. En al die musici in die orkes moet ag slaan op die dirigent en hulle soos minderes teenoor hom gedra. En dit is nie al nie. In elke afdeling waar daar meer as een musikus is wat ’n sekere instrument bespeel, is daar ’n “leier”, en die res van die musici in daardie afdeling moet sy styl so getrou moontlik volg. Vir die eerste viole is daar byvoorbeeld die konsertmeester. Dit is slegs met so ’n reëling dat mooi, harmoniese musiek voortgebring kan word. Ja, erkenning van die beginsel van hoofskap sal ons help om ons soos minderes te gedra.
DIE GEES VAN ’N GESONDE VERSTAND EN GOD SE HEILIGE GEES
6, 7. Hoe kan die gees van ’n gesonde verstand ons help om ons soos minderes te gedra?
6 Die gees van ’n gesonde verstand sal ons ook in hierdie saak help. Die apostel Paulus vermaan ons: “Deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ’n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees [met ’n gesonde verstand moet dink] na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het” (Rom. 12:3, vgl. NW). Wanneer ons onsself nugter beskou en nie toelaat dat ons denke deur trotsheid of eiebelang benewel word nie, kan ons baie redes vind waarom ons ons soos minderes moet gedra. Hoe so?
7 Elkeen van ons ken homself baie beter as ander. Ons behoort baie beter as ander te kan sien hoe ver ons te kort skiet in ons persoonlikheid en gedrag. Paulus het gekla: “Wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek” (Rom. 7:15). As Christene staan ons bowendien onder die verpligting om ander nie te streng te beoordeel nie, maar om toegewings vir hulle gebreke te maak en om die twyfel in hulle voordeel uit te lê. Maar ons is ongetwyfeld pynlik bewus van ons eie swakhede en waar ’n verkeerde beweegrede ons beïnvloed het. Hierdie feit alleen moet ons gewillig maak om onsself soos minderes teenoor ander te gedra. Dit ly geen twyfel nie: Die gees van ’n gesonde verstand sal ons op hierdie gebied help.—2 Tim. 1:7, NW.
8. Hoe kan ’n besef van die krag van God se heilige gees ons help om ons soos minderes te gedra?
8 ’n Deeglike besef van die krag van God se heilige gees sal ons ook help om ons soos minderes te gedra. Ongeag ons natuurlike begaafdhede of prestasies, is dit God se heilige gees wat in Jehovah se organisasie belangrik is (Sag. 4:6). Daardie heilige gees het die vroeë Christene in staat gestel om so produktief in hulle bediening te wees dat hulle vyande gekla het dat hulle “die wêreld in opstand bring” (Hand. 17:6). Dit was as gevolg van God se gees dat hulle met soveel vrymoedigheid kon spreek wanneer hulle deur hulle godsdiensteenstanders gekonfronteer is, al was hulle uit ’n natuurlike standpunt ongeleerde en eenvoudige manne (Hand. 4:13, 29-31). As ons besef dat al ons broers God se heilige gees het, sal dit ons help om ons soos minderes teenoor hulle te gedra selfs al blink ons uit ’n wêreldse standpunt op sekere gebiede uit. Dit behoort dit vir ons makliker te maak om ag te slaan op die raad: “Die een moet die ander voorgaan in eerbetoning.”—Rom. 12:10.
9. Watter uitwerking moet die besef dat Jehovah se koninkryk van die grootste belang is op ons hê?
9 Besef ons hoe belangrik Jehovah God se koninkryk is? Dan sal ons bereid wees om die belange daarvan eerste in ons lewe te stel. Dit sal ons ook help om ons soos minderes te gedra. Hoekom kan ons so sê? Want as ons besef dat die Koninkrykswerk waaraan ons almal deelneem die belangrike saak is en nie ons nie, sal ons nie onnodig ontsteld voel as ons oor die hoof gesien is waar dit kom by ’n diensvoorreg wat ons begeer het nie. Ons wil God se werk, nie onsself nie, ernstig opneem. Daar is immers net ’n beperkte aantal dele op gemeentelike vergaderinge, slegs ’n beperkte aantal dele op ’n kringbyeenkomsprogram, en slegs ’n beperkte aantal dele op ’n streekbyeenkomsprogram. Party van ons sal vanselfsprekend uitgelaat word. Laat ons, indien dit ons lot is, ons liewer verheug saam met die broers wat die voorregte ontvang as om hulle te beny. Laat ons sake beskou soos die psalmis wat gesê het: “’n Dag in u voorhowe is beter as duisend [elders]; ek wil liewer by die drumpel staan in die huis van my God as om te woon in die tente van goddeloosheid.” Ja, dit is baie beter om ’n mindere in Jehovah se organisasie te wees as om ’n belangrike persoon in Satan se goddelose, gedoemde organisasie te wees.—Ps. 84:11.
PRAKTIESE WYSHEID
10. Watter verleentheid kan ons onsself bespaar as ons ons soos minderes gedra?
10 God se Woord die Bybel het baie oor praktiese wysheid te sê. Dit wys byvoorbeeld op die wysheid daarvan om skerp gereedskap te gebruik sodat ’n mens jou nie onnodig hoef in te span nie (Pred. 10:10). Dit gee ons ook die praktiese raad om ons soos minderes te gedra. Jesus het hierdie punt gestel, soos ons in Lukas 14:8-11 lees: “Wanneer jy deur iemand na ’n bruilof uitgenooi is, moenie die voorste plek inneem nie, ingeval daar nie miskien een wat waardiger is as jy deur hom uitgenooi is nie, en hy wat jou en hom genooi het, kom en vir jou sê: Maak plek vir hierdie man. En dan sal jy met skaamte die agterste plek begin inneem. Maar wanneer jy genooi is, gaan en neem die agterste plek in; sodat wanneer hy kom wat jou genooi het, hy vir jou kan sê: Vriend, gaan hoër op! Dan sal jy eer hê voor die wat saam met jou aan tafel is. Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en wat homself verneder, sal verhoog word.”
11. (a) Waarom bevorder dit goeie verhoudinge met ander wanneer ons ons soos minderes gedra? (b) In watter ander opsigte help hierdie gesindheid?
11 Daar kan ook tereg gesê word dat dit praktiese wysheid is om goeie verhoudings met ander na te streef. Een manier om daardie wenslike doelwit te bereik, is om ’n mens soos ’n mindere te gedra. Dit is menslike natuur om besorg te wees oor ’n mens se eie voordele, en wanneer ons ambisieus of oorgretig is om uit te blink, kan ons ander ongemaklik laat voel. Maar wanneer ons ons soos minderes gedra, hou ons nie ’n bedreiging vir ander se posisie in nie en laat ons hulle nie onveilig of minderwaardig voel nie. Ons laat hulle nie ’n verdedigende houding aanneem nie. Die kanse is gevolglik groter dat hulle vriendelikheid en liefde aan ons sal betoon. As ons ons soos minderes gedra, sal dit daarbenewens verhoed dat ons met ander wedywer met die doel om uit te blink. Dit sal verhoed dat ons ons aanmatig om dinge bo ons vermoëns of middele te doen; dit sal verhoed dat ons, soos die spreekwoord sê, ‘verder spring as wat ons stok lank is’. Of, soos Jesus dit verreweg beter gestel het, dit is verstandig om die koste te bereken. Praktiese wysheid sal ook verhoed dat ons meer beloof as wat ons kan doen.—Luk. 14:28.
12. Van watter hulp kan dit in die gesinskring wees as ons ons soos minderes gedra?
12 Praktiese wysheid wat ons ons soos minderes laat gedra, geld ook in die gesinskring. Die verstandige vrou sal byvoorbeeld tevrede wees om die komplementêre, onderdanige rol teenoor haar man te vervul, wetende dat dit vrede in die gesin bevorder en geluk in die hand werk. Gewilligheid om so ’n rol te vervul, wen haar man se toegeneentheid en liefde, en wek die begeerte by hom om dinge vir haar te doen. En wat kan ’n vrou gelukkiger maak as om ’n man te hê wat haar so goedgesind is dat hy altyd deur woorde en dade blyke van waardering en liefde gee? In hierdie verband is dit ook vir ’n man praktiese wysheid om te erken waarin sy vrou uitblink en om tevrede te wees om die ondergeskikte rol te vervul terwyl hy sodanige erkenning onder sy hoofskap aan haar verleen. Dit sal ’n soortgelyke goeie uitwerking op haar hê.
ONSELFSUGTIGE LIEFDE DIE GROOTSTE HULPMIDDEL
13, 14. Hoe het onselfsugtige liefde (a) Jonatan (b) Jesus Christus in hierdie verband gehelp?
13 Sal toegeneentheid en onselfsugtige liefde ons help om ons soos minderes te gedra? Ja, en dit by uitstek! Ons het ’n goeie voorbeeld in Jonatan, die seun van koning Saul. Ons lees dat “die siel van Jonatan verkleef geraak [het] aan die siel van Dawid, en Jonatan het hom liefgekry soos sy eie siel”, reg nadat Dawid die reus Goliat verslaan het (1 Sam. 18:1). Jonatan het mettertyd begin besef dat nie hy nie, maar Dawid Jehovah se keuse was om Saul as koning in Israel op te volg. As gevolg van sy liefde vir Dawid was Jonatan egter nie jaloers op Dawid nie, maar het hy gesê: “Vrees nie, want die hand van Saul, my vader, sal jou nie vind nie, maar jy sal koning word oor Israel, en ek sal die tweede onder jou wees.”—1 Sam. 23:17.
14 Watter goeie voorbeeld het ons tog ook in Jesus Christus! Jesus het gesê dat hy “die Vader liefhet”. As gevolg van daardie liefde het Jesus dit nooit ’n oomblik lank oorweeg om aan sy Vader gelyk te wees nie, maar altyd besef dat Jehovah God sy hoof is (Joh. 14:31; 1 Kor. 11:3; Filip. 2:6, NW). En as gevolg van Christus se groot liefde vir sy gesalfde voetstapnavolgers was hy bereid om vir hulle te sterf (Ef. 5:25). Jesus se voorbeeld van nederigheid en liefde behoort ons beslis te help om ons soos minderes te gedra.
15. Watter goeie voorbeeld het die apostel Paulus gestel as een wat hom soos ’n mindere gedra het?
15 Ons het tevore gemeld dat die apostel Paulus hom soos ’n mindere teenoor sy mede-Christene gedra het. Waarom? Dit was as gevolg van sy groot liefde vir hulle. Toe hy dus aan sy mede-Christene in Rome geskryf het, het hy daarna uitgesien om nie alleen hulle geloof te versterk nie, maar ook dat hulle sy geloof sou versterk deur wedersydse bemoediging (Rom. 1:8-12). Sy woorde aan die broers in Korinthe lewer soortgelyke getuienis: “Ons het openhartig met julle gepraat, Korinthiërs. Ons hart is vir julle wyd oop. Ons het nie ons hart vir julle gesluit nie; julle het julle harte vir ons gesluit. Ek praat met julle as my kinders. Doen aan ons wat ons aan julle gedoen het: maak julle harte ook wyd oop!” (2 Kor. 6:11-13, NAB). Let op soortgelyke betuigings in verband met die Christene in Filippi en in Thessalonika.—Filip. 1:8; 4:1; 1 Thess. 2:7, 8.
16, 17. (a) Wat kan gesê word oor hedendaagse voorbeelde waar mense hulle soos minderes gedra? (b) Hoe kan liefde in hierdie opsig help?
16 Het ons nie talle goeie voorbeelde hiervan in ons dag nie? Daar is baie in verantwoordelike posisies wat goeie voorbeelde stel deur hulself soos minderes te gedra. Hulle is nederig tot diens van hulle broers wat hulp nodig het. Dit is veral duidelik by ons groter samekomste. Ongeag natuurlike begaafdhede of posisies in die organisasie ‘rol almal die moue op en sit hulle hand by’, soos die spreekwoord sê, om die werk gedaan te kry.
17 Onselfsugtige liefde sal ons ongetwyfeld help om ons soos minderes te gedra. Ja, ‘die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie en soek selfs nie sy eie belang nie’. Dit is nie uitermate besorg daaroor om sy verdiende loon te kry nie (1 Kor. 13:4, 5). Liefde kan ons waarlik help, want dit sal ons beweeg om nie ‘ons eie voordeel te soek nie, maar die van ander’ (1 Kor. 10:24). Soos Paulus vir die Christene in Galasië gesê het: “Dien mekaar deur die liefde.” Diens aan mekaar verg beslis dat iedereen hom soos ’n mindere gedra!—Gal. 5:13.
18. Hoe kan hierdie saak oor gedrag soos ’n mindere goed opgesom word?
18 Dit is duidelik dat die Bybelverslag, sowel as antieke en hedendaagse sekulêre geskiedenis, bewys dat dit die verstandige weg is om jou soos ’n mindere te gedra. Dit bevorder goeie verhoudinge met Jehovah God, met ons mede-Christene en met die lede van ons gesinne. Daarbenewens verskaf dit geluk, want dit beteken dat ’n mens die voordele en voorkeur aan ander gee, en dit “is saliger om te gee as om te ontvang” (Hand. 20:35). Daar is ook baie hulpmiddele om ons aan te spoor om ons soos minderes te gedra: Bybelse voorbeelde, erkenning van die beginsel van hoofskap, die gees van ’n gesonde verstand, gehoorsaamheid aan die leiding van God se heilige gees en die betoning van praktiese wysheid en onselfsugtige liefde. Laat ons dit altyd as ’n voorreg en ’n seën beskou om ons soos minderes te gedra, tot voordeel van ander en onsself, en bowenal tot lof van Jehovah.
“Laat die wyse . . . die sterke . . . die ryke . . . nie [roem] . . . nie; maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek [Jehovah] is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in die dinge het Ek ’n behae.”—Jer. 9:23, 24.
[Prent op bladsy 21]
Wat sou van die orkes word as almal dirigente was?