WATTER ORGANISASIE—JEHOVAH S’N OF SATAN S’N?
“Kies dan vir julle vandag wie julle wil dien.”—Jos. 24:15.
1, 2. (a) Tussen watter twee dinge moet ons vandag kies, en hoe dringend is dit dat ons die keuse doen? (b) Wie se besluit oor die saak was negentien eeue gelede van universele belang, en watter keuse het hy gedoen?
ONS moet vandag kies tussen die twee grootste organisasies wat daar bestaan. Dit is niks nuuts in die geskiedenis nie, maar dit is vandag dringender as ooit tevore dat ons die regte keuse doen. Tweeduisend jaar gelede moes ’n geskiedkundige persoon, wie se besluit oor die vraag die grootste gevolge vir die heelal sou hê, die keuse doen.
2 Twee getuies van hierdie feit, twee soekers na die geskiedkundige feite, naamlik Mattheüs Levi, ’n voormalige tollenaar, en Lukas, ’n geneesheer, gee ons die getuienis wat die waarheid hiervan bevestig. Die geskiedkundige persoon op wie die oë van die ganse heelal toe gevestig was, was Jesus Christus van die Midde-Ooste. Mattheüs Levi vertel vir ons dat Satan die Duiwel “Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid [gewys het], en . . . vir Hom [gesê het]: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid.” Jesus het nie Satan se aanspraak op die georganiseerde wêreld betwis nie, maar hy het sonder aarseling Satan se aanbod verwerp (Matt. 4:8-10). Jesus het geweier om die organisasie waaraan hy reeds behoort het, te verlaat en homself ’n deel van Satan se organisasie te maak.
3. Hoe is Satan die Duiwel in Openbaring deur die apostel Johannes afgebeeld, en waaruit het sy organisasie bestaan?
3 ’n Persoonlike metgesel van Jesus Christus, naamlik die voormalige visser Johannes, die seun van Sebedeüs, het die boek wat nou die laaste in die Bybel is, geskryf. In daardie boek word die teenstander, Satan die Duiwel, voorgestel as ’n skepsel wie se samestelling Johannes nooit self kon uitdink nie. Onder goddelike inspirasie stel Johannes hom voor as “’n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe sewe krone” (Openb. 1:1, 9, 10; 12:3). Daardie sonderling georganiseerde skepsel word genoem “die groot draak . . . die ou slang wat genoem word duiwel en Satan”. As die uitslag van ’n oorlog—stel jou dit voor—in die onsigbare hemele, of geesteryk, is die simboliese draak “neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Openb. 12:7-9). Daardie demoniese engele wat aan Satan se kant geveg het, maak sy geesorganisasie uit.
4. (a) Wat beeld die “dier” wat uit die see opkom en in Openbaring hoofstuk 13 beskryf word af? (b) Wat is die mensdom se gesindheid teenoor daardie “dier”, en waar en hoe sal hulle ontnugter word?
4 Satan die Duiwel se organisasie het ook ’n sigbare menslike deel. Behoort ons daaraan of kies ons kant daarvoor? In Openbaring hoofstuk 13 word dit voorgestel as ’n dier wat uit die see opkom. Hoe tree die mensdom op teenoor hierdie simboliese skepsel? Luister: “En die draak het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag. . . . En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aangegaan. En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?” (Openb. 13:2-4). Daardie aanbidders van die sigbare aardse deel van Satan se organisasie sal ontnugter word, want volgens Openbaring 19:11-21 gaan die verheerlikte Jesus Christus met sy georganiseerde engeleleër by Armageddon oorlog voer teen die “dier” en dit vernietig.—Openb. 16:14-16.
5. Watter stelsel sal tot daardie oorlog by Armageddon voortbestaan?
5 Tot dan sal dit waarvan die apostel Paulus in Efesiërs 2:2 praat, aanhou bestaan, naamlik “die loop [stelsel, NW] van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk”. En in 2 Korinthiërs 4:4 praat Paulus van “die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het”. Met watter doel? “Sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.”
6. (a) Watter soort oorlog is Christene volgens Efesiërs 6:11-18 verplig om te voer? (b) Beteken dit dat daar geen sigbare deel van Satan se organisasie is waarmee ons ’n stryd moet voer nie?
6 Paulus lê die Duiwel se onsigbare organisasie bloot in Efesiërs 6:12 waar ons lees: “Ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheerser van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” Paulus sê nie hier dat Satan se organisasie geen sigbare aardse deel het nie. Hy herinner ons eenvoudig daaraan dat ons as Christene nie ’n gewelddadige stryd teen die sigbare menslike elemente van Satan se organisasie voer om dit omver te werp nie. Toe Jesus Christus in die vlees op aarde was, het hy nie probeer om Satan se organisasie omver te werp nie, en sy volgelinge moet ook nie probeer om dit te doen nie, want so ’n poging sal slegs ’n verkwisting van tyd wees en faal. Hulle moet ’n geestelike stryd voer sodat hulle nie ’n deel van Satan se organisasie gemaak word nie, en hiervoor het hulle die wapenrusting en wapens nodig wat Paulus in Efesiërs 6:11-18 beskryf.
7. (a) Wat dui die feit dat Satan ’n organisasie het omtrent God aan, en waarom? (b) Hoe is dit toegelig in Jesus se gelykenis van die land waarin die saaier se teenstander onkruid gesaai het?
7 Daar kan nie ontken word dat Satan ’n magtige organisasie met onsigbare en sigbare dele het nie. Satan die Duiwel is ’n nabootser met die doel om te bedrieg, en die feit dat hy ’n organisasie het, dui in werklikheid aan dat sy hoofteenstander, Jehovah God, ook ’n organisasie het. Satan die nabootser het dus ’n magdom mense mislei om te dink dat hulle die regte en behoorlike ding aanvaar, aanneem en daarby aansluit (2 Kor. 11:13-15). Dink maar aan Jesus se gelykenis van die koring en die onkruid wat dit illustreer. Die onkruid het aanvanklik so baie na die koring gelyk dat die gevaar op daardie vroeë stadium van ontwikkeling bestaan het dat die koringplantjies uitgetrek kon word in plaas van die jong onkruidplantjies wat deur die Duiwel gesaai is (Matt. 13:24-30, 36-43). Jesus het verduidelik: “Die onkruid is die kinders van die Bose, en die vyand wat dit gesaai het, is die duiwel.”
8. Wat beeld daardie simboliese onkruid volgens Johannes se eerste brief en Paulus se tweede brief aan die Thessalonicense af?
8 In die oes wat nou gedurende die ‘voleinding van die wêreld’ ingesamel word, maak die simboliese onkruid die voorspelde antichris uit. In sy eerste brief, wat teen die einde van die eerste eeu geskryf is, sê die apostel Johannes: “Soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste . . . Dít is die Antichris wat die Vader en die Seun loën” (1 Joh. 2:18, 22). Dit strook met wat die apostel Paulus omtrent 50 jaar vroeër aangaande die dag van Jehovah geskryf het. Hy het gesê: “Eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf.” Paulus het natuurlik nie hier na ’n letterlike mens verwys nie, want hy het voorts gesê: “Die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, . . . die ongeregtige . . . se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie.”—2 Thess. 2:3, 7-10.
9. (a) Watter plek beklee “die verborgenheid van die ongeregtigheid” onder Satan se werke? (b) Watter deel van Babilon die Grote maak die valse Christendom uit?
9 Uit daardie woorde blyk dit dat die antichris, die afvallige mens van sonde, “die verborgenheid van die ongeregtigheid”, Satan se meesterstuk is in die vorm van ’n organisasie. Dit is ’n nabootsing van die georganiseerde Christelike godsdiens en is dus ’n teenstander daarvan. As ’n plaasvervanger van die ware georganiseerde Christelike godsdiens kom dit tot uiting in die hedendaagse valse Christendom, ’n naam wat beteken die ryk van die Christelike godsdiens. Dit is beslis ’n misleidende naam, want die valse Christendom is in werklikheid die sterkste deel van Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, onder Satan die Duiwel se keiserskap.
10. Wat is die valse Christendom in werklikheid vandag in die lig van die woorde van Johannes en Paulus, en waarop maak elke organisasie daarin aanspraak?
10 In die lig van wat die apostels Paulus en Johannes gesê het, is die valse Christendom ’n afwyking van die ware, oorspronklike gemeente van Jesus Christus, in werklikheid ’n afval daarvan, ja, ’n opstand daarteen. Anders as die eerste-eeuse Christengemeente, bevat die Christendom van vandag meer as ’n duisend sektariese godsdiensorganisasies, waar van elkeen beweer dat dit Christelik en ’n verklaarder van die Bybel se Christelike godsdiens is.
SY NAAM?
11. By watter naam het die uitgewers van The Watch Tower amper ’n eeu gelede verkies om genoem te word?
11 Met verwysing na daardie verdeelde godsdiensorganisasies wat die valse Christendom uitmaak, het The Watch Tower se nommer vir Februarie 1884 (amper ’n eeu gelede) die volgende onder die opskrif “Ons naam” gesê:
“Nuwe lesers in alle dele van die land vra voortdurend: Onder watter name staan julle bekend? Is julle ‘Primitiewe Baptiste’? Is julle ‘Sendeling-Baptiste’? Is julle ‘Universaliste’? Is julle ‘Adventiste’? Is julle ‘Primitiewe Metodiste’? ens., ens. Ons het al verskeie kere probeer om ons posisie te verduidelik, en ons gaan nou weer probeer om dit kortliks te doen.
“Ons behoort aan GEEN aardse organisasie nie; indien julle dus die hele lys sektes sou opnoem, sou ons op een en almal Nee sê. Ons hang slegs daardie hemelse organisasie aan—die een waarvan die ‘name in die hemele opgeskrywe is’ (Hebr. 12:23; Luk. 10:20). Al die heiliges wat nou lewe of wat gedurende hierdie tydperk gelewe het, het aan ONS KERKORGANISASIE behoort: hulle is almal EEN Kerk, en daar is GEEN ANDER wat deur die Here erken word nie. Enige aardse organisasie wat hom dus in die minste met hierdie bond van heiliges bemoei, tree strydig met die leerstellings van die Skrif op en is gekant teen die Here se wil—‘sodat hulle EEN kan wees’ (Joh. 17:11)”
12. Wat het The Watch Tower van Maart 1883 gesê om te toon dat die toegewyde, gedoopte lede van die Christengemeente deel van God se organisasie is?
12 Om te toon dat die toegewyde, gedoopte lede van die ware geesverwekte kerk, of gemeente, met die onsigbare hemelse deel van God se organisasie verenig is, het The Watch Tower se nommer vir Maart 1883, bladsy 6, die volgende gesê:
“Maar hoewel dit vir die natuurlike mens onmoontlik is om ons organisasie te sien, omdat hy nie dinge van die Gees van God kan verstaan nie, vertrou ons dat jy kan sien dat die ware Kerk op uiters doeltreffende wyse georganiseer is en in die allerbeste werkende orde is. . . .
“Omdat ons hierdie organisasie, wat uit die Gees is, erken en hoegenaamd geen begeerte het om opgeneem te word in die wêreldlike nie, wat dit nie kan sien of verstaan nie, is ons heeltemal bereid om die smaad van ’n uitverkore volk te verduur. . . .
“Ons het grenselose geloof in ons Kaptein; en hierdie volmaakte organisasie, wat vir die wêreld onsigbaar is, gaan voort tot gewisse en heerlike oorwinning.”
13. (a) Watter boek het die Wagtoringgenootskap in 1904 uitgegee, en op watter tekste was die titel daarvan gebaseer? (b) Wat was die titel van Studie V van die boek, en wat het dit onder meer gesê?
13 In 1904 het die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap die boek met die titel “The New Creation” uitgegee. Die titel van hierdie publikasie is gebaseer op die volgende Bybeltekste: “As iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Kor. 5:17). “In Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar ’n nuwe skepsel” (Gal. 6:15). Studie V van Deel 6 van Studies in the Scriptures, bladsy 195, open met die woorde: “Aangesien die Nuwe Skepping eers met die Eerste Opstanding volmaak of volledig sal wees, sal die organisasie daarvan dan eers volkome wees. Die tempelbeeld lig dit toe: as lewende stene word ons nou geroep of genooi tot plekke in die glorieryke tempel, en, soos die Apostel verduidelik (1 Pet. 2:5), kom ons na Jesus, wat, as die Vader se verteenwoordiger, ons vorm, afbeitel, klaarmaak en slyp vir ons plekke in die glorieryke Tempel van die toekoms—die vergaderplek tussen God en die wêreld.” Die titel van daardie Studie of Hoofstuk V is gepas “Die organisasie van die Nuwe Skepping.”
14. (a) Watter uitwerking het die ervarings tydens die Eerste Wêreldoorlog gehad op diegene wat uit Babilon die Grote gekom en hulle by die Wagtoringgenootskap aangesluit het? (b) Watter uitdrukking wat met hierdie bespreking verband hou, het na vore gekom?
14 Die voorgaande lig toe hoe persone wat uit Babilon die Grote gekom en hulle met die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap vereenselwig het sake beskou het voordat die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitgebreek het. Na hulle moeilike ervarings gedurende daardie wêreldbotsing was die lojale lede van God se ‘nuwe skepping’ dit meer oneens met Babilon die Grote as ooit tevore. Hulle geestelike insig in talle Bybelprofesieë wat sedert 1914 vervul sou word, was verskerp. ’n Naoorlogse byeenkoms wat deur honderde van hulle bygewoon is, is van 18 September 1919 by Cedar Point, Ohio, V.S.A., gehou, en hulle het die aspekte van God se werk wat nog voorgelê het, begin onderskei. Die uitdrukking “God se organisasie” het na vore gekom!
15. (a) Oor watter profesie in die besonder het die hooftoespraak op “Die Dag” tydens die tweede byeenkoms te Cedar Point gehandel? (b) Tussen watter organisasies is daar in daardie toespraak ’n teenstelling getref?
15 In September 1922 is ’n tweede byeenkoms by Cedar Point, Ohio, gehou. Op Vrydag, 8 September, wat op die program “Die Dag” genoem is, het J. F. Rutherford, die destydse president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, sy geskiedkundige toespraak gehou wat gebaseer was op Mattheüs 4:17, naamlik “Die koninkryk van die hemele het naby gekom”. Hy het breedvoerig uitgewei oor die profesie van Jesaja, hoofstuk 6, se hedendaagse toepassing. Sy saaklike woorde oor die vyandelike organisasie verdien om weer gepubliseer te word:
“Jehovah, die groot heerser van die heelal, wat alle oorheersing toekom, het die vrykoping en verlossing van die mensdom beplan en die nasie Israel georganiseer om dit af te beeld. Met daardie nasie het hy die ware godsdiens georganiseer en hulle beveel om hom as die enige ware God te aanbid. Satan, die teenstander, die mimetiese God, het die valse godsdiens onder die mense rondom Israel georganiseer sodat hulle hom en ander duiwels aanbid het. Die krag wat Jehovah oor sy volk uitoefen, is die heilige gees. Die band wat Satan met sy volgelinge bind, is die bose gees. Omdat hulle voor sy liste geswig het, is Israel deur hom uitoorlê. God het ’n vonnis oor die nasie gevel, en daardie vonnis in 606 v.C. voltrek; en dit was toe dat Satan die god van hierdie wêreld geword het. Hy word ook die owerste van die mag van die lug genoem, wat toon dat hy ’n sigbare en onsigbare organisasie het. . . .
“Die finansiële owerstes en die magtige heersers van die aarde het in Parys byeengekom vir ’n vredeskonferensie, en die geestelikes van die nominale Christendom het by hulle aangesluit; en die gevolg was die skepping van die Volkebond, die duiwel se laaste plaasvervanger vir die koninkryk van die Messias. Die nominale Christendom was nou nie alleen verbonde aan die handelswêreld en politiek op hoe vlak nie, maar het daaroor gespog; en die nominale kerk (nou ’n deel van die duiwel se organisasie met geen gesag om in die priesteramp op te tree nie) het vorentoe getree om wierook te offer. . . .
“ . . . Maar sal die geestelike leiers en hulle kudde wat die duiwel se organisasie ondersteun, hoor? Die Here se profeet antwoord: ‘Hoor altyddeur, maar verstaan nie, en sien altyddeur, maar bemerk nie. . . .’”
16. Met watter beroep het die spreker sy toespraak oor God se koninkryk in die hande van Christus tot ’n hoogtepunt gevoer?
16 In harmonie met sy temateks oor God se koninkryk in die hande van Christus het J. F. Rutherford sy aangrypende toe spraak tot ’n hoogtepunt gevoer deur te sê:
“Verkondig die boodskap wyd en syd. Die wêreld moet weet dat Jehovah God is en dat Jesus Christus die Koning van die konings en die Here van die here is. Dit is die dag der dae. Kyk, die Koning heers! Julle is sy reklame-agente. Adverteer, adverteer, adverteer dus die Koning en sy koninkryk.”—The Watch Tower, 1 November 1922, bladsye 331-337.
17. Wat is ondanks die bevolkingsaanwas sedert 1922 bereik as gevolg van die goeie “veldorganisasie” sedert daardie jaar, en waarvan het Jehovah se Getuies aldus getuienis gelewer?
17 In sy nommer van 15 Desember 1922 het The Watch Tower onder die tussen hofie “Veldorganisasie” die volgende in sy jaarverslag gesê: “Die doeltreffendheid waarmee die getuienis gegee moet word, hang noodwendig grootliks af van die georganiseerde pogings wat in die veld aan gewend word” (Bladsy 389). Sedert daardie jaar kort na die oorlog (1922) het die wêreld bevolking met tweeduisendmiljoen bewoners op die aarde toegeneem. Die adverteerders van Jehovah se aangestelde Koning en sy Messiaanse koninkryk het ook toegeneem. In die lig van die doeltreffende getuienis wat hulle tot op hede gegee het, het Jehovah se toegewyde, gedoopte getuies onuitwisbare getuienis gelewer oor hulle standpunt in die oppergeskil van die dag: “Watter organisasie—Jehovah s’n of Satan s’n?”
[Prent op bladsy 13]
Die verheerlikte Jesus Christus, met sy georganiseerde engeleleër, sal die “dier” by Armageddon vernietig