Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 6/15 bl. 23-24
  • ’n Boek wat mense help

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Boek wat mense help
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Soortgelyke materiaal
  • Hy was gereed om ander te help
    Ontwaak!—1991
  • Help kinders om Jehovah te loof
    Ons Koninkryksbediening—1987
  • Besef jy die waarde daarvan?
    Ons Koninkryksbediening—1986
  • Studiewenk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 6/15 bl. 23-24

’N BOEK WAT MENSE HELP

DIE vernaamste werk van Christus se dissipels is om vir ander van God en sy voornemens te leer (Matt. 28:19, 20; Hand. 1:8). Sedert My boek met Bybelverhale in 1978 vrygestel is, is dit ’n groot hulp in hierdie werk. Hierdie boek is ’n samevatting van die Bybel in eenvoudige taal. Die talle groot, kleurryke prente daarin is puik leermiddele. Die volgende ondervinding uit Wes-Berlyn lig toe hoe hierdie publikasie al gebruik is om mense te help.

“Ons het ’n lang ruk vis gekoop by ’n vriendelike jong egpaar by die mark. Ons het dikwels gesels, veral omdat die jong vrou ’n baba verwag het en ons ’n seuntjie het. In November 1979 is hulle baba gebore en het ons vir hulle ’n eksemplaar van My boek met Bybelverhale as ’n geskenk gegee. Ons het ’n bemoedigende boodskappie geskryf waarin ons hulle versoek het om nie alleen die boek vir hulle seun te lees nie, maar dit self te ondersoek. Ons het vir hulle gesê dat die boek die Bybel in eenvoudige taal verduidelik, en dat slegs die Bybel vir ons ’n wonderlike hoop vir die toekoms kan gee.

“Twee maande later was hulle viskraampie nie daar nie. Die volgende markdag was dit weer daar en het ek gevra of die gesin siek was. Die man het gesê: ‘Julle onthou dat julle daardie boek vir ons gegee het. Wel, julle het werklik iets aan die gang gesit.’ Toe het hy verduidelik dat hulle nie meer vis gaan verkoop nie, aangesien dit baie moeilik was om in daardie besigheid eerlik te wees met die belastingkantoor. Ons het later die volgende te wete gekom:

“Die jong man se ouers was 30 jaar lank Jehovah se Getuies, maar hy het nie meer met die organisasie geassosieer nie, veral nie nadat hy sy vrou ontmoet het en sy teen sy opvattings gekant was nie. Maar nadat sy die Bybelverhale-boek ontvang en dit met een slag deurgelees het, was sy baie geesdriftig en wou sy die Bybel bestudeer.

“Die jong vrou het dadelik met haar nuwe buurman gesels oor wat sy geleer het en ontdek dat dié eens ’n Getuie was. Maar nadat hulle verhuis het, het hy nie weer met Jehovah se Getuies in verbinding getree nie. Toe het hy die vrou ontmoet saam met wie hy nou gewoon het, en sy was bevooroordeeld teenoor die Getuies. Maar nou was sy belangstelling weer gewek, en het die vrou saam met wie hy gewoon het ook begin belangstel.

“Die gevolg: Die man van die viskraampie en sy vrou bestudeer nou die Bybel saam met sy vader, woon die vergaderinge by en maak goeie vordering. En hulle bure? Hulle het ook begin om die Bybel te bestudeer, het getrou, woon ook nou die vergaderinge by en maak goeie vordering.”

In ’n aantal lande gebruik onderwysers My boek met Bybelverhale as ’n leerboek wanneer hulle les gee. Dit was dikwels die gevolg omdat skoliere die inisiatief geneem het om die boek op ’n taktvolle wyse onder hulle onderwysers se aandag te bring. ’n Verslag uit Swede berig:

“Die wenke wat by kringbyeenkomste gegee is om My boek met Bybelverhale skool toe te neem en dit gedurende pouses te lees om die belangstelling van klasmaats te wek, is deur talle jong Getuies toegepas. In party gevalle het al hulle klasmaats ’n boek geneem. Ons het ook ondervindinge gehoor van hoe onderwysers die boek as ’n leerboek gebruik en gereeld dele daaruit vir die klas voorlees.

“’n Agtjarige meisie het byvoorbeeld ’n boek vir haar onderwyser gegee. Al haar klasmaats is versoek om ’n eksemplaar van die boek huis toe te neem om dit vir hulle ouers te wys. Op een na is almal toegelaat om ’n eksemplaar te koop. Toe die onderwyser begin om die boek in die klas te lees, het die skoolhoof daaroor gekla. Hy het die saak te berde gebring tydens ’n vergadering met ’n verteenwoordiger van die Departement van Onderwys en ’n paar deskundiges van die vereniging. Hulle het ’n eksemplaar van die boek bekom, en gelees en gesê dat hulle dit baie goed en opvoedkundig gevind het. Die onderwyser is toestemming gegee om die boek weer in sy klas te gebruik.”

In Nigerië staan My boek met Bybelverhale in party plekke bekend as “Die Boek”. Mense kom selfs na die Getuies en vra daarvoor. ’n Getuie aldaar skryf: “Toe ons ons voorraad My boek met Bybelverhale vroeg in September hier in llogbo gekry het, het die van ons met skoolgaande kinders ’n eksemplaar vir elkeen gegee. Die kinders het hulle boeke opgewonde saamgeneem skool toe. Toe hulle die boek sien, wou al die onderwysers ’n eksemplaar hê. Toe het die skoolhoof sy eksemplaar gekry, dit gelees en dit aanbeveel as ’n leerboek vir gebruik tydens hulle Bybelkennisklasse.

“Kort daarna het hy die gebruik van hierdie boek verpligtend gemaak in sy skool en het skoliere wat hulle eksemplare wou hê na ons huise gestroom. Ons het ’n bestelling vir 120 geplaas. Omdat dit nie genoeg was om in die aanvraag te voorsien nie, het party van die Getuies begin om hulle persoonlike eksemplare vir ander te gee. Dit het nog nie in die aanvraag voorsien nie. Ons is na nabygeleë gemeentes om nog boeke te kry, en met hierdie skrywe is 182 boeke al versprei.

“Ouers wat gekant is teen die leer van Jehovah se Getuies was aanvanklik teësinnig om die boeke vir hulle kinders te koop. Maar toe het hulle gehoor dat dit ’n voorgeskrewe boek is. Die kinders geniet hulle studies in die boek. Volgens ’n verslag van die skool af word My boek met Bybelverhale drie keer per dag gebruik en is hulle nou al by Verhaal 62, ‘Moeilikheid in Dawid se huis’. Die onderwysers sê die boek is die beste leerboek wat hulle nog ooit gehad het om kinders die Bybel te leer.”

Die boek is in verskillende opsigte nuttig. ’n Verslag uit Maleisië beklemtoon die goeie uitwerking daarvan op skoliere in daardie deel van die wêreld.

“’n Voltydse verkondiger vertel dat een van sy Bybelstudente, ’n onderwyseres in ’n Chinese laerskool, dit so geniet het om My boek met Bybelverhale in Engels sowel as Chinees te lees, dat sy besluit het om dit tydens pouse by die skool te gebruik en die kinders party van die verhale te laat lees. Dit het ’n baie goeie uitwerking gehad, want dit het hulle laat bedaar en hulle ’n bietjie selfondersoek laat doen. Met die toestemming van die skoolhoof en met hulle ouers se goedkeuring het sy een maand 33 eksemplare onder haar leerlinge versprei.”

’n Belangrike manier waarop Jehovah se Getuies ander van God en sy voornemens leer, is deur gratis tuis-Bybelstudies saam met hulle te hou. En My boek met Bybelverhale word tydens baie van hierdie studies met goeie gevolge gebruik. ’n Getuie in Texas, in die Verenigde State, berig:

“Ek en my vrou is baie geesdriftig oor My boek met Bybelverhale en het iets nuuts op die proef gestel met ons studies [Bybelstudente] wat kinders het. Die eerste 20 minute studeer ons met die hele gesin in hierdie boek, en ons het nog nooit so ’n geesdriftige reaksie gesien nie. Een gesin het 11 kinders, en almal is gereed en gretig om met stralende gesigte aan die studie deel te neem. Daarna gaan ons dadelik aan met die gereelde studie uit die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe, en hulle geesdrif duur dwarsdeur hierdie studie. As gevolg van die resultate wat ons behaal het, kan ons hierdie studiemetode van ganser harte aanbeveel.”

Waardevolle lesse kan uit Bybelverhale geleer word. My boek met Bybelverhale help ons om dit te doen. ’n Reisende verteenwoordiger van Jehovah se Getuies in Nieu-Guinee vertel van ’n ondervinding in daardie land.

“Die oudste dogter in die huis se naam is Maria. Sy waardeer Bybelwaarheid, maar is soms ’n bietjie opstandig. Een aand het twee jong meisies wat in dieselfde straat woon, haar kom haal en is hulle saam daar weg. Teen nege-uur was hulle nog nie tuis nie. Haar moeder het dus die deur gesluit en in die bed geklim en wakker gelê. Omtrent middernag het die moeder ’n geluid by die deur gehoor en Maria versoek om in te kom en by die tafel te kom sit. Sonder om met haar dogter te raas, het sy die Bybelverhale-boek geneem, dit by die verhaal oor Dina oopgemaak en haar dogter versoek om dit te lees. Toe sy klaar gelees het, het Maria in trane uitgebars en beloof dat sy nooit weer so ’n kans sou waag nie.”

My boek met Bybelverhale is duidelik ’n publikasie wat mense dwarsoor die wêreld help. Het jy en jou vriende, bure en familielede ’n eksemplaar? As julle nie het nie, kan jy gerus ’n paar eksemplare bekom en dit vir hulle aanbied. Dit kan hulle ook help.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel