DANKBAAR VIR ONS “GELUKKIGE HOOP”
“Ons wag op die gelukkige hoop en glorieryke manifestasie van die grote God en die Redder van ons, Christus Jesus.”—Tit. 2:13, NW.
1, 2. Op watter twee maniere kan dankbaarheid geluk voortbring?
HAAR medewerkers het haar geken as ’n bekwame, produktiewe en gelukkige sekretaresse. Hulle het dit moontlik grootliks toegeskryf aan haar opleiding en bekwaamheid. Maar toe sy daarna uitgevra is, het hierdie skerpsinnige vrou die aandag op haar werkgewer se dankbaarheid gevestig. Waarom?
2 Sy het verduidelik dat hy vryelik sy opregte dank uitgespreek het, ongeag hoe klein of alledaags haar taak was. Sy het dus nuttig en nodig gevoel; en sy was ’n gelukkiger werker. Dit lig een goeie gevolg toe wanneer dankbaarheid betuig word. Maar dankbaarheid is nie alleen goed vir die ontvanger nie; dit is ook goed vir die persoon wat dit betuig, wat erkentlik is.
3. Waarom moet ons ’n gees van dankbaarheid aankweek?
3 Dit lyk vandag of die meeste mense hoofsaaklik oor hulself besorg is. Dit is heeltemal strydig met die gees van dankbaarheid, wat ’n persoon betoon deur ander in ag te neem en geredelik waardering uit te spreek vir wat ander doen. Die paradoks is egter dat as jy jou daarop toelê om ’n opregte belangstelling in ander aan te kweek en jou waardering vir hulle dienste, dade en pogings vryelik uitspreek, jy gelukkiger sal wees. Daarbenewens kan die ontwikkeling van ’n gees van dankbaarheid ’n invloed hê op jou verhouding met Jehovah God. Dit kan ’n uitwerking hê op die geluk wat jy nou in die lewe smaak en die mate waartoe jy sal deel in “die gelukkige hoop” wat die Bybel aan ware Christene voorhou.—Tit. 2:13, NW.
‘WEES DANKBAAR’
4. Wat is die Bybel se beskouing van dankbaarheid?
4 Die Bybel spoor ons aan om ’n gees van dankbaarheid of erkentlikheid aan te kweek. Die apostel Paulus het byvoorbeeld geskryf: “Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.” En hy het die Kolossense vermaan: “Laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar” (1 Thess. 5:18; Kol. 3:15). Hoewel sulke raad veral in verband staan met ons dankbaarheid teenoor God, behoort dit ons te laat besef hoe waardevol dit is om ’n gees van dankbaarheid in alledaagse lewensake te kweek.
5. Hoe het Paulus ’n gees van dankbaarheid betoon?
5 Paulus het self nie geaarsel om diegene wat goed gedoen het te loof of regstreeks te bedank nie. Lees sy woorde in Romeine 16:1-4. In daardie gedeelte alleen het hy Febe dankbaar geprys as iemand wat ‘baie beskerm het’, moontlik deur haar invloed in die gemeenskap te gebruik om Christene wat valslik beskuldig is te verdedig of deur reisende Christene gasvry te behandel. Toe het Paulus die egpaar Priscilla en Aquila spesifiek bedank omdat hulle ‘hulle lewe gewaag het’ ter wille van hom en ander. Jy kan jou voorstel hoe bly sulke openlike betuigings van dank Febe, Priscilla en Aquila moes gemaak het. Maar dit was ook goed vir Paulus om homself op hierdie wyse uit te spreek. Hy kon dus die geluk smaak wat ’n mens ervaar as jy gee—erkenning, eer en bemoediging gee. Ons kan ook sulke geluk smaak as ons dankbaarheid betuig.—Hand. 20:35; 2 Tim. 1:16-18.
6, 7. Hoe kan jy dankbaarheid aan die dag lê?
6 Ons het daagliks geleenthede om te toon dat ons dankbaar is. Dit kan wees vir iets gerings soos ’n hoflike daad—iemand hou miskien vir ons ’n deur oop of tel iets op wat ons laat val het. Die een of ander vorm van “dankie” moet nietemin meer as ’n vorm van rituele etiket wees. As ons in ons hart waarlik dankbaar is, sal ander dit agterkom en gevolglik gelukkiger wees—en ons ook.
7 ’n Goeie stap sal wees om ons dankbaarheid aan meer persone te bewys en moontlik waardering uit te spreek vir persone wat ons normaalweg as vanselfsprekend aanvaar. Dit kan ’n verkoopklerk, ’n kelnerin in ’n restaurant of die posbode wees. Jou glimlag en opregte “dankie” sal hulle taak aangenamer en lonender maak. Maar diegene wat ons dankbaarheid die meeste verdien, is persone na aan ons wie se pogings ons geneig is om oor die hoof te sien. Hoe dikwels bedank jy jou vrou vir die goeie maaltye wat sy voorberei, vir haar harde werk om die huis skoon te hou of die geduldige wyse waarop sy vir die kinders sorg? Hoeveel mans werk dag na dag sonder om ’n woordjie van waardering van hulle vrouens te ontvang, wat nog te sê van hulle kinders? Jongmense, kan julle meer nadink oor alles wat julle ouers vir julle doen en dan hartgrondige waardering uitspreek? Namate jy meer gewoond daaraan raak om waardering te betuig, sal jou lewe ryker wees. Ander sal meer van jou hou en liefdesbande sal sterker word. Ja, jy sal gelukkiger wees.
DANKBAAR TEENOOR GOD
8-10. (a) Waarom behoort ons God volgens Psalm 100 dankbaar te wees? (b) Wat doen die meeste mense in hierdie verband?
8 As ons rede het om dankbaar te wees vir wat ons medemens doen, het ons oneindig groter redes om dankbaar te wees teenoor ons Skepper. Die 100ste Psalm is ’n danklied wat die aandag vestig op redes waarom dit gepas is om God te dank. Ons lees daar: “Hy het ons gemaak, en ons is syne” (Ps. 100:3). Dit is so redelik. Hoe kan ons ooit enige geluk smaak as God nie mense gemaak het en ons nie toegelaat het om te lewe nie? (Hand. 17:16-28). Ja, die blote feit dat ons lewe, is ’n rede tot dankbaarheid.
9 Psalm 100:5 sê: “Want die HERE is goed.” Dit is in baie opsigte waar. En nie die geringste hiervan nie is die feit dat God goeie dinge voorsien het om ons aan die lewe te hou en terselfdertyd te geniet. Ons lewe op God se aarde en onderhou ons lewens met die oorvloedige opbrengs daarvan (Jes. 45:18; Hand. 14:15-17). Hoe voel jy teenoor God as jy aan sulke voorsienings dink?—1 Tim. 4:3, 4.
10 As ons God dankbaar is, sal dit beteken dat ons heeltemal anders is as die meeste mense van vandag. Hulle is geneig om God en die dinge wat hy gedoen het, te ignoreer. Selfs party gesinne wat die gewoonte het om voor ’n maaltyd ’n paar woorde van “dank” uit spreek, toon nie deur hulle lewens dat hulle God diep dankbaar is nie. Hulle neem selde God se wil in aanmerking wanneer hulle hulle lewens beplan. Maar verskil ons van hulle? Ons behoort.
11, 12. Watter leidraad gee Kolossense 3:15 (NW) ons oor dankbaarheid?
11 Soos vroeër gemeld is, het die apostel Paulus geskryf: “Laat die vrede van die Christus in julle hart heers, want daartoe is julle inderdaad in een liggaam geroep. En betoon julleself dankbaar” (Kol. 3:15, NW). As ons dus waarlik dankbaar teenoor God wil wees, verg dit meer as woorde van dank. Ons moet in ons lewens toon dat ons hom dankbaar is. Belangrike stappe om dit te doen, is ’n studie van sy Woord om uit te vind wat vandag sy wil vir ons is, en om dit dan te doen.—Joh. 13:17.
12 Paulus se woorde in Kolossense 3:15 moet ons ook daaraan herinner dat Jehovah God indiwidue saamgeroep het om ’n verenigde liggaam van Christene te vorm. Dit is persone wat erken dat hulle sondaars is, maar wat besef dat God se vergifnis moontlik is op grond van Jesus se losprysoffer (Rom. 6:17, 23; 7:22-26). Dink wat dit vir jou behoort te beteken. Jy kan ’n goeie naam voor God hê. Dit is nog ’n rede om God dankbaar te wees.—Openb. 7:10, 14.
13. Hoe hou dankbaarheid verband met meer as ons huidige lewe?
13 Maar ons kan gerus kyk of ons gees van dankbaarheid net in verband staan met ons huidige daaglikse lewe. Is dit bloot ’n saak dat ons meer waardering moet betoon vir wat ander, ander mense sowel as God, vir ons doen? Nee, want ’n Christen se dankbaarheid hou verband met die toekoms, sy hoop. Paulus het geskryf: “Ons wat op die gelukkige hoop en glorieryke manifestasie van die grote God en die Redder van ons, Christus Jesus.”—Tit. 2:13, NW.
’N GELUKKIGE HOOP WAARVOOR ONS DANKBAAR MOET WEES
14, 15. Wat was die “gelukkige hoop” wat Paulus in Titus 2:13 (NW) gemeld het?
14 Wat was die “gelukkige hoop” wat Paulus gehad het en waaroor hy dankbaar was? Dit was die gelukkige vooruitsig om tot die hemel opgewek te word en om daar ’n onsterflike geesskepsel en medeheerser van Jesus Christus in “sy hemelse koninkryk” te wees (2 Tim. 4:18). Dit was ook die hoop wat Titus en die geesgesalfde Christene in Kolosse en Thessalonika gedeel het.
15 Paulus kon dus soos volg aan die Kolossense skryf: “Ons dank die God en Vader van onse Here Jesus Christus altyd as ons vir julle bid, omdat ons gehoor het van julle geloof in Christus Jesus en julle liefde tot al die heiliges, vanweë die hoop wat julle weggelê is in die hemele, waarvan julle vroeër gehoor het” (Kol. 1:3-6). Dit is dus met goeie rede dat Paulus diegene wat tot die hemelse lewe geroep is, kon aanspoor: “Betoon julself dankbaar.”—Kol. 3:15, NW.
16. Wanneer sou daardie “hoop” verwesenlik word?
16 Wanneer sou daardie “gelukkige hoop” op opstanding tot hemelse lewe verwesenlik word? Paulus het geweet dat dit eers sou plaasvind na sekere toekomstige verwikkelinge. Hy het geskryf dat die “wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms [teenwoordigheid, NW] van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie”. Dan sal “die wat in Christus gesterf het . . . eerste opstaan”. Dit sou dus eers plaasvind nadat die teenwoordigheid (Grieks, pa·rou·si’a) van Christus begin het.—1 Thess. 4:15-17.
17, 18. Waarom is ons tyd veral belangrik waar dit by die “gelukkige hoop” kom?
17 Dit het opwindende implikasies vir ons. Jesus het voorspel dat sy teenwoordigheid gekenmerk sou word deur ’n saamgestelde teken wat bestaan uit buitengewone oorloë, aardbewings, voedseltekorte en ander dinge wat duidelik te sien is sedert 1914, die jaar waarin die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het (Matt. 24:3-14). Dit is ook opmerklik dat daar voorspel is dat die opstanding van gesalfde Christene tot hemelse lewe sou plaasvind voordat die Koning Jesus Christus tydens die komende “groot verdrukking” optree (Matt. 24:21; Openb. 2:26, 27). Ons lewe gevolglik in die tyd wanneer Paulus, Titus en ander, wat in eendrag met Christus was, maar wat gesterf het, die verwesenliking van hulle “gelukkige hoop” ontvang.
18 Daardie opstanding is ook deel van die “glorieryke manifestasie van die grote God en die Redder van ons, Christus Jesus”a (Tit. 2:13, NW). Met God se steun verskyn Jesus of kom hy aan die lig daar hy diegene wat in Christus gesterf het, oordeel en beloon. Die Skrif sê in hierdie verband dat hy “van die hemel [sou] neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal . . . opstaan” om by hom in die hemel aan te sluit (1 Thess. 4:16). Wat van die gesalfde Christene wat op die aarde voortgeleef het? Wanneer elkeen gesterf het, sou hy “verander word, in ’n oomblik”. Hy sou ’n geesliggaam kry en hemel toe geneem word, beloon met “die kroon van die lewe”.—1 Thess. 4:17; 2 Tim. 4:1, 8; 1 Kor. 15:44, 50-57; Jak. 1:12.
19. Wie nog het ’n gelukkige hoop?
19 Hierdie daad van ons Redder, Christus Jesus, is ook ’n manifestasie van die heerlikheid van God. Maar die manifestasie van God se heerlikheid deur Christus sal iets meer bereik, iets wat besonder betekenisvol is vir daardie Christene van vandag wat weet dat hulle nie met God se gees gesalf is en vir hemelse lewe uitverkies is nie. Dit is getroue Christene wat die gelukkige hoop op ewige lewe in ’n herstelde aardse paradys het. Indien dit jou vooruitsig is, kyk dan na ’n spesiale rede wat jy nou het om dankbaar te wees.
DANKBAAR VIR WAT VOOR DIE DEUR IS
20, 21. Wat is daar voorspel dat Jesus tydens sy teenwoordigheid sou doen?
20 Eeue lank moes ware aanbidders van Jehovah ’n heersende goddelose stelsel van dinge, waarvan valse godsdiens ’n integrerende deel is, verduur en daarmee worstel. Ware Christene het baie genot geput uit diens aan Jehovah, maar hulle kon nooit volkome gelukkig wees solank as wat hierdie goddelose stelsel en sy valse godsdiens voortbestaan nie. Daar is egter nou ’n besondere rede om gelukkig en dankbaar te wees! Wat is dit?
21 Toe die apostel Paulus aan die Thessalonicense geskryf het omtrent Christus se teenwoordigheid, is hy geïnspireer om te beloof dat hierdie tydperk wonderlike veranderinge sou meebring. Christus sou onder meer optree om die valse godsdienselement genaamd die “mens van sonde” tot niet te maak deur “die verskyning van sy wederkoms”. Hierdie “mens van sonde” is in die besonder ’n anti-Christelike afval wat voorgestaan is deur die godsdiensleiers, veral die geestelikes van die Christendom.—2 Thess. 2:3-8.
22, 23. Waarom sal die einde van valse godsdiens iets wees om voor dankbaar te wees?
22 Die einde van valse godsdiens sou ’n rede wees om God dankbaar te wees. Maar Christus gaan meer doen. Met Jehovah God se steun, gaan Jesus almal “wat God nie ken nie en . . . wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie” vernietig (2 Thess. 1:6-10). Ons lewe in die tyd van Christus se teenwoordigheid en van die “glorieryke manifestasie van die grote God en die Redder van ons, Christus Jesus”. Dit beteken dat ons lewe in die tyd wanneer valse godsdiens en almal wat die Skepper nie in waarheid wil dien nie, uitgewis gaan word. As Paulus destyds aan die Thessalonicense kon skryf: “Wees in alles dankbaar”, dink dan net watter besondere rede ons het om nou dankbaar te wees!—1 Thess. 5:18.
23 Die uitwissing van valse godsdiens sal ’n seën wees. Misleidende leerstellings wat miljoene lank in vrees gehou het—oor onsterflike siele wat in die hel ly, of oor die geeste van afgestorwenes—sal tot die verlede behoort (Joh. 8:32). Die hele gehoorsame mensdom sal ‘aan die evangelie van onse Here Jesus gehoorsaam wees’ en Jehovah dien. Dit sal eenheid en vrede meebring. Is dit nie iets om voor dankbaar te wees nie?
24, 25. Watter ander seëninge is voor die deur vir die gehoorsame mensdom?
24 Wanneer diegene wat nie aan die “evangelie” gehoorsaam is nie tot die verlede behoort, sal die mensdom die weë van geregtigheid leer ken en volg (Jes. 11:9; 26:9). Jy sal dit bevredigend vind om selfs nou met jou gesin te bespreek watter verskil dit sal maak. Vergelyk dit met wat jy nou by jou werk ondervind, of in jou handelinge met regeringsamptenare, of wanneer julle in ’n vreemde gebied reis.
25 Die nuwe orde sal ook gekenmerk word deur fisiese seëninge wat van God af kom. Hy sal siekte en dood uitwis (Openb. 21:1-4). Hy sal die werk van ons hande seën sodat ons oorgenoeg lewensbenodigdhede het. (Ps. 67:7; vergelyk Jesaja 65:21-25.) Daar sal selfs vrede bestaan tussen die mense en God se diereskepping; Jehovah sal daarvoor sorg, net soos in die oorspronklike paradys toe die diere plante geëet het en mense geen kwaad aangedoen het nie.
26. Watter redes het jy om dankbaar en gelukkig te wees?
26 Daardie seëninge is voor die deur. Jy kan dit beleef. In watter unieke tyd lewe ons tog! Ondanks die ondankbaarheid en ongelukkigheid wat die mensdom oor die algemeen vandag kenmerk, het ons volop redes om God dankbaar te wees, veral vir die gelukkige hoop wat ons het. Laat ons hom gereeld daarvoor dank.
[Voetnoot]
a Kyk bladsy 30.
[Prente op bladsye 20, 21]
Diegene met die “gelukkige hoop” wat gedurende die Here se “teenwoordigheid” in Christus sterf, sal nie in die dood slaap nie. Wanneer hulle sterf, sal hulle opgewek word en “in ’n oomblik, in ’n oogwink” verander word.