DIE KONINKRYK—IS DIT VIR JOU ’N WERKLIKHEID?
“My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”—Joh. 18:36.
1. (a) Hoe word koninkryk en regering in Jesaja 9:5, 6 verbind? (b) Waar is daar vroeër in beeldspraak na koninkryk en regering verwys?
MEER as 2 600 jaar gelede het Jesaja profeties aangaande regering en koninkryk gesê:
“Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy [regering] is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—tot vermeerdering van die heerskappy [regering] en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen” (Jes. 9:5, 6).
Eeue tevore het ons hemelse Vader in beeldspraak vertel van hoe hierdie selfde koninkryk en regering sal begin optree. Met die ‘saad van Sy vrou’ aan die spits sou dit die aartsvyand van die Koninkryksregering die doodslag toedien.—Gen. 3:15.
2. Hoe het Abraham sy geloof in die belofte oor die Koninkryksregering getoon?
2 Die Skepper van hemel en aarde het nie daardie oorspronklike belofte laat sterf nie. Jare later het Jehovah vir sy vriend Abraham gesê:
“Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word” (Gen. 12:3).
Dit is slegs deur die vervulling van daardie eerste belofte dat “al die geslagte van die aarde” geseën sou word, en Abraham het dit besef. Die Christenapostel Paulus berig gevolglik: “Deur die geloof het [Abraham] as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ’n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte. Want hy het die stad [koninkryk] verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is” (Hebr. 11:9, 10). Abraham was so verdiep in sy hoop op daardie Koninkryksregering dat hy soos ’n vreemdeling opgetree het, selfs al het hy in die Beloofde Land gewoon.
3. Watter vrae kan ons onsself oor ons geloof in die Koninkryksregering afvra?
3 Hoe beskou ons persoonlik hierdie wêreld? Beskou ons onsself as ‘vreemdelinge’, selfs al woon ons saam met ons eie ras in ons geboorteland? Beskou ander in ons gemeenskap ons as anders? Sien hulle dat ons afgeskeie is? Indien nie, hoe sterk is ons geloof dan in die Koninkryksregering? ‘Smelt’ ons met ons gemeenskap saam? Of is ons God se vriende, soos Abraham was?—Jak. 2:23.
4. Wie kan baat vind deur die “saad” van die hemelse regering te erken, en wat moet hulle doen om baat te vind?
4 Jehovah het daardie hoop in Abraham aan die lewe gehou deur hom veel later te herinner:
“Ek [sal] jou ryklik . . . seën en jou nageslag [saad] grootliks . . . vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag [saad] sal die poort van sy vyande in besit neem. En in jou nageslag [saad] sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het” (Gen. 22:17, 18).
Dit is in werklikheid deur dieselfde “saad” wat in Genesis 3:15 gemeld is dat nie net party nasies nie, maar al die nasies van die aarde hulself sou seën. Ja, en so ook elke indiwidu in daardie nasies, ongeag sy ras en of hy ryk of arm is, mits daardie persoon daardie “saad” erken en besef hoe belangrik dit is. Trouens, dit blyk dat “elkeen wat in Hom glo, nie verlore [sal] gaan nie, maar die ewige lewe kan hê”. Baie het die geleentheid om onderdane van daardie regering te wees, mits hulle geloof beoefen.—Joh. 3:16; Hand. 10:34, 35.
5. Wat sal deur middel van Christus as die beloofde “Saad” en Koning gedoen word?
5 Hoe weet ons dat Jesus Christus werklik die vernaamste lid van Abraham se “saad” is? Sonder om doekies om te draai se Paulus: “Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus” (Gal. 3:16). In sy brief aan die Christene in Efese vestig die apostel dan die aandag op die wyse waarop Jehovah sake hanteer om Jesus se dissipels onder Christus, die beloofde “Saad” en Koning, te verenig en die res van die mensdom op aarde deur middel van Sy Seun in harmonie met God te bring. Paulus het geskryf:
“[Dit is] na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het, om [aan] die volheid van die tye [’n bestuur] te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig.”—Ef. 1:8-10, vgl NW.
KONINKRYKSREGERING WORD DIE GESKIL
6. Waarom was Jesus bewus van sy toekomstige rol in die Koninkryksregering?
6 Voor sy verblyf op aarde het die Christus opgetree as die Woord (of, Logos), die woordvoerder van ons hemelse Vader (Joh. 1:1). Jesus het dus geweet van die profesieë wat in Genesis 3:15 en Jesaja 9:5, 6 opgeteken is. Hy was bewus van die woorde wat tot Abraham gerig was (Gen. 12:3; 22:17, 18). Daarbenewens was hy bewus van die feit dat hy die een sou wees wat die wonderlike beloftes in verband met die beloofde saad en die Koninkryksregering sou vervul.
7. Hoe het Jesus die aandag op sy koninklike rol gevestig?
7 Gedurende Jesus se verblyf op aarde en veral tydens sy bediening van drie en ’n halwe jaar het hy die aandag op daardie koninklike rol gevestig. Uitdrukkings soos “die koninkryk van God is hier by julle” en “die koninkryk van God het naby gekom” het oor sy lippe gekom. Deur middel van sy baie gelykenisse het Jesus die aandag op daardie koninkryk gevestig.—Matt. 13:1-52; Mark. 1:14, 15; Luk. 17:21, NAB.
8. Watter wonderwerke het Jesus verrig?
8 As die aangewese Koning het Jesus ook talle wonderwerke verrig. Deur die krag van die heilige gees het hy op water geloop. Hy het blindes laat sien en dowes laat hoor. Jesus het die siekes en verlamdes genees en dooies opgewek. Stel jou net voor watter vrae aan so ’n man gestel sou word indien daar vandag ’n onderhoud met hom op die televisie gevoer is! ‘Is jy die man wat op water geloop het? Hoe het jy blindes laat sien, dowes laat hoor en dooies lewend gemaak? Hoe is dit moontlik?’ Wel, wat het Jesus Christus gedoen toe hy voor die “ondervraer” Pontius Pilatus verskyn het?
9. Wat is opvallend na vore gebring toe Jesus voor Pilatus was?
9 Jesus het opvallend die Koninkryk die geskil gemaak. Pilatus het as ’t ware ‘uit Christus se hand geëet’ deur die tema van Koninkryksregering te volg en te beklemtoon. Pilatus het natuurlik geen keuse gehad nie omrede Jesus sake gedurende daardie laaste ure van sy aardse lewe so knap hanteer het. Kom ons vat ons Bybels en blaai na die Evangelie van Johannes, hoofstuk 18, vers 33.
10. Wat was Pilatus se eerste vraag aan Jesus, en waarom was dit so gepas?
10 Pilatus se eerste vraag aan Jesus was: “Is U die Koning van die Jode?” In die Romeinse goewerneur se gedagte was die tema dus reeds bepaal. Dit was juis die tema wat daardie dag gevolg moes word, want toe Pilatus vir die Jode gevra het watter aanklag hulle teen Jesus inbring, het hulle gesê: “Ons het gevind dat hierdie man die volk verlei en verbied om aan die keiser belasting te betaal, terwyl Hy sê dat Hy self Christus, die Koning, is.” Pilatus het dus gepas vir Jesus gevra: “Is U die Koning van die Jode?”—Luk. 23:1-3.
11. (a) Wat kon Jesus gedoen het om Pilatus se volgende vraag te beantwoord? (b) Wat was nog altyd die hoofgeskil vir God se volk?
11 Gestel jy was in Jesus se skoene en dieselfde vraag is aan jou gestel. Hoe sou jy geantwoord het? Sou jy van al jou doen en late vertel het om jou vonnis ligter te maak en dus moontlik die doodstraf vry te spring? Dit sou die meeste mense se normale reaksie wees, maar dit was nie Jesus s’n nie. Hy kon die onderwerp verander het sodat Pilatus van die Koninkryk vergeet het. Maar Koninkryksregering was in werklikheid die geskil. Deur die dekades heen was die Koninkryk nog altyd die geskil, en vir God se hedendaagse volk is die geskil nog steeds die Koninkryk. Dit was die geval in Nazi-Duitsland, Fascistiese Italië, Amerika, Australië, Kanada en ander dele van die aarde gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Die vraag is: Watter regering kom eerste in ’n indiwidu se lewe—die mens s’n of God s’n? In die laaste jare het die geskil dieselfde gebly, hetsy in Malawi, China, die Sowjet-Unie of enige ander land. Die hoofgeskil is nie oor bloedoortapping of ’n ander verbod nie, maar is altyd op die ou end: Watter regering geniet werklik voorkeur in ’n persoon se lewe?
12. Hoe het Jesus die aandag verder op die Koninkryk gevestig, en watter vraag het dit Pilatus nou laat stel?
12 Jesus het Pilatus se vraag nie regstreeks beantwoord nie, maar geantwoord:
“My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”
Let op dat Jesus die Koninkryk drie maal in sy kort antwoord gemeld het. Dit het Pilatus en almal wat na die gesprek geluister het, teruggebring na die tema van Koninkryksregering, aangesien Pilatus toe gesê het: “Is U dan tog ’n koning?” (Joh. 18:36, 37). Die toneel was behoorlik op daardie dramatiese verhoog geskik, en niemand sou die rede waarom Christus verhoor word, kon miskyk nie. Let op die volgorde van gebeure. Jesus het geantwoord en gesê:
“U se dat Ek ’n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem.”—Joh. 18:37.
13. Hoe is die Koninkryksgeskil verder deur Herodes se ontmoeting met Jesus beklemtoon?
13 Dit was toe dat Pilatus vir die godsdiensleiers en die Joodse gepeupel gesê het: “Ek vind geen skuld in hierdie man nie.” Maar die skare het by hom aangehou en vir Pilatus vertel hoe Jesus se Koninkryksleer vanaf Galilea dwarsdeur Judea versprei het. Herodes Antipas was destyds viervors in Galilea en het daarna gestreef om die koningskap oor die Jode te verkry. Wat kon vir Pilatus meer gepas wees as om Herodes met Jesus te konfronteer, aangesien Herodes destyds in Jerusalem was? Hy het Jesus dus na Herodes gestuur, wat Jesus deeglik uitgevra het in die hoop dat hy ’n teken sou doen. Maar Jesus, Jehovah se gesalfde Koning, het geen begeerte gehad om sy koningskap te verneder net om Herodes se nuuskierigheid te bevredig nie. Hy het geswyg. Gefrustreerd het aspirant-koning Herodes met Jesus se koningskap gespot deur sy soldate te beveel om ’n koninklike kleed om Jesus te hang, en hom toe na Pilatus teruggestuur.—Luk. 23:4-11.
14. Hoe het Herodes en Jesus eindelik gevaar wat koningskap betref?
14 Hoewel Pilatus van daardie dag af met Herodes bevriend geraak het, het dit Herodes niks gehelp nie. Ons kan net terloops let op die kontras tussen Herodes en Jesus se lot. Die geskiedenis deel ons mee dat die ambisieuse Herodes ’n paar jaar later deur sy owerspelige vrou Herodias aangepor is om na Rome te gaan en vir keiser Caligula om die koningskap te vra. Maar dit het die keiser kwaad gemaak en hy het Herodes na Gallië verban. Herodes het sy posisie sowel as sy rykdom verloor. Jesus het andersyds geweier om ’n aardse koning te word. Hy het alles afgelê wat hy hier op aarde kon besit het (Matt. 8:20; Joh. 6:15). Hy het homself verneder en hom volkome aan Jehovah se wil onderwerp. Hy het hom daarin verheug om daardie wil te doen en om die hemelse koninkryk sy doelwit te maak. “Vir die vreugde wat Hom voorgehou is”, het hy al die vernederings en foltering verduur wat sy vyande hom kon aandoen, wetende dat sy onkreukbaarheid tot die dood toe hom sou kwalifiseer vir die glorieryke koningskap wat op hom gewag het.—Hebr. 12:2; Matt. 25:31.
15. Hoe is die geskil van koningskap beklemtoon deur die gesprek toe Jesus voor Pilatus was?
15 Weer eens het Jesus voor Pilatus gestaan. En weer eens het die Koninkryksgeskil na vore gekom toe Pilatus vir die Joodse gepeupel gevra het: “Wil julle . . . hê dat ek vir julle die Koning van die Jode moet loslaat?” Maar dit het nie daar geëindig nie. Die Romeinse soldate het die tema dat koningskap en regering die geskil was, opgeneem. Om met Jesus te spot, het hulle ’n doringkroon gemaak en dit op sy hoof gesit, en ’n purperkleed geneem en dit om hom gehang. Hulle het hom in die gesig geslaan en hom die koning van die Jode genoem (Joh. 18:39-19:3). Daar is geen aanduiding dat Jesus probeer het om daardie doringkroon af te haal nie. Dit het op sy hoof gebly, en sodoende die betrokke geskil na vore gebring. Niemand is in twyfel daaroor gelaat nie. Toe Pilatus voorgestel het dat die Jode Jesus neem en hom self aan die paal nael, het hulle baie listig maar valslik gemaak asof die geskil ’n skending van ’n Romeinse regeringsgesag is deur te se: “As u Hom loslaat, is u nie die keiser se vriend nie. Elkeen wat homself koning maak, kom in verset teen die keiser.”—Joh. 19:12.
16. Hoe het diegene wat tydens Jesus se verhoor teenwoordig was, getuig oor die geskil waaroor Christus gedood sou word?
16 Dit was asof Pilatus daardie dag God se doel gedien het, net soos Kores die Pers dit lank tevore gedoen het. (Vergelyk Jesaja 45:17.) Pilatus het sake vervolgens tot ’n hoogtepunt gevoer deur te sê: “Dáár is julle Koning!” Toe het die Jode daarop aangedring dat Jesus die paalstraf opgelê moet word, waarna Pilatus gevra het: “Moet ek julle Koning kruisig?” Hulle antwoord? “Ons het geen koning behalwe die keiser nie” (Joh. 19:14, 15). Hierdie mense self het in wese getuig aangaande die geskil waaroor Christus gedood sou word, en dit was nie vir Jesus nodig om ’n woord te sê nie. Hulle eie monde het die saak baie goed beklemtoon.
17. Hoe het Pilatus se laaste daad ten opsigte van Jesus die geskil van Koninkryksregering beklemtoon?
17 Die geskil in verband met Koninkryksregering is eindelik sterk beklemtoon toe Pilatus ’n opskrif wat in Hebreeus, Latyn en Grieks geskryf is op Jesus se folterpaal laat aanbring het. Almal wat daardie dag teenwoordig was, kon dit lees en is dus in geen twyfel gelaat oor die rede waarom hy aan die paal genael is nie. Die opskrif het gelui: “Jesus, die Nasarener, die Koning van die Jode.” Toe die Joodse owerpriesters dit sien, was hulle woedend en het vir Pilatus gesê: “Moenie skrywe: Die Koning van die Jode nie, maar dat Hy gesê het: Ek is die Koning van die Jode.” Pilatus het egter geantwoord: “Wat ek geskryf het, het ek geskrywe.”—Joh. 19:19-22.
18. (a) Wat moet vandag die spil van ons lewens wees? (b) Watter vrae kan ons aan onsself stel?
18 Die dramatiese gebeure van daardie moeilike dag behoort vir alle Christene duidelik te toon wat vandag die spil van hulle lewens moet wees. Elke toegewyde kneg van Jehovah moet kyk hoe wesenlik daardie Koninkryk vir hom of haar is. Sien ons onsself as aanstaande onderdane van daardie regering? Watter pogings wend ons aan as voorstanders van die Koninkryksbewind? Hoe ywerig werk ons ter ondersteuning van daardie regering? In die volgende artikel sal ons goeie rede vind vir intense belangstelling in die Koninkryksgeskil. En ons sal sien dat dit nodig is om sulke belangstelling met ’n gevoel van dringendheid te toon. ‘Mag die Here met julle gees wees’ terwyl julle die Koninkryk verdedig!—2 Tim. 4:22.
[Prent op bladsy 20]
Die Koninkryk was vir Jesus ’n werklikheid