Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 6/15 bl. 25-26
  • Veelbewoë Ciprus hoor “goeie nuus”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Veelbewoë Ciprus hoor “goeie nuus”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • KONINKRYKSPREDIKING IN CIPRUS
  • GESINSTEENSTAND WORD TE BOWE GEKOM
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 6/15 bl. 25-26

VEELBEWOË CIPRUS HOOR “GOEIE NUUS”

NA ’N staatsgreep wat die regering in Julie 1974 omvergewerp het, het die Turkse leer Ciprus binnegeval. Sedertdien het byna sewe jaar verstryk en is die noordelike helfte van hierdie land (omtrent 40 persent daarvan) steeds in die hande van die Turke. Duisende het na Engeland, Australië, Kanada en Griekeland gevlug. Sowat 200 000 Grieks-Cipriese vlugtelinge het na die suidelike deel van Ciprus verhuis.

’n Mens sou dink dat sulke omstandighede die land ’n ekonomiese terugslag sou gee. Maar in die suidelike deel van Ciprus beleef die ekonomie ’n bloeityd. Nuwe huise, hotelle en kantore skiet soos paddastoele op. ’n Persoon moet hier oppas dat hy nie materialisties word nie.

KONINKRYKSPREDIKING IN CIPRUS

Jesus Christus het eenkeer gesê: “Ek moet aan die ander stede ook die evangelie [goeie nuus] van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur” (Luk. 4:43). Jehovah se Getuies in Ciprus probeer om sulke “goeie nuus” aan die bewoners van hierdie veelbewoë eiland te verkondig.

Alhoewel die Turkse magte wat die noordelike deel beset, die bedrywigheid van Jehovah se Getuies verbied het, word goeie vordering in die suide gemaak. Nagenoeg 300 Getuie-vlugtelinge van noordelike Ciprus het na die suide verhuis. Baie van hulle het daarin geslaag om huise te bekom wat oorspronklik aan Turke behoort het wat noord verhuis het.

Toe die land verdeel is, was die takkantoor van Jehovah se Getuies in die stad Nikosia op die grens tussen noordelike en suidelike Ciprus. Aangesien dit ’n gevaarlike gebied was, is daar besluit om die inhoud van die gebou na die stad Limassol te vervoer. ’n Groep Getuies het die takgebou met lewensgevaar binnegegaan en die vensterhortjies aan die kant van die Turkse troepe toegemaak. Daarna het hulle die meubels en kantoortoerusting bymekaargemaak, deur ’n venster laat afsak en dit oor die heinings van aangrensende, verlate huise gedra. Toe het hulle dit in wagtende motors gelaai wat dit uit die gevaargebied geneem het. Die pad voor die takgebou kon nie gebruik word nie, aangesien dit ’n maklike teiken vir nabygeleë Turkse troepe was.

In die verlede het baie Cipriote nooit van Jehovah se Getuies gehoor nie. Maar dit is nie meer die geval nie. Gedurende 1980 was daar ’n hoogtepunt van 1 008 Getuies wat aan die Koninkrykspredikingswerk deelgeneem het, ’n puik vermeerdering vergeleke met die 962 Koninkryksverkondigers wat die werk gedurende die vorige jaar gedoen het. ’n Ou Turkse bioskoop in Limassol dien nou as ’n Byeenkomssaal vir Jehovah se Getuies, terwyl ’n deel daarvan as ’n Koninkryksaal gebruik word. Daar is nou 12 gemeentes in Ciprus.

GESINSTEENSTAND WORD TE BOWE GEKOM

Van die uitwerking wat die ware Christelike godsdiens op party mense sou hê, het Jesus gesê: “Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen ’n man en sy vader, en tussen ’n dogter en haar moeder, en ’n skoondogter en haar skoonmoeder. En ’n mens se huisgenote sal sy vyande wees” (Matt. 10:35, 36). Dit is vandag ook die geval hier in Ciprus. ’n Jong vrou, met wie Jehovah se Getuies in 1975 vir die eerste keer in aanraking gekom het, vertel:

