Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 6/15 bl. 8-11
  • Die bergkoninkryk Lesotho hoor die “goeie nuus”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die bergkoninkryk Lesotho hoor die “goeie nuus”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • DIE “GOEIE NUUS” BEREIK LESOTHO
  • DIE BERGAGTIGE GEBIED
  • GEBRUIKE
  • DIE NEUTRALITEIT VAN JEHOVAH SE GETUIES
  • TEENSTAND
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 6/15 bl. 8-11

Die bergkoninkryk LESOTHO hoor die “goeie nuus”

JOU heel eerste gesig van Lesotho, wanneer jy dit deur Suid-Afrika nader, sal ’n reeks skerp pieke, soos die tande van ’n yslike saag, op die gesigseinder wees. Benewens ’n smal strokie laagland aan sy westelike grens, is die hele Lesotho bergagtig. Dit is geleë in die hartjie van die Drakensberge, wat die ruggraat van Suider-Afrika vorm.

Met ’n oppervlakte van slegs 30 355 vierkante kilometer is dit een van die kleinste lande in Afrika en het dit ’n bevolking van sowat 1 100 000. Dit word regeer deur ’n eerste minister en ’n Parlement wat op ’n Westerse lees geskoei is. Dit het ook ’n koning, Moshoeshoe II. Dit word dus die “Bergkoninkryk” genoem.

Lesotho is waarskynlik die koudste land in Afrika. Die winters in die berge is bitter koud, terwyl pieke en passe dikwels met sneeu bedek is. Het jy al ooit daaraan gedink om in Afrika te kom ski?

In die twintigerjare van die negentiende eeu was die gebied bewoon deur ’n klein stam onder hoofman Moshoeshoe I (Mosjesj). ’n Oorlogsugtige Zoeloe-koning genaamd Shaka het destyds plundertogte aan die oostekant onderneem, en lede van verslane stamme het beskerming in Mosjesj se gebied gekry. Dit het mettertyd Lesotho geword. Die inwoners staan bekend as “Basoeto” of “Basotho” (enkelvoud, “Mosotho”) en die taal is “Sesotho”.

Lesotho is ’n ingeslote grondgebied wat hoofsaaklik deur Suid-Afrika begrens word, maar deels ook deur die nuwe staat Transkei. Die hoofingang na die land is uit die weste, waar ’n mens oor ’n smal brug oor die Caledon-rivier ry. Jy word begroet deur die teken Kena ka khotso (Welkom). Sowat twee kilometer verder gaan ’n mens Maseru, die stil hoofstadjie, binne.

Maseru (bevolking, 30 000) is ’n mengsel van Westerse verfyndheid en Afrikalewe. Moderne geboue staan reg langsaan kleihutte; troppe beeste vertraag die verkeer in die strate; skape loop soms in die tuine in en kou aan die blomme.

DIE “GOEIE NUUS” BEREIK LESOTHO

Dit was in die vroeë veertigerjare van hierdie eeu dat die “goeie nuus” Lesotho bereik het. Twee Basoeto-mans, wat in Suid-Afrika gewerk het en die “goeie nuus” daar aangeneem het, het in 1942 na Lesotho teruggekeer en begin om die Koninkryksboodskap met groot ywer te verkondig. Teen 1951 was daar vyf gemeentetjies en sowat 63 bedrywige getuies van Jehovah, onder meer 10 voltydse verkondigers van die “goeie nuus”.

In Maseru self is daar nou ’n groot gemeente met 125 verkondigers van die “goeie nuus” en ’n mooi Koninkryksaal. Daar is ook twee sendeling-egpare wat die “goeie nuus” aan die Basoeto-volk en ’n veeltalige bevolking buitelanders verkondig. Baie van laasgenoemde is betrokke by hulpprogramme van die Verenigde Volke en ander organisasies. Wanneer die sendelinge in Maseru werk, moet hulle dus lektuur in baie tale saamdra.

By een geleentheid was ’n Chinese dame, wat baie min Engels kon praat, bly om ’n besoek van ’n sendelingegpaar te ontvang. Sy het vir hulle die jongste nommer van Die Wagtoring in Chinees gewys. Sy het dit ontvang as gevolg van ’n geskenkintekening deur ’n sendeling in Taiwan. Hulle het ’n Bybelstudie met haar begin.

Predikingswerk onder die Basoeto’s verskil hemelsbreed van die getuieniswerk onder buitelanders. Die huise is ook so verskillend. Dit is gewoonlik hutte wat gebou is van takkies en modder, met grasdakke. Daar word dikwels mooi en ingewikkelde patrone op die klei van die buitemure geteken. Die vloere word met koeimis bedek, wat hard en glad word en glad nie stink nie.

Die Basoeto’s is gewoonlik vriendelik en gasvry. Westerlinge is dikwels kortaf en haastig, terwyl die Basoeto’s dit as onwaardig, trouens, as onbeskof beskou. Wanneer ’n Getuie van huis tot huis preek, word hy sonder uitsondering ingenooi; dit is slegte maniere om besoekers te laat staan en gesels. Die besoeker moet eers die huisbewoner groet en oor ditjies en datjies gesels. Dit duur ’n ruk om wedersyds navraag te doen oor sake soos gesondheid, waar ’n mens vandaan kom, hoeveel kinders jy het, ensovoorts. Dan eers kan die Koninkryksverkondiger oor die “goeie nuus” begin gesels. Die hele gesin sal dikwels kom luister.

Ja, die lewe in Lesotho verloop teen ’n aangename, stadige pas—niemand is ooit haastig nie. Wanneer jy iemand op die pad raakloop, is dit die gebruik om eers stil te staan, die persoon te groet en oor ditjies en datjies te gesels, selfs al is dit ’n vreemdeling. Maar vir die sendelinge kan afsprake baie uitputtend wees—niemand is ooit betyds nie!

DIE BERGAGTIGE GEBIED

Die westelike vlakte, waar Maseru en ander dorpies geleë is, is smal. Die berge lê aan die oostekant—ru en meestal kaal. Die grootste gedeelte van hierdie pragtige land kan slegs met smal paadjies bereik word. Die spoorweg vanuit Suid-Afrika eindig in Maseru en is dus slegs sowat twee kilometer lank. Daar is min paaie in die berge. Die meeste is gruispaaie, met baie steil passe op plekke. ’n Vierwielaangedrewe voertuig is ook noodsaaklik. Een pas word gepas genoem Molimo Nthuse, of, “Help my, God”-pas!

Lesotho is gevolglik een van die perdrykste lande in die wêreld en die taai Basoeto-ponie, wat stewig op sy bene is, is ’n bekende ras in Suider-Afrika. In die hoogland is ’n plaaslike inwoner in sy kleurryke kombers, met sy tipiese strooihoed op, bo-op sy ponie ’n algemene gesig terwyl hy met die paadjie langs ry. Donkies speel ook ’n belangrike rol in Lesotho se vervoer. Soms dra die klein, lankmoedige donkie soveel vuurmaakhout, meubels of ander pakke dat hy amper nie sigbaar is nie.

Hoe het die “goeie nuus” dan die statte in hierdie afgeleë, amper ontoeganklike berge bereik?

Dit is die gevolg van die swak ekonomiese toestand in Lesotho wat meebring dat die meeste mans ’n jaar of twee in Suid-Afrika gaan werk, hoofsaaklik in die goudmyne. Terwyl hulle in die myne werk, neem party die Bybel se boodskap van Jehovah se Getuies aan en leer hulle dit dan aan hulle gesinne en vriende wanneer hulle terugkeer huis toe.

Maar die Koninkryksboodskap het afgeleë berggebiede ook op ander maniere bereik. Een Getuie het werk gekry as ’n padmaker op die pad na Mantsonyane, diep in die berge. Hierdie ywerige Getuie het vir almal wat hy teëgekom het van die “goeie nuus” vertel. Hy het Bybelstudies met party van sy medewerkers begin en ’n groepstudie georganiseer terwyl hulle in tente langs die pad gewoon het. Hy het ook vir die mense in die statte getuig. Toe hy hulle reaksie waarneem, het hierdie broer in Mantsonyane werk gekry, met die gevolg dat ’n groep bedrywige verkondigers van die “goeie nuus” daar gevorm is.

Die Swart reisende opsieners het ook ’n groot bydrae gelewer om die “goeie nuus” in die berge te verkondig. Een opsiener het byvoorbeeld 22 uur lank geloop om die statjie Hatebesi te bereik waar daar net twee Koninkryksverkondigers is. Op pad soontoe het hy in ’n sekere stat slaapplek en kos gekry. Die hutjie was gou vol plaaslike mense wat graag die boodskap wou hoor. Die volgende dag het die statsbewoners vir hom twee donkies geleen om die reis te voltooi. In Hatebesi is daar elke aand suksesvolle vergaderinge gehou en was daar ’n opkoms van 62 by die openbare toespraak.

Tydens sy volgende besoek het die reisende opsiener ’n perd gebruik om sy skyfieprojektor wat met ’n battery werk, sy komberse en ander toerusting te dra. Tydens daardie kort besoek het baie mense Bybelvrae kom stel en om ’n Bybelstudie gevra. Altesaam 86 mense—amper die hele stat—het die skyfievertoning bygewoon.

Harde werk en opofferinge is nodig om sulke afgesonderde en afgeleë berggebiede te bereik. Persone wie se harte deur liefde vir God en hulle naaste aangevuur word, moet lang afstande loop om die “goeie nuus” aan ander te verkondig. Moeders los nie hulle babas tuis nie, maar dra hulle dikwels op hulle rûe saam. Soms sal liefdevolle vaders ook die babas dra omdat hulle besef dat die moeders moeg word. Dit op sigself help mense in die gebied om die liefdevolle bedagsaamheid van Christenvaders vir hulle gesinne te sien.

Die Getuies in Quthing, naby die suid-westelike grens van Lesotho, het op ’n buitengewone wyse daarin geslaag om ’n nuwe gemeente te stig. Hulle pogings om ’n afgeleë plek in die berge te bereik, was beloon toe ’n lid van ’n sekere kerk lektuur en toe ’n Bybelstudie aanvaar het. Die belangstellende man het mettertyd begin om die “goeie nuus” aan sy mede-lidmate te verkondig, en eendag was die hele gemeente teenwoordig om te hoor wat die Getuie wat die studie gehou het, leer. Eindelik het baie van hulle die boodskap aangeneem en toegewyde knegte van Jehovah geword. Daar is nou ’n gemeente aldaar met ’n Koninkryksaal met sitplek vir 300 mense.

GEBRUIKE

Soos alle Afrikalande het Lesotho baie tradisionele gebruike wat met toorkuns en vooroueraanbidding in verband staan. Party van hulle is voorwaar eienaardig. Een Getuie is byvoorbeeld daarvan beskuldig dat sy nie ’n kombers om haar skouers gedraai het toe sy van die hospitaal af teruggekeer het nadat sy die lewe aan haar eerste kind geskenk het nie. ’n Plaaslike hoofman het gesê dat hierdie versuim hael of ’n storm sou veroorsaak wat hulle gewasse sou vernietig.

Later het die mense gesien hoedat hierdie vrou se man babadoeke ophang om droog te word. Die stat se hoofman het hom beveel om dit af te haal. Waarom? Omdat, soos hy gesê het, dit ongure weer kon veroorsaak as ’n mens doeke tussen 11 vm. en 3:30 nm. ophang.

DIE NEUTRALITEIT VAN JEHOVAH SE GETUIES

’n Paar jaar gelede was daar ’n gewelddadige politieke opstand in Lesotho. Die regering het dit gedemp en toe manne na die statte gestuur om ondersteuners van die opposisie te straf. Toe die regeringsmagte ’n sekere stat genader het, het ’n bejaarde egpaar, wat geweet het dat hulle eiendom, selfs hulle lewens in gevaar verkeer het, met hulle twee volwasse seuns—wat bekende ondersteuners van die opposisie was—na die berge bevlug. Maar hulle dogter, een van Jehovah se Getuies, en haar baba het agtergebly.

Die regeringsmagte was gou by die kraal en het begin om die hutte te deursoek. Maar toe hulle by die hut kom waar die Getuie en haar baba was, het hulle haar herken. Omdat hulle geweet het dat sy een van Jehovah se Getuies is en gevolglik neutraal in politieke aangeleenthede bly, het hulle haar met rus gelaat en haar huis oorgeslaan. Dit is maar een van talle voorbeelde van gevalle waar die neutrale standpunt van Jehovah se Getuies waarlik ’n beskerming was.—Joh. 15:19.

TEENSTAND

Benewens die tradisionele vooroueraanbidding en toorkuns, is daar baie sektes en kerke van die Christendom in Lesotho. Een van die belangrikstes is die Rooms-Katolieke Kerk. Omdat Katolieke skole baie klem op gebede en godsdiens-seremonies lê, is die kinders van Jehovah se Getuies dikwels in die moeilikheid. In ’n hele paar plekke is ’n aantal van hierdie kinders geskors omdat hulle geweier het om aan valse aanbidding mee te doen.

Daar bestaan egter vryheid van aanbidding in Lesotho. ’n Ruk gelede het die plaaslike hoofman in ’n plekkie naby Mohaleshoek ’n spesiale pionier (voltydse werker) uit die gebied geban en ’n groepie Koninkryksverkondigers beveel om nie meer te vergader en te preek nie. Maar die saak is by die streeksadministrateur aanhangig gemaak. Hy het die hoofman beveel om hom nie met die werk van Jehovah se Getuies te bemoei nie, want hulle werk en aanbidding word wetlik in die land erken.

Nie alle priesters is teen die “goeie nuus” gekant nie. ’n Reisende opsiener berig dat hy by die huis van ’n priester van die Anglikaanse Kerk uitgekom het terwyl hy van huis tot huis gewerk het. Toe die opsiener nader kom, het ’n stem van binne geroep: “Moet asseblief nie verbygaan nie. Kom binne.” Dit het gelei tot ’n lang en aangename bespreking van die “goeie nuus”, en Bybellektuur is daar gelaat. Die priester het erken dat twee vroue wat hulle sleg gedra het terwyl hulle in sy kerk was, baie verander het nadat hulle sy kerk verlaat het en Jehovah se Getuies geword het. Die vriendelike gesindheid van die priester het die weg vir baie mense in daardie gebied geopen om na die Koninkryksboodskap te luister.

Ondanks teenstand, ’n gebrek aan goeie paaie en vervoer, plaaslike bygelowe en talle ander terugslae, floreer die Koninkrykspredikingswerk in hierdie bergkoninkryk. In 1942 was daar slegs twee Basoeto-Getuies wat die “goeie nuus” in Lesotho verkondig het. Nou is daar meer as 600. En in 1980 is die Herdenking van Christus se dood deur 2 690 bygewoon. Het Jesaja dan nie voorspel dat ‘die kleinste ’n geslag sal word’ nie? (Jes. 60:22).—Bygedra.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel