In eenheid met die Skepper van die universele organisasie
„Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon!”—PSALM 133:1, NAV.
1, 2. (a) Watter verontrustende faktor het sowat 6 000 jaar gelede verskyn? (b) Wat noem die Bybel hierdie afvallige, en hoe het hy probeer om soos die Allerhoogste te wees?
DIE Skepper van die universele organisasie wil dit rein, regverdig en verenig hou. Maar kort na die mens se skepping ongeveer 6 000 jaar gelede het ’n verontrustende faktor op die universele toneel verskyn. Dit was toe ’n bomenslike teenstander weggebreek het van die Skepper se organisasie en begin het om sy eie onafhanklike organisasie te stig.
2 Omdat hierdie afvallige sy Skepper teengestaan het, noem die Bybel hom Satan, wat „Teenstander” beteken. Hy is die aartsteenstander van Jehovah wat die regmatige Soewerein van die heelal is (Job 1: 6, 7). Omdat hy eersugtig is en soos die Allerhoogste wil wees deur sy eie organisasie te hê, probeer die Teenstander selfs om as ’n mededingende organiseerder en god op te tree. Satan het homself dus aantreklik laat lyk. Satan se gesindheid is weerspieël deur die dinastie en briljante wêreldposisie van „die koning van Babel” wat gepas „morestêr” en „Lucifer” genoem is (Jesaja 14:4, 12-14; King James Version; An American Translation). Satan is vandag nog „die god van hierdie wêreld”, maar slegs omdat Jehovah dit toelaat.—2 Korinthiërs 4:4.
3. (a) Op watter deel van Jehovah se organisasie het hierdie teenstander eerste toegeslaan? (b) Watter verwikkelinge het daartoe gelei dat die Duiwel die heerser van die demone geword het?
3 Dit was heel waarskynlik om Jehovah se organisasie te ondermyn dat Satan op die laagste deel daarvan, Adam, die aangestelde hoof van die mensdom, toegeslaan het (Genesis 3:1-24; Psalm 8:4-6; Romeine 5:12). Later was talle engele ongehoorsaam en het hulle hulle „oorspronklike posisie” of juiste woonplek in die hemel verlaat en stoflike liggame aangeneem sodat hulle met die aantreklike maar onvolmaakte vroue kon trou en saamleef (Judas 6, NW). Hulle basterkinders, wat abnormaal groot en sterk was, is Nefilim genoem. Hierdie term, wat glo „vellers” beteken, was gepas aangesien hulle blykbaar mense gewelddadig neergevel het. Met die Vloed het die ongehoorsame engele hulle stoflike liggame afgelê en na die geesteryk teruggekeer (Genesis 6:1-7:23). Deur hulleself van Jehovah se organisasie af te skei, het hulle hulleself demone of duiwels gemaak, en Satan die Duiwel het hulle heerser geword.—Deuteronomium 32:17; Psalm 106:37; Mattheüs 12:24; Lukas 11:15-19.
4. Wat het die menslike oorlewendes van die Vloed gedoen, maar wat het Satan probeer doen, en wat was sy oogmerk?
4 Op daardie manier het Satan die onsigbare, bomenslike geestedeel van sy organisasie gestig. Die oorlewendes van die Vloed, Noag en sy gesin, het in eenheid met Jehovah se onsigbare, hemelse organisasie gebly (Genesis 6:9; 8:18-21). Maar Satan het begin om die eenheid van getroue Noag se afstammelinge te vernietig. Wat was die Duiwel se oogmerk? Dit was om ’n sigbare deel vir sy goddelose organisasie voort te bring!
5. Hoe het The Watch Tower van 1 Mei 1921 te kenne gegee dat Satan ’n organisasie het?
5 Dit was ’n ruk voordat die Internasionale Bybelstudente besef het dat Satan ’n organisasie het. Maar The Watch Tower van 1 Mei 1921 het gesê: „Satan was nie tevrede met wat hy reeds gedoen het nie en het hierdie individue van die hemelse leërskare verlei en hulle die mensdom laat verderf en die aarde met geweld laat vul. Hy het ’n stelsel georganiseer wat onsigbaar is vir mense-oë, sowel as ’n stelsel op aarde wat sigbaar is vir mense-oë, en hy probeer om elke deel van die geopenbaarde plan van God na te maak.”
6. Wat het The Watch Tower van 1 Desember 1922 oor Satan se voorneme gesê?
6 Onder die tussenhofie „Satan se voorneme” het The Watch Tower van 1 Desember 1922 onomwonde gesê: „Ons lewe nou in die bose dag. Die stryd tussen Satan se organisasie en God se organisasie woed nou. Dit is ’n desperate stryd. Satan probeer om die moreel van die Here se organisasie te vernietig en, indien moontlik, die lede van die huis van seuns uit te wis. Te dien einde laat hy geen steen onaangeroer nie.
7, 8. (a) Hoe het dit gehelp toe die twee antagonistiese organisasies onderskei is? (b) Wat was gekant teen die figuurlike „manlike kind”, soos aangedui deur The Watch Tower van 1 Maart 1925?
7 Toe die twee antagonistiese organisasies onderskei is, het talle Bybelleerstellinge en -profesieë duidelik geword. Openbaring hoofstuk 12 is byvoorbeeld nie korrek verstaan totdat die artikel „Die geboorte van die nasie” in The Watch Tower van 1 Maart 1925 verskyn het nie. Die temateks (Openbaring 12:5) lui: „En sy het ’n manlike kind gebaar, wat al die nasies met ’n ystersepter sou regeer; en haar kind is weggeruk na God en sy troon.”
8 Op bladsye 67 en 68 het hierdie artikel gesê:
„Wat was die uitsonderlike kenmerk van die goddelike plan gedurende die eeue? . . . Die oprigting van die koninkryk waarvoor Jesus ons geleer bid het. Dit beteken die geboorte van die nuwe nasie, wat oor al die geslagte van die aarde sal regeer en hulle sal seën. . . . Wat is die teenmag wat die mense in onkunde gehou het oor hierdie roemryke nuwe nasie en die seëninge wat dit vir hulle sal bring? . . . Satan die duiwel en sy organisasie. . . . Die werklike stryd is tussen God en die duiwel, die koninkryk van geregtigheid wat die koninkryk van goddeloosheid en duisternis uitwerp en in die plek daarvan die koninkryk van waarheid oprig. . . . Na 1918 het die duiwel se organisasie, finansieel, polities en kerklik, veral laasgenoemde, die Here en sy koninkryk openlik verwerp; en net daar het God sy toorn teen die nasies begin openbaar. Van toe af is die stryd op die aarde voortgesit. Vroeër is die stryd in die hemel gevoer.”
9. Hoe is die identiteit van die „vrou” van Openbaring hoofstuk 12 in 1925 uiteengesit?
9 Daar is toe verkeerdelik gemeen dat Jesaja 66:7 sowel as Openbaring 12:5 die geboorte van dieselfde „manlike kind” voorspel het. Die voormelde Watch Tower het dus ook gesê:
„Die ,vrou’ is skynbaar ’n duidelike afbeelding van daardie deel van Sion, God se organisasie, wat die nuwe regering of nasie baar wat die nasies en volke van die aarde met ’n ystersepter en met geregtigheid sal regeer . . . (Galasiërs 4:26). Met ander woorde, Sion of Jerusalem, God se organisasie, is die moeder wat die lewe skenk aan die nuwe nasie, of regerende faktore. Die gesalfdes op aarde is ’n deel van die ,vrou’, en verteenwoordig haar ongetwyfeld. Die vrou ,wat met die son bekleed was’, is Sion in die hemel en die goedgekeurdes op aarde van God se organisasie wanneer die Here na sy tempel toe kom. . . . Noudat hy in sy tempel is wat die tempelklas insluit of hulle met sy kleed van geregtigheid beklee, skyn sy organisasie, ofte wel Sion, wat die nuwe nasie voortbring, soos die son.”
10. Wat het van die geestedeel van Satan se organisasie geword, en watter oorlog voer dit nou?
10 Die „draak”, wat ons nou weet Satan die Duiwel is, kon nie die „manlike kind”, die Messiaanse Koninkryk wat in 1914 aan die einde van die Tye van die Nasies in die hemel opgerig is, verslind nie (Lukas 21: 24). Gedurende die daaropvolgende oorlog in die hemel is die geestedeel van Satan se organisasie na die omgewing van die aarde gewerp, om nooit weer die hemel binne te gaan en ’n verdelende invloed daar uit te oefen nie. Daardie verlaagde organisasie vervolg nou die sigbare deel van Jehovah se universele organisasie en voer meedoënloos oorlog „teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou”.—Openbaring 12:17.
Verenigde diens
11. (a) Op wie kan Paulus se woorde oor die „Jerusalem daarbo” vandag toegepas word? (b) Wat het Dawid gesê oor aardse Jerusalem, waar Jehovah se huis van aanbidding geleë was?
11 God se figuurlike „vrou” word vergelyk met die uitverkore stad Jerusalem, wat poëties Sion genoem word. Paulus se woorde oor die vry „Jerusalem daarbo” kan dus nou toegepas word op „haar ander nakomelinge” teen wie die „draak”, Satan die Duiwel, steeds ,oorlog voer’ (Galasiërs 4:26). Aardse Jerusalem was stewig gebou en saamgesmee in Dawid se tyd en hy het gesê: „Ek was bly toe hulle vir my gesê het: Laat ons na die huis van die HERE gaan! Ons voete staan in jou poorte, o Jerusalem! Jerusalem wat gebou is soos ’n stad wat goed saamgevoeg is, waarheen die stamme optrek, die stamme van die HERE—’n voorskrif vir Israel!—om die Naam van die HERE te loof.”—Psalm 122:1-4.
12. (a) Op watter eenheid is die woorde van Psalm 122:1-4 vandag van toepassing? (b) Hoe het Jerusalem en die heilige tabernakel aldaar die eenheid van Israel se stamme geraak?
12 Wat ’n pragtige voorstelling is dit tog van die eenheid van Jehovah se universele organisasie! Eenheid was veral opsigtelik tydens volksfeeste wanneer die 12 stamme van Israel in verenigde aanbidding van Jehovah by die heilige tabernakel in Jerusalem bymekaargekom het. En gedurende die bewind van hulle herder-koning Dawid het die stamme verenig gebly, nie net weens vleeslike bande nie, maar hoofsaaklik danksy die georganiseerde aanbidding van hulle God. Ja, Jerusalem was die goddelik goedgekeurde sentrum van verenigde, georganiseerde aanbidding onder die een priesterdom uit die stam van Levi en die geslag van Israel se eerste hoëpriester, Aäron, die ouer broer van die profeet Moses. AI 12 stamme was bowendien in die een Wetsverbond wat hulle afgeskei het van al die demonaanbiddende nasies.
13. Wat het Dawid oor die eenheid onder die eertydse Israeliete gesê?
13 Watter verenigende faktore was al hierdie dinge tog! Dit het God se volk, vir hulle veiligheid en seën, as een nasionale organisasie verenig gehou. Dawid het dit soos volg gestel: „Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon! Dit is soos reukolie wat van die kop af in die baard afloop, die baard van Aäron, af tot by die soom van sy klere. Dit is soos die dou van Hermonberg wat op die berge by Sion val. Waar broers so saam woon, skenk die Here sy seën: ’n lang, lang lewe.”—Psalm 133:1-3, NAV.
14. (a) Wie geniet vandag dieselfde soort eenheid as die nasie Israel? (b) Waar staan die geestelike Israeliete, en watter „lied” sing hulle saam?
14 Die nasionale eenheid wat tot sulke innige uitinge aanleiding gegee het, word eweneens vandag geniet. Deur wie? Deur „die Israel van God”, die geestelike Israeliete van wie se moeder Paulus gepraat het toe hy gesê het: „Maar Jerusalem daarbo is vry; en dit is die moeder van ons almal” (Galasiërs 6:16; 4:26). Sy plaas nie haar geesverwekte kinders in slawerny aan die Wetsverbond nie. Hoewel „die Israel van God” voorgestel word as 12 stamme, is al 144 000 lede daarvan verseël met dieselfde „seël van die lewende God”, en in die gesig staan almal op die een hemelse „berg Sion” (Openbaring 7:1-8; 14:1-4). Wat ’n koor vorm hulle tog wanneer hulle ,die lied van Moses, die dienskneg van God, en die lied van die Lam’, Jesus Christus, saam sing! (Openbaring 15:3, 4; Johannes 1:29, 36). Daardie „lied” behaag God en getuig van oorwinning!
15. (a) Vir watter ander doel benewens sang is die 144 000 georganiseer? (b) Hoe dui die blote woord „organisasie” op eenheid?
15 Die 144 000 en hulle Koorleier, „die Lam”, is georganiseer om meer te doen as om die hemele met hulle sang te laat weergalm. Hulle organisasie is ’n koninklike organisasie wat duisend jaar lank vir die regverdiging van Jehovah se universele soewereiniteit en die seën van alle gehoorsame mense sal regeer (Openbaring 20: 4-6). Die woord „organisasie”, ’n antoniem van „desorganisasie”, slaan op ’n reëling van dinge waar elke deel in sy juiste plek is en sy toegewese werk het sodat almal kan saam werk om ’n gemeenskaplike doel te verwesenlik. Organisasie lei dus tot eenheid, samewerking, goeie orde en harmonie—nie wrywing nie.
16. Watter doel is volgens Efesiërs 4:8, 11-16 meer as 19 eeue gelede gestel, en wat is onder Jehovah se Getuies bereik?
16 Die doel van Christelike eenheid is meer as 19 eeue gelede gestel toe ,gawes in mense’ gegee is in die vorm van apostels, profete, evangeliste, herders en leraars. Toe daar in 1879 begin is om die Watch Tower te druk, het God ook geestelike „herders en leraars” gegee. Hierdie voorsiening het Jehovah se Getuies tot hulle huidige „eenheid van die geloof en van die [juiste] kennis van die Seun van God” gebring (Efesiërs 4:8, 11-16, vgl. NW). Hoe dankbaar is ons tog dat Jehovah dit na al die eeue van wêreldwye godsdiensverwarring en desorganisasie gedoen het!
17. Hoe weet ons dat Jehovah meer as die eenheid van gesalfde Christene in gedagte gehad het, en wat het Jesus in hierdie opsig voorspel?
17 Dit is duidelik dat God meer as die eenheid van gesalfde Christene in gedagte gehad het, want „hy het hom voorgeneem om aan die volledige grens van die bestemde tyd ’n bestuur te hê, naamlik om alle dinge weer te vergader in die Christus, die dinge in die hemele en die dinge op die aarde” (Efesiërs 1:9, 10, NW). In hierdie opsig het Jesus voorspel: „Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder.”—Johannes 10:16.
18. (a) Wie is onder „die dinge op aarde” wat vergader moet word? (b) Hoe is spesiale aandag in 1935 aan die „ander skape” geskenk?
18 Hierdie „ander skape” is van „die dinge op die aarde” wat vergader moet word. Onder die leiding van God se gees is daar derhalwe sowat 21 jaar na Jesus Christus in 1914 begin regeer het vir die eerste keer spesiale aandag aan die „ander skape” geskenk. Die President van die Wagtoringgenootskap het in 1935 by ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies in Washington, D.C., verduidelik dat die „groot menigte” „ander skape” was wat uiteindelik deur die Goeie Herder, Jesus Christus, ingesamel sou word (Openbaring 7:9-17). Het Jesus enige „ander skape” by daardie tydvakskeppende byeenkoms ingesamel? Ja, want 840 byeenkomsgangers het besef dat hulle deur die Goeie Herder ingesamel is en het hulle toewyding aan Jehovah God deur doop gesimboliseer.
19. (a) Hoeveel is die „groot menigte” nou? (b) Met wie is die „groot menigte” verenig toe hulle hulle met Jehovah se sigbare organisasie verenig het, en wat is hulle vasbeslote om te doen?
19 Dit was slegs die begin van die insameling van die „groot menigte” „ander skape” wat reeds meer as 2 800 000 beloop. Deur hulle met die sigbare deel van Jehovah se organisasie—dit wil sê, met die oorblyfsel van die „klein kuddetjie” in „hierdie stal” van die Goeie Herder—te verenig, is hulle met die Groot Skepper van die universele organisasie verenig. En hulle is vasbeslote om daardie eenheid dwarsdeur hulle ewige lewe op die Paradysaarde wat die Opperherder, Jehovah, vir hulle sal voorsien te handhaaf.—Lukas 12:32; 23:43, NW.
20. Wat word die gesalfde oorblyfsel en die „groot menigte” beweeg om te sê wanneer hulle dink aan wat die Opperherder sedert 1914 gedoen het?
20 Wanneer die gesalfde oorblyfsel en die toenemende „groot menigte” dink aan alles wat die Opperherder in die heelal gedoen het sedert die Tye van die Nasies in 1914 geëindig het, beweeg innige waardering hulle om die mooi hallelujah-psalm saam te sing: „Halleluja! Loof God in sy heiligdom, loof Hom in sy sterk uitspansel! Loof Hom oor sy magtige dade, loof Hom na die volheid van sy grootheid! Loof Hom met basuingeklank, loof Hom met harp en siter; loof Hom met tamboeryn en koordans, loof Hom met snarespel en fluit; loof Hom met helder simbale, loof Hom met klinkende simbale! Laat alles wat asem het, die HERE loof! Halleluja!”—Psalm 150:1-6.
21. (a) Wanneer sal „alles wat asem het” Jehovah loof? (b) Saam met wie en met watter doel sal al die lede van die universele organisasie dan werk?
21 Die teenswoordige „hemele” en „aarde” sal binnekort in „die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” vergaan en die langverwagte „nuwe hemele en ’n nuwe aarde” sal vir goed gevestig word (2 Petrus 3:7-13; Openbaring 16:14, 16). Dan sal „alles wat asem het” en op hierdie gereinigde aarde oorbly Jehovah, die Groot Skepper van die universele organisasie van geregtigheid, inderdaad loof. AI die lede van daardie organisasie in die hemel en op die aarde sal Jehovah jubelend loof en lojaal en liefdevol saam met hom werk vir die ewige regverdiging van sy universele soewereiniteit en die heiliging van sy allerwaardigste naam. Van watter wonderlike eenheid getuig dit alles tog!
Hoe sou jy antwoord?
◻ Watter verwikkelinge het daartoe gelei dat Satan die heerser van die demone geword het?
◻ Hoe het dit gehelp toe daar tussen die twee groot organisasies onderskei is?
◻ Op watter hedendaagse eenheid is Psalm 122:1-4 van toepassing?
◻ Waarom kan daar gesê word dat Jehovah meer as die eenheid van Jesus se gesalfde volgelinge in gedagte gehad het?
◻ Wanneer sal „alles wat asem het” Jehovah God loof?
[Prente op bladsy 16, 17]
Jehovah se volk het nog altyd in eenheid met mekaar en met die Skepper van die universele organisasie verkeer