“Ek het dit baie moeilik gevind om met my man klaar te kom, en in April 1975 het ek hom verlaat en by familielede in Limassol gaan woon. Jehovah se Getuies het die gesin gereeld besoek, en ek het gou besef dat ek niks omtrent die Bybel weet nie. Toe hulle my belangstelling in die Woord van God sien, het die Getuies ’n gereelde Bybelstudie met my gehou. Die probleme tussen my en my man het terselfdertyd toegeneem totdat my senuwees breekpunt bereik het. Een nag, terwyl ek baie ontsteld was, het ek besluit om ’n publikasie van die Wagtoringgenootskap wat basiese Bybelleerstellings verduidelik, te lees. My belangstelling was so groot dat ek aangehou lees het totdat ek om 4 vm. dwarsdeur die boek gelees het.”

Kort hierna het hierdie vrou ’n kringbyeenkoms van Jehovah se Getuies bygewoon. Na aanleiding van die Christelike gedrag wat sy daar waargeneem het, het sy uitgeroep: “Dit het vir my gevoel asof ek in die paradys is!”

Maar toe het teenstand begin. Sy vertel: “Toe ek ná die byeenkoms tuiskom, het my moeder my geslaan. My man het my ook teëgestaan; en so ook baie ander familielede. My moeder het selfs gedreig om selfmoord te pleeg omdat sy gevrees het dat hulle reputasie beklad sou word indien ek ’n Getuie geword het. Maar een van my susters het belangstelling in die Bybel getoon en begin om saam met Jehovah se Getuies te studeer. Dit het ander familielede teen ons albei gekant gemaak. Ons boeke is vernietig en die Getuies wat saam met ons gestudeer het, is met die dood gedreig.”

As gevolg van wat hierdie vrou tydens haar Bybelstudie geleer het, het sy probeer om ’n versoening te bewerkstellig met haar man, wat sy verlaat het. Hulle het ’n huis gekry en sy en haar twee kinders het weer by haar man ingetrek. Maar dit het nie ’n einde gemaak aan die teenstand teen haar Bybelstudie nie. “Wanneer ek van ’n Christenvergadering af tuiskom”, verduidelik sy, “het ek dikwels gevind dat my man die deure gesluit het. Wanneer hy my eindelik laat binnekom het, het daar ’n pak slae op my en die kinders gewag.”

Die Bybel spoor Christene aan om nie kwaad vir kwaad te vergeld nie, maar om lankmoedig te wees (Rom. 12:17, 18). Die jong vrou het probeer om hierdie Skriftuurlike raad toe te pas. Dit het goeie gevolge gehad, soos sy self verduidelik:

“Na drie jaar is ek eindelik in April 1978 gedoop. Sedertdien het ek die een seën na die ander van Jehovah ontvang. My man se gesindheid het verbeter en hy het begin om die Bybel te bestudeer. Ons is ’n verenigde gesin. My suster is nou gedoop. Haar man het ook sy gesindheid verander. Hy stel belang in ’n Bybelstudie en woon vergaderinge by die Koninkryksaal by. My ouers het ook verander. Voorheen het hulle my as hulle dogter verloën. Maar nou beskou hulle daardie besluit as ’n dwase en wil hulle nie meer hulle kinders verloor net oor wat ander dink nie. Al my familielede wil nou meer omtrent die Bybel te wete kom.”

Mense wat hulle lewens in ooreenstemming met Jesus se leer lei, maak ’n goeie indruk op ander (Matt. 5:16). Eenkeer het ’n prokureur in die hof aangevoer dat sy kliënt nie meer sou steel of lieg nie. Die regter het geantwoord: “Het jou kliënt een van Jehovah se Getuies geword?”

Hoewel baie steeds gekant is teen die Bybelopvoedkundige werk van Jehovah se Getuies, word mense met liefde vir Skriftuurlike waarheid gevind en reageer hulle gunstig. Dit is ’n groot aansporing vir Jehovah se Getuies om voort te gaan om die “goeie nuus” aan die bewoners van Ciprus te verkondig.

[Kaart op bladsy 25]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

TURKYE

MIDDELLANSE SEE

Nikosia

CIPRUS

SIRIË

LIBANON

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel