Die beste keuse—Die lewe op ’n paradysaarde
Hierdie huidige lewe is ’n swak keuse in die lig van ons veelbewoë tye. Baie klou egter daaraan vas. Al is dit vol probleme, is dit beter as niks, beter as nie-bestaan. Maar mense kan nou lewe op ’n probleemvrye paradysaarde kies.
WONDERLIKE WERK
As jy graag die aarde sal wil bewerk, dit wil omskep in landerye wat voedsel lewer of in parke wat die oog behaag, die woestyne wil laat bloei, wil sien hoe dorings en distels plek maak vir weivelde en woude, sekere woude en berge wil bewaar as woonplek vir wild en om die Skepper te loof—as jy graag aan hierdie verfraaiingswerk wil deelneem, dan sal jy daarvan hou om op daardie paradysaarde te lewe. Die vrugte van sulke arbeid “is ’n gawe van God”.—Pred. 3:13.
VREDE MET DIE DIERE
As jy graag oor die diere wil heers, nie met gewere of swepe of tralies nie, maar met liefde en wedersydse vertroue; as jy hunker na die tyd wanneer die beer en die kalf saam gaan lê, die luiperd en die bokkie saam vreet, wanneer die leeu strooi vreet soos die os, en as jy graag die dag wil sien wanneer al hierdie diere gehoorsaam agter ’n kindjie aanloop, sal jy van die paradysaarde hou. “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie”, beloof Jehovah.—Jes. 11:9.
GESONDHEID EN LEWE
As dit jou hartgrondige hoop is om die dag te belewe wanneer die lamme sal spring soos ’n takbok, om die tong van die stomme te hoor sing, om die oë van die blindes te sien oopgaan, om te sien hoedat die ore van die dowes ontsluit word, om te aanskou hoe ’n gesug en geween plek maak vir glimlagte en trane en droefheid plek maak vir gelag en pyn en die dood plek maak vir gesondheid en ewige lewe, dan sal jy nie toelaat dat enigiets jou verhinder om die geseënde paradysaarde, waar sulke toestande vir ewig sal bestaan, te bereik nie. Ook dit is die belofte van God: “God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook en geween en moeite sal daar nie meer wees nie.”—Openb. 21:4.
GEEN OORLOG MEER NIE
As jou hart smag na die tyd wanneer swaarde in pikke en spiese in snoeimesse gesmee sal word, wanneer daar geen krygskole sal wees nie, wanneer mense nie meer sal leer om oorlog te voer nie, daar nie meer bomme gemaak sal word nie en daar nie meer oorlogstigters sal wees nie, dan sal jy God dank vir sy nuwe stelsel wat al hierdie dinge moontlik sal maak. Jehovah verseker ons hiervan: “Die oorloë oor die hele aarde laat Hy ophou.”—Ps. 46:10, NAB.
’N EINDE AAN VERDRUKKING
As jy uitsien na die tyd wanneer verdrukkende politieke heerskappy sal verdwyn en kommersiële hebsug tot die verlede behoort, wanneer mense huise sal bou en hulle bewoon en in vrede woon, wanneer die aarde gevul sal wees met vreugdevolle gelag terwyl die lug gevul word met voëlgesang, en wanneer die gereinigde lug die geur van blomme na jou sal aandra, dan sal lewe op die paradysaarde vir jou opwindend wees. Die belofte aan God se volk is: “My uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet.”—Jes. 65:22.
NIE TE GOED OM WAAR TE WEES NIE
Is daar ’n leser wat skepties is wanneer hy hierdie dinge lees, of daarmee spot? Is hierdie paradysaarde te goed om waar te wees? Is dit wat hy dink? Dit is te begrype, want hierdie huidige lewe vol probleme is al wat ons ken. “Die loon van die sonde is dood”, en die mensdom sondig en kry hulle verdiende loon (Rom. 6:23). God se Woord beloof egter: “Die wêreld gaan verby”, maar “hy wat die wil van God doen, bly vir ewig”.—1 Joh. 2:17.
BETROUBARE BELOFTES
Die beloftes oor ’n paradysaarde kom van Jehovah God, “wat nie kan lieg nie” (Tit. 1:2). Die nasie Israel is hieraan herinner: “Nie een woord van al die goeie woorde wat die HERE julle God oor julle gespreek het, [het] onvervuld gebly . . . nie” (Jos. 23:14). Selfs ’n teenstander van God was verplig om te sê: “God is geen man dat Hy sou lieg nie; . . . Sou Hý iets sê en dit nie doen nie . . .?”—Num. 23:19.
Ewige lewe op ’n paradysaarde—dit is God se oorspronklike voorneme met hierdie aarde en die mens daarop. Dit is hierdie lewe wat die leser nou kan kies. Jehovah God dink nie dat dit te goed is om waar te wees nie, en dus behoort geen leser so te dink nie. Jehovah dink dat hierdie huidige stelsel te sleg is om voort te bestaan, en jy stem ongetwyfeld daarmee saam. Hy is nou al besig om mense ewige lewe in die paradys of ewige dood saam met hierdie ou wêreld te laat kies.
Hoe toon mense nou watter lewe hulle kies? Hoe toon jy watter lewe jy kies? Lees die volgende artikel.