Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 6/15 bl. 12-17
  • Dit hang van jou af of jy ware geluk sal vind

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Dit hang van jou af of jy ware geluk sal vind
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • GELUK EN JOU GEESTELIKE BEHOEFTE
  • GELUK—DEUR TE HOOR EN TE DOEN
  • GELUK—’N DOELWIT OF ’N RESULTAAT?
  • Hoe om geluk te vind
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Waar kan ware geluk gevind word?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Gelukkig is diegene wat “die gelukkige God” dien
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Ware geluk in Jehovah se diens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 6/15 bl. 12-17

DIT HANG VAN JOU AF OF JY WARE GELUK SAL VIND

“Gelukkig is die volk wie se God Jehovah is!”—Ps. 144:15, NW.

1. Waarom moet jy nadink oor die dinge wat jou gelukkig maak?

WAT is nodig om jou gelukkig te maak? Tot watter mate word jou geluk deur toestande om jou, deur materiële dinge of deur ander mense bepaal? Speel God en die Bybel ’n rol in jou geluk? Laat ons hierdie sake bespreek, want ons wil almal gelukkig wees.

2, 3. (a) Hoe dra dinge of ander mense tot jou geluk by? (b) Wat is God se beskouing hiervan?

2 Uitwendige dinge soos genoeg smaaklike kos in ’n aangename omgewing kan klaarblyklik tot ons geluk bydra. Ons kan dit veral besef as ons al in die verlede lank honger gely het. Dit is nie in stryd met God se wil vir ons om ’n mate van geluk uit goeie voedsel te put nie. Koning Salomo het onder goddelike inspirasie geskryf:

“So het ek dan ingesien dat daar niks beters onder hulle is nie as om bly te wees en om goed te doen in die lewe. En ook—dat elke mens eet en drink en die goeie geniet by al sy moeitevolle arbeid; dit is ’n gawe van God.”—Pred. 3:12, 13; vergelyk Psalm 104:14, 15.

3 Ander mense kan ook tot ons geluk bydra. Hoe bevredigend is dit tog om dierbares te hê wat vir ons omgee, hetsy hulle familielede of intieme vriende is!—Ps. 127:3-5; 128:3.

4. Waarom verseker besittings of metgeselle nie dat jy gelukkig sal wees nie? (Spr. 23:4, 5; Pred. 5:10; Luk. 12:16-20)

4 Maar jy is terdeë daarvan bewus dat materiële dinge en boesemvriende nie ware, blywende geluk verseker nie. Party mense het ’n oorvloed van die rykste kos en omring hulself met moderne luukse-items; tog ontwyk geluk hulle. Twee jaar voor sy dood het multimiljoenêr-oliemagnaat J. P. Getty gesê: “Geld hou nie noodwendig met geluk verband nie. Miskien met ongelukkigheid”a (1 Tim. 6:9, 10). En geld sal ook nie tot ware geluk bydra as diegene wat bely dat hulle vir ons omgee persone is wie se vriendskap op die een of ander manier gekoop word nie.—Spr. 19:6.

5. Waarom is geluk ’n paradoks?

5 Daar is al gesê dat geluk in ’n sekere sin ’n groot paradoks is. Hoewel die woord “geluk” ’n mens aan aangename toestande laat dink, kan dit in werklikheid in enige grond groei, onder enige toestande bestaan en enige milieu trotseer. Geluk is nie soseer wat ons het nie, maar wel wat ons is. Dit is waarom baie wat ’n luuksueuse lewe lei, nie juis gelukkig is nie, terwyl party wat betreklik min het en wie se lewens taamlik eenvoudig is, wel geluk vind. Daarbenewens het jy miskien al bedlêende of gestremde persone teëgekom wat ’n opgeruimde geaardheid en ’n vrolike, blymoedige lewensbeskouing het. Hulle is weliswaar nie bly dat hulle siek of gebreklik is nie, en sou dit graag anders wou hê (Hand. 3:1-8). Hulle vind nietemin rede om gelukkig te wees in die lewe.

GELUK EN JOU GEESTELIKE BEHOEFTE

6, 7. (a) Watter fout het baie gemaak in hulle soeke na geluk? (b) Kan jy aan spesifieke voorbeelde hiervan dink?

6 Baie mense beny die gelukkiges en wil ook graag gelukkig wees. Hulle probeer om hulle ongelukkigheid met kunsmatige middels te verdryf—dwelmmiddels, ’n strawwe drinkery, ongeoorloofde geslagsomgang, luiheid—en wonder dan waarom geluk hulle steeds ontwyk. Enige opwinding wat sulke strewes hulle bied, kom neer op vals geluk, wat, as dit daarop aankom, net so waardeloos soos vals geld is.

7 Die getuienis van ’n lang geskiedenis en die ervaring van miljoene persone wat vandag lewe, bewys dat ons nie morele standaarde of beginsels die rug kan toekeer en steeds blywend gelukkig kan wees nie. Diegene “wat ongevoelig geword het en hulle oorgegee het aan die ongebondenheid om in hebsug allerhande onreinheid te bedrywe”, is nie die gelukkiges nie (Ef. 4:17-19; Rom. 13:13). So ’n handelwyse bring dadelik of later bykomende verdriet en veroorsaak versperrings op die weg na geluk. Kan jy aan gevalle dink wat dit staaf? As ’n mens dinge andersyds op God se manier doen—in ooreenstemming met sy morele standaarde—verminder dit lewensprobleme en verwyder dit aldus padversperrings wat ons verhinder om geluk te verkry. Maar die blote vermyding van probleme is nie op sigself ’n waarborg dat ons gelukkig sal wees nie. Meer is nodig. Ons kan daarvan seker wees, want ons Maker sê so.

8, 9. (a) Watter fundamentele behoefte het ons? (b) Wat het Jesus hieromtrent gesê?

8 Ons moet ’n verhouding met die Skepper verkry, leer wat sy wil en voornemens is en dit self aanvaar. Ja, ons het ’n behoefte daaraan. In sy boek Man, God and Magic, wys dr. Ivar Lissner daarop dat ’n “fundamentele verskil tussen die mens en diere” die feit is dat “die mens nie tevrede is om net te slaap, te eet en homself warm te maak nie”. Ons het ’n “vreemde en inherente drang” wat “geestelikheid” genoem kan word. Trouens, dr. Lissner berig dat ‘alle beskawings van die mensdom gewortel was in ’n soeke na God’.—Hand. 17:26-28.

9 Jesus het erken dat hierdie fundamentele drang bestaan en gesê: “Gelukkig is die wat bewus is van hulle geestelike behoefte”, of die wat hulle geestelike honger erken en iets daaromtrent doen (Matt. 5:3, NW). Maar dit is maklik om daardie behoefte oor die hoof te sien. Selfs iemand wat God al lank dien, kan vergeet hoeveel geluk hierdie verhouding verskaf. Hy sien ander met luukse-artikels of party wat gewilde stokperdjies het en vorms van ontspanning najaag. Hy kan dus jaloers word en dink: ‘Miskien loop ek iets mis.’ As hy hulle handelwyse navolg ten koste van tyd of belangstelling wat voorheen aan sy verhouding met God gewy is, sal sy lewe uit ’n fisiese standpunt moontlik meer afwisseling bevat, meer met huidige neigings strook. Maar sal hy waarlik gelukkiger wees? In plaas daarvan om te eet, kan ’n honger man ’n ent gaan ry of bioskoop toe gaan. Sulke bedrywighede kan sy aandag aflei of hom vermaak. Maar sal dit sy honger stil?

10. Hoe hou geluk verband met jou bewustheid van hierdie behoefte?

10 Vermont Royster, ’n voormalige redakteur vir The Wall Street Journal het kommentaar gelewer oor die mens se tegniese prestasies. Toe het hy bygevoeg:

“Dit is egter eienaardig. Waar dit kom by bespiegeling oor die mens self, oor sy dilemmas en oor sy plek in hierdie heelal, is ons weinig wyser as in die vroegste tye. Vrae oor wie ons is en waarom ons bestaan en wat op ons wag, is nog onbeantwoord.”—“Science Digest.”

Jy kan besef dat diegene wat doelloos ronddryf en geen antwoorde het nie, nie volkome tevrede of gelukkig kan wees nie. Maar as ons die nodige waarde aan ons geestelike behoefte heg en insig in God se Woord soek, sien ons waar ons inpas. Ons lewe het meer rigting, meer sin, ’n groter kans op geluk.

11. Waarom sal jy gelukkiger wees as jy God se standaarde erken? (Ps. 19:8, 9, 12)

11 Ons dra ook op ’n ander wyse tot ons geluk by as ons ons geestelike behoefte erken en ’n verhouding met God het. Ons het reeds gemeld dat dit ons help om probleme te vermy as ons God se morele standaarde aanvaar. Maar meer is nodig. Ons het in werklikheid ’n redelike, konsekwente stel waardes nodig. God se Woord voorsien volmaak in daardie behoefte. En God se standaarde is in harmonie met ons inherente gewete. Wanneer ons daarvolgens lewe, voel ons dus beter en gemakliker en het ons meer gemoedsrus (Ps. 1:1-4; Rom. 2:14, 15). Ons kan selfs ons kinders help om meer geluk te smaak deur God se standaarde aan hulle te leer. Dr. Robert Coles van Harvard-Universiteit het van jongmense gesê:

‘Hulle het dissipline nodig, nie alleen om hulle opwellings van emosie in toom te hou nie, maar dissipline wat in verband staan met verklaarde en opgehelderde morele waardes. Hulle het iets nodig om aan te glo wat groter is as hulle eie aptyte en drange. Hulle het ’n breër beskouing van die wêreld nodig, as’t ware ’n morele verband—’n geloof wat hom besig hou met die sin van hierdie lewe wat ons almal lei.’

12. Wat is ’n fundamentele waarheid omtrent jou geluk?

12 Dit is dus redelik om te sê dat ware geluk verband hou met ’n erkenning van ons geestelike behoefte en ’n verhouding met God, net soos die Bybel akkuraat aangedui het: “Welgeluksalig is die man wat sy vertroue in [Jehovah] stel”, wat “by Hom skuil”, wat “[Jehovah] vrees”, wat “in die wet van [Jehovah] wandel” en wat God “van ganser harte soek” (Ps. 40:5; 34:9; 112:1; 119:1, 2). God wil liefde aan ons betoon en ’n verhouding met ons verkry. Toon ons konsekwent dat ons groot waarde heg aan ons verhouding met hom?—Rom. 8:38, 39.

GELUK—DEUR TE HOOR EN TE DOEN

13. Hoe het Jesus vir ons insig gegee in die verkryging van geluk?

13 ’n Vrou wat eenkeer gehoor het hoe Jesus ander leer, het uitgeroep: “Gelukkig is die vrou wat U in haar liggaam gedra en aan haar bors gevoed het!” (Luk. 11:27, NAB). Sy was waarskynlik daarvan bewus dat die Bybel moederskap verhef, en sy het skynbaar gedink dat Maria geseënd was of besonder gelukkig kon wees dat haar seun so ’n voortreflike, regverdige onderrigter was. Maar Jesus het geweet dat daar ’n groter geluk was as die van vaderskap of moederskap, selfs moederskap van die Messias. Hy het geantwoord: “Nog gelukkiger is hulle wat die woord van God hoor en dit onderhou.”—Luk. 11:28, NAB.

14, 15. Wat is van jou kant nodig om ‘die woord van God te hoor’?

14 Let op hoeveel klem Jesus gelê het op kontak met—die aanhoor of lees van—“die woord van God”. Ons word herhaaldelik in die Bybel verseker hoe voordelig dit is om ons met God se Woord besig te hou. Die eerste Psalm sê van die ‘gelukkige man’: “Sy behae is in die wet van Jehovah, en in Sy wet lees hy dag en nag met gedempte stem” (Ps. 1:1, 2, NW). Ons kan dus vra: ‘Put ek genot uit daardie bron?’

15 Die Skrif is soos ’n skatkamer van geluk, want dit verryk die verstand en die hart. Dit verlewendig die gees. Dit gee hoop. Dit wys die weg na ’n produktiewe, aangename lewe. Dit bevat gedagtes van God waaroor ons te eniger tyd kan peins. Dit is die grondslag vir ware wysheid.—Vergelyk Spreuke 3:13-18.

16. Hoe kan jy dus groter geluk smaak deur aanpassings te maak?

16 Daar is soveel publikasies wat ons kan lees—koerante, tydskrifte, storieboeke, geskiedenisboeke, blaaie oor huisvlyt of ander handwerke. Hoewel party van hulle interessant is en hulle plek het, kan ons onsself afvra: ‘Kan ek, ter wille van my geluk, my rooster of leesgewoontes aanpas sodat ek God se Woord meer kan lees en geniet?’ Ja, lees dit sommer net vir die genot. Lees elke dag ’n stukkie, volgens ’n rooster, as jy wil. Lees die Bybel in die volgorde van die boeke. Lees die Skrif saam met waardevolle Bybelhulpe. Lees nou en dan uit ’n ander vertaling, of in ’n ander taal, as jy veeltalig is. Ja, as jy God se Woord meer lees, sal dit ’n stap in die rigting van geluk wees.—Openb. 1:3.

17, 18. Wat is een aspek van ‘die onderhouding van die woord van God’ wat vir jou groter geluk kan verskaf?

17 ‘Die onderhouding van die Woord van God’ was volgens Jesus ook nodig om gelukkig te wees. Ons het vroeër gemeld dat dit waar is omdat dit ons help om probleme te vermy. Maar dit is ook waar uit ander standpunte.

18 Baie mense is vandag hoofsaaklik besorg oor “EK”. Hulle is baie egosentries in hulle strewes en belange. Maar is hulle waarlik gelukkig? Die Woord van God adem in teenstelling die gees van belangstelling in ander, van mededeelsaamheid, van hulp aan ander. Jehovah self dien as voorbeeld hiervan, want hy het “die wêreld [so lief] gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo . . . die ewige lewe kan hê”. Jehovah word “die gelukkige God” genoem (Joh. 3:16; 1 Tim. 1:11, NW). “Ook Christus het Homself nie behaag nie”, maar ter wille van ons gesterf.—Rom. 15:3; Gal. 1:3-5.

19-21. (a) Hoe kan jy dit tot ’n groter mate doen? (b) Waarom meen jy dat dit vir jou groter geluk sal verskaf?

19 Ons mededeelsaamheid kan en moet baie vorms aanneem. Maar dit hoef nie iets oordadigs te wees nie en moet nie iets wees wat gegee word om ander te beïndruk nie. Jesus het ons aangeraai: “Wanneer jy ’n môre- of middagete gee, moenie jou vriende nooi, of jou broers of bloedverwante of ryk bure nie, sodat hulle jou nie miskien ook eendag weer uitnooi en jy vergelding ontvang nie. Maar wanneer jy ’n feesmaal gee, nooi armes, verminktes, kreupeles, blindes, en jy sal gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou te vergeld nie; want dit sal jou vergeld word in die opstanding van die regverdiges.”—Luk. 14:12-14.

20 Dit onderstreep die waarheid dat geluk voortspruit uit mededeelsaamheid (Hand. 20:35). Kan jy dink hoe jy Jesus se raad kan toepas, hetsy in verband met ’n maaltyd of iets anders? As jy ’n man, ’n vrou of ’n ander lid van ’n gesinsgroep is, kan jy jou dit gerus ten doel stel om vandag te bespreek hoe julle Jesus se wenk kan toepas. Kyk dan hoe gelukkig julle sal wees.

21 Een manier om sulke geluk te verkry, is deur Bybelwaarhede aan ander te verkondig wat hulle gelukkiger kan maak. Stel jou voor hoe jy sal voel as jy ’n persoon raakloop wat waarlik geestelik honger is en jy hom kan help om in daardie behoefte te voorsien (Hand. 13:48, 52 vgl. NW). Dit verg wel volgehoue inspanning om so ’n persoon te vind en baie geduldige sorg om hom te help om geestelike voedsel uit die woord van God in te neem. Maar hy sal vind dat Jesus se woorde waar is: “Nog gelukkiger is hulle wat die woord van God hoor en dit onderhou” (Luk. 11:28, NAB; Joh. 13:17). En jy sal ook gelukkiger wees omdat jy van jouself gegee het om iemand anders gelukkig te maak.

GELUK—’N DOELWIT OF ’N RESULTAAT?

22-24. (a) Tot watter mate moet geluk jou doelwit wees? (b) Hoe kan jy dan ware geluk vind? (Spr. 8:32-35)

22 Ons het gesien dat geluk nie hoofsaaklik voortspruit uit wat ’n mens besit nie, maar uit wat jy is en geniet. Dit verg dikwels dat ons ons beskouing moet aanpas sodat ons tevrede is met wat ons het en besef dat “die godsaligheid saam met vergenoegdheid” waardevol is (1 Tim. 6:6). Maar tot watter mate moet ons geluk ’n doelwit, ’n mikpunt, maak?

23 Die dinge wat ons bespreek het oor die verkryging van ’n verhouding met God en oor mededeelsaamheid, behoort ons inderdaad te help om die volgende in te sien: Geluk is nie iets wat ons met al ons mag moet nastreef nie. Ons verkry dit nie deur dit ’n doel op sigself te maak nie, maar dit is ’n neweproduk wanneer ons vir God lewe, sy eienskappe aan die dag lê en optree soos hy wil hê ons moet optree. Dit is ’n vrug van liefde en van diens. Geluk is al met ’n skoenlapper vergelyk. As ons dit geesdriftig agternasit en dit probeer vang, sal dit ons altyd ontwyk. Maar wanneer ons daarvan vergeet en vreedsaam volgens God se wil handel, sal daardie “skoenlapper” op ons skouer kom sit.—Rom. 12:9-21.

24 Dit is gevolglik waar dat jou geluk tot ’n groot mate van jou afhang. Moet dit nie ywerig as die hoofdoelwit in die lewe najaag nie. Erken liewer jou geestelike behoefte, jou behoefte om van jou Skepper te leer en hom te aanbid. As jy volgens sy morele standaarde lewe, sal dit jou teen baie probleme beskerm en jou lewe die nodige bestendigheid gee. Lê jou daarop toe om ’n intieme verhouding met Jehovah God te verkry, want dit sal jou tevredenheid en genot verskaf as jy soos “die gelukkige God” is. Ruim meer tyd in jou lewe in om ‘die woord van God te hoor’. Ervaar dan die beloning van mededeelsaamheid terwyl jy ander help om Jehovah en sy voornemens te leer ken. Net soos miljoene ander wat vandag lewe, sal jy beslis vind dat jy aldus die seën van groot geluk ontvang het.—Ps. 146:5.

[Voetnoot]

a Kyk ook die kommentaar deur sielkundige J. Brothers op bladsy 6.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel