Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 8/1 bl. 12-16
  • Die uitdaging van die huis-tot-huiswerk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die uitdaging van die huis-tot-huiswerk
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’N UITDAGING
  • DIE UITDAGING OM TE VOLHARD
  • PERSOONLIKE VOORDELE
  • ’N BESKERMING
  • Onderrig in die openbaar en van huis tot huis
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • ‘Deelname aan die heilige werk van die goeie nuus’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Die goeie nuus word in die openbaar en van huis tot huis verkonding
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Die huis-tot-huis-bediening—Waarom nou belangrik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 8/1 bl. 12-16

Die UITDAGING van die HUIS-TOT-HUISWERK

HY WAS een van Jehovah se Getuies in sy middel-sewentigerjare. Wanneer hy van huis tot huis gegaan het, het hy taamlik mank geloop; en geen wonder nie, want hy het twee houtbene gehad. Toe hy aan een deur klop, het ’n vrou oopgemaak. Sy het haar vinger na hom gewys en kwaai gevra: ‘Is jy een van Jehovah se Getuies?’

Hy het ’n oomblik lank stilgebly en toe, terwyl hy die vrou reg in die oë kyk, gesê: ‘Ek probeer, Mevrou. Maar dit is nie maklik nie. Ek lê my daarop toe. Dis ’n moeilike toewysing. Kan u u voorstel wat dit beteken om ’n getuie vir die Allerhoogste, Jehovah, die Soewerein van die heelal, te wees? Dit is omtrent ’n toewysing. Ja, Mevrou, ek lê my daarop toe.’

Wat het die vrou hierop gesê? Nie ’n enkele woord nie. Wat kon sy sê?

Dit kan nie ontken word nie: Dit is ’n groot uitdaging om met die goeie nuus van Jehovah God se koninkryk van huis tot huis te gaan. Dit is ongetwyfeld waarom hierdie vorm van evangelieprediking net deur die Getuies gedoen word. Geen ander kerk beklemtoon dit of verwag dit van al sy lidmate nie. En dit is voorwaar interessant dat diegene wat die leerstellings van Jehovah se Getuies so skerp kritiseer hulle nie daarvan beskuldig dat hulle ’n werk doen wat geen Skriftuurlike presedent het nie. In plaas daarvan om te sê dat die Getuies nie ’n Skriftuurlike grondslag vir hulle werk het nie, het hierdie kritici herhaaldelik in druk erken dat hierdie vorm van evangelieprediking op die Skrif berus. Party betreur selfs die feit dat hulle kerk nie dieselfde van sy lidmate verwag nie.

Dit is nie asof die Getuies geen rede sou hê om van huis tot huis te gaan selfs al was daar geen regstreekse of duidelike bevele of presedente daarvoor in God se Woord nie. Liefde vir God en naaste dring hulle om vir almal wat hulle teëkom te getuig, vir hulle van die goeie nuus van God se koninkryk te vertel en hulle teen die “groot verdrukking” wat voor die deur is te waarsku—en dit op elke doeltreffende manier te doen. In apostoliese tye kon die apostel Paulus en ander die sinagoges besoek en die “goeie nuus” verkondig aan diegene wat daar vergader het (Matt. 24:14, 21; Hand. 13:14-16; 14:1; 17:1, 2, 10, 17; 18:4, 19, 26; 19:8). Die Getuies het natuurlik vandag selde die geleentheid om gehore in sinagoges of ander godsdiensgeboue toe te spreek. Maar die feit dat hedendaagse Getuies nie hierdie vorm van evangelieprediking kan navolg nie, beteken nie dat hulle nie ander vorms van apostoliese evangelieprediking wat vir hulle beskikbaar is, moet navolg nie.

Trouens, die blote feit dat die huis-tot-huispredikingswerk soveel teenstand ondervind, getuig van die doeltreffendheid daarvan! Wanneer ’n regering totalitêr word, is ’n verbod op die huis-tot-huispredikingswerk van die Getuies sonder uitsondering een van hulle eerste stappe. Veral in die verlede het talle godsdiensleiers selfs demokratiese regeringsowerhede beïnvloed om hulle met hierdie vorm van evangelieprediking te bemoei deur wette verkeerd toe te pas of wette te maak met die spesifieke doel om ’n einde aan die huis-tot-huiswerk te maak. Om die wetlike reg te kry om van deur tot deur te preek, het die Getuies al herhaaldelik regsake tot in die hoogste howe geneem, onder meer die Appèlhof van die Verenigde State. Daardie hof het amper sonder uitsondering in hulle guns uitspraak gelewer, en hierdie uitsprake het nie alleen getuig van die wetlike reg van die Getuies om hierdie werk te doen nie, maar ook van die doeltreffendheid daarvan. Die volgende uitspraak is tipies:

“Die verspreiding van godsdienstige traktate met die hand is ’n eeueoue manier waarop sendelinge evangelisasiewerk doen—so oud soos die geskiedenis van drukperse. Dit was deur die jare heen ’n groot krag in verskeie godsdiensbewegings. Hierdie vorm van evangelieprediking word vandag op groot skaal gebruik deur verskeie godsdienssektes wie se kolporteurs die evangelie na duisende der duisende huise dra en wat deur middel van persoonlike besoeke daarna streef om aanhangers vir hulle geloof te werf. . . . Hierdie vorm van godsdiensbedrywigheid beklee dieselfde hoë posisie onder die Eerste Wysiging as aanbidding in die kerke en die hou van preke van kansels af.”

’N UITDAGING

Laat ons dit onder die oë sien: om met ’n Bybelboodskap van huis tot huis te begin gaan, is een van die moeilikste dinge vir die gemiddelde beskeie persoon, hetsy man of vrou, jonk of oud. Trouens, nou en dan het Getuies wat al dekades lank voltyds preek, bely dat dit na al daardie jare so teen hulle natuurlike neigings indruis dat dit groot inspanning verg om elke oggend daarmee te begin. Daar is altyd die onsekerheid oor watter soort ontvangs ’n mens by die deur gaan kry. Heelparty persone voel ongetwyfeld dat hulle te na gekom word wanneer iemand met ’n Bybelboodskap na hulle deur kom, en niemand hou daarvan om mense te na te kom nie. Die eerste reaksie van talle liefhebbers van waarheid wat die Bybel saam met een van die Getuies bestudeer het, was: ‘Ek sal nooit van huis tot huis kan gaan nie.’ Hoe moeilik dit vir iemand kan lyk, blyk uit die ondervinding van ’n brandweerman in die stad New York. Toe hy sy Bybelonderrigter die eerste keer van huis tot huis vergesel het, het hy uitgeroep: “Dit is dan erger as om in ’n brandende gebou in te gaan!” Maar dit was nie lank nie of ook hy het die huis-tot-huiswerk geniet.

Die gemiddelde kerkganger het natuurlik min om hom aan te spoor om van huis tot huis te gaan. Wat sal hy vir die huisbewoners sê? Hy het heel waarskynlik nie ’n goeie kennis van wat sy kerk leer nie; net ’n klomp vae begrippe gebaseer op die geloofsbelydenisse van sy kerk. Daarbenewens word godsdiens oor die algemeen hoofsaaklik as ’n selfsugtige saak voorgestel. ’n Mens se hoofdoelwit is om jou eie siel te red; kerkdienste is nie daarop ingestel om die hoorders te leer en te beweeg om aktiewe evangeliepredikers te word nie. Dit is dus geen wonder dat die huis-tot-huiswerk ’n uitdaging bied wat selde deur ander benewens Jehovah se Getuies aanvaar word nie.

Alhoewel die huis-tot-huiswerk ’n uitdaging bied, is dit nie bo die vermoëns van selfs die nederigste Christen nie. So het ’n Mexikaanse Getuie van die platteland wat in baie eenvoudige klere geklee was, by die deur van ’n paleis van ’n woning aangeklop. ’n Man in ’n sykamerjapon het die deur oopgemaak en gevra wat hy wou hê. Die Getuie het gesê: “Gestel ’n muil het na u deur gekom met twee sakke goud. Sou u dit aanvaar?” Die huisbewoner het vies geantwoord: “Ek begryp nie wat jy probeer sê nie. Ek is ’n beroemde ingenieur.” Die Getuie het toe vir hom gevra: “Wat weet u van profesieë af?” Die man het erken dat hy niks daarvan af weet nie. Toe het die Getuie gesê: “Dit is waaroor ek met u wou gesels. . . . Ek is daardie muil wat na u deur gekom het, en die twee sakke goud is hierdie tydskrifte, Die Wagtoring en Ontwaak!” Die man is beïndruk deur die aanbieding van hierdie nederige Getuie en het die twee tydskrifte geneem. Dit herinner ’n mens aan die voorval wat in Handelinge 4:8-13 opgeteken is.

DIE UITDAGING OM TE VOLHARD

Jehovah se knegte moes keer op keer uitdagings die hoof bied deur te volhard. ’n Merkwaardige voorbeeld is die van Jeremia wat meer as 40 jaar lank Jehovah God se boodskap onder die mees ongunstige omstandighede verkondig het. Dit is geen wonder dat hy eenkeer lus gevoel het om op te hou nie! Maar hy kon nie stilbly nie; hy moes eenvoudig spreek en getuig oor sy God Jehovah en teen die eiesinnige Jode van sy dag.—Jer. 20:9.

Vandag moet die knegte van Jehovah ook volhard en aanhou om hulle Godgegewe toewysing uit te voer. En hulle het baie redes om dit te doen. Elke keer wanneer hulle ’n huisbewoner besoek, probeer hulle as ’t ware om ’n paar krieseltjies waarheid, ’n paar druppels geestelike water by hom te laat, hetsy mondelings of in gedrukte vorm. Keer op keer het dit ’n kumulatiewe uitwerking gehad en eindelik vrug gedra, net soos die apostel Paulus gesê het: “Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei.”—1 Kor. 3:6.

En daar is nog redes waarom Jehovah se Getuies in hulle huis-tot-huisbediening volhard. The Watchtower het dit eenkeer goed gestel:

“Lewens is op die spel (2 Tim. 4:5). Dit beteken dat herhaalde besoeke gedoen moet word. Om maar een rede te noem, omstandighede verander voortdurend. Vandag is ’n man nie tuis nie, volgende keer is hy dalk. Vandag is hy te besig om te luister, maar volgende keer is hy miskien nie. Vandag maak een lid van die gesin die deur oop, volgende keer ’n ander lid; . . . Gesinne is dikwels verdeeld op godsdiensgebied, . . . Daarbenewens verhuis mense voortdurend . . .

“Dit is nie alleen omstandighede wat verander nie, maar mense verander ook. . . . ’n Man is miskien weens die een of ander kleinigheid uit sy humeur en glad nie bereid om godsdiens of enige iets anders te bespreek nie, ongeag wie na sy deur kom. Maar dit wil nie sê dat hy op ’n ander keer in dieselfde gemoedstoestand sal wees nie. Of net omdat ’n man verlede maand glad nie daarin belanggestel het om godsdiens te bespreek nie, beteken dit nie dat hy nie vandeesmaand daarin belang sal stel nie. Sedert die laaste Getuie hom besoek het, het hierdie man dalk ’n folterende ondervinding gehad of op ’n ander manier iets geleer wat hom nederig in plaas van trots, honger en bewus van sy geestelike behoefte in plaas van selfvoldaan gemaak het.”

Daar is voorwaar baie redes waarom ’n mens herhaaldelik na mense moet teruggaan en moet volhard in die soektog na ‘skape’.—Matt. 25:31-33.

PERSOONLIKE VOORDELE

Een van die belangrikste dinge wat bereik word wanneer Getuies van huis tot huis gaan, is dat Jehovah se naam bekend gemaak word. En dat hulle mense bewus maak van hierdie onderskeidende naam van die Skepper, blyk uit die spotprent wat eenkeer deur ’n gewilde tydskrif in die stad New York gepubliseer is. Dit het ’n man getoon wat op sy knieë langs sy bed bid terwyl die Germaanse god Wotan aan die anderkant van sy bed staan. Volgens die spotprent het die biddende man gesê: “Ek is jammer dat ek u verongerief het, Wotan. U sien, ek het gedink dat as ek God sê, ek vanselfsprekend by Jehovah sou uitkom.”

Soos blyk uit die voorgaande, stel die predikingswerk van huis tot huis Jehovah se Getuies in staat om liefhebbers van waarheid en geregtigheid te help om op die weg na die lewe te kom. En deur die dag van Jehovah se wraak te verkondig, waarsku die Getuies liefdevol almal wat nie liefhebbers van waarheid en geregtigheid is nie, maar liefhebbers van genot is (2 Tim. 3:1-5). En die Getuies self verkry inderdaad baie voordele, want die Bybelspreuk is waar: “Die siel wat seën, word versadig; en hy wat laaf, word self ook gelaaf.”—Spr. 11:25.

’n Getuie wat ’n ouere man is en nege jaar in ’n Duitse konsentrasiekamp deurgebring het, het eenkeer gesê dat daar niks soos evangelieprediking van huis tot huis is om ’n mens te help om die vrug van God se heilige gees aan te kweek nie. Dit ly geen twyfel nie. Deur in hierdie werk te volhard, leer ’n mens om onselfsugtige liefde aan die dag te lê, om bly, vredeliewend, geduldig en lankmoedig te wees, om ’n mens se geloof in te span en om sagmoedigheid, vriendelikheid, goedheid en selfbeheersing te betoon.—Gal. 5:22, 23.

As ’n mens met die goeie nuus van die Koninkryk van huis tot huis gaan, help dit jou ook om die deug nederigheid aan te kweek. ’n Trotse persoon is liggeraak, tree onafhanklik op en probeer nie om ander te behaag nie. Maar as ’n Getuie produktief wil wees, moet hy soos die apostel Paulus ‘vir almal alles word’ sodat hy party kan red.—1 Kor. 9:19-23.

Nog ’n seën wat diegene ontvang wat steeds die uitdaging van die huis-tot-huiswerk aanvaar, is dat dit ’n mens simpatieker maak. ’n Mens leer enersyds om meegevoel te hê vir persone wat geestelik deur valse herders verblind is, en jy leer andersyds om medelye te hê met mense wanneer hulle vir jou van hulle probleme vertel: armoede, werkloosheid, siekte, tweedrag in die huis, jeugmisdadigheid, ensovoorts. Net soos in Jesus se dag is mense vandag “moeg en uitgeput . . . soos skape wat geen herder het nie”. Hulle het Jehovah se koninkryk nodig. Jesus se woorde aan sy dissipels van die eerste eeu het in hierdie “laaste dae” selfs meer betekenis, naamlik: “Die oes is wel groot, maar die arbeiders min.” Neem ons, terwyl ons bid dat meer arbeiders in die oes uitgestuur mag word, self ywerig deel aan die Koninkrykswerk en bied ons die uitdaging van die huis-tot-huiswerk die hoof?—Matt. 9:36-38.

’N BESKERMING

Die huis-tot-huiswerk beskerm ’n mens ook teen die wêreld. Die apostel Johannes rig die volgende waarskuwing in verband daarmee: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.” Hierdie wêreldlike dinge is vir die Christengetuie van Jehovah ’n versoeking, maar as hy bedrywig bly deur te preek, sal dit hierdie versoeking kleiner maak.—1 Joh. 2:15, 16.

’n Ou Joodse legende of gelykenis bevat hierdie les. Dit vertel van ’n sekere regverdige man wat na die goddelose stad Sodom gekom het en aangehou preek het alhoewel niemand na hom geluister het nie. Eendag het ’n inwoner wat dit opgemerk het vir hom gevra waarom hy aanhou preek as niemand na hom luister nie. Wat was sy antwoord? ‘Sodat die mense van Sodom my nie verander nie.’ Daar word tereg gesê: ‘Aanval is die beste verdediging.’ Solank die Getuies hard probeer om die mense van die wêreld te verander, sal die wêreld nie daarin slaag om hulle te verander nie.

En dit is nie al nie. Deur gehoorsaam te wees aan God se bevele om vir sy naam en koninkryk te getuig, doen hulle goed aan ander en maak hulle vir hulle skatte bymekaar in die hemel, net soos Jesus mense in sy Bergpredikasie aangespoor het om te doen (Matt. 6:19-21). Ja, deur hulle tyd, hulle kragte en hulle middele op sulke onselfsugtige maniere te gebruik, verkry hulle Jehovah God en sy Seun Jesus Christus as vriende. Wanneer die einde van hierdie goddelose stelsel dan kom, kan hulle hoop om dit te oorlewe tot in ’n nuwe stelsel wat na Armageddon gaan volg, net soos Noag en sy gesin die Sondvloed oorleef en ’n nuwe stelsel binnegegaan het.—Luk. 16:9.

Dit ly geen twyfel nie. Dit is ’n groot eer en bied ’n groot uitdaging om die allerhoogste God Jehovah te verteenwoordig. Dit het ’n goeie Skriftuurlike presedent en is binne die vermoëns van so te sê elke toegewyde Christen ongeag sy sekulêre geleerdheid. Die wat die uitdaging van die huis-tot-huisgetuieniswerk met welslae die hoof bied, kan hulle medemens ’n groot weldaad bewys en gevolglik seëninge van Jehovah God ontvang.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel