Die lewe wat jy kan kies
DAAR is ’n ander lewe wat jy nou kan kies. Dit is ’n lewe wat nie verwelk soos die blom aan die einde van die lente verwelk of verdor soos die gras aan die einde van die somer verdor nie. Dit is nie vol pyn en teleurstelling nie en word nie bederf deur misdadigheid en wetteloosheid, oorlog en hongersnood, pessiekte en die dood nie. Dit is nie kort nie, maar eindeloos. Dit is nie vol onrus nie, maar vol onbeskryflike vreugde. Dit is die lewe wat Jehovah God oorspronklik vir die mens voorgehad het.
En wat is dit? Saligheid in die hemel waar jy luilekker uitgestrek lê op ’n donsige wolk en op ’n harp speel terwyl jy deur die ruimte en die ewigheid dryf? Nee! Dit is nie daardie tevergeefse en nuttelose bestaan wat ledige dromers dink die hemelse lewe is nie. Om ’n duidelike begrip te kry van hierdie lewe wat jy nou kan kies, kan ons na God se Woord gaan om uit te vind waarom hy die man en vrou geskape het.
Die eerste paar het ’n opdrag ontvang, nie in verband met die hemel nie, maar in verband met die aarde. God het vir hulle gesê: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.” Om die aarde te onderwerp, beteken om dit op te pas, nie om dit te ruïneer nie. Dit blyk uit die mens se toewysing in Eden: “Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak.”—Gen. 1:28; 2:15.
Dit was God se voorneme dat namate die mensdom vermeerder het en Eden te klein geword het, die groeiende bevolking verder as die tuin se grense moes uitbrei. Hulle moes die sade of stiggies van die volmaakte plante in Eden saamneem en hulle in nuwe gebiede plant en hierdie nuwe gebiede bewerk net soos die oorspronklike gesin in Eden gedoen het. Namate die mensdom dus oor die aarde versprei het, sou hulle dit onderwerp het deur dit in ’n paradys te verander totdat Eden se toestand uitgebrei het en die tuin van God oor die hele aarde gestrek het.
In daardie globale paradys sou die mens met liefdevolle sorg en wedersydse vertroue oor die diere heers, nie met die stekende stoel en klappende sweep van die diereafrigter of met die tralieheinings van dieretuinhokke, of met die dodelike gewere van hedendaagse nimrods nie. Hierdie liefdevolle heerskappy van die gehoorsame mensdom oor die diere sou vir ewig duur.
Maar hierdie heerskappy het nie voortgeduur nie. Sonde het die rus in die tuin van Eden verstoor. Jehovah se bevel aan die mens was: “Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe” (Gen. 2:16, 17). Die eerste egpaar was ongehoorsaam, het geëet en die dood oor hulself en hulle nakomelinge gebring. Jehovah het hulle uit die tuin gewerp en vir die mens gesê:
“Vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Van stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.”—Gen. 3:17-19.
Jehovah God het aan die mensdom ’n volmaakte begin gegee. Dit was nie deur Sy toedoen dat die mensdom algaande versleg het nie. “Die Rots [Jehovah], volmaak is sy werk, want al sy weë is geregtigheid. ’n God van getrouheid, by wie geen onreg is nie; regverdig en opreg is hy. Hulle het uit hul eie verderflik gehandel; hulle is nie sy kinders nie, die gebrek lê by hulself. ’n Krom en verdraaide geslag!” (Deut. 32:4, 5, NW). ’n Soortgelyke verklaring word in Prediker 7:29 gemaak: “Dit het ek uitgevind: dat God die mens reg gemaak het, maar hulle het baie slim planne gesoek.” Of, soos die Bybelvertaler James Moffatt die laaste deel van hierdie vers weergee: “hulle het baie skelmstreke bedink.”
Die mens handel vandag steeds verderflik, met rampspoediger gevolge as ooit tevore. Nou bederf sy gevoellose uitbuiting van die aarde se plante en diere en sy misbruik van hulpbronne en die omgewing die aarde as ’n bewoonbare planeet. Dit is Jehovah wat ’n einde hieraan gaan maak, want hy het gesê dat hy “die verderwers van die aarde [gaan] verderf.—Openb. 11:18.
JEHOVAH SE VOORNEME SAL SEËVIER
Dit is Jehovah se voorneme dat die aarde vir ewig moet bestaan: “Dit [sal] vir ewig en altyd nie wankel nie. Dit sal vir ewig bewoon word: “Want so sê die HERE, wat die hemele geskape het—Hy is God!—wat die aarde geformeer en dit gemaak het—Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word—Ek is die HERE, en daar is geen ander nie.”—Ps. 104:5; Jes. 45:18.
Dit was Jehovah se oorspronklike voorneme dat die aarde ’n paradys moet word vol persone wat aan hom toegewy is en wat daarvoor sowel as vir die plante en diere daarop sorg en wat ’n gesonde omgewing bewaar. Dit is nog steeds sy voorneme, en Jehovah verseker ons dat dit volbring gaan word: “So sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.”—Jes. 55:11.
Die volgende twee bladsye bespreek die vreugdes van die lewe op ’n paradysaarde wat jy nou kan kies.