Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 8/15 bl. 16-20
  • Wees verstandig—Gedra jou soos ’n mindere

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wees verstandig—Gedra jou soos ’n mindere
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • LEER UIT BYBELVOORBEELDE
  • WAAROM DIE PROBLEEM?
  • AARDSE, DIERLIKE, DUIWELSE WYSHEID
  • DIE GOEIE VOORBEELDE VAN MOSES, JESUS EN PAULUS
  • Hulpmiddele om ons soos minderes te gedra
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Kweek die gees van ’n mindere aan
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Gedra jou soos “’n mindere”
    Sing lofliedere voor Jehovah
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 8/15 bl. 16-20

Wees verstandig—Gedra jou soos ’n mindere

“Wie die minste onder julle almal is, hý is groot.”—Luk. 9:48, NAB.

1, 2. (a) Wie was onder die meesbegunstigde manne wat ooit op hierdie aarde gewandel het, en waarom? (b) Maar watter probleem het eienaardig genoeg herhaaldelik onder hulle kop uitgesteek?

WIE was onder die meesbegunstigde manne wat ooit op hierdie aarde gewandel het? Dit sluit ongetwyfeld die 12 dissipels van Jesus Christus in wat hy gekies het om apostels te wees. Hoe bevoorreg was hulle tog om hom te vergesel terwyl “Hy die een stad en dorp na die ander deurgereis en gepreek en die evangelie van die koninkryk van God verkondig” het! (Luk. 8:1). Hoe aangenaam moes dit tog vir hulle gewees het om Jesus se redevoerings, soos die Bergpredikasie, te hoor en te sien hoedat hy die een wonderwerk na die ander verrig! En het Jesus hulle daarbenewens nie voortdurend privaat onderrig nie? Ja, beslis.

2 Dit is egter eienaardig dat hierdie meesbegunstigdes herhaaldelik onder mekaar geredeneer het oor wie die grootste of vernaamste onder hulle was. Nie een wou hom soos ’n mindere gedra nie. Het sulke wedywer vrede, harmonie en geluk in die hand gewerk? Het dit Jehovah God behaag? Was dit die verstandige weg? Nouliks, want wat het Jesus eenkeer vir hulle gesê? Nadat hy ’n kindjie langs hom laat kom staan het, het hy vir hulle gesê: “Elkeen wat hierdie kindjie in my Naam ontvang, ontvang My, en elkeen wat My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. Wie die minste onder julle almal is, hy is groot.”—Luk. 9:48, NAB.

3. Noem ’n paar wêreldlike voorbeelde van mense wat nie gewillig is om hulself soos minderes te gedra nie.

3 Wie is vandag wyslik tevrede om hulle soos minderes te gedra? Baie min! Dit is waarom daar soveel verwarring, twis, tweedrag en oorlog in hierdie ou wêreld is. Nasies en blokke nasies wedywer voortdurend met mekaar: elkeen wil bo, die mees vooraanstaande en die sterkste wees. Die nasies belas dus hulle onderdane met geweldige krygsuitgawes. En wat sit agter ’n groot deel van die agitasie deur die vrouevryheidsbeweging as dit nie ’n weiering aan die kant van die lede daarvan is om hulle soos minderes teenoor hulle mans te gedra nie? En is dit nie ook die probleem van baie hedendaagse jongmense nie? Hulle vererg hulle oor die rol wat hulle ouers speel; hulle wil hulle nie soos minderes teenoor hulle meerderes, hulle ouers, gedra nie. Het sulke onwilligheid van mense om hulle soos minderes te gedra geluk meegebring? Is dit verstandig? Hoegenaamd nie!

LEER UIT BYBELVOORBEELDE

4. Wie was die eerste persoon met hierdie hoogmoedige gesindheid, en wat toon dat dit die geval was?

4 Dat dit dwaas is om ’n mens nie soos ’n mindere te wil gedra nie, blyk uit die feit dat al die moeilikheid in die wêreld ontstaan het omdat ’n sekere engel hom nie so wou gedra nie. Hoekom kan ons so sê? Omdat daardie engel, wat ons eerste ouers op die weg na sonde en die dood gelei het, sy ware beweegredes geopenbaar het toe hy die Seun van God die derde maal in die wildernis versoek het. Hy het vir Jesus al die koninkryke van die wêreld aangebied as hy Satan net een maal sou aanbid. Wat het dit getoon? Satan wou gelyk wees aan Jehovah God, en hy wou homself nie soos ’n mindere teenoor Hom gedra nie. Dit blyk uit Jesus se antwoord aan Satan: “Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” Weens sy onwilligheid om homself soos ’n mindere te gedra, het Satan hom skande en smaad op die hals gehaal en sal hy mettertyd tot niet gemaak word.—Matt. 4:8-10; Hebr. 2:14

5. (a) Hoe het Eva getoon dat sy nie bereid was om haar soos ’n mindere te gedra nie? (b) Wat toon dat Kain ook so gevoel het?

5 En was dit nie ook onwilligheid om haar soos ’n mindere te gedra wat Eva voor Satan se liste laat swig het en aan Jehovah God ongehoorsaam gemaak het nie? Satan het haar verseker dat sy soos God sou word en self sou kon besluit wat goed en kwaad is as sy die verbode vrug geëet het (Gen. 3:5). Eva se onwilligheid om haar soos ’n mindere te gedra, was vir haar noodlottig. En wat van haar eersgebore seun? Is dit nie so dat Kain sy broer Abel vermoor het omdat hy hom eenvoudig nie soos ’n mindere teenoor hom kon gedra nie? Dit is hoeveel dit Kain gegrief het dat God Abel verkies het. Hierdie trotsheid het meegebring dat Kain as die eerste menslike moordenaar verban is.—Gen. 4:1-16.

6. Hoe is onwilligheid om hulle soos minderes te gedra, getoon deur (a) Josef se halfbroers? (b) Aäron en Mirjam? (c) Korag, Datan en Abiram?

6 Dan was daardie halfbroers van Josef. Omdat hulle vader Jakob Josef liewer gehad het—daar hy die seun van sy gunstelingvrou Ragel was—is hulle so met bittere vyandigheid vervul dat hulle geen rus kon vind voordat hulle van hom ontslae geraak het nie (Gen. 37:3-35). Hulle het ook mettertyd rede gehad om spyt te wees oor hulle handelwyse. Jare later het selfs Mirjam en Aäron geweier om hul soos minderes teenoor hulle jonger broer Moses te gedra. Hulle het gekla: “Het die HERE dan maar alleen met Moses gespreek? Het Hy nie ook met ons gespreek nie?” Maar soos die verslag voorts toon, het Jehovah God dit gehoor. Hy was baie ontevrede oor hulle gesindheid, want hy het vir die twee klaers gesê: “Hoor tog my woorde. . . . my kneg Moses . . . in my hele huis is hy getrou. Mond tot mond spreek Ek met hom . . . Waarom het julle dan nie gevrees om teen my kneg, teen Moses, te spreek nie?” Jehovah God was so ontevrede dat hy Mirjam met melaatsheid getref het. Dan was daar Korag, Datan en Abiram wie se weiering om hulself soos minderes te gedra selfs nog ernstiger was en wat as gevolg daarvan vernietig is.—Num. 12:1-15; 16:1-35; 26:9-11.

7, 8. (a) Watter twee eertydse konings het roemloos gesterf omdat hulle onwillig was om hulle soos minderes te gedra? (b) Watter voorbeelde het ons in apostoliese tye?

7 Nog ’n kneg van Jehovah God wat probleme in hierdie verband gehad het, was koning Saul. Hy kon dit eenvoudig nie verdra om die vroue van Israel te hoor sing nie: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende!” Dit het Saul so woedend gemaak dat hy van daardie dag af aan “die oog op Dawid gehad” het en hom selfs soos ’n hond vervolg het om hom dood te maak. Hoe bitter het Saul se lewe tog geword omdat hy nie gewillig was om hom in hierdie opsig soos ’n mindere in verhouding tot Dawid te gedra nie! En op watter tragiese wyse het hy tog nie gesterf nie! (1 Sam. 18:7-9; 31:3-6). Dan was daar koning Ussia. Sy militêre prestasies, wat waarlik groot was, het hom hoogmoedig gemaak. Omdat hy nie langer wyslik tevrede was om net as koning te dien wat staatsake behartig en om hom soos ’n mindere in verhouding tot die priesterdom te gedra nie, wou hy die priesters se gelyke wees waar dit by tempelaanbidding gekom het. Weens Ussia se vermetelheid het Jehovah God hom met melaatsheid getref. Hy het as ’n melaatse gesterf.—2 Kron. 26:16-21; Spr. 11:2.

8 Wat voorbeelde in die Christelike Griekse Skrifte betref, het ons reeds melding gemaak van die probleem wat die 12 apostels gehad het terwyl Jesus by hulle was. Nie een van hulle was bereid om hom soos ’n mindere te gedra nie. Let egter daarop dat ons niks van hierdie aard oor hulle lees nadat hulle God se heilige gees op Pinkster ontvang het nie. Maar ander Christene van die eerste eeu het daardie probleem gehad. Dit blyk dat die Christene in Korinthe, ten minste party van hulle, nie tevrede was om hulle soos minderes teenoor die apostel Paulus te gedra nie. En die apostel Johannes het dit nodig gevind om Diotrefes kwaai te bestraf omdat hy die eerste wou wees en hom nie gesteur het aan die dinge wat die apostel Johannes vir die Christene van daardie tyd te sê gehad het nie.—2 Kor. 10:1-11; 12:5-9; 3 Joh. 9, 10.

WAAROM DIE PROBLEEM?

9. Wat is die grondoorsaak waarom mense hulle nie soos minderes wil gedra nie?

9 Waarom het hierdie probleem so algemeen deur die mens se geskiedenis heen voorgekom, nie net by wêreldlinge, nasies en indiwidue nie, maar selfs by Jehovah God se knegte? Dit is weens oorgeërfde selfsug. Ons lees in Genesis 8:21: “Die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af.” Die gevolg? “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?”—Jer. 17:19.

10-12. Watter voorbeelde toon presies waar en waarom hierdie probleem ontstaan?

10 Getuies van Jehovah vind dit oor die algemeen nie moeilik om hulle soos minderes te gedra teenoor diegene wat klaarblyklik ’n hoër posisie beklee nie. Maar die probleem ontstaan wanneer hulle hulle soos minderes moet gedra onder hulle eweknieë, onder diegene wat min of meer hulle gelyke is. Nie een van die 12 apostels het dit byvoorbeeld moeilik gevind om hom soos ’n mindere teenoor sy Heer, Jesus Christus, te gedra nie. Maar die probleem het ontstaan wanneer hy hom met enige van die ander 11 apostels vergelyk het. Nie een wou hom soos ’n mindere onder die res gedra nie!

11 Net so kan daar vandag in die Christengemeente ’n bietjie wedywer bestaan of kan ’n bietjie vroulike jaloesie na vore kom, veral tussen diegene wat taamlik soortgelyke begaafdhede of voordele het. Dit was skynbaar die situasie met twee Christinne in die gemeente in Filippi, sodat die apostel Paulus geskryf het: “Ek vermaan Euodia en ek vermaan Sintiche om eensgesind te wees in die Here. En ek vra jou ook, opregte metgesel, wees hierdie vroue behulpsaam wat met my saamgestry het in die evangelie, ook saam met . . . my ander medearbeiders” (Filip. 4:2, 3). Hierdie susters was heel waarskynlik albei besonder bekwame en ywerige verkondigers van die “evangelie” sodat ’n gees van wedywer in hulle harte ontstaan het en wrywing veroorsaak het.

12 Net so kan daar soms probleme ontstaan tussen broers met dieselfde ampte. In die Christenorganisasie vind bedieningsknegte dit oor die algemeen nie moeilik om hulle soos minderes teenoor die ouere manne te gedra nie; ouere manne teenoor die kringopsiener; kringopsieners teenoor die streekopsieners, ensovoorts. Maar die toets staan in verband met ’n mens se eweknieë, of bedieningsknegte bereid sal wees om hulle soos minderes teenoor ander bedieningsknegte te gedra, ouere manne teenoor ander ouere manne in ’n sekere gemeente, ensovoorts.

AARDSE, DIERLIKE, DUIWELSE WYSHEID

13-15. Waarom kan twisgierigheid en afguns bestempel word as (a) aardse wysheid? (b) dierlike wysheid?

13 Omdat baie weens menslike onvolmaaktheid onwillig is om hulle soos minderes te gedra, het die dissipel Jakobus dit nodig gevind om te skryf: “As julle bittere afguns en selfsug [twisgierigheid, NW] in julle hart het, moenie roem en lieg teen die waarheid nie. Dit is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, natuurlik [dierlik, NW], duiwels; want waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade.”—Jak. 3:14-16.

14 Die dissipel Jakobus slaan die spyker op die kop wanneer hy sê dat afguns en twisgierigheid aards, dierlik en duiwels is! Dit is aards, materialisties, die kenmerk van selfsugtige, onvolmaakte mense en vorm ’n teenstelling met dit wat van bo kom, wat hemels is. Hierdie selfde gees is ook dierlik, want dit is die kenmerk van diere. Teoloë, wat diere in hulle natuurlike omgewing bestudeer, het by verskeie diere, soos hoenders en koeie, ’n rangorde ontdek waarin sekeres altyd voor ander kom.

15 ’n Paar jaar gelede het die koerante byvoorbeeld berigte bevat oor ’n vertoning met 12 tiers daarin by ’n sirkus in die stad New York. Toe die tiers na die vertoning geloop het na die deurgang wat na hulle hokke lei, het die hooftier, Rajah, skielik vir Ila, ’n tierwyfie, aan die keel gegryp. Teen die tyd dat die sirkuswerkers die twee uitmekaar kon kry, was die tierwyfie dodelik verwond. Wat was die rede? In plaas daarvan om haar plek agter Rajah te hou, het sy vermetel by hom verbygeloop en Rajah so kwaad gemaak dat hy haar aangeval het. Haar onwilligheid om haar soos ’n mindere te gedra, het haar haar lewe gekos.

DIE GOEIE VOORBEELDE VAN MOSES, JESUS EN PAULUS

16. Watter goeie voorbeeld het Moses gestel as iemand wat bereid was om hom soos ’n mindere te gedra?

16 Een van Jehovah se eertydse knegte wat hom by uitstek soos ’n mindere gedra het, was Moses. Vir watter groot take het Jehovah God hom tog gebruik: om vir Farao te gaan getuig, om die 10 plae te bring, om die Rooi See te verdeel en om op wonderdadige wyse vir sy volk water te gee! Maar ondanks al hierdie voorregte en die aansien wat hy sodoende verkry het, lees ons: “Die man Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem.” As gevolg van sy gewilligheid om hom soos ’n mindere te gedra, het Jehovah God hom groot gemaak in die oë van die wêreld sowel as in die oë van sy eie volk.—Num. 12:3.

17-19. Wat toon dat Jesus hom soos ’n mindere gedra het (a) voordat hy na die aarde gekom het? (b) terwyl hy op aarde was? (c) sedert sy opstanding en hemelvaart?

17 En watter goeie voorbeeld het Jesus Christus, die Seun van God, tog gestel deur hom soos ’n mindere te gedra! In teenstelling met die engel wat Satan die Duiwel geword het, het die Woord, of Logos, “alhoewel hy in God se gedaante bestaan het, geen gewelddadige inbesitname oorweeg, naamlik om aan God gelyk te wees nie”. Hy het met graagte as ’n “meester-werker” gedien en het tydens die skepping nou met sy Vader saamgewerk.—Spr. 8:30, NW; Joh. 1:1-3, 14; 1 Kor. 11:3; Filip. 2:6-8, NW.

18 Terwyl Jesus op aarde was, het hy voortgegaan om hom soos ’n mindere teenoor sy Vader te gedra en het gesê dat “my Vader groter is as Ek” en dat niemand goed is nie, behalwe God (Luk. 18:19; Joh. 14:28). Trouens, toe Jesus op aarde was, het hy hom soos ’n mindere gedra teenoor ander mense en die rol van dienskneg aangeneem. Hyself het gesê dat “die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie”. Hy het selfs die geringste knegsdiens verrig deur sy apostels se voete te was. En hoe hoog is hy tog verhef as gevolg van sy nederigheid!—Matt. 20:28; Joh. 13:2-16; Filip. 2:9-11.

19 Sedert sy opstanding en hemelvaart het Christus voortgegaan om hom soos ’n mindere teenoor Jehovah sy Vader te gedra en was hy gewillig om geduldig te wag totdat Jehovah sy vyande ’n voet bank vir sy voete maak. Na Jesus se duisendjarige bewind, wanneer Jehovah al sy vyande onder sy voete gestel het, “sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees”.—Ps. 110:1; 1 Kor. 15:25-28.

20, 21. (a) Hoe het die apostel Paulus getoon dat hy in hierdie opsig ’n goeie navolger van Jesus Christus was? (b) Waarop sal die volgende artikel ons aandag tot ons voordeel vestig?

20 Onder Christus se volgelinge was die apostel Paulus in die besonder ’n goeie navolger van Jesus Christus in hierdie opsig. Ter wille van die “evangelie” het hy die dienskneg van almal geword. Sodoende het hy hom beslis soos ’n mindere gedra (1 Kor. 9:19). Hy het hom soos ’n mindere gedra teenoor die bestuursligaam in Jerusalem waar dit gekom het by sy bedieningswerk, waar hy moes preek en leerstellige sake (Hand. 15:2; Gal. 2:7-10). By een geleentheid het hy verplig gevoel om vir die Christengemeente in Korinthe te vra: “Het ek sonde gedoen deur my te verneder sodat julle verhoog kan word . . .?” Geen wonder dat Jehovah God Paulus se bediening so ryklik geseën het nie!—2 Kor. 11:7.

21 Aangesien ons gesien het dat onwilligheid om ’n mens soos ’n mindere te gedra dwaas is, terwyl gewilligheid om dit te doen ’n blyk van wysheid is, sal ons hierdie verstandige weg wil inslaan. Om dit te kan doen, het ons hulp nodig weens ons oorgeërfde onvolmaaktheid. Die volgende artikel sal die aandag vestig op middele wat ons sal help om hierdie regte gemoedstemming te verkry.

[Prent op bladsy 17]

“En Aäron het Mirjam aangekyk en—sy was melaats!”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel