Die lewe wat jy nou kies
Hierdie lewe wat jy kies deur te voorsien in jou behoeftes aan voedsel en drank, is ‘kort en vol onrus’, soos ’n Bybelskrywer van lank gelede gesê het (Job 14:1, 2). ’n Paar van die probleme van hierdie lewe word hieronder gemeld. Is hierdie lewe jou enigste keuse? Kan jy nou ’n beter lewe kies, een wat vry is van al die weë van hierdie lewe wat ons onderhou deur asem te haal, te eet en te drink?
EK EERSTE
Die ‘ek eerste’-gedragskode soos dit deur die voorstanders van egoïsme gehuldig word: “Sorg eers vir jouself.” “Jy het die reg om jou eie gedrag te beoordeel.” “Moenie skuldig voel nie.” God se Woord sê dat vandag se afgodediens selfaanbidding is: “Hulle god is die buik.” En dit praat van “gierigheid, wat afgodediens is” (Filip. 3:19; Kol. 3:5). Hierdie selfvergoding is vir ons dag voorspel: “Die mense sal liefhebbers van hulleself wees” (2 Tim. 3:1, 2). Eieliefde verdring naasteliefde.
GESINSVERBROKKELING
Die huwelik word afgetakel, die egskeidingsyfer skiet die hoogte in en kinders ly terwyl egoïsme floreer. “Die ‘ek eerste’-filosofie dra by tot die hoë egskeidingsyfer” (Dr. Robert Taylor). Die hedendaagse ouer “gee nou voorkeur aan sy reg op selfverwesenliking” (Newsweek). Die gesin ly daaronder. Die Ek-geslag ignoreer die lesse van die geskiedenis en sal dit dus noodgedwonge herhaal. “Hele beskawings het voortbestaan of verdwyn afhangende daarvan of hulle gesinslewe sterk of swak was.”—The World Book Encyclopedia, 1978.
MISDADIGHEID
Jesus het ’n ‘vermeerdering van ongeregtigheid’ voorspel (Matt. 24:12). Ons geslag bewys dat hy die waarheid gepraat het. In Amerika het “moorde [in 1979] met 10 persent toegeneem, aanrandings met 10 persent, verkragtings met 13 persent en roof met 12 persent. Gedurende die eerste ses maande van 1980 het ernstige misdade met 10 persent toegeneem” (U.S. News & World Report). In ander nasies is die verhaal dieselfde. Baie sakemanne is eerlik; baie ander bedrieg, manipuleer, ontduik belasting, kul hulle klante. En baie mense steel by die sakeman. “Amerika se vindingrykste en suksesvolste skelm”, het een verslag gesê, “is ’n kantoorwerker.” Of ’n ambagsman.
HONGER
“Daar sal hongersnode wees”, het Jesus voorspel (Matt. 24:7). Verlede jaar het Los Angeles se Times berig: “Kenners van die wêreld se voedselvoorrade raam dat nagenoeg 450 miljoen mense in die wêreld honger ly, en dat 800 miljoen tot 1 miljard op die randjie van verhongering is.” Die aarde bring genoeg voedsel voort, maar ’n gelyke verdeling daarvan “bots met sterk verskanste belange”.
TERRORISME
Dit is ’n gevaar wat toeneem, soos New York se Daily News van 25 November 1979 bewys het: “Terrorisme—dit wil sê, sluipmoorde, ontvoerings, bomaanvalle, beplande aanrandings—het geweldig toegeneem, van 206 in 1972, tot 572 in 1975, tot 1 256 in 1977, tot 1 511 in 1978, tot 2 662 in die eerste nege maande van vanjaar [1979].” Namate die rykes ryker word en die armes armer, sal terrorisme steeds toeneem.
OORLOG EN UITWISSING
“Die momentum van militêre tegnologie voer die supermoondhede na ’n onvermydelike kernoorlog” (Dr. Frank Barnaby, voorsitter van Stockholm se Internasionale Vredesnavorsings-instituut). “Onses insiens sal kernoorlog vir niemand enige voordele inhou nie, en kan dit selfs die einde van die beskawing beteken” (Russiese militêre deskundige). “Om Gods wil, om julle kinders se ontwil en om die beskawing waaraan julle behoort se ontwil, staak tog hierdie kranksinnigheid!”—George F. Kennan, voormalige Amerikaanse ambassadeur in Moskou.
BESOEDELING EN UITWISSING
“Die planeet Aarde word geleidelik dood besoedel” (The Globe and Mail). “Die mensdom loop die gevaar om homself van die aarde af te besoedel” (The Guardian). “Besoedeling is nie net ’n probleem van indiwiduele lande nie: Dit is ’n probleem van die wêreldgemeenskap. . . . As ons hier faal, sal ons die uiteindelike uitwissing van ons spesie verseker” (Toronto se Star). Tydens voormalige president Carter se afskeidsrede het hy te kenne gegee dat besoedeling “’n tydbom is wat net so ’n groot bedreiging vir ons voortbestaan op aarde is as die bedreiging van kernuitwissing”. Het die tyd nie aangebreek vir God om “die verderwers van die aarde te verderf” nie?—Openb. 11:18.
Die huidige lewe is maar ’n swak keuse. Mense kies nietemin om voort te lewe. Hulle kan kreupel wees, maar hulle wil lewe; hulle kan blind wees, maar hulle is bang om te sterf. Die dowes en die stommes kies die lewe, en die bejaardes en sieklikes klou daaraan vas. Job het gesê: “Die mens uit ’n vrou gebore, is kort van dae en sat van onrus. Hy spruit uit soos ’n blom en verwelk; ook vlug hy soos ’n skaduwee en hou nie stand nie.”—Job 14:1, 2.
Hierdie lewe wat deur baie gekies word, is kort. Dit is vol moeilikheid. Dit is ’n swak keuse. Maar het hulle ’n beter keuse